Klooster Visuele kunstenaar, woordwerker en underground folksanger uit die noordelike voorstede van Kaapstad |
---|
My gunsteling van David is ... |
|
My gunsteling-aspek van David Kramer is dat hy nooit as homself die liedjies sing nie, maar eerder ’n karakter skep namens wie hy sing. Meestal iemand wat nie gewoonlik gehoor word nie, kompleet met sy eie wêreld. Sy eie stem verbuig hy soos ’n kabaretkunstenaar om ’n unieke toon en aksent te skep vir elke karakter. Die fyn besonderhede waarmee hy die karakter se wêreld besaai, is soms humoristies of hartseer of vereenselwigbaar of oorbekend vir die luisteraar, maar altyd daarop gemik om daardie karakter so lewensgetrou as moontlik te maak. Die besonderhede is veral era-gebonde, sy plate is soos tydkapsules en ontvou saam met die tagtigs. Op Bakgat, byvoorbeeld, word die sosiale kommentaar met meer humor en emosie gelewer as op die latere, meer ontnugterde Baboondogs. “Dry Wine” in stede van “Botteltjie Blou”, nader aan die dae van die noodtoestand. Albei albums, terloops, is meesterstukke. |