Kleinboet is nou gatvol

  • 0

I

Ek is ’n Suid-Afrikaner en werk tans op ’n skip in die Karibiese See. Ek werk al vir ’n paar jaar in die buiteland, maar spandeer etlike maande per jaar in Suid-Afrika en beplan om in die nabye toekoms weer permanent huis toe te kom. Ek geniet KWV-brandewyn en enige Suid-Afrikaanse rooiwyn en droom snags van biltong. Ek lees ook graag Dana Snyman se Uit die Binneland oor en oor en kan met absolute sekerheid sê Nelson Mandela is my held. Ek skryf hierdie stuk uiteindelik nadat die berugte Bok van Blerk-“De la Rey”-debat as finale katalisator gedien het en my na sewe jaar se gewik en geweeg uiteindelik wild na ’n skryfding laat gryp het. Ek het trouens in die eerste plek Amerika toe gekom met baie onsekerheid, frustrasie en kwaad in my mbt my geskiedenis en ook my toekoms in Suid-Afrika. Dit het my ’n hele rukkie geneem om tot op ’n punt te kon kom waar ek kan sê dat ek genoeg gegroei het en genoeg perspektief bymekaargeskraap het om self vandag ’n stuiwer in die armbeurs te kan probeer gooi. Oor my eie identiteit as Afrikaner het ek egter nog nooit getwyfel nie – dis net my wit plekkie in swart Afrika wat my bietjie deurmekaar gehad het.

Ek het vir die eerste keer bewus geword van die hele “De la Rey”-fenomeen toe my suster in Januarie vanjaar in ’n e-mail so terloops aan my noem dat die hele wêreld tuis basies oornag Bok-bedonnerd geraak het. In my nuuskierigheid – aangevuur deur ’n brandende verlanglustigheid na nuwe Afrikaanse musiek – google ek toe maar “De la Rey” vanuit Galveston, Texas, om te sien of ek nie dalk kan agterkom waaroor die basaar-tannies en die regering nou al weer bitch en moan nie ... en daar begin my tog toe. Inderdaad omtrent kaalvoet die Drakensberge oor op soek na ’n Mystic Boer, ’n generaal en ’n plaas genaamd Verantwoordelikheid. In no particular order.

Wel, my eerste drie Google hits was almal by die Stormfront-webblad en het snaaks genoeg nou regtig niks gedoen om enigsins uit die staanspoor ’n geneentheid by my te skep teenoor hierdie nuwe “De la Rey”-song nie. Nie eers toe ek op die einste webblad afkom op die woorde nie. Ek weet nie hoeveel van die mense wat hierdie stuk lees, al op die Stormfront-webtuiste ingeloer het nie, maar ek het letterlik gevoel asof ek per ongeluk gesien het hoe drie wit polisiemanne ’n swart gevangene vir ’n wolfhond voer! Eerstens vang my oog die embleem wat trots verklaar: “White Pride World Wide”, geskryf in sierskrif wat my onmiddellik laat dink aan die tipe skrif waarin mens “Achtung” gedurende die vroeë veertigs op kennisgewings in ’n Duitse konsentrasiekamp geskryf sou sien.

Tweedens stamp ek amper my koffie om in ’n onbeholpe poging om my skerm toe te hou sodat die swart Amerikaanse saksofoonspeler wat agter my sit en vanaand saam met my optree nie, moet sien wat op my skerm vertoon nie.

En derdens, toe ek my skerm wegdraai en versigtig loer of ek nie dalk verkeerd gekyk het en oorreageer nie, kom ek af op die “Stormfront Ideology and Philosophy Forum”, met hoogtepunte soos “Social Ethics of National Socialist Moral Philosophy”, “Militarism – Your Opinions”, “Anarchy” en “Race Realism”.[1] Nie juis kinderkrans nie.

Ek het toe darem verder gesoek en afgekom op Bok van Blerk se Home Page, LitNet en so aan, maar my vinnige kykie na wie almal dink "De la Rey" is “geskryf vir ’n rede” het my beslis empatie gegee met diegene wat so luidkeels in die regering skreeu vir Bok-braaivleis. Ek kan verstaan hoe dit as ’n gevaarteken kan lyk, al glo ek nie dis iets om oor te panic nie. Soos dr Sandra Swart skryf in haar LitNet-artikel na ’n gesprek met prof Albert Grundling oor of die song ’n katalisator kan wees vir die radikale regses: die leier oor wie gesing word, is mities en gee aan jong Afrikaners die geleentheid om te kan besef dat hulle nie net weer eens die “bad guys” is/was nie. Sy wys ook uit dat indien mens na die konteks van die ander werk op die CD kyk, dit duidelik word dat Bok maar meestal die verwysingsraamwerk van enige jong, werkende Afrikaner-ou vandag weerspieël, met ’n tikkie nostalgie daarby.[2] Ek glo beslis dat die regering oorreageer indien hulle werklik dink dat hulle alle “De la Rey”-liefhebbers oor dieselfde kam kan skeer. Ek glo ook in elk geval dat indien die Boeremag enigsins getrek kan word, dit nêrens oor behoort te wees nie maar eerder deur ’n kuilvoerput vol gebreekte glas. En ek gaan liewer nie eers kommentaar lewer oor Zuma se “Awuleth’umshini wami" ("Bring my masjiengeweer") nie, want dis net so verdomp onverantwoordelik.

