
Foto: Canva
Kleintryn
Andries Vermeulen ry deur die half-oop hek van die ou rommelwerf. Hy dreig al jare om dié klomp goed wat die vorige eienaar hier op ’n hoop gesleep het, te laat wegry, maar het nog nooit so ver gekom nie. Hy loop tussen die klomp geroeste rommel deur en is verstom – die plek is verbasend netjies! Die moere en boute lê op ’n hoop bo-op ’n geroeste sinkplaat, die kettings en kabels op ’n geroeste kruiwa. Hy wonder of Thabo die werkers hierheen gestuur het om te kom skoonmaak – maar hoekom? Hy sien spore en sleepmerke tussen die implemente en hope rommel in die sand afgedruk en merk die paadjie op wat na ’n gehawende watertenk loop. Hy buk in die opening van die tenk en loer na binne: Daar is ’n soort van tafel van geroeste ysters en sink prakseer en ’n oliedrom wat klaarblyklik as stoel dien. ’n Stuk lap lê oor die tafel en op die lap is velle papier en ’n paar potlode. Andries klim nuuskierig deur die geroeste opening: van die plaaskinders wat hier huisie-huisie speel?
Andries tel die bladsye nuuskierig op, bekyk een vir een by die opening van die tenk in die helder lig van die son. Op elke blaai is ’n skets, realisties mooi geteken. Andries kyk na die ou vaaljapie wat tussen die gras staan: Sy voorwiele skeef gedraai soos toe hy jare gelede hier geparkeer is; die bande nou pap en stukke van die stuurwiel afgekraak van jare in die son. Hy hou die skets in die lug – elke stukkie detail is daar: die drade wat los uit die enjin hang, die sitplek lank reeds tot staal verbrand, die geel wielvellings amper wit verbleik, die eens rooi van die metaal geroes en net-net pienk. Selfs die bos wat onder die trekker sy groei gekry het, is presies ingeteken.
Een vir een vat hy die sketse na buite en vergelyk dit met wat geteken is: die hout-as en twee wiele van ’n ou wa, die hout versplinter en grys verweer, die staalring om die een wiel hang los en skeef, die olierige naaf amper toegegroei deur die tolbos wat tussen die wiele groei. Dan, onverwags, tussen die sketse van die kettings, ratte en moere, ’n skets van ’n seuntjie wat dans asof in die reën – hande omhoog met kaal bene en water wat om die voetjies opspat. Die persoon wat hierdie goed geteken het, moet óf ’n gesoute kunstenaar óf ’n uiters begaafde persoon wees. Dalk ’n hippie wat die plaas ongemerk binnegekom het? Andries klim uit die tenk en kyk rond; die persoon moet tog hier iewers wees? Hy roep, maar niemand antwoord nie. Die rommelwerf is doodstil, asof alles wat hier is, ophou asemhaal het.
Hy los ’n nota op die tafel in die tenk: “Kom sien my, asseblief. Andries Vermeulen.”
Hy vergeet van heinings en grensdrade en indringerbosse en ry huis toe om vir Emmie te gaan vertel van die wonder wat hy op sy plaas ontdek het.
Kleintryn was amper tien toe hy die rommelwerf ontdek het. ’n Scrapjaart, het sy ma gesê, ’n plek vol rubbish. Vir hom het dit nie na rubbish gelyk nie; dit was goed wat niemand meer wou hê nie, móói goed. Hy het na die bondels geroeste draad, stukkende wiele, stapels leë dromme, gebuigde ploeë, onbruikbare hekke, windskewe pale, geroeste en gebuigde grawe en gebreekte implemente gekyk. Dit is ’n begraafplaas vir plaasgoed, het hy gedink, mooi en dooie plaasgoed. Hy het met sy hand oor die geroeste ysters gestreel: ’n ou windpompkop met net ’n paar vlerke, ’n deurgeroeste kruiwa, ’n graaf sonder handvatsel, ’n gebuigde hek sonder draad of knip, ’n ou wa met net drie wiele wat skeef staan; net so kreupel en skeef soos hy.
Al hierdie dinge is goed wat nie meer gebruik word nie, het hy besef. Stukkende en uitgediende trekkers, waens en implemente wat eens belangrik en nodig was en nou nutteloos geword het; gelos om te roes en te verweer en te verwaarloos om nooit weer vir niks en niemand van nut te wees nie. Hy het tussen die bruin, geroeste ysterimplemente geloop en hier en daar gekyk, geskuif, gevoel, gestreel. Al die implemente wat eens gewerk en gekreun en gekraak het en nou stil geword het. Stil soos die lang hopies klippe wat in rye in die toegekampte kerkhof lê, stil soos die lang populiere wat nooit meer blare dra nie, stil soos die bruin kamer as al die kinders skool toe is en net hy agterbly.
