
Foto: Canva.com
Kleintyd se onthou
my onthou lê ruim
tussen groen lusernlande
en beurtwater-leivore
geelperskes op ogiesdraad
aan’t uitdroog in die son
gemmerbier met gedyde rosyne
gissend in ouma se inloopspens
en ’n kweperlaning
wat nuuskierige oë buite hou
sorgvrye dae van kennetjie speel
in stowwerige sinkplaatstrate
soggens wag vir die melkkar
se aanvul van daaglikse kwota
weglê aan tuisgebakte brood
swanger gerys in die bakskottel
kraakbruin kors dik gesmeer
met botter en stroop
geen TV, internet of lastige fone
slegs ure se lag en gesels
onder die druiweprieel
en as die son kleinkoppie trek
word saans boeke gevat
waarna ons sielsalig ingestel
vir draadloos-vermaak tot laat
herinnerings luim versprei
wat my vir altyd sal bybly


Kommentaar
Vanaf "sinkplaatstrate" tot "beurtwaterleivore" voer jou helder beelde ons ver terug Driekie, inderdaad tot "wat my vir altyd sal bybly". Nostalgies!
Verlang ek nou na my kleintyd! Jy het dit so mooi raakgevat.
Pragtige herinneringe vasgevang Driekie
Dankie Mari vir die lees en kommentaar, ja dit herinneringe ingebrand wat ons nooit sal vergeet nie, né?
Dankie, Anze, opregte waardering
Baie dankie vir jou saamlees en onthou, Louis, ja dit was heerlike ongekompliseerde kinderdae, wens my kleinkinders kon dit vandag nog so beleef, maar dis herinneringe wat ons geslag altyd sal onthou. Dankie vir jou kommentaar.
Dankie Driekie - dit was nou 'n lekker "trip down memory lane"
Pragtig, wonderlike kinderjare wat ons gehad het!
Dankie Estelle en Cronien vir die saamlees en kommentare, word opreg waardeer.
Puik, dit roep al die ou herinneringe weer op.
Dankie vir jou lees en kommentaar Aip