Klipheld

  • 0

Uit bloedgrond gebore, gevoed deur trane van die volk, het jy herrys, verewig in jou klipbeeld van beton, vasgevang in ‘n tronk van egosentriese glorie.
Bejeën met afguns, haat, verwyte word geuiter wyl voëls uit die hemele neerdaal. Jou kroon van mis ... is dit die doel en einde van jou heldestorie?
Vrygemaak, verkoop is jou siel vir duisend silwerstukke, verloën is jy, in jou kliptronk moet jy bly. Siel vir ewig vasgevang in ‘n engte.
Klipheld van mense, opgehemel deur gespletetong-politici en gelapte demokrasie. Soos ‘n profeet, vryheid gepreek, was dit jou lewende denke?
Illusie geskep
jy’s vry ... maar voete van klei het jy! Vir ewig geanker, wie sal jόú nou bevry?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top