Ek dink ek is in elk geval maar net weer eens regtig geïrriteerd met die hele “call to arms”-patent; ek voel die afgelope paar dekades praat en roep almal net, maar niemand doen enigiets nie. Dit het te maklik geword om te roep – en dit sonder dat jy die meeste van die tyd weet waarvoor! Dit is heeltemal te maklik om brandewyn in die een hand en ’n ou vlag in die ander hand te staan en sing, terwyl ons eintlik nodig het om te fokus, te vervel en te werk. Dit is vir my nog altyd een van die hartseerste goed omtrent my mense: ek kan nie regtig dink aan ’n sterker, taaier nasie van survivors nie. Ons het oorlewing en noodgedwonge aanpassing tot ’n kuns verwerk; ons het ons oor en oor bewys as die intellektuele gelyke van die beste in die wêreld ... maar ons maak so moerse scene daarvan elke keer as ons moet aanpas of om ’n tafel moet sit en “compromise” dat dit ’n naarheid is. “Kaalvoet oor die Drakensberg, maar asb tog net nie stemreg vir die agterryers nie!” En op die ou end gaan dit ook maar weer eens oor vrees - van beide kante. Vrees vir die onbekende, vrees dat daar altyd ’n wenner en ’n verloorder moet wees in hierdie ongelooflik mooi land van ons.

Mens kan in daardie opsig niemand seker kwalik neem nie – “Africa’s a tough continent” en die geskiedenis het gewys dat “koek en tee” nie altyd die werk gedoen gekry het nie – maar ek hou tog vol dat daar wel in vandag se samelewing hoop is vir “saam”. As ons net kan aanbeweeg ... en as die regering dalk kan ophou drink voordat hulle ook van magsdronkheid omkap.

 

II

So gepraat van “die ou vlag”: ek sou bitter graag vir ’n groep van laasjaar en vanjaar se Afrikaanssprekende matrieks wou vra om een A4-bladsy vol te skryf oor wat die ou vlag in elk geval vir hulle beteken. Hoekom sal iemand wat nie eers oud genoeg is om te onthou wat apartheid regtig was nie, dan nou opstaan en ’n vlag rondswaai waaraan hy geen waarde kan koppel nie? My vermoede is dat dit nie gaan oor “nasionalisme” nie, ook nie oor spontane nostalgie mbt die “ou” dae nie. Ek dink dit is eerstens ’n geval van absolute onkunde. Die meeste van vandag se Afrikaanse tieners het nie ’n idee waarvoor die ou vlag gestaan het of vandag staan nie. Tweedens gaan dit oor (en word dit benadruk deur) ’n wanpersepsie wat deur ’n ouer garde opgedis en voorgehou word as Utopia – van “die goeie ou dae” toe alles nog goed gegaan het en “die swartes hulle gedra het”. Tsk, tsk, tsk ... ek wonder onwillekeurig of ouers wat hierdie tipe vuurtjies aanblaas, werklik dink dat hulle vir hulle kinders ’n voorsprong gee in die lewe? Jou kind sal miskien, as hy/sy baie gelukkig is, dalk nog vir ’n klein rukkie met daardie eng tipe mentaliteit wegkom in Gatsonderwater, maar hy/sy gaan baie beslis nie in enige ander plek daarmee oorleef nie. Nie in Bloemfontein nie, nie in Kaapstad nie, en baie beslis nie in Londen of New York nie. Sorry to pop that bubble, maar ek weet waarvan ek praat, want ek het dit al gesien gebeur.

Vir dié wat nie weet nie: die ou Suid Afrikaanse vlag het sy oranje, wit en blou gekry van die “Prinsevlag”, ’n vlag wat gebaseer is op die idee dat Jan van Riebeeck die Huis van Oranje se driekleur-vlag gehys het met sy aankoms in Suid-Afrika in 1652. In die middel van die wit was daar die Oranje-Vrystaat se vlag in ’n vertikale posisie met die Union Jack aan die linkerkant en die Transvaalse Vierkleur aan die regterkant. Met die bekendstelling van ons nuwe vlag is daar spesifiek genoem dat die vlag nie regtig enige offisiële of simboliese betekenis het nie en dat die kleure eenvoudig ’n samevoeging is van die rooi, wit en blou (verteenwoordigend van Nederland en Brittanje) met swart, groen en goud, wat die eertydse bevrydingsorganisasies se kleure verteenwoordig.[3]

Tog word daar wel ook in baie kringe geglo dat die nuwe vlag se kleure staan vir die volgende:

Rooi: bloed wat aan alle kante gegiet is
Blou: oop, blou lug
Groen: die land self
Swart: die swart bevolking
Wit: die "Europese" bevolking
Geel: die natuurlike hulpbronne soos bv goud
Die Y-vorm in die vlag; ’n samevloeiing van die verskillende nasionaliteite verbind tot samewerking.[4]

As ’n mens so daarna kyk, behoort dit mos duidelik te wees dat ons ou vlag verteenwoordigend was van ’n wit minderheid alleenlik, of dit nou by jou nostalgie ontketen van jou army-dae of kleuterskool of wat ook al. Die nuwe vlag verteenwoordig ons almal, ons gesamentlike “issues” – ons skaamtes asook ons triomf. Of ons nou wil of nie ... we’re in this together en eendrag maak mag. So bêre die ou vlag en “move on”, in hemelsnaam!