Hy het stadig geloop, met sy kierie ’n hoop boute en moere in die sand oopgekrap, by die rol ineengestrengelde doringdraad, amper toegegroei onder rooigras, gebuk, die klomp kettings wat op en deurmekaar lê, asof iemand hulle uitgesoek en toe vergeet het, bewonder. Die sand van tyd het hulle half toegewaai, swart miere streep onder hulle in en uit met stukkies grassade wat hulle kop-omhoog nes toe dra. Langs die geroeste bakwerk van ’n ou trok, die een deur half-oop en die sitplekke flenters gebrand, hang ’n paar letters skeef en stukkend – c h v r – die res afgebreek en nêrens te sien nie. Die bande van lank gelede lê in stukke swart onder die ronde, vet modderskerms met hulle ligte soos padda-oë. Hy het voor die stukkende ou trok gaan staan; dit lyk kompleet asof die trok met reguit bufferlippe en hartseer oë probeer glimlag. Wat probeer die trok vir hom sê?
Kleintryn se hart voel skielik deurmekaar – seer, asof ’n groot jammerte op sy bors druk; ’n jammerte soos die jammer wat hy gevoel het toe die koei se kalf dood uitgekom het, soos die jammerte vir die klein swaeltjies wat uitgeval het toe die kinders die nessies onder die dakkap stukkend gegooi het. Is dit wat met gebreekte goed gebeur – dit word eenkant gegooi om te vergaan, om te wag vir die stadige wegvreet deur son en roes en reën en tyd? Is dit wat ook gebeur met gebreekte mense? Wat van hom met sy skewe lyf en horrelvoet? Wat help al die lees en leer en skryf as hy nie goed genoeg vir enigiets is nie? Hy sal nie op die plaas kan werk soos die ander seuns nie, magtig, hy kan nie eens skool toe gaan nie! Wat gaan sy toekoms wees? Waar gaan hy weggegooi word om te vergaan tot daar niks van hom en sy skewe lyf oor is nie?
Hy sak op die grond langs die hartseer trok neer en met sy kop op sy knieë huil Kleintryn vir die eerste keer in jare, breek sy hart oop oor al die seer en eensaam en alleen en sy skewe voet en sy pa wat hy nie ken nie en sy ouma wat in die verlede bly. Hy huil oor Katryn wat haar verlede gelos het en oor hy lewe en nie gesterwe het toe hy moes nie. Hy baklei met die onbekende Jirre wat ander mense gelukkig maak, maar vir hom skeef en krom laat lewe het. Hy huil tot die huil seerder as die hartseer in sy hart is en net sy lyf nog met tye ruk as ’n paar laaste hortende snikke uit sy binneste breek. As hy en hierdie rommel dan saam rommel is, dink hy, sal hy seker maar saam met hierdie rommel moet vergaan – nikswerd en nie belangrik vir enigiemand nie. Die huil hou op, maar die seer bly sit; druk sy hart inmekaar tot hy voel sy bors gaan kraak soos die roes op die ou kruiwa gekraak is.
Ná ’n uur staan hy moeisaam op, sy lyf seer van die lang sit en die baie huil. Hy loop moeg en moedeloos hek toe. Sy ma hou nie daarvan dat hy ná donker nog op die plaas rondloop nie. By die hek gaan hy ’n oomblik staan en dan, asof iemand hom roep, kyk hy om en sien ’n wonderwerk! Hy sien die ploeg, die trekker, die windpompwiel, die hoop pale, die skewe hek, die kruppel wa. Sy kop draai en sy hart klop in sy ore. Hy weet wat hy kan doen! Met sy horrelvoet en skewe lyf stap hy so vinnig as wat hy kan terug huis toe; vir die eerste keer in sy lewe voel hy hoe hy dink gelukkig wees moet voel. Hy gaan doen wat hy weet hy goed kan doen, dan sal hy nie nutteloos wees nie! Dan sal die rommel nie nutteloos wees nie! Wat hy nie besef het nie, is dat hy jare later dié ervaring sou hervertel om ander te inspireer om nie op te gee of moed te verloor nie.
Omdat die ander plaaskinders nie met hom wou speel nie, en omdat hulle hom meestal gespot het oor sy horrelvoet, was Kleintryn byna altyd alleen. Dit was nádat hy nie meer by die melkery op die hooi kon stilsit nie. Eers het hy bedags alleen naby sy ma se kamer gebly, later het hy tot by die heining geloop wat die beeste van die huise moet weghou, en toe hy groot genoeg was om self die hek oop en toe te maak, het hy in die grondpad af gehinkepink, tot by die draai en terug, terug na die kinders met hulle honende gelag en hulle oumas wat heeldag onder die bome sit en hom aankyk asof hy vuil is. Dan het hy in die sand langs die kamer gaan sit en op sy eie gespeel en gewens hy kon ook bal skop of op ’n ouma se skoot sit.
