Oor dodebesweerdery

  • 5

George Claassen het weer ’n polemiek aan die gang gesit oor die doen en late van dodebesweerders en okkultiste met die gebruiklike bewerings van kullery en oëverblindery en waarskuwings oor sogenaamde onsin verklikkers – vir die wat nie weet wat ’n onsin verklikker is nie – dit is gewoon ’n proses waarmee die agnostici soos Claassen iets wat hy nie kan verstaan en verwerk nie, onmiddellik etiketteer met die term ‘onsin’– gewoonlik sake spiritueel oor die algemeen.

Jan Rap het in sommige van sy skrywes al vir George Claassen ontbloot as ’n ou wat stellings maak sonder dat hy die bewyse vir sy stellings voorlê of selfs kan of wil voorlê. Dit het ons al vroeër gesien met my kritiek op Claassen se bespiegelings en wilde stellings van onomstootlike bewyse wat nooit gematerialiseer het nie.

Claassen is die selfaangestelde 'mnr bewyse van die Boland', daarom dat daar dalk meer as by enigiemand anders, van hom verwag word om ten minste aan sy eie standaarde te voldoen, terwyl hy self sarsies stellings oor sake Gods en darwinistiese tipe evolusie maak waarvoor hy gedaag word om bewyse te lewer, wat hy nooit doen nie en ook nie kan doen, nie. As hy uitgedaag  word (hy kan dit blykbaar glad nie verdra nie) dan doen hy een van twee dinge - hy kies die hasepad of hy takel die persoon van die uitdager (uiters gewilde en kenmerkende taktiek onder die agnostici), maar nooit verskaf hy sy bewyse vir sy eie uitlatings, nie. Uiteraard nie – meeste van die goed wat hy kwytraak, kan hy eenvoudig nie bewys voor lewer nie.

Onthou – dit is hy en ’n paar ander soos hy, wat altyd op bewyse aandring … natuurlik sonder om te besef wat die konsekwensies van so ’n blanko aanspraak vir hulle eie stellings is. Gewoonlik is dié aanspraak die deursigtige dun, lae muurtjie waaragter hulle wil skuil sodra hulle iets hoor wat hulle in hul agnostiese staat net nie kan begryp of verwerk nie. Dit sien ons deurdat hulle hul eie ooglopende onbewysbare uitlatings, veral oor die darwinistiese tipe evolusieleer, nooit as onsin aansien nie en ook nie daar vir bewyse soek nie – hulle maak sommer hulle eie ‘bewyse’ op.

Dan het Claassen nog die arrogansie om 'n uitdaging aan die dodebesweerster Theunissen te rig, naamlik dat sy haar doen en late aan wetenskaplike toetsing en blootstelling moet onderwerp. Hierdie is sekerlik een van die domste uitdagings wat ek nog teëgekom het op hierdie forum.

In die eerste plek dink ek Claassen is waarskynlik te bang om Theunissen persoonlik te gaan konfronteer - wanneer hy met sulke mense soos Theunissen te doen het, is hy buite sy liga nog voor hy aan haar voordeur geklop het. Daarom sal hy eerder soos 'n aasvoël iewers hoog in die takke met sy striemende aanvalle sit en kras op 'n 'veilige' plek en kyk wat hy kan aas as die mense (na sy mening) sou skeef trap. En dan, as sy dan by die universiteit van Stellenbosch opdaag by sy fasiliteit, waar Claassen hou en geborge voel, wat gaan hy met haar doen? Die hondjie wat uiteindelik die bus ‘gevang’ het? Is hy gereed vir haar? Watter toepaslike en effektiewe toets/e het hy waaraan hy haar kan onderwerp? Hoe kan hy kontroles opstel wat wetenskaplik objektief sulke spirituele fenomene kan ondersoek? Het hy die insig en kennis daartoe om behoorlike toetsmedia op te rig en ook die kontroles? Het hy hoegenaamd metodes en riglyne waarvolgens hy kan verseker dat daar wel 'n 'oorkant die styx', soos hy dit neerhalend noem, bestaan of nie bestaan nie? En as hy vasgestel het die 'oorkant die styx' bestaan wel, het hy metodes en toetse om te kontroleer wat die identiteit van die dooies is waarmee Theunissen glo kontak het of om te verseker dat sy hoegenaamd met die dooies – die regte dooies - praat?