 

III

Die hele groot debat rondom Afrikaner-identiteit is ook maar weer eens een wat my laat glimlag. Ek kan nie verstaan waarom almal nou nog so tekere gaan oor wat iemand Afrikaans maak nie. Dalk is ek eenvoudig net nie intelligent genoeg nie of weet ek nie waarvan ek praat nie, maar as jy in my boekie Afrikaans praat as jou moedertaal, is jy tog Afrikaans, of hoe? Ek wonder soms hoeveel mense besef dat rofweg een derde van die 15 000 Voortrekkers wat teen 1840 uit die Kaap uit die onbekende ingetrek het, bediendes was.[5] Was hulle en hulle nasate nie Afrikaners nie omdat hulle nie op die wakis gesit het nie, maar langs die osse geloop het? Was dit dalk omdat hulle nie almal hoog-Hollands gepraat het nie? Of was dit omdat hulle nie wit was nie? Dit bly in daai opsig seker maar ’n debatteerbare dog interessante punt. En ’n belangrike een as jy een van daardie mense is wat gemakliker voel wanneer dinge mooitjies in ’n vakkie geklassifiseer kan word.

Die interessante ding is dat ek gebore is en leer loop het in Lichtenburg – in die hartjie van die (ou) Wes-Transvaal, waar generaal De la Rey oorspronklik vandaan kom! Ek onthou soos gister hoe ek as klein seuntjie saam met my ouma dorp toe gegaan het omdat sy my altyd getreat het deur my aan die einde van die dag – ná die poskantoor en die bank en OK bazaars en die antie by CNA met die grillerige rooi lipstick – sonder uitsondering te vat na die standbeeld van generaal De la Rey op sy perd in die middel van die dorp. En ek onthou dit soos ’n klein seuntjie dit sóú onthou: ek onthou die visdammetjie rondom die standbeeld (spesifiek die oranjerige en swart visse); ek onthou die kant waarnatoe die perd se kop draai soos die ruiter aan die teuels trek; ek onthou die perd se bene wat vir my enorm gelyk het; en ek onthou die generaal se gesig.

Ek was van daardie dae af ’n De la Rey-man gewees in hart en siel. Nie omdat ek gehou het van sy politiek nie of omdat ek gedink het die ou wat daardie standbeeld opgerig het, het ’n skitterende job gedoen, of omdat ek ’n “budding” rassis was nie. Ek het net nog altyd gehou van "die oom op die perd”, omdat ek met hom in my kultuurhistoriese verwysingsraamwerk grootgeword het en omdat ek as Afrikaner-laaitie geweet het dat hy een van die “good guys” was.

Toe ek so graad 2 rond was, het my fokus verskuif na Shaka, koning van die Zoeloes (ek het steeds die boek met die volkleurfoto’s oor Shaka se lewe) en was ek versot op enigiets wat selfs net amper kon lyk of dit in kleinseuntjie-verbeelding kon gaan vir ’n assegaai, knopkierie of beesvelskild. Ek het selfs eenkeer probeer om in ons agterplaas kaalvoet oor ’n klomp duwweltjies te "dans" omdat dit is hoe hy volgens oorlewering die Zoeloe-krygers so rateltaai gekry het. Volgens my prentjieboek het die ander seuns in die stat hom afgeknou deur warm mieliepap in sy hande te skep en hom te slaan as hy dit sou laat val en ek het daai een ook een maal sonder veel sukses probeer. Weer eens, nie omdat ek op agtjarige ouderdom besluit het om die status quo te bevraagteken of omdat ek my wit vel gehaat het nie, maar omdat ek ’n Afrikaan is wat Afrikaans praat en grootgeword het met African heroes. For that matter, hand aan hand met die Leeu van die Wes-Transvaal en die Koning van die Zoeloes tegelykertyd.

Ek het die afgelope maande regtig die “De la Rey”-debat so getrou moontlik gevolg en soveel moontlik daaroor hier uit die vreemde probeer lees. Ek het sekere insette meer geniet as ander. My leesstof in die gym is Hermann Giliomee se Die Afrikaners en ek lees daagliks op die oefenfiets soveel ek kan, omdat ek glo dat die pad na my toekoms lê in kennis van my verlede. Dit het begin deur die gevoel, wat ek voel van skool af, dat daar somtyds ’n malheid in my mense is wat ek nie verstaan nie en ek moet sê dat ek op daardie oefenfiets met panoramas van onderskeidelik Honduras, Mexiko, Amerika, Italië en Griekeland buitekant my venster al baie vrede en rustigheid gekry het en ook al baie langs die pad vir myself gelag het.

Die groot geeste soos Koos Kombuis, Tim du Plessis en Heribert Adam het my verder geweldig geïnteresseer en geprikkel en gesorg vir baie nuwe hoeke, asook aande se wakker lê oor die afgelope paar maande, terwyl ander nuwe stemme, soos Jasper van Zyl, Danmur Lucas, Bertie Coetzee en ander in die LitNet Seminaarkamer[6] die gevoel in jong are ingekleur het. Dan was daar natuurlik ook weer die gewone kreatiewe pseudo-intellektuele siele wat hulle aan definitiewe verbale masturbasie skuldig gemaak het: een jafel het my veral kopskuddend hand na boesem laat slaan en my mond laat oophang met ’n onsamehangende, “libidinous” sop wat deurspek is met kwistige kwinkslae soos “om te bok of te fok” en “Ek het niks nodig nie behalwe middagete en ’n goeie naai”. Maar oor die algemeen was dit vir my duidelik dat daar geen tekort is aan digters en denkers in vandag se Suid-Afrika nie. En dit in Afrikaans!