Hy het groter geword en aan die alleen gewoond geword. Hy het elke dag ’n bietjie verder van die werkershuise geloop en die plaas stukkie vir stukkie leer ken. Toe hy net nog vier jaar oud was, het hy al geweet dat by die draai met die skewe klip hy regs moet loop om by die rivier te kom en by die draai langs die bloekomboom met die wit stam en los bas hy links moes draai om na die lande te gaan waar die baie beeste wei. Terwyl hy loop, het hy gekyk en opgelet: Hy het gesien hoe die meerkatte die son in die middel van die dag bekyk en hoe die skadu’s die walle langs die pad inkleur voor dit donker word. Só het hy geleer wanneer hy moet terugdraai om betyds by die huis te wees voor Katryn van die werk af kom. Hy het geleer dat as die swaeltjies in die groot wilgerboom byeenkom, die winter op pad is en as die rysmiere eiertjies opdraande dra, die wolke reën gaan bring. Hy het geweet dat die winter koud gaan wees as dit steeds reën lank nadat al die geel blare van die populierbome afgeval het. In die veld het die alleenwees hom nie gepla nie, want hy was tussen plante en goggas en diere wat lewe soos hulle gemaak is om te lewe en by hulle het hy gesien en geleer en onthou.
Hy het vir homself ’n stapstok uit die tak van ’n kareeboom gesny. ’n Stok met ’n kromte aan die bo-punt wat hy kon vashou. Met dié kierie kon hy vinniger en met minder pyn verder stap. Verder en verder weg van die klomp eenderse huisies en die spottende kinders en die ou vrouens wat na hom staar, terwyl hulle tonge klik-klik-klik. Verder en verder weg van die stapels brandhout en die leë jaart tussen die kamers wat Meneer Andries vir die werkers gebou het. Bedags het hy gestap en die plaas en die rante leer ken en saans het hy vir Katryn gehelp met skoonmaak en kosmaak en het hy aanhou leef.
Kleintryn het nie ’n regte naam gehad nie, want hy was nie veronderstel om te leef nie. Antie Rutha, die vroedvrou, het vir sy ma gesê hy gaan dit nie lank maak nie, want hy is skeef en klein gebore lank voor sy ma se tyd daar was. Maar hy het hard en aanhoudend in die kooi geskree en sy ma het hom pram gegee, terwyl sy wag dat hy sterwe. Sy het die horrelvoetjie en die maer beentjie gevryf en was tevrede dat hy sou sterwe, want om te lewe met so ’n skeefheid sal moeilik wees, het sy gedink. Dít het sy ma hom vertel toe hy groter geword het.
Sy het net vyf dae kraamverlof gehad, het sy vertel, en na vyf dae het hy nog gelewe. Sy het hom in ’n tjalie toegedraai en op haar rug saamgevat werk toe. Sy het in die hoek van die melkery hooi bymekaargeskraap en hom met die tjalie in die middel daarvan neergelê. Dit was warm en gemaklik, en die pie kon sommer in die strooi wegloop. Hy was soet, het Katryn gesê, hy het net soms met ’n yl stemmetjie soos ’n weggooilam gekerm as hy honger was, dan het sy hom pram gegee en gewonder wanneer hy dan gaan sterwe.
Hy het nie gesterwe nie. Hy het geleef en gegroei en begin om op die hooi rond te kruip. Die ander werkers het na hom as klein Katryn verwys. Sy het hom ook nie by Home Affairs gaan registreer nie, want as hy sterwe, het sy onnodig al die pad daarheen geloop, het sy gedink. Sy het hom saans in die tjalie op haar rug vasgemaak en by die kamer het sy hom gebad en gevoed en gewag. Sy het hom van die pram gespeen en pap en beesmelk gevoer en hy het gegroei en sy horrelvoet het skewer gegroei en sy been het maerder geword. Toe het Katryn besef dat ou Rutha verkeerd was en dat hy gaan lewe en skeef deur die lewe gaan loop en haar hart was seer vir haar mooi kind met die skewe lyfie. Haar kind wat nie ’n pa gaan ken nie.