Kortom, is Claassen hoegenaamd opgewasse vir sy eie uitdaging? Dit wil nie so voorkom nie, te oordeel na die uiters oppervlakkige en onwetenskaplike aard van die werkswyse van sy eweknieë wat hy in sy artikel vermeld.

Ek meen te sê, weet Claassen en sy eweknieë hoegenaamd wat aangaan? Of gaan hulle gewoon 'n baie onwetenskaplike onbewysbare aanname maak en sê dat daar nie 'n 'oorkant die styx' bestaan nie en dan alles oor daardie kam skeer - want dit is wat hulle met al die ander dinge doen wat hulle nie kan begryp nie.

Maar te oordeel na die Claassen eweknieë se hantering van hierdie soort van spirituele sake, sal hulle maar die normale agnostiese roete volg as wat hulle met alle ander sake spiritueel en sake Gods doen … hulle krap daar waar niks te vinde is nie en dit is op die materiële oppervlak langs – alles wat jy fisiko-materieel sintuiglik kan waarneem, met ander woorde, daar waar die onsienlike, spiritueel manifesteer, terwyl die bron en oorsprong van die manifestasie geheel en al onsigbaar en onontdek bly … vir hulle.

Daarom oordeel hulle die sien en hoor van okkultiste, die dodebesweerders soos Theunissen, maar hulle weet nie waar die sien en hoor vandaan kom nie. Net soos hulle die protagoniste van die Theunissen tipe dodebesweerders kritiseer omdat dié net die ‘sukses’ gevalle aanhaal en na verwys, net so doen hulle as antagoniste die teenoorgestelde - hulle ignoreer die sukses gevalle maar laat die klem net op, wat hulle as raaiskote tipeer, val. Is dit wetenskaplike metode? Maar om dit te doen, interpreteer hulle daardie deel van die modus operandi en stellings van die dodebesweerders wat hulle kan waarneem, sonder om te begryp wat hierdie waarnemings onderlê in die spirituele realm.

Hoewel daar sekerlik opportuniste en swendelaars is wat hulle as dodebesweerders voordoen en verdwaalde en onbeholpe mense se liggelowige fopbaarheid uitbuit sónder dat hulle die okkultiese ding werklik kan doen, is dit nie in alle gevalle so nie. Daar is heelwat dodebesweerders en okkultiste wat die okkultiese dinge werklik doen, maar die agnostici sal die verskil nie ken nie. Dit is duidelik dat die Penn & Teiler vuilbek spannetjie, byvoorbeeld, spesifiek ook sulke onbeholpe swendelaars uitgesoek het vir hulle program en die wie weet hoeveel ander,  wat hulle nié kon vasvang nie, wat die ding regtig doen, bloot weggelaat het. Hoe sal hulle as agnostici dan nou ook weet waarvoor om te kyk?

Die tergende kwessie bly egter staan – soos met die Penn & Teiler spannetjie … die ‘swendelary’ wat hulle kamstig ‘openbaar’ is darem nét te dik vir ’n daalder. Die waarskynlikheid is dat hulle ’n fop-spannetjie van hul eie opmaak en dié se kamstige ‘swendelary’ dan opneem. Hoe anders? Hulle het ’n punt om te maak en hulle is so duidelik soos daglig bevooroordeeld en onkundig en agnosties. Watter werklike operateur sal nou toelaat dat hulle foppery en swendelary só gerieflik deur die vuilbek aanbieders ontbloot word? Nee wat, ek dink dit is die éíntlike swendelary – daardie aanbieders se eie fopsessie wat hulle op tou sit. So kan mens ook glad nie peil trek op die gevalle wat Claassen noem, nie.

Dodebesweerders maak staat op die vorms en vraelyste wat deelnemers aan die programme vooraf moet invul, vir ’n baie bepaalde rede – nie soseer om dit self te memoriseer nie, maar omdat daar in daardie vorms persoonlike inligting van sulke deelnemers vervat word. Materiële mediums is baie belangrik in die beoefening  van die okkulte om die verbintenis tussen deelnemer en demoon te bewerkstellig.