En soos Van Wyk Louw al in 1951 in sy essay “Geestelike bloedsomloop” geskryf het: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes: dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan ... en mettertyd wederkerige begrip en ’n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die 'oop gesprek' nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen gesonde politieke lewe moontlik nie.” Die cool ding is dat, anders as in 1951, almal nou tot die gesprek mag toetree. Selfs dies wat glo dat hulle dmv verwysings na gerookte skotse salm, Uva Mira Chardonnay en hul absoluut irrelevante seksuele frustrasie ’n merk maak. Daarin lê die lekker.

 

IV

Soos ek reeds gesê het, spandeer ek baie tyd in die buiteland. Ek spandeer ook geweldig baie tyd tussen mense van verskeie ander lande, want daar is op enige gegewe tyd sowat 45 verskillende nasionaliteite op een skip saamgegooi vir kontrakduurtes wat wissel tussen ses en nege maande. Ek vind dit dikwels verstommend dat daar soveel verskillende mense in so ’n klein leef- en werksarea saamgegooi kan word vir so lank sonder enige werklike probleme.

Dit gee ’n mens ook baie perspektief om, wanneer jy soveel tyd in die buiteland spandeer, te kan sien hoe mense in die res van die wêreld jou kultuur en jou land beleef. Jy besef weer van voor af hoe mooi jou eie plek in werklikheid is - ek het nog nêrens in die wêreld ’n plek teëgekom wat mooier as Suid-Afrika is nie – en dit vat maar een kykie na plekke soos Rusland, Suid-Amerika en Indië om te besef hoe goed dinge eintlik nog in Suid-Afrika gaan. ’n Mens besef ook maar net weer met perspektief van buite hoeveel harder werk dit jou in Suid-Afrika gaan kos om sukses te behaal in wat ook al jy doen wanneer jy dit moet doen sonder “feelings of entitlement”.

Ek is so drie jaar gelede deur ’n swart Amerikaanse bouncer toegang tot ’n funksie by ’n klub op Sunset Boulevard in West Hollywood geweier omdat hy op my paspoort gelees het dat ek van Suid-Afrika af kom. Dit was wel sy vooroordeel gewees en ek huil my nou nie saans aan die slaap as gevolg daarvan nie, maar dit was interessant om in so ’n situasie aan die receiving end te wees. ’n Vrou van New York het my nou die dag voorgekeer en vertel dat sy op die persoonlike staf was van New York se eerste swart burgemeester, David Dinkins, en dat sy in 1991 saam met hom in Suid-Afrika was op ’n besoek en as gas van die ANC. Die besoek het haar lewe verander en ons het lank daaroor gesels. Sy is nou ’n dosent in Engelse literatuur en het my gevra wat ek dink van die fliek en die boek The Power of One wat so populêr is in Amerika – dis van haar voorgeskrewe werk, sien. Die gesprek het begin omdat sy regtig baie van my gehou het en my jammer gekry het omdat ek ’n Afrikaner is …

’n Besonder welsprekende man van Miami met ’n verbysterende algemene kennis en ’n groot liefde vir wêreldgeskiedenis het my weer verbaas deur die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, dr Javier Perez de Cuellar, aan te haal waar hy tydens sy besoek aan Suid-Afrika in 1983 die volgende gesê het: “Twee leiers in die wêreld het ’n groot indruk op my gemaak: China se Deng Xiao-ping en Suid-Afrika se PW Botha. Hulle verstaan mag.” Ek was eerstens verbaas om te besef dat hy die aanhaling ken, want ek het dit nog net toevallig in Hermann Giliomee se boek raakgelees[7], maar dit het my hoendervleis gegee om te besef dat dit is hoe die res van die wêreld ons Afrikaner-leierskap ervaar het. G’n wonder PW was geken as die Groot Krokodil nie!

Ek het ook so ses weke terug in die gym gou gestap om ’n handdoek te gaan haal en by my terugkeer ’n stuk papier gevind wat as boekmerk geplaas is vir my om te vind in die boek wat ek op daardie stadium op die oefenfiets gelees het – juis bogenoemde boek deur Hermann Giliomee: Die Afrikaners. Daar het op die stukkie papier in blokletters geskryf gestaan: “Mein Kampf”. Dit was vir my skokkend om te besef dat daar nog so baie mense in die wêreld daar buite is wat steeds vandag so oor ons as Afrikaners dink. En mense, dit is die vooroordeel waarteen ek en baie ander Suid-Afrikaanse jonges ons steeds so gereeld in die buiteland moet verdedig. Verstaan dan asb hoekom dit my die hel in maak om dit tuis onder my eie mense steeds ook te moet kom doen!

