
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Digkuns het my op skool al ore aangesit, veral wanneer ek moes probeer uitpluis wat die digter nou eintlik wou sê. Erika Barnes se nuutste bundel, Kleurvol, is nie iets wat jy hoef te probeer uitpluis nie. Jy kan dit net lees, geniet en lekker oordink.
Dit is die tweede digbundel wat ek binne ’n jaar lees. Die ander een was ’n Ander wêreld deur Eunice Basson, uitgegee deur Protea Boekhuis. Soos ek toe ook gesê het: Ek lees gedigte omdat dit vir my lekker is. Ek kan nou nie ’n ontleding doen soos Alwyn Roux nie, maar ek kan darem uitstekende skryfwerk herken wanneer ek dit raak lees en dit beslis daarom baie geniet.
So lui die agterblad van Kleurvol:
Hierdie digbundel is ’n invloedryke, pragtige verhaal waar twee onwaarskynlike wêrelde bots. ’n Verbode liefde in hierdie moderne wêreld, waar hoop konflikterende fronte bymekaar bring. Dit ontlont ’n liefde wat die ware kleure van hoop oopvlek.
En hier is die Voorwoord:
Die bundel is ’n verhaal van hoop, verlies, aanvaarding en liefde. ’n Verbode liefde in ’n moderne wêreld, waar ons soms geskei word deur versperrings, sigbaar of onsigbaar. Hierdie verse weerspieël die uithouvermoë van harte, vasgekleef aan die liefde wat saak maak. Die verhaal stap ’n pad deur die aksies, emosies en dieper gedeeltes van ons ondervindinge; ’n diverse perspektief. Om uiteindelik die gevoel van eenheid, en belangriker, hoop, vas te vang – waar ons dieper kan lief hê en vashou aan die kleure van hoop.
Niks van wat ek hieronder gaan deel, gaan sin maak nie, want niks is uit een gedig nie ... dis random reëls wat vir my mooi is, wat ek graag deel.
verlore in ons kuns
verlore in ons menswees
in wie ons is
en nie in wat die wêreld ons wil
verander nie
my hart klop op die klankmaat
word ek deel van jou dans
delf ons dieper as kleur
klim ons onder die vel
en bly ons daar
vir so lank as ons kan
Daar was nog baie ander mooi dele, maar jy sal maar moet belê in die bundel Kleurvol en dan kan jy ook alles geniet.
Ek hou daarvan dat Erika Barnes in vrye vers skryf. Ek hou daarvan dat sy nie onverstaanbare simboliek gebruik sodat ’n mens moet wonder wat sy wil sê nie. Haar bundel is opgedeel in hoofstukke wat ’n mens ’n duidelike idee gegee van waaroor die gedigte wat volg gaan. Die een hoofstuk is “veranner jou persepsie, dinge lyk anners van ’n anner kant”, ’n ander een heet “vanilla en kaneel” en dan ook “dieper as kleur”. Soos jy kan sien - niks onduidelik hieraan nie.
Die bundel sal nie net deur kieskeurige poësie-lesers geniet word nie. Dis beslis ook toeganklik vir die gewone leser soos ek.
Volg gerus die skakel hieronder na Erika se webblad, waar jy haar bundel kan bestel: https://erikabarnespoetry.com/.



Kommentaar
Mooi, Surene! Jy maak my nuuskierig.