Maar wat die skeptiese klompie wat deur Claassen nagepraat word, nie kan bewys nie, is dat die okkultiste vooraf al daardie inligting memoriseer én met die regte deelnemers se gesigte verbind, sodat hulle dit dan kan gebruik in die interaksie met die deelnemers – dikwels nege verskillende mense. Maar om dit te doen, moet elkeen van daardie dodebesweerders bonatuurlik gevorderde perseptuele en geheuevermoëns hê, veral in die kort tydjie vooraf tot hul beskikking. Dus, die Claassen-tipe skeptikus kan nie soiets bewys nie en maak net eenvoudig so ’n aanname en werk vandaar verder, omdat dit al is wat hulle beperkte verwysingsraamwerk van die onderwerp, hulle toelaat om te doen. Net daar, laat hulle eie onwetenskaplike metode dus alles wat daarop voortgebou word, in duie stort en is hulle afleidings wat op so ’n aanname gebaseer is, dus niks werd nie en hoogs spekulatief en onwetenskaplik.

Daar is gewoonlik nege verskillende deelnemers – die nommer 9 het baie spesifieke okkultiese betekenis, wat hulle as ’n perfekte getal sien as synde die eerste onewe vierkantsgetal. In satanisme is die getal 9 die getal hekse priesteresse wat ’n kring vorm om hul grillerige bedrywighede te bewerkstellig en hulle glo dat so ’n kring van nege drie triade voorstel wat groot energie vir hulle hekseprosesse sal opwek. Die getal nege verteenwoordig ook vir die okkultis die embleem van materie – die skakel tussen die spirituele en die fisiese (materiële) liggame van die groep deelnemers. Nege is ook vir hulle ’n magiese getal, omdat nege, byvoorbeeld, met bykans enige getal tussen 1 en 20 vermenigvuldig kan word en die som van die getalle van die resultaat gewoonlik weer 9 gee. Vir die satanis, wat juis rebellie teenoor Christus propageer, het die nommer 9 besondere betekenis omdat die HERE Jesus Christus se sterwensuur aan die kruis, juis die negende uur was (Markus 15: 34-37).

Dus, een van die eerste verklikkers dat die okkultis wat die dodebesweerdery wil bedryf van die soort wat Theunissen doen, werklik met okkultisme te make het, sal in die getal aktiewe deelnemers van elke sessie gesien word – 3, 6, 9 of 13.

Penn & Teiler, twee (eintlik die een ou grote) uitgesproke vloekende, vuilbek agnostici, se program oor die onderwerp is so oppervlakkig soos mens dit van agnostici kan verwag en openbaar niks van wat werklik aangaan nie. Net soos ons by Claassen se behandeling van die fenomeen sien.

Wat egter werklik gebeur, is dit ’n okkultis ’n medium, ’n skakel, nodig het waarmee die okkultis dan verbintenis kan bewerkstellig tussen ’n demoon en ’n deelnemer (die persoon wat die vorm invul en deelneem). Die vorm wat deur die deelnemer ingevul is, bied so ’n skakel, ’n medium. Die rede hiervoor is dat die okkultis nie werklik in die spirituele realm kan insien nie,  maar slegs op baie beperkte skaal spiritueel kontak kan bewerkstellig met demone in daardie realm. Daarom weet die okkultis nie waar om te begin nie en ook nie watter demoniese realm om op te soek nie. Die vorm en die inligting daarop en veral die handskrif of handtekening daarop, is die medium of skakel en daardeur het die demoon het toegang tot die inligting op die vorm én die persoon wat die vorm ingevul het. Die dodebesweerders hoop maar die demoon wat reageer is die korrekte een, maar het geen manier om dit te kontroleer nie. Die doderyk en die okkultiese spirituele realm is nie werklik vir die mens toeganklik nie en die werklike afgestorwene (te onderskei van ’n demoon wat ’n gevalle engel is – sien Openbaring 12:7-9) is ook nie by magte om met die lewendes te kommunikeer nie (Lukas 16:21-31) en diegene wat dit by die dodebesweerders waag, doen dit op eie risiko. Daardie demoon (demone is relatief vrybewegende spirituele wesens terwyl afgestorwenes glad nie vryelik met lewende mense kan verbind nie - Job 10:21–22?; ?Psalm 88:6?; ?115:17) kommunikeer dan met die dodebesweerders asof dit die oorledene is, oor die inligting wat op die vorms is en ook oor enige ander inligting wat in die demoniese realm, omtrent so ’n afgestorwe mens bekend is. Die okkultis het geen beheer oor die demoon nie en die demoon kan die okkultis peper met inligting oor deelnemers op ’n lukrake en selfs foutiewe basis.