Ek is tot in my murg in toe siek en sat daarvoor om in geselskap te sit met my generasie se “ooms” en om te voel asof ek nie die reg op ’n opinie het nie omdat ek (a) nie in Angola "my 'dues' betaal het” nie; (b) nie “die swartes” blameer vir 100 persent van alles wat vandag in Suid-Afrika verkeerdloop nie; en (c) nie op ’n plaas in die Noorde woon en daagliks hoef te vrees vir my lewe nie. Ek is keelvol om in geselskap te sit en te moet hoor hoe frustrerend en onregverdig BEE is en hoe daar teen “ons” gediskrimineer word; en ek is tot op breekpunt toe gatvol om in geselskap te sit en nog steeds frases in skaamte te moet probeer deurstaan soos “’n koelie is net soos ’n kaffer”, want ja, mense, sulke goed word steeds in sekere Afrikaanse kringe gesê.

Ek het in elk geval wel "my 'dues' betaal” (en doen dit steeds) deur myself in die buiteland en op ’n internasionale speelveld te probeer integreer waar niemand my deesdae bo enigiemand anders ag mbt my werk, my potensiaal as mens of my sosiokulturele ontwikkeling nie, maar waar ek, inteendeel, myself en my Afrikaanse herkoms gereeld moet verdedig met my rug teen ’n morele muur, so to speak. Dis reg, dis aan ons generasie oorgelaat om daardie vernederende eertydse status quo tot vandag toe in die buiteland te moet probeer verduidelik.

Rapport-redakteur Tim du Plessis slaan vir my regtig die spyker op die kop in sy stuk vroeër vanjaar oor die “Nuwe Afrikaner”. In daardie stuk haal hy die Kanadese sosioloog prof Heribert Adam aan waar hy oor Afrikaners in die vroeë en middel-negentigs gesels en aanvoer dat ons gely het aan “phantom pains”. Dis glo ’n term wat verwys na pyn wat ervaar word nadat ’n pasiënt se arm of been geamputeer word. Maw werklike pyn wat geregistreer word al bestaan die betrokke ledemaat nie meer nie.

In politieke konteks pas prof Adam dit toe deur te sê dat Afrikaners soortgelyke kollektiewe “pyn” ervaar het deur nie onmiddellik te besef het dat hulle in werklikheid voorreg (“privilege”) verloor het en nie basiese regte nie. Du Plessis gaan egter verder en voer aan dat die Afrikaner-samelewing nie staties is nie en intussen wel teen wil en dank verander het. Vandag se generasie Afrikaners ervaar nie hierdie “phantom pains” nie, want hulle kan trouens nie eers die dae onthou toe Afrikaners nog die politieke septer geswaai het nie. Gevolglik is daar ’n hele groep Afrikaanse jongmense wat vandag sonder “geamputeerde ledemate” matrikuleer en universiteit toe gaan om hul toe te rus en te bemagtig om as’t ware op hul eie voete te kan staan sonder om die regering enige gunste (of verdere verskoning!) te vra. Hulle is illusieloos en besef dat die openbare sektor buite die kwessie is, dat die korporatiewe sektor agv BEE nie ideaal is nie, en dat die privaatsektor regtig een van die enigste oorblywende opsies is. Hulle kyk vorentoe. Hulle is bereid om hande te vat en saam te werk, maar hulle het ook genoeg om verskoning gevra en is bereid om te veg vir hulle kultuur. In die woorde van Tim du Plessis:

Afrikaners are merely migrating to a new space. It’s a natural, spontaneous process without the erstwhile marshals of the Nat party, the Broederbond and the Afrikaans churches. It’s not the dead-end radicalism of the Boeremag, but it’s also not the ANC co-option personified by the acquiescent presence of Marthinus van Schalkwyk in the Mbeki cabinet”.[8]

Chris Louw het in sy boek Boetman is die Bliksem in die volgende geskryf:

En dat die sondes van die vaders die kinders nog tot in die vierde en vyfde geslag bloots gaan ry, daaroor blyk daar vir my ewe min twyfel te wees. Dit is net iets waarmee ons almal sal moet vrede maak, of ons ’n aandeel daarin gehad het of nie, en dit wil uiteindelik vir my lyk asof dit presies is wat besig is om te gebeur. Dit maak my bly om te sien dat, waar Boetman die bliksem in was (en ek glo dit was nodig en deel van die proses) Kleinboet nou eenvoudig gatvol is – hy’t genoeg jammer gesê, en homself genoeg met potskerwe gekrap, en rol nou sy moue op omdat daar werk is wat gedoen moet word en wat niemand anders vir hom gaan doen nie.

 

V

Om terug te kom by Bok van Blerk en sy musiek: ek moet sê dat ek sy musiek terdeë geniet vandat ek dit die eerste keer gehoor het. Ek weet nie aldag of dit ook maar grotendeels te doen het met my desperaatheid om Afrikaans te hoor (ek neurie selfs deesdae Gé Korsten se “Liefling” as ek dink niemand hoor my nie!) of met my intense heimwee nie, maar ek dink tog die man het ’n goeie job gedoen met sy CD. Koos Kombuis het dit goed opgesom deur sy opmerking dat meeste van die songs maar (tipies) handel oor kuier, girls, rugby en kuier, maar dis tog “toe-tapping stuff”. Bok is baie beslis nog glad nie in Valiant Swart, Laurinda Hofmeyer of Kerkorrel se liga as digter of musikant nie en, anders as Koos, sal ek nou nie so ver gaan as om hom met Jan Blohm te vergelyk nie, maar daar is inderdaad interessante nuanses in sy werk as mens mooi luister.[9]

Ek hoop en wens net dat hy genoeg talent en diepte het om, wanneer hy nou uiteindelik genoeg geld gemaak het, tog bietjie meer hart en kop in sy werk te gooi. Dit sal jammer wees indien Bok ook maar in Robbie Wessels-mode vashaak, maar dan moet mens seker ook maar weer ruimte laat vir die “Irish drinking song”-mark, nie waar nie?

