
klop klop
uit die bloute
bel kleinboetie:
hy is verloof
hy gaan oupa word
hy wil na julle ou ma kyk
(nog nie seker hoe nie)
klop klop hamertjie
is daar iemand tuis
net broertjie in sy kamertjie
val neer hier in die huis
en wat gaan jy eet vanaand
vra jy jou broer
beslis nie kaas en brood
soos jy nie, liewe ouboet
vanaand eet ek filet
vanaand eet ek soos komatipoort se koning
en wat gaan jy drink vanaand
nie water uit die sloot van pretoria-wes nie
o nee
vanaand drink ek op my lewe
klippies en coke is ek nie mee tevrede
gee my eerder iets soos blue label
klink ’n glasie op my, my broer
vanaand
vanaand
gaan die hamertjie vendusie
hou met my hart
klop klop hamertjie
vanaand kom ek tuis