Dan kan die skakel (kommunikasie) tussen demoon en dodebesweerder ook óf gekompromitteer wees óf die dodebesweerder interpreteer die demoniese inligting verkeerd en maak dus ‘foute’ wat deur vraagstellings en ophaling van inligting uiteindelik ‘uitgesorteer’ (uitgesif) word – vandaar die vinnige pratery met die sarsie inligting wat só gekommunikeer word.

Die ander probleem is dat daar in die demoniese realm in sommige gevalle geen kontak met of kennis van die gesogte afgestorwene is nie, aangesien die afgestorwene nie in die demoniese realm verkeer nie, waarskynlik omdat die afgestorwene ’n gelowige persoon is, wat nie daar is nie. Dan sal die demoon ‘gorrel’ en die okkultis sowel as die deelnemer in elk geval mislei.

Byvoorbeeld, hoewel daar agtergrondkennis van afgestorwenes en hul lewende naastes bestaan en gebruik word om 'n aanknopingspunt te kry, is die demone en afgestorwe geeste ook nie waarsêers en alsiende nie en is die demoniese kommunikasie net so afhanklik van beskikbare feite soos lewendes daarvan is, en sal demone en afgestorwe geeste ook nie die vermoë hê om vanuit die doderyk - die 'anderkant van die styx' waarna Claassen neerhalend verwys - enige verborge feite te kan ontbloot nie en sal sulke demone die okkultis (Theunissen) op 'n dwaalspoor lei ten opsigte van onbekende en verborge feite net soos lewendes daarmee sal dwaal – hierdie geld veral ook vir waarsêery.

Dit is ook foutief om te dink dat enige ware gelowige mens van Theunissen se 'dienste' gebruik sal maak - dit is praktyke wat tot die verbode okkulte behoort (Levitikus 19:31; 20:27; Deuteronomium 18:10-12), ongeag die mooi kleertjies van Goddelike betrokkenheid wat sy daarvoor probeer aantrek – dit is alles leuens want God verbied dit (Openbaring 21:8). Koning Saul van destyds het so 'n dodebesweerder heks se dienste gaan gebruik (1 Samuel 28:7-8) en dit het hom baie duur te staan gekom. Dit is demoniese aktiwiteit en misleiding en demoniese aanklamping is aan die orde van die dag en is glad nie verbasend dat die stomme mense wat na Theunissen en kie gaan, bedroë daarvan afkom, nie.

Dus, dodebesweerdery werk dus meestal nie, maar om heel ander redes as wat die agnostici probeer gee daarvoor. Ek kry dus ook die slagoffers baie jammer, maar tog moet hulle ook die verantwoordelikheid dra vir hulle eie keuse om hoegenaamd daaraan deel te neem. Baie van hulle word waarskynlik bedrieg deurdat die okkultiste voorgee dat dodebesweerdery en ander okkultiese werke ’n Godgegewe gawe is. Dit is geen gawe nie, maar ’n vervloeking, maar die ydellike misbruik van God se Naam (weereens), mislei liggelowige én ongelowige mense op die koop toe.  

Die agnostici het bykans geen idee of insig in wat daar gebeur nie. Dat daar wél ’n ‘anderkant die styx’ is, is verseker … en die toegang daartoe word al vir duisende jare verbied – deur God.

