Hello
Soos die orakel van Delphi wat Apollo gewoonlik kripties wil interpreteer, dis jy jou weergawe van jou geloof op. Eva word as helper gemaak om te pas by Adam (Gen. 2:18) en dit interpreteer jy:
... die vrou die gelyke van die man sal wees en nie ’n minderwaardige wese nie. God het duidelik besluit dat die vrou nie net ’n seksobjek sou wees vir die man nie, maar inderdaad op Spirituele en emosionele en psigiese vlak, ook ’n intelligente, volwaardige, respektabele en gelyke steun en soos God dan ook self sê, ’n maat vir die man (’n hulp wat by hom pas, net so waardig soos hy).
Oulike interpretasie en spirituele oogpunt op sy beste. Sou jy dit vergelyk met ander gedeeltes in die swart boek oor die onderdanige rol van die vrou aan haar man, staan jou interpretasie uit as absurd. Soos jy sê: "dit in alle gevalle ’n onding om by te las of weg te laat – die Woord waarsku juis direk daarteen (Deuteronomium 4:2; 12:32; Spreuke 30:6; Openbaring 22:18-19)". So kan dieselfde gesê word van verbeeldingryke, soms afskuwelike interpretasies (spirituele oogpuntery) ten opsigte van slawerny, ras, homoseksualiteit, die wetenskap, seks, die omgewing en vele meer gemaak deur die eeue heen deur mense wat gedink het hulle is vervul met die groot gees. Die dek word telkens "geshuffle" om jou god te akkommodeer in ’n wêreld van menslike moraliteit en kennis.
Soos ’n virus val godsdiens die vermoë aan waarmee ons rasioneel na ons wêreld kan kyk. Alles word bekyk deur ’n filter van geestigheid. Die idee van die siel, ’n spirituele oogpunt, en die se onafhanklike bestaan van die empiriese wêreld het sekerlik sy oorsprong in die ooste. Via Plato en die kerkvaders, veral Augustine, is dit verwerk om ’n filosofiese basis te verskaf aan Christendom. Die onderskeid tussen die liggaam en gees was die eerste keer duidelik uitgespel deur Descartes in die 17de eeu en hiermee is vele kerkdenkers besig gehou vir die volgende paar honderd jaar. Vandag weet ons dat hierdie onderskeid vals is. Die gees, siel, "essence", noem dit wat jy wil, is ’n suiwer materialistiese produk van die menslike brein. Om te verwys na ’n spirituele oogpunt wat kom van ’n god, om spirituele ervarings te hê en wanneer daar vereis word dat jy binne ’n spirituele realm moet beweeg om hierdie spirituele oogpunt te ervaar beteken "0" in die volgende: 2+2+0=4. Jou argument is hopeloos sirkulêr. Verder, jou argument(?) dat ’n "objektief uitkenbare sinjatuur" van toepassing kan wees op spirituele data wat ook empiriese data is, maar in die spirituele realm is eenvoudig ’n misbruik van terme. Dan sluit jy af met ’n "gem" wanneer jy die Profeet, dis nou "0" hierbo, vergelyk met ’n betroubare sportmotor vervaardiger.
Die probleem is dat jou kritiese denkvermoë beneweld is met spiritualiteit, dat jy dink baie is beter en dat emosie, beskryf met stringe byvoeglike naamwoorde, die knoop sal deurhaak. Al waarop jy kan steun vir julle gelowige oortuigings is die feit dat niemand kan sê die gode bestaan nie. En dit is niks beter as Bertrand Russell se teepot nie!
Iewers anders, ek dink teen Oom Daan, verlekker jy jou aan die ongelowige se obsessie met jou god. As dit maar so eenvoudig was en nie deur baie van ons gesien was as eerder ’n aanval van godsdiens op ons spesie se vermoë om rasioneel te dink nie. Maar jy het ook daai ekstra gawe om die slegte uit te bring in my (en ander), wat jou die geleentheid gee om dit op die ken te vat vir God en daarmee daai ekstra paar brownie points by hom te verdien. Om jou nie teleur te stel nie vra ek dan maar weer, moenie sê ek doen jou nie ’n guns nie: Is "spirituele oogpunt" nie net ’n ander woord en lisensie vir "niksseggende kakpraat" nie?
Gilgamesh