Toe hy twee jaar oud word, moes Katryn hom by die kamer los, want die voorman was bang die beeste trap hom. Katryn het gedink die ander plaaskinders en die oumas sal na hom kyk, maar die kinders wou nie met hom speel nie en die oumas wou nie na hom kyk nie. Die kinders het hom walkie-talkie genoem en met mieliepitte gegooi, terwyl hulle sy skewe stappie nagemaak het. Hy was te klein om te verstaan en het gehuil as hulle hom spot en wegjaag. Soms moes hy in die kamer gaan wegkruip en ander kere het hy onder die soutbos ingekruip totdat Katryn donkertyd huis toe gekom het. Dan het sy hom styf vasgehou en getroos en gesê hy is anders as ander kinders, omdat hy special is.
Hy het geleer hoe om vuur te maak en hoe om pap te roer. Hy het soggens die pispot uitgegooi en gewas en die kamer uitgevee. Saans het hy die dun houtjies ingedra wat hy deur die dag sukkel-sukkel uit die veld aangesleep en in stukke gebreek het. Dan was Katryn gelukkig en het sy gesê dat alles wat hy doen, haar baie help en dat sy trots op hom is. Slaaptyd het sy vir hom stories gelees uit ’n flenterboek, al ding wat sy van die verlede af saamgebring het, het sy gesê.
Toe hy vyf was, het Katryn hom na die plaasskool toe gevat sodat hy kon leer lees en skryf. Sy het lankal gesien dat haar kind nuuskierig is om te leer en gedink dat die skoolloop goed vir hom gaan wees. Maar die kinders by die skool het hom gespot en Katryn het kwaad geword. Sy het ’n tak gegryp en onder hulle ingeklim en toe was al die ander ouers vir haar kwaad. Later het sy ophou baklei en hom uit die skool gehaal en vir hom gesê hy moenie huil nie, want hy is te special vir die skool.
Sy het hom self leer lees. Saans het sy hom geleer en bedags moes hy sy lees oefen sodat hy slimmer as al die ander kinders kan word, het sy hom getroos. Sy self was slimmer as al die ander ma’s op die plaas, het sy hom vertel, want sy kan lees en skryf en somme doen en eintlik kon sy ’n cashier of ’n receptionist gewees het, as dit nie vir die moeilikheid was nie. Sy het skool geloop tot graad 11, het sy gespog, maar toe het sy vir Petrus ontmoet en in die moeilikheid beland. Haar ouers was baie kwaad, toe het sy vir Moeilikheid by Petrus se familie gelos en weggeloop en by die melkery kom werk waar niemand haar ken nie. En hier het sy vir hom gekry. Al hierdie goed het sy hom saans vertel as hulle klaar geleer lees het.
Kleintryn het verstaan dat sy pa nie Petrus is nie en dat hy nie Moeilikheid is nie, maar wie is hy dan? Katryn het gesê hy was ’n accident, die kind van passion, en hy moes eintlik nie gelewe het nie, maar nou lewe hy en is hy special. Sy het gesê hy het ’n ouma en ’n familie in die verlede, maar dat sy nooit weer daarheen terug sal gaan nie, na die verlede toe nie – nooit weer nie, het sy hom verseker. Hy het gewonder hoekom hy en Katryn altyd alleen was as hulle ’n familie het en tussen so baie ander mense op die plaas bly. Tog het dit hom getroos om te weet dat hy ’n pa en ’n ouma iewers het, al het hy hulle nie geken nie en nooit gesien nie. Soms het hy prentjies van hulle geteken: sy groot, sterk pa met ’n breë glimlag en gesonde bene en sy ouma sag en rond en vrolik in ’n wye rok. Dié prentjies het hy in sy sak gedra om hulle naby aan hom te hou en sodat hy hulle sal herken as hy hulle sien, het hy gedink.
Toe Kleintryn die boek van die verlede self van voor tot agter kon deurlees, het Katryn die voorman se ou koerante van die melkery gebring en gesê hy moet leer om moeilike woorde te lees en sommer leer wat in die wêreld aangaan. Hy moes elke aand hardop vir haar lees, en soggens ná sy geloop het, moes hy oefen om die woorde in die koerant self te skryf. Dit was baie moeilik, want die woorde was soms groot met dik letters en soms in klein lettertjies en vol krulletjies. Hy het aangehou en aangehou oefen totdat Katryn tevrede was. Katryn het later ou tydskrifte ook huis toe gebring. Waar sy dit gekry het, het sy nie gesê nie. Die tydskrifte was vol slim woorde en lang stories en mooi prente van goed wat hy nog nooit gesien het nie: blink karre en skuimerige seep en wit wasgoed en huise met baie mooi meubels en groot groen tuine vol gekleurde blomme en foto’s van vrouens met lang hare en bleek velle. Sy vel was ook bleek, baie ligter as die ander kinders s’n, maar nie so bleek soos dié van die vrouens in die tydskrifte nie. Hy het die tydskrifte gelees totdat hy amper elke woord uit sy kop geken het en die boek se blaaie van die middel los gekom het.
Katryn het gesien dat haar kind slim is, baie slimmer as sy. Sy het hom die bietjie van somme geleer wat sy geken het, maar hy kon gou al die antwoorde uitwerk. Toe het sy haar trots in haar sak gedruk en by die ander werkers hulle kinders se ou skoolboeke gebedel. Die koerante het hom begin verveel en Katryn het skaam vir die plaasvrou gaan vra of daar nie dalk ou boeke is wat sy vir haar slim kind kon leen nie. Sy kon elke Vrydag twee boeke kry, het die plaasvrou gesê, maar sy moes dit skoon en netjies terugbring voor sy weer kon kry.
Só het Kleintryn baie nuwe goed geleer. Hy het geleer oor die aarde en die baie lande en die blou see met diep water en oor hoë berge en wilde diere en voëls en weerpatrone. Oor oorloë en konings en regerings en die wrede mense van die verlede. Hy het gelees dat mense maan toe kan vlieg en weer kan terugkom aarde toe. Hy het gelees oor ontdekkings en uitvindings en tegnologieë en slim mense wat medisyne maak en wat navorsing doen om nog slimmer te word en meer goed uit te vind. Hy het gelees van rekenaars wat self kan skryf en self kan dink en self kan teken. Hy het nie alles verstaan nie, maar hoe meer hy gelees het, hoe meer het hy geleer en hoe beter het hy verstaan.
Hy het geweet dat hy slim word van die lees en hy het besef dat hy nie Accident is nie, dat sy pa nie Passion is nie en dat Verlede nie ’n ander land is nie. Hy het ook besef dat al was hy slim, hy steeds alleen is, omdat sy been maer is en sy voet skeef. En omdat hy anders as die ander kinders was. Hulle het gesonde bene en mooi voete gehad. Hulle het nie van leer of lees gehou nie. Hulle wou nie netjies in hulle skoolboeke skryf en mooi prentjies teken nie. As hulle Kleintryn sien, het hulle kiep-kiep-kieeeep geskree en hulle arms soos vlerke geklap. Dan het hy hulle geteken met die domheid in hulle oë en met hulle vuil klere en hulle skurwe hakskene wat stof opskop as hulle loop. Maar die leegheid in sy eie hart kon hy nie teken nie.
Katryn het vir die plaasvrou een van Kleintryn se tekeninge gevat. Sy vra of Mevrou nie asseblief papier het waarop haar kind kan teken nie; Mevrou sien self hoe mooi hy teken. Mevrou het vir Katryn gevra waar die kind se pa is dat hy nie help sorg nie. Katryn het skaam gesê dat hy die accident van ’n party was en dat sy nie eintlik seker is van die pa nie. Mevrou het haar kop geskud en iets oor onverantwoordelike jongmense gemompel, maar toe tóg vir hom ’n pak wit papiere en ’n klomp gekleurde potlode gestuur. Kleintryn het nog nooit sulke mooi papier gesien nie: spierwit en glad met reguit, netjiese kante. Die potlode was in die mooiste, mooiste kleure! Die kleure van die hemel en die veldblomme en die reënboog ná die reën – almal in een boks én met ’n skerpmaker waarmee hy die punte mooi skerp kon maak om dun lyntjies te kan teken.
Om dankie te sê het hy vir Mevrou die kapokhaan geteken wat soggens op die dak van die hoenderhok kraai en die prent self vir haar gevat. Mevrou het na sy maer beentjie en die horrelvoetjie gekyk en trane het oor haar wange geloop. Sy het die prent teen haar bors vasgedruk en op die stoel gaan sit en niks gesê nie. Net gehuil. Toe het Kleintryn geloop en besluit dat hy nooit, nóóit weer ander mense se jammerte wil sien nie; hy sal net gaan waar hy alleen kan wees, waar sy andersheid nie mense laat lag óf laat huil nie. Sy seer het hom kwaad gemaak, só kwaad dat hy daardie aand baie hout gekap het. Hy het gekap en gekap en saggies geskel sodat Katryn hom nie hoor nie. Sy sou nie verstaan van die pyn in sy bors nie.
Die volgende dag het Mevrou Katryn laat roep en gesê Katryn gaan nie langer in die melkery werk nie, maar in die huis. Katryn het ’n netjiese uniform gekry en moes van agt tot vier werk. Katryn was baie bly en het gesê sy het arrive oor haar slim kind en sy mooi prentjies. Kleintryn was ook bly en het sy ma se vrolike gesig met die bont kopdoek in die kleure van die mooiste potlode geteken. Katryn het die prent met sellotape teen die kamer se muur vasgeplak en hom haar special boy genoem, terwyl sy hom styf teen haar bors vasdruk.