Kobus de Klerk

  • 5

Kommentaar

  • Kobus

     
    Wat 'n loutere spul snert.

     
    Jy begin jou klomp bog met 'n aanval op George Claassen oor hy kwansuis nie bewyse vir sy stellings verskaf nie en dan gaan jy voort en maak die mees asemrowende stellings oor lewe na die dood, en kontak met daardie lewe, sonder 'n krieseltjie bewyse.
     
    Eerstens, as ek jou en Jan Rap se vrae aan George Claassen oor evolusie reg onthou, het hy julle genoegsaam van bewyse voorsien. Die feit dat julle nie moeite wil doen om julle begrip en insig van die evolusie-teorie te verbreed nie, dui dit op 'n ernstige leemte aan julle kant en verklaar hoekom julle nie George se antwoorde kan kleinkry nie.
     
    Tweedens, ek daag jou uit om slegs een herhaalbare, toetsbare bewys van lewe na die dood voor te lê. Deur iets te glo maak dit nie waar nie - jou elle lange skrywes met bybelverwysings nog minder.
     
    Groetnis
    Thomas
  • Hello, 

     
    Hierdie onderwerp is veel erger as wat daar sou gedink word en indien daar volgens die letter van die Bybel sou gehandel word dan is die volgende die straf vir die mediums: 
     
    (Levitikus 19:26-27, 19:31, 20:6, 20:27 maar nie in daardie volgorde hier bespreek nie)
     
    King James Bible (Cambridge Ed.)
     
    'A man also or woman that hath a familiar spirit, or that is a wizard, shall surely be put to death: they shall stone them with stones: their blood shall be upon them'.
     
    Indien die oortreder nie gestenig word nie kom dit voor daar is 'n opsie om dan verban te word: 
     
    'I will set my face against the person who turns to mediums and spiritists to prostitute himself by following them, and I will cut him off from his people'.
     
    In teenstelling met die mediums waarmee die publiek bekend is se kontrakte wat seisoen na seisoen verleng word. 
     
    Hierdie sluit ook die wat die sterre voorspel en so ook die skoolhoof van Hogwarts en talle ander karakters in Harry Potter
     
    Ook is die straf vir verhoudings buite die huwelik, die dood, die wat op die Sabbat sou werk moet ook gedood word maar net soos verbanning ook weer 'n opsie is: 
     
    King James Bible (Cambridge Ed.)
     
    Ye shall keep the sabbath therefore; for it is holy unto you: every one that defileth it shall surely be put to death: for whosoever doeth any work therein, that soul shall be cut off from among his people.
     
    Is daar 'n vers wat vir die sekuriteitswagte, polisie, mediese personeel, lughawens en ander soortgelyke instelling kan opkom en wie is verantwoordelik om die oortreders te dood?  
     
    Slawerny soos alreeds aangedui word geseën deur die Bybel: 
     
    44 Your male and female slaves are to come from the nations around you; from them you may buy slaves. 
     
    45 You may also buy some of the temporary residents living among you and members of their clans born in your country, and they will become your property. 
     
    46 You can will them to your children as inherited property and can make them slaves for life, but you must not rule over your fellow Israelites ruthlessly.
     
    In die konteks van die VSA beteken dit slawe kan  verkry word van Meksiko, Groenland, Kuba en dalk Kanada maar die sal moet bevestig word of dan in die geval van die VK wat kan invoer van Portugal, Spanje, Frankryk en ander omliggende gebiede. 
     
    Net soos dit duidelik is waarop George sy tempering van slawerny baseer het: 
     
    43 Do not rule over them ruthlessly, but fear your God. 
     
    Die ironie is egter dat beide Claassen, Angus en myself en nou ook Kobus vir verskillende redes die 'werking' van mediums verwerp alhoewel dit duidelik is Claassen, myself en Angus asook Chris dit het teen die gruwelooslike bedrog wat hierdie onderskraag. 
     
    Jan Rap is nog steeds 'n antwoord verskuldig hierop ook of hy glo geeste bestaan of nie? 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
  • Beste Kobus, 

    Jy lieg mos nou lekker, jong. Die evolusieleer is bewys, word elke dag opnuut bewys, en sal wetenskaplikes nog in die toekoms ook met meer bewyse kom. Dit wat nog nie bewys is nie, word aan gewerk. 
     
