Knap by Koekenaap verby
waar die pad links afdraai
na Blomveldsevlei
lê Platskraal se lappe groen aarde
oorboordens toe vol
met wingerd en gousblom.
Kyk net hoe astrant
steek die daisies
kop-uit bo die warm sand.
Tussen Hanepoot en Steen se ry op ry
breek sonhelder en geil
Namakwaland se prag
so ekstaties deur my hart
dat ek van al die mooi
op Helpmekaarkontantwinkel
se rooi voorstoep
staan en huil.

