Klein juweel vlieg: ’n resensie van Chisoni deur JG Jesman

  • 0

Titel: Chisoni, or conversations on a plane about life and death
Skrywer: JG Jesman
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781485904908

Hierdie roman styg op met ’n openingsin wat mens dadelik konfronteer: “Death is cunning.” Soos die subtitel die leser dan ook voorberei, besef jy dat hierdie ’n boek is wat nie doekies gaan omdraai oor kwessies van lewe en dood nie.

’n Ruk terug het ek vir LitNet ’n resensie geskryf oor Douglas Kruger se roman The man who never was. Dit was, soos Chisoni, ook deel van Umuzi se Trailblazer-reeks en daar is sterk ooreenkomste tussen die twee romans. Albei romans wil lewenslesse aan die leser oordra; die dood speel ’n belangrike rol in beide en herinner mens daarom ook aan ’n boek soos Tuesdays with Morrie deur Mitch Albom. In Chisoni is die verband met Albom se boek nog sterker, want daar is ook twee mense wat gesels oor kwessies van lewe en dood, alhoewel hierdie keer op ’n vliegtuig.

Chisoni, ’n 33-jarige man wat in Malawi grootgeword het, is op pad terug na sy tuiste in Engeland. Sy broer, Abusa, is onlangs oorlede en die begrafnis is vars in sy geheue en rus swaar op sy gemoed. Sy medepassasier, Brendan, is ’n welsprekende Ier en gou begin die twee gesels. Wat wel verskil van Albom se boek, is dat ek die gevoel gekry het dat die twee karakters elkeen iets het om die ander een te leer – dit is nie ’n geval van leermeester en student nie. Hulle is eerder op gelyke voet.

...
Hierdie boek is ’n klein juweel en vlieg op vele vlakke.
...

Dis opvallend dat die gedeeltes in die vliegtuig in die eerste persoon geskryf is, met Chisoni as die ek-spreker. Die dele waar hy terugkyk na die verlede en na sy broer se lewensverloop, afsterwe en begrafnis word in die derde persoon geskryf, alhoewel steeds uit Chisoni se oogpunt. Word die derdepersoonverteller gebruik om afstand aan te toon? Chisoni en sy broer het deur die jare vervreemd geraak en dalk wil die skrywer iets van hierdie afstand aandui.

Die eenvoudige rooi voorblad het ’n gevoude papiervliegtuig op. Die metafoor van papiervliegtuie word baie belangrik in die boek. As kind het Abusa dikwels vir Chisoni so ’n vliegtuig gevou. Dit simboliseer hulle broederskap. “‘If you’re gonna cry, cry for something worthwhile,’ he said. ‘Paper planes are meant to be let go’” (bl 45).

Net soos so papiervliegtuig na ’n kort ruk neerval, het die broers se verhouding ook ineengestort as gevolg van Abusa se drankmisbruik. Chisoni beskryf ook hoe hy hom tydens sy broer se afsterwe en die daaropvolgende begrafnis teruggetrek het in sy binnewêreld: “He became a paper plane, gliding in the air and recording the surreal unfolding below him” (41).

Hierdie simboliek word natuurlik verder gevoer deur die vlug na Engeland waarop die twee passasiers hul nou bevind.

Die tema van wat drankmisbruik aan ’n familie doen, word realisties en met tye erg ontstellend geskets. “Alcoholism is debilitating. Not just for the alcoholic but for all of those around them. It’s an earthquake of helplessness, crushing families, destroying homes, and burying its victims in emotional debris. How does one stop an earthquake? You can’t. An earthquake stops by itself” (69).

Chisoni het erge skuldgevoelens oor sy rol in sy broer se agteruitgang. In sy jassak is ’n briefie wat sy broer in skewe handskrif aan hul pa geskryf het, maar Chisoni sien nie kans om dit aan sy pa te gee nie. Tydens die vlug ontleed Chisoni sy kinderjare, die faktore wat tot sy broer se verslawing gelei het, broederskap en die verhouding tussen pa en seuns. “He blamed death for its callousness, the world for its indifference, himself for not being at the hospital and for not delivering his brother’s letter” (23).

Deur die loop van die boek (en vlug) deel Chisoni en Brendan hul gedagtes, vrese en idees oor die lewe en die dood, geloof, geskiedenis, die rouproses, eensaamheid, kuns en geestesiektes. Brendan sê: “I like science, but God is an experience, not an experiment” (30) en Chisoni sê: “I think we’re all looking for the answers to three questions ... Who am I? What’s my purpose? And what’s the meaning of life?” (32).

Die skrywer maak hom dikwels skuldig aan mooiskrywery en ’n oordaad van woorde. Clichés kom algemeen voor, byvoorbeeld: “jiggling eyebrows” (5), “churlish laughter” (5) en hierdie afskuwelike een: “Like a mangled marionette, Chisoni lay sprawled over the king-size bed” (11). Die woordgebruik is dikwels formeel. Daar word egter wel ook vars beelde gebruik, byvoorbeeld: ’n Lugwaardin is ’n “high-heeled Sisyphus of the sky” (31) en “White teeth over black-olive skin resembling a sharp stroke on a chalkboard” (97).

Brendan is besig om Ulysses te lees en hierdie roman word ’n tipe interteks vir die temas in Chisoni. “This book is about the human condition, life and death, you know?” (7), vertel Brendan met gravitas aan sy medepassasier. Dit blyk gou dat hulle albei welbelese is.

Chisoni se liefde-haat-verhouding met sy geboorteland word ook goed geskets. Die land se geskiedenis word opgesom en die leser kry ’n goeie idee van hoe dit is om in Malawi te bly.

Hierdie boek is ’n klein juweel en vlieg op vele vlakke. Ja, dit is vol clichés en mooiskrywery en die toonaard is dikwels te formeel, maar ek het meer daaruit geleer as wat ek verwag het. Dis definitief ’n tweede lees werd.

Om mee af te sluit deel ek my gunstelingsin uit die roman: “I believe in God as an ineffable emotion of awe, but I also believe in literature” (34).

Amen!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top