    So van bewyse gepraat; jy skuld my nog die bewys dat Adam volwasse met tieties en al, in 'n kits, geskape is van 'n hopie grond, en dat Eva, ook volwasse, met alles wat daarby hoort, in 'n kits geskape is van Adam se ribebeen. Sake raak nou ernstig. As jy dit nie kan doen nie, is die ganse Christendom, met Bybel en al, in sy peetjie.
     
    Groete
    Angus
  • Kobus de Klerk

    Wouter,

    Ek beskou dodebesweerdery ook as bedrog, maar nie altyd die bedrog van die operateur self nie, maar van die demoon wat waninligting kommunikeer.

    Die Woord wat jy kwoteer, verwys na die deelnemer se ‘cutting off’ van sy mense – dit beteken in vandag se konteks dat so ’n persoon homself vervreem bevind van die gemeenskap van water gelowiges, nes hulle destyds uit die volk geban is – die verhaal van Saul is juis die voorbeeld van die werking daarvan.

    Die dodebesweerder self word steeds  met die dood besoek – die straf vir sonde is steeds die dood… op die tyd en plek en wyse soos deur God bepaal, nadat hy algar eers meer as voldoende geleentheid gee om tot besinning te kom. Die kontrakte van dodebesweerders wat by sekulêre media hernu word, waarna jy verwys, het dus hoegenaamd niks met daardie Woord te make nie. Bileam (Numeri 22 e.v.) is voorbeeld van só ’n dodebesweerder waarvan daar opgeteken staan in die Woord en het hy vir ’n tyd lank ‘floreer’ en baie geld gemaak totdat hy skielik eendag grusaam gesterf het… wel wetende dat hy verkeerd gedoen het en gedurig regverdiging en verskoning daarvoor gesoek het en nou moet verantwoording doen vir sy gruwels. En Bileam was ’n deskundige, as mens dit só kan noem – hy kon onderskei tussen God se stem en dié van die demone waarmee hy normaalweg sy gruwelwerk gedoen het.

    Dink byvoorbeeld aan jouself – sal jou ooit kon sê dat jy nie geleentheid gehad het om tot bekering te kom nie, of sal jy in eerlik moet sê dat jy nie tot bekering wou kom, nie – nie dat ek dié pad vir jou as persoon voorspel nie.

    Thomas,

    Al waarvoor daar bewyse is, is dat daar binne soortverband aanpassings veranderinge plaasvind, waarmee niemand enige probleme het nie en dit noem julle dan ook evolusie. Maar van die eintlike darwinistiese evolusieleer, naamlik dat een soort uit ’n ander evolueer en dat alle lewe ’n gemeenskaplike eensellige voorouer het, is daar absoluut géén bewyse nie – net spekulasie wat julle teorieë en bewyse noem. Dit is die hersenskim waaraan julle sonder bewyse glo.

    Daar is egter talle bewyse vir die Woord se verklaring van die ontstaan en skepping van lewe – naamlik dat God, soos daar in Genesis staan, as jy verstaan wat jy lees, vir elke soort ’n biologiese DNS ‘templaat’ geskep het en dat daar vir alle lewe op aarde, ooreenkomstig hul habitat, só ’n templaat is sodat alle lewe dieselfde gemeenskaplike natuurlike voedsel bronne kan benut en is die skepping juis só dat daar tussen soorte ook dus baie elementêre ooreenkomste is, soos byvoorbeeld skeletale ooreenkomste maar wat telkens aangepas is om die soort maksimaal te laat funksioneer. Julle sien dié ooreenkomste verkeerdelik as oorgang kenmerke tussen soorte en bou dan jul eie hipotese en teorieë daaromheen en etiketteer dit as bewyse.

    Die feit dat die werklike verklaring vir wat die wetenskap in hierdie verband die afgelope paar eeue blootlê, geheel ne al te versoen is met wat in die idioom van daardie tyd alreeds derduisende jare gelede in die Woord opgeteken is, toe daar  nog nie eens sprake was van sulke uitgrawings en wetenskapsbeoefening nie, is die onbetwisbare bewys dat die Woord reg en betroubaar is en julle verkeerd.