Indien Bok van Blerk “De la Rey” geskryf het om die Afrikaner-jeug op te sweep om die Uniegebou af te brand, sou ek beslis nie gehuiwer het om self te roep vir ’n slagmes nie, maar in my hart glo ek nie dis die geval nie. Andries “Roof” Bezuidenhout skryf in sy skitterende stuk “From Voëlvry to De la Rey: Popular music, Afrikaner Nationalism and lost irony” dat die Voëlvry-beweging van die laat 1980’s gekenmerk was deur “critique of what apartheid did to the ‘self’, not the ‘other’”, maar ook dat daardie selfde songs hulle slaankrag ontneem is toe dit later in die “mainstream” opgeneem is en skielik gesing is deur ouens wat nie die ironie in die Afrikaans verstaan het nie, maar dit eenvoudig gesing het omdat die Voëlvry-pioniers dit nou weer cool gemaak het om Afrikaans te praat en veral te sing:

The nostalgics converge in bars where popular singers do medleys of Koos Kombuis tunes, but without the irony. They sing along to traditional Afrikaans songs. Their T-shirts say '100% Boer' or 'Praat Afrikaans of hou jou bek'. The fact that the protest singers made it cool to be Afrikaans again suits them well, but they nostalgically long for a past without crime and affirmative action. Many of them are too young to remember this presumed carefree past.[10]

Ek voel maar net van my kant af dat dit ongelukkig nie op hierdie stadium enigsins vir my lyk asof ons te veel van Bok moet verwag in die lyn van waardevolle sosiale kommentaar nie ...

En dit bring my by die groot punt wat ek wil maak: Bok mag ’n moerse “nice” ou wees – Koos Kombuis val my nie op as iemand wat doekies omdraai nie en ek het al genoeg ander opinies gelees van mense wat dit met hom eens is. Hy mag selfs oor ’n goeie emmervol wysheid beskik, good-looking wees en behalwe vir sy Kerkorrelesque weerloosheid en lewenservaring ook nog boonop super-cool en ongeflippenlooflik talentvol, maar hy maak een groot fout in my boekie: hy doen nie genoeg nie. Apatie. So ’n kort woordjie en ’n luukse wat ek nie glo ’n mens eintlik kan bekostig wanneer jy die tipe platform gegee word wat Bok van Blerk vandag het nie. Ek sal hom die “benefit of the doubt” gee en nie aanvoer dat dit is omdat hy bang is dit affekteer sy verkope nie, maar ek wil weet hoekom hy nie opstaan en sy eie stem regtig dik maak nie.

Ek wil hê Bok moet hard uitskree (nie saggies noem nie): “As jy by my show die ou vlag wil waai, kan jy maar jou goedjies oppak en maak dat jy wegkom! Los net asseblief jou glas by die deur.” As Chris Chameleon dit kon doen met rokers in sy gehoor, hoekom kan Bok nie iets sê oor ’n werklik belangrike issue nie?! Of dink hy miskien dat hy dit duidelik genoeg gemaak het deur vinnig in Beeld te noem dat hy hom amptelik nie eintlik met die ou vlag assosieer nie?[11] (Ek lees darem ook nou die dag ’n artikel op News24 waar hy vertel hoe hy al een maal ’n ou laat verwyder het omdat die lummel tydens ’n show die ou vlag om hom wou probeer drapeer … Honoris Crux, enigiemand?)

Een van my grootste wense is dat ek Bok net vir een koppie koffie of een brandewyn en Coke of whatever kan sien – ek sal betaal! Ek wil net hê hy moet my in die oë kyk en vir my sê of hy dink hy bring sy kant met betrekking tot die voorbeeld wat hy vir jong Afrikaners in Suid-Afrika stel. Ek wil hê hy moet aan my verduidelik hoe hy dit moreel aan homself regverdig dat hy, soos hy vir Ruda Landman gesê het, bereid sal wees om, teen betaling natuurlik, by 'n Boeremag-funksie op te tree.[12] (Ek’s nie seker nie, maar ek dink die geld maak dit seker okay …?) Ek wil hoor watter tipe boodskap hy dink hy daardeur oordra: “Jongmense van Suid-Afrika, beginsels is nie naastenby so belangrik soos ’n vinnige pay cheque nie!” Of dalk is iets soos “Elkeen vir homself – ek’s apolities en cool” meer in sy styl.

Ek sal vir die res van my lewe onthou dat Roland Schoeman besluit het om nie vir Qatar te gaan swem nie, al het ek op daai stadium regtig gedink hy’s simpel. Hy’t deur daardie besluit vir my gewys hoe om ’n “statement” te maak en dat geld nie alles is nie. En hy sal vir my altyd ’n held bly as gevolg daarvan. Ek wil hê Bok moet vir my verduidelik of en hoe hy hom vereenselwig met die volgende aanhaling: “Musicians are artists, they document our culture, cause us to think, provoke us (sometimes) and introduce us to new ideas. And the good ones are philosophers”
(Robin Sharma[13]).

