In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Vroeg in September 1982 het die destydse Nasionale Behuisingskommissie in 'n paar koerante 'n advertensie laat plaas waarin die publiek uitgenooi is om te tender vir die koop van 31 woonerwe in Edenvale, Gauteng. 'n Sekere mnr Greyling het daarna op die voorgeskrewe tendervorm getender op drie erwe, te wete erwe 645, 648 en 651. Vir 645 en 648 het hy R8 100 aangebied, maar R8 200 vir erf 651