    Die bewyse vir die werking van dodebesweerdery wat vir jou verskaf kan word, sal jy egter niks van verstaan nie, omdat jy spiritueel al so afgestomp is. Dit is juis die probleem met Claassen en kie en jy is beslis nie beter af as hulle nie. Dus, dit wat vir spiritueel bemagtigde mense reële ervaring en kennis is, is vir jou in jou spirituele blindheid, verborge, hoewel jy die werking daarvan nie kan vryspring nie en dié spirituele dinge jou tref, maar jy dit nie kan eien vir wat dit is nie – tot eendag, wanneer die byl vir jou val… arme jy.

    Angus,

    Miskien verstaan jy steeds nie – ons het nie nodig om nog enigiets daaromtrent te bewys nie – ons sien dit wat jy wil weet elke dag om ons in natuurlike getuienis. Ons sien uit die biologiese en mediese wetenskap dat die mens se liggaam saamgestel is uit verskillende natuurlike elemente wat ons ook in die natuur hier om ons heen vind en dat ons biologiese welvaart inderdaad van gebalanseerde hoeveelhede daarvan in ons liggame afhanklik is – presies versoenbaar met die Woord se verklaring (in die idioom van die tyd waarin dit geskrywe is) daarvoor duisende jare vóór die wetenskaplike inligting daaromtrent bekend geword het deur wetenskaplike navorsing.

    Dan is daar natuurlik nog die kwessie van die ouderdom van Adam toe God hom geskape het – die Woord swyg daaroor maar jy beweer hy was volwasse en nie, byvoorbeeld, ’n seun, nie. Kan jý bewys wat jy kwytraak daaroor? Jy gorrel sommerso voort, lyk dit my en dan soek jy bewyse by my?

    Ons weet egter dat die Woord oor die skepping van die mens korrek is, want ons sien mos sulke mense om ons heen wat op báie vlakke verskil van ander vleeslike lewe op aarde en die verskille is al duisende jare gelede in die Woord opgeteken. Nes die Woord vir ons leer, vind ons dat mense van meet af aan kenmerkende andersheid het en verskillend is van ander lewende vlees. Jou evolusie waaraan jy glo kan vir ons géén bewese verklaring bied vir die feit dat daar manlike en vroulike mense bestaan elk met hul uiters unieke biologiese kenmerke nie en ook nie die ontstaan van enige ander vroulike en manlike fenomene nie – maar die Woord, wat derduisende jare gelede opgeteken is, gee vir ons daardie verklaring en is dít wat ons sien, volkome in ooreenstemming daarmee.

    En dit volg logies dat alle vleeslike lewe op aarde voedselbronne moet deel en dit moet kan bekom en daarom is daar soveel skeletale ooreenkomste tussen die verskeie soorte vlees. Ook dít sien ons in die Woord, lánk voor die wetenskap dit vir ons bevestig het. Ons sien ook dat daardie soorte van mekaar verskil hoofsaaklik om hulle aan te pas by hul onderskeie habitat. Só deel die mens en aap van die begin af al habitat en is daar ook dus baie ooreenkomste en die skeletale bou van mens en aap. Maar die roofdier se voorkoms verskil omdat hy binne sy habitat moet kan funksioneer, ens. Alles daaromtrent is met die Woord te versoen. Kan jý met grondige bewyse weerlê wat die Woord omtrent die biologiese natuur openbaar?

    Sê dan maar eerder jy verstaan nie hoe God dié dinge vermag het - deur aardse grondstowwe en elemente te gebruik om mens en dier te skape en om die man se ribbebeen te gebruik om die vrou wat so perfek pas by die man, te skape – nie en dat jy ook nie belang stel om dit te verstaan nie. Dán eers, praat jy die waarheid.

    Natúúrlik verstaan jy nie, jy kan dan nie eens die elementêre verstaan van die bestaan van God, iets wat soveel biljoene mense geredelik doen, baasraak nie.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top