Klopjag: 'Dis definitief meer as net ’n band'

  • 0

Die veteraan-musiekgroep Klopjag tree nie meer so dikwels op soos eens nie, en juis daarom raak aanhangers besonder opgewonde wanneer daar ’n vertoning in die vooruitsig is. Sallas de Jager van dié groep beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Sallas. Hoe’s dinge?

Alles goed, dankie.

Eerste dinge eerste: Klopjag is deesdae min in die Kaap te sien, maar binnekort is julle by die Woordfees, saam met Foto Na Dans. Dis ’n interessante kombinasie – hoe’t dit gebeur? Wat is jou ervaring van die Woordfees, en die Kaap in die algemeen, wat Klopjag se interaksies en optredes betref?

Ons sien baie uit daarna om Kaap toe te kom. Dis baie lekker om saam met Foto Na Dans te kan speel. Dis nie die eerste keer wat ons ’n verhoog met hulle deel nie. Ek dink die kombinasie werk lekker – dis twee uiteenlopende soorte genres en aanslag tot musiek. Alhoewel die aanslag van die twee groepe verskil, het albei bands ’n lekker vol klank en bied iets in lirieke en musiek vir die gehoor. Ons toer nou al vir ’n wyle nie meer voltyds nie en dis altyd lekker om weer deur die Woordfees genooi te word. Ek dink dit sal ons 7de of 8ste Woordfees wees en dis definitief ’n fees wat ons na aan die hart lê. Ek kan met ’n oop gemoed sê dat die Kaap nog altyd net goed was vir ons. Alhoewel ons van Pretoria af is, het veral Stellenbosch vir ’n paar jaar soos Klopjag se tweede huis gevoel. Baie lief vir die mense en altyd ’n voorreg om vir hulle te speel.

Dit is nou al ’n paar jaar sedert Klopjag se vorige album uitgekom het. Hoe beskou jy en die res van die lede die lewe van Klopjag op die oomblik? Is daar ’n mikpunt of mandaat om aan te hou vrystel en optree en die groep lewend te hou, of hoe benader julle dit deesdae?

Klopjag het so deel geword van ons elkeen se lewens en ons eie persoonlike identiteite dat dit soos asemhaal geword het. Dis definitief meer as net ’n band en, ja, ons wil dalk weer ’n album opneem, maar op die oomblik geniet ons dit meer om weer gigs te doen. Vir ’n lang tyd moes ons speel om huur te betaal en nou speel ons om musiek te maak. Dis ’n baie bevrydende plek om te wees – dis amper soos om oor te begin, maar na meer as ’n duisend gigs saam.

Die musiek van Klopjag het so twee jaar terug weer op die voorgrond verskyn in die film Musiek vir die agtergrond, waarin John-Henry ook die hoofrol gespeel het (en jy ook betrokke was, natuurlik, maar ons kom daarby). In hoe ’n mate was die temas van die film ’n weerspieëling van hoe jy voel oor die Afrikaanse musiektoneel, en dit wat Klopjag daarbinne probeer regkry (het)?

Die film is maar ’n spieël, seker soos enige eerlike kunsvorm, en die storie ondersoek maar die kitsresep versus die langpad en hoe integriteit getoets word as mens se omstandighede of prioriteite verander. Ek het altyd gevoel dat hierdie tipe tema baie universeel is en van toepassing is op elke tipe beroep, maar die Afrikaanse musiekbedryf in die vroeë 2000's was ’n baie lekker milieu om hierdie tema mee uit te beeld. Nou, na meer as ’n dekade, kan ek eerlik sê dat ek dink nie ons as ’n band was gefokus op enige groot idee soos wat ons wou regkry binne die bedryf ens nie. Dit het altyd daaroor gegaan om ons shows so goed as moontlik te speel al die ander goed was ’n blote bysaak. Ons moes dalk bietjie meer gefokus het op geld en posters en musiekvideo's en borge. Maar ek is bly ons het nie.

Terugskouend op die musiek wat Klopjag geskep, versprei en uitgevoer het, hoe onthou jy die besluite wat julle gemaak en inspirasies wat julle ontgin het? Dit is al 13 jaar sedert die eerste album vrygestel is – sou julle dit enigsins anders aanpak indien julle nou sou moes begin? Wat beskou jy as Klopjag se mees waardevolle bydrae?