Maak geen fout nie, ek weet niemand is perfek nie: Jan Blohm is dalk die briljantste Afrikaanse kunstenaar in ’n dekade, maar as ek sy interviews lees, wens ek hy wil net effens minder melodramaties-kripties probeer wees (bietjie van ’n cliché, huh Jan ...?); Anton Goosen is een van my all-time greatest heroes, maar die man is maar ’n veelbesproke karakter met “dubious virtues”; en ou Koos se rymdwang is ’n legendariese bron van genot en bespreking onder my vriende. Steeds haal ek my hoed af en buig ek diep voor hulle, want hulle is eg en hulle het my vuurtjie aangesteek. Myne en baie ander s’n.

Ek het in ’n baie ou tweedehandse boekwinkel in Texas afgekom op ’n baie, baie ou sagtebandboekie wat in 1949 die eerste keer deur Penguin Books uitgegee is, en deur RH Barrows geskryf is, met die titel The Romans. In kort is die boekie maar ’n baie basiese studie in die breë van die antieke Romeinse karakter en Rome se invloed op die ontwikkeling van Europese beskawing, met so bietjie filosofie en literatuur ingegooi vir kicks.

Daar is een spesifieke gedeelte wat ’n groot indruk op my gemaak het en wat ek graag met Bok sou wou deel; ek het dit gevind in ’n gedeelte wat handel oor sekere eienskappe wat die ou Romeine in ’n man gerespekteer het.

Die eerste en mees belangrike was die besef en erkenning dat ’n man sy ondergeskiktheid aan iets ekstern wat ’n bindingskrag op hom het, moet erken. Die term wat hiervoor gebruik word, is religio en kan redelik wyd toegepas word. Vir ’n godsdienstige man is die mees relevante toepassing hiervan bv om aan ’n god / gode hulle “claim” op jou te erken. (Ek gebruik claim omdat ek nie aan ’n Afrikaanse woord kan dink wat die gevoelswaarde presies genoeg ewenaar nie.) Die term word egter nie alleenlik in godsdienstige konteks gebruik nie, en dis waar ek my punt wil maak; benewens ’n god het jou ouers, jou kinders en vriende, asook jou land en landgenote, ’n “claim” op jou. Jou verantwoordelikheid lê daarin om hierdie morele “claim” op jou te erken en dan jou plig dienooreenkomstig uit te voer. As ’n kind, ouer, broer, suster, vriend of landsburger – en na my mening ook as kunstenaar en musikant.

VI

Dit kom met ander woorde neer op verantwoordelikheid. En ek probeer absoluut nie net hier ’n vinger na die Bok wys nie; ek dink dis iets wat op ons almal in Suid-Afrika van toepassing is. Een van die grootste probleme in Suid-Afrika vandag is die feit dat mense hulle eenvoudig net nie verantwoordbaar hou vir hulle aksies nie.

Ek dink dinge kan op verskeie vlakke baie anders loop in Suid-Afrika indien meer mense sou opstaan en sou sê: “Ek aanvaar verantwoordelikheid vir my eie aksies en teenoor my land.” Ek wonder soms of dit nie dalk ’n globale probleem is nie, want ek sien dit so duidelik in die oorversadigde Amerikaanse samelewing, waar soveel mense – veral mense van my generasie – absoluut geen belangstelling toon in wat in die res van die wêreld aangaan nie, eenvoudig omdat hulle nie voel dat dit enigsins direk op hulle van toepassing is nie en hulle dus geen verantwoordelikheid teenoor enigiemand behalwe hulself hoef te hê nie.

In Suid-Afrika sien jy daagliks mense wat moor en roof en eenvoudig weier om enigsins pa te staan vir enige van hulle aksies. En soveel wit Suid-Afrikaners weier tot vandag toe dan nog volstrek om te erken dat einste gemoor en geroof ’n sosio-ekonomiese euwel is wat sy ontstaan deels te danke het aan die wette wat onder die ou NP-regering aan die orde van die dag was. Daar kan as voorbeeld gekyk word na die onderwyswette van die ou bedeling wat so laat soos 1983 nog sewe maal meer spandeer het aan ’n blanke kind se onderwys as aan dié van ’n "nieblanke" kind. Selfs in 1994 was dit nog steeds vier maal meer. Dit het veroorsaak dat ons in ’n land met ’n wit minderheid op ’n punt gekom het waar die meerderheid van die bevolking eenvoudig nie goed genoeg geskool was nie; die beleid van beskaafde arbeid (wie de hel het daai benaming in elk geval uitgedink?) het dan juis, in Hermann Giliomee se woorde, beoog om swart mense uit te sluit van “geskoolde of ander gevorderde werksgeleenthede in die private sektor en van klerklike werk in die sentrale staatsdiens”.[14] So wie se verantwoordelikheid was vooruitgang dan destyds gewees en wie se verantwoordelikheid is die nalatenskap daarsonder dan nou?