Daarna het Kleintryn gedink hy het seker ook arrive, want Mevrou het gereeld vir hom goed gestuur: groot velle spierwit papier, ’n houtbord waarop hy sy blaaie kan vasknip, warm sokkies, ’n Superman-keps en baie, baie boeke; boeke waarin hy kan skryf én boeke wat sy by die biblioteek gaan leen het waaruit hy nog meer goed kon leer. Die groot seuns het sy keps gegryp en gesê Superman het nie ’n horrelvoet nie. Hy het na hulle spottende gesigte gekyk en het gesien dat hulle bene grys van die stof is, hulle klere vuil en hulle hakskene skurf en gekraak. Toe het hy besef dat húlle anders as hý is.
Kleintryn het gereeld by die rommelwerf gaan sit en teken. Daar was hy gelukkig; hy het tuis gevoel, asof die plek aan hom behoort. Sy eie, eie plek. Die rolle draad, die hope skroewe, die klomp ratte, die ou implemente en stukkende voertuie was daar nét vir hom. Hy het uitgesoek en reggepak en skoongemaak, want dit was sy plek met sy rommel – die goed wat hom ’n doel gegee het. En sy doel was om hulle te teken so mooi soos hy kan, om te wys dat wat skeef en krom is, ook mooi kan wees. En wat mooi is, lewe – al is hulle nutteloos.
Maar toe, op ’n dag, kom Meneer Andries se bakkie by die rommelwerf ingery en krap sy hele wêreld om. Kleintryn het plat agter ’n ou ploeg geval en doodstil bly lê. Hy het die bakkie hoor luier en stilword, en toe die bakkie se deur oopkraak, het hy sy gesig en lyf so plat moontlik teen die grond gedruk. As die gras net langer was! Of as hy net vinniger kon beweeg, kon hy verder gaan wegkruip het! Hy het sy kop versigtig gelig en tussen die ploegskare deur na Meneer Andries se voete geloer wat eers dié kant, dán daai kant toe tussen die rommel en geroeste implemente geloop het. Toe die voete in die tenk verdwyn, het hy sy lyf stadig agteruit gewikkel totdat hy agter ’n hoop ysters kon inrol. Daar het hy doodstil met opgehoude asem bly lê totdat hy die bakkie hoor wegdreun het. Eers tóé het hy orent gesukkel, sy goed bymekaargemaak en vir die eerste keer sedert hy die rommelwerf ontdek het, die hek agter hom toegetrek en die geroeste ketting vasgehaak.
Kleintryn was woedend toe Katryn sê Meneer Andries wil hom sien en dat hy sy prente moet saambring. Wie het vir Meneer gesê dat dit hy is wat daar teken? Hy het niks verkeerds gedoen nie; dit kan tog nie verkeerd wees om te teken nie! Hy het niks van die goed gesteel nie; dit net hier en daar verskuif, eintlik reggepak! Wat moet hy vir Meneer gaan sê? Dat die hek oopgestaan het? Dat hy nie bedoel het om iets verkeerds te doen nie? Vir amper twee jaar al sit hy daar en teken en dit was die eerste keer dat iemand anders as hy daar kom. As die rommel so belangrik is, sou daar mos gereeld mense gekom het!
Hy het amper heelnag wakker gelê. Toe die kapokhaan kraai, was hy al op en het die water op die primus al gekook. Selfs Katryn was gespanne. Sy het baklei oor sy klere en sy naels en sy gekreukelde broek. Sy kyk dat hy sy prente mooi in ’n plastieksak toevou en raas omdat hy nie ál die prente wil vat nie. Dit is sý prente; hy kan doen wat hy wil! Hulle het nog nooit baklei nie. Sy het nog nooit só ongeduldig met hom gepraat nie. Hy háát Meneer Andries wat hierdie moeilikheid veroorsaak sonder dat daar rede voor is.
Hy ontmoet Meneer Andries in die kombuisdeur. Vies en verleë met sy pakkie prente in sy een hand en sy kierie in die ander. Meneer Andries kyk lank na hom, sy voorkop vol kreukels asof hy diep dink. Hy nooi Kleintryn in en vat hom studeerkamer toe, wys hy moet op die stoel voor die lessenaar gaan sit. Meneer Andries vat die prente, kyk lank na hulle, een vir een. Meneer Andries kyk en sê niks, hy hou die prent van die lorrie teen die lug, skuif sy bril op oor sy neus asof hy nie mooi kan sien nie. Hy sit party prente eenkant en die ander anderkant. Hy skud sy kop as hy na die prent van die hond, vasgemaak aan ’n swaar ketting, kyk. Kleintryn voel ’n lastige huil in sy keel sit – kan die man tog nie net raas en klaarkry nie? Dan kyk Meneer Andries op.
“Seun, ek het gister jou prente by die rommelwerf gesien. My vrou het my vertel dat dit jy is wat so mooi teken, dat jy self leer en ook baie boeke lees. Sy het my die oulike skets van die hoenderhaan gewys. Sy het ook gesê dat Katryn jou ma is, is dit so?”
“Ja, Meneer,” sê Kleintryn sag, want sy keel voel dik, asof daar ’n klont pap in sit.
Hy kyk af na sy kaal voete, die een normaal, die ander een kromgetrek soos ’n blaar wat in die herfs afgeval het. Hy háát sy voet; hy háát sy maer been; hy háát die pa wat hy nie ken nie. Hy is amper twaalf en het nie eens ’n regte naam nie! Hy háát die man wat na sy prente kyk. Hy háát sy ma wat hom per accident gekry het en toe laat lewe het!
Hy sluk en sluk, maar skielik loop die trane oor. Nou huil hy ook nog soos ’n baba – het hy nie al twee jaar gelede besluit om nooit weer te huil nie? Hy snuif en vee snot en trane met sy mou van sy gesig af en Meneer Andries kyk op, verbaas, asof hy vergeet het Kleintryn is daar. Meneer Andries se oë is ook vol trane. Hoekom sal hý wil huil? Seker ook jammer vir die kind met die skewe voet – net soos sy vrou. Kleintryn voel hartseer en woede en naarheid soos ’n storm in hom opbou. Hy moet stilsit; hy moet op sy tande byt en móét net sit en wag tot Meneer Andries klaar gekyk het, dan sal hy loop en loop en die verlede en sy ouma gaan soek en nóóit weer terugkom nie!
Andries vra of Kleintryn nie later weer terug kan kom nie. Ná middagete dalk? Hy wil met Katryn praat. En mag hy asseblief eers die sketse by hom hou – hy belowe om mooi daarna te kyk. Vies gaan wag Kleintryn in die melkstal. Beeste is in elk geval beter geselskap as mense, besluit hy en teken die koei se skeef-kouende bek en die stukke hooi wat na die krip drup.
In die kombuis vra Andries vir Katryn uit oor die kind. Waar bly die kind bedags? By die huis, Meneer, by die oumas wat die kinders oppas. Wie is die kind se pa? ’n Boesman van die plaas hier langsaan, Meneer, lieg sy. Wat is die kind se naam? Hy het nie eintlik ’n naam nie, Meneer. Meneer sien, hy sou gesterwe het, maar toe het hy nie. Die mense noem hom sommer Kleintryn. Gaan hy skool toe? Nee, Meneer, die kinders verpes hom te veel oor sy skewe voet, maar ek het hom geleer om te lees en te skryf en hy kan selfs Engels lees met die boeke wat Mevrou vir hom leen.
Later die middag sit Kleintryn weer in die kantoor in die diep leerstoel en weer sit Meneer Andries agter die lessenaar en bekyk die sketse. Meneer Andries se gesig lyk anders, ouer, of dalk moeg? Wat sou Katryn hom vertel het?
“Jongman,” sê Meneer Andries ernstig, “jou ma sê sy noem jou Kleintryn?”
“Nee, Meneer, sy noem my Seun. Die ander mense noem my Kleintryn.”
“Weet jy waar jou pa is?” Kleintryn ruk regop. “Nee,” sê hy kortaf.
“Jy het ook nie ’n van nie – ’n surname?” Meneer Andries frons terwyl hy met die pen op die tafel tik-tik. Kleintryn wonder waarom Meneer Andries nou so ernstig klink, soos ’n polisieman – of soos hy dink ’n polisieman moet klink.
“Ek weet wat ’n van beteken, Meneer. Nee, Meneer, ek het nie ’n van nie, maar dit behoort dieselfde as my ma se van te wees, neem ek aan.” Hy wens Meneer Andries wil besef hy is nie dom nie, natuurlik weet hy van is surname!
Meneer Andries skuif rond op die stoel en leun dan met sy elmboë op die lessenaar asof hy nader aan Kleintryn wil wees. “Jou ma sê jy kan mooi lees en skryf? Dat sy jou geleer het?”
“Ja, Meneer, sy het, maar ek het myself ook geleer uit die boeke wat Mevrou vir my gestuur het.” Kleintryn kyk nie op nie, want hy voel weer die trane van seer en vernedering op sy wange en die snot wat saam met die trane wil uitloop. Hy vee met sy mou oor sy gesig.