Dis eenvoudig te naby aan ons om so ’n vraag objektief te antwoord. Waarop ek wel baie trots is, is dat duisende mense oor die afgelope 13 jaar een van ons sal raakloop en sal sê: "Julle was die eerste Afrikaanse band wat ek live gesien het. Julle het by ons skool kom speel." Ek voel daardie skooltoere wat ons tussen 2003 en 2006 gedoen het, was ons grootste bydra.

Die musiektoneel en -bedryf het natuurlik ook ontsettend verander sedertdien. Wat is jou gevoel in die algemeen oor waar die plaaslike, en veral Afrikaanse, musiektoneel nou staan? Beter daaraan toe met al die verwikkelinge (tegnologies en andersins), of het iets verlore gegaan?

Ons het begin voor MK/Facebook/twitter en destyds moes mense uitgaan om jou band te sien speel. Dit was ’n baie groot avontuur en miskien ’n meer romantiese reis. As jy gelukkig was, sou jy dalk een keer in Beeld/Burger per jaar verskyn, en as jy baie gelukkig is, sou Geraas vir jou ’n video maak waarvan die helfte op TV gespeel was. Mense moes tyd en geld spandeer om iets nuuts te sien of te hoor. Dit was nie so vinnig en vrylik beskikbaar soos nou nie. Ek dink egter die platforms wat nou daar is, maak dinge makliker en ek dink ook die beginsel dat ’n goeie song altyd deur die clutter sal breek, is steeds die geval.

In die nou al besonder lang bestaan van Klopjag het julle natuurlik wyd getoer en ek glo bitter baie plekke en mense ervaar. Enige herinneringe wat vir jou uitstaan as hoogtepunte? En laagtepunte, enige plekke waar julle nie gou weer sal (kan) optree nie?

Al die eerstes staan vir my steeds uit. Die eerste gig, die eerste toer, die eerste keer wat jy ’n nuwe album vashou, die eerste keer wat iemand die band in die koerant adverteer, en so kan mens aangaan. Die laagtepunte het meer te doen met mense wat jy nie weer voor sal werk nie as met plekke of venues. Partykeer het mens ’n kak gig by ’n great venue, en meer gereeld die omgekeerde, maar soos meer tyd verby gaan, onthou jy net die lekker gigs!

Jy begeef jou deesdae – eintlik nou al ’n paar jaar – in die skryf en vervaardiging van films. Hoe vergelyk die kreatiwiteit verbonde hieraan met die kreatiwiteit van musiek skep en uitvoer? Hoe verskil die druk daarvan en die genot wat jy daaruit put?

Die druk is uit die aard van die saak baie meer intens in films, maar die genot as dit alles bymekaar kom, is iets wat ek sukkel om te beskryf – dis nogal oorweldigend. Die beste manier waarop ek die verskil kan illustreer is om ’n film te vergelyk met ’n simfonie-orkes. Daar is ’n klomp individue wat elkeen ’n kunstenaar uit eie reg is en dis jou verantwoordelikheid as skrywer/regisseur om ’n platform en ’n omgewing te skep waarbinne elkeen ’n geleentheid kry om sy of haar deel binne die groter gedagte van ’n storie so goed as moontlik by te dra. As hierdie balans gevind word, dan volg die werklike uitdaging: die manipulering van die gehoor se emosies om ’n universele tema oor te dra.

Wat is die planne vir Klopjag en jou eie nabye en verre toekoms?

Met Klopjag het ons ’n paar lekker gigs wat voorlê in 2015, soos die Woordfees, en ons gaan ook hierdie jaar deel wees van STRAB in Mozambiek. Ek is besig met die naproduksie van ’n nuwe film, Free State, wat volgende jaar in Suid-Afrika gaan verskyn.

Wat is die sin van die lewe?

Vir my is dit my gesin en die mense om my.

Klopjag en Foto na Dans tree op by die US Woordfees 2015. Hier is besonderhede van die item:

Foto na Dans en Klopjag

Die manne van Foto na Dans is terug na drie jaar se verlof om weer musiek te maak soos net hulle weet hoe! Saam met Klopjag, wys die twee groepe daar is meer as net sokkie-musiek, en bied jou `n geleentheid om na die verskillende genres van Afrikaanse musiek te luister.
12 Maart 18:00 | Neethlingshof | 90min | R95

Hier is die volledige program van vanjaar se fees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top