Heribert Adams skryf byvoorbeeld ook in sy boek The Opening Of The Apartheid Mind oor die konflik tussen swart Suid-Afrikaners in post-94 Suid-Afrika dat dit ’n probleem is wat grootliks te danke is aan die volgende:

Privileged insider status had historically been confined to people with Section 10 rights, those legally resident in 'white areas' and entitled to work there. The other half, the mass of illegal jobseekers and shack dwellers, were harassed and kept in check by apartheid laws, were discarded and left to starve in the countryside. With the abolition of influx control and apartheid repression, the competition over scarce goods became an intrablack affair.[15]

Vandag se probleme het inderdaad nie uit die lug uit geval nie, mense! Politici vandag dien natuurlik ook glad nie as voorbeeld nie: volgens die ANC se laissez-faire beleid teenoor die bisarre situasie in Zimbabwe en karakters soos ons berugte Manto se Aids-manewales blyk dit duidelik te wees dat almal wat in ’n posisie sit om enigsins iets vir die land te beteken, eenvoudig net na hulle eie belange omsien. Die plaas genaamd Verantwoordelikheid is al vir jare lank vervalle, die werkers ly honger en die diere is dood, maar daar staan ’n 3-reeks BMW in die dubbelgarage.

Op die ou end was Bok van Blerk reg gewees oor een ding: ons het wel ’n leier nodig. Of dit nou ’n generaal is of ’n dominee of ’n skrynwerker of ’n laerskoolonderwyser is van veel minder belang. Wat ons nodig het, mense, is iemand om ’n verskil te maak. Iemand met durf. Iemand om vir die kinders te wys hoe dit gedoen word. Ons het ’n generaal nodig, ’n man wat ’n bars kan kyk, wat regop loop, wat sy kop omhoog hou en boonop lekker kan lag. Ons het ’n Atticus Finch[16] nodig wat bereid is om sy moue op te rol, wat vir ons almal ’n beuel kan blaas en die punch kan en sal vat. Ons het nie Tony Leon se beroepspolitiek nodig nie. Ons het nie die Boeremag se patetiese hubris nodig nie. Ons het oortuiging en passie nodig! En dinamiek! Ons het ’n bittereinder nodig, ’n digter, ’n denker, ’n man wat ontwikkel is. Ons het ’n Koki nodig; iemand wat rats is op sy voete in die jag, ’n slanke speler met die spies, wat ’n jong bul op sy skuins skouers vat en wegdra soos ’n hond.[17] Iemand wat bereid is om die hek se rieme styf te trek, maar wat bereid is om ook na die goue middeweg te soek. Ons het ’n man nodig wat ’n leeu sonder ’n 'scope kan skiet[18] … en wat nie ’n kam in sy kouse bêre of ’n safaripak dra nie.

Kom ons hoop dat hy (of sy) binnekort sy (of haar) opwagting gaan maak, voor dit te laat is. Miskien kan ons dan as Afrikaners saamstaan – vir eens sonder die Broedertwis - ons koppe oplig en hierdie land geniet vir die paradys wat dit eintlik is, in plaas daarvan om met ’n dop in die hand te staan en te sing oor vervloë dae.

 

Verwysings

[1] Stormfront-webtuiste
http://www.stormfront.org
http://www.stormfront.org/forum/ [Besigtig 17 Maart 2007]

[2] Dr Sandra Swart & Prof Albert Grundling. “De la Rey – no cause for alarm says Swart.”
[Besigtig 13 Maart 2007]

[5] Hermann Giliomee. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. Bl 120

[7] Hermann Giliomee. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. Bl 545

[8] Tim du Plessis. "Afrikaners: De la Rey rides again".” Financial Mail, 9 Februarie 2007
[Besigtig 3 Maart 2007: http://freefinancialmail.co.za/07/0209/features/efeat.htm]

[9] Koos Kombuis. “Bok van Blerk en die bagasie van veertig jaar.” [Besigtig 27 Januarie 2007]

[10] Andries “Roof” Bezuidenhout. “From Voëlvry to De la Rey: Popular music, Afrikaner Nationalism and lost irony.”
[Besigtig 10 Maart 2007]

[11] Bok van Blerk tydens ’n media-onderhoud: “Ek wil nie met die ou vlag geassosieer word nie. Ons beweeg aan.” Marlize Scheepers, “Bok se aikôna vir ou landsvlag en 94.7.” Beeld, 1 Februarie 2007. Bl 2.

[12] Bok van Blerk: “He (Lets Pretorius, berugte Boeremag-lid) thanked me for what we are doing and for the song. He asked me to perform for them. I was busy and I declined.”/ Ruda Landman: “But you would go to a Boeremag audience?”/ Bok van Blerk: “If they pay me, yes. Why not?” Aangehaal van De la Rey lives again, Carte Blanche TV-program op MNet, 18 Februarie 2007.
[Besigtig 28 Februarie 2007: http://www.carteblanche.co.za/Display/Display.asp?Id=3251]

[13] Sien Bertie Coetzee: “Ek sien twee pole vêrder uitmekaar trek, en in die middel, hier sit ek.”
[Besigtig 13 Maart 2007]

[14] Hermann Giliomee. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. Bl 457

[15] Heribert Adam, Kogila Moodley. “The Opening Of The Apartheid Mind – Options for the New South Africa.” Berkeley: University of California Press, c1993
http://ark.cdlib.org/ark:13030/fl958009nm

[16] Protagonis in To Kill a Mockingbird, Harper Lee, 1960.

[17] NP van Wyk Louw. 1941. Raka, Kaapstad: Tafelberg.

[18] Sien “Kitty”, deur Piet Botha. 2003. Die Mamba-album.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top