Meneer Andries vroetel en gee ’n wit sakdoek oor die lessenaar aan. Kleintryn vee sy trane af en skuif sy rug regop teen die stoel. Sy maer been steek soos ’n ysterpen voor hom uit, die krom voet skeef aan die punt. Laat Meneer Andries kyk as hy wil! Laat hy kyk tot hy genoeg gekyk het! Hy druk sy skouers terug en lig sy gesig trots.
Meneer Andries kyk egter reguit in Kleintryn se oë asof die voet nie bestaan nie.
“Kleintryn, ek wil jou help om ’n regte naam te kry. Jou eie naam, soos jy dit wil hê. Is dit reg so?” Kleintryn knik verbaas sy kop.
“Jou ma het nie jou geboorte geregistreer nie en dit kan tyd vat om die wetlike aspekte daarvan in plek te kry, maar ons moet net geduldig wees, want dis die regte ding om te doen. Stem jy saam?”
“Ja, Meneer,” sê Kleintryn opgewonde. Sy eie naam!
Andries sak terug in sy stoel. “En sodra jy jou naam het, wil ek jou na ’n goeie skool in die stad stuur waar jy verder kan leer en ook kunsklasse kan kry. Dit gaan ook tyd vat, want ons sal eers by die Departement moet aansoek doen. En hulle sal jou wil toets om te sien hoe ver gevorder jy is. Verstaan jy wat ek sê?”
“Ja, Meneer, ek verstaan goed. Maar, Meneer, my voet is skeef en ander kinders spot en boelie my. Ek sal eerder net hier op die plaas bly en hier leer, dankie, Meneer,” sê hy en kyk na sy voete wat nie bymekaar pas nie.
Meneer Andries staan op en kom staan voor Kleintryn, lig sy gesig met sy vinger op sodat Kleintryn hom in die oë moet kyk. Meneer se oë is blink van trane.
“Kleintryn, ek het ook ’n seun soos jy, ’n seun wie se voet nie reg is nie. Hy het skoolgegaan en die kinders het sy voet gewoond geword. Hy het later universiteit toe gegaan en werk nou as argitek en niemand spot hom nie.”
“Het die skoolkinders hom nie gespot nie?” vra Kleintryn verbaas.
“Ons het vir hom spesiale skoene laat maak en hy kon regop loop, al loop hy nou soms met ’n kierie as sy rug moeg is. Ons gaan natuurlik vir jou ook sulke skoene kry, dan sal jy regop loop soos enige ander kind.”
Kleintryn kan sy ore nie glo nie. “Regop, Meneer? Gelyk regop, soos ander kinders?”
Meneer Andries lag. “Ja, Kleintryn, gelyk regop. Jy sal regop loop en jy gaan trots wees op wat jy kan doen – jy kan teken soos geen ander kind kan nie. Hulle sal jou nie spot nie; hulle sal jou bewonder. Hoor jy wat ek sê? Jy moet trots wees op wie jy is.”
“Dankie, Meneer, ek verstaan en ek is dankbaar, Meneer.” Hy staan versigtig op, steun swaar op sy kierie, omdat dit soms moeiliker is om te verstaan as om te wonder. Hy sal die verstaan in sy eie kop hou, besluit hy, want oor sekere dinge praat mens net met jouself.
By die deur skud Andries sy hand. “Jy is ’n slim, ’n besondere kind. Ek is baie bly dat ek jou leer ken het. Laat weet gou watter naam jy vir jouself kies.” Meneer Andries klop hom op die skouer as hy by die deur uit hinkepink met die kierie wat hy self van die kareeboom se tak gemaak het.
Kleintryn loop na die kombuis; sy ma is nie daar nie. Hy wil haar vertel wat Meneer Andries gesê het, van die papiere en sy naam en die skoen en die skool waar kinders hom nie gaan terg nie. Maar sy is nie daar nie. Hy sien haar buite naby die melkery staan; sy praat met ’n wit man, ’n man met ’n kierie. Hy sien sy ma swaai haar hand op en af soos sy maak as sy kwaad is. Hy kyk na sy ma en die man en hy draai om en loop saggies weg – hy wil nie die man sien nie en hy wil nie dat sy ma die weet in sy oë sien nie. Nou wil hy die skets van die koei gaan klaarmaak sodat hy die naam wat hy vir homself gekies het, onderaan kan skryf: Lefa, die slim man wat mooi teken.


Kommentaar
"Toe het hy besef dat húlle anders as hý is."
WAT 'n sin! Wat 'n storie! Baie dankie.
Wat 'n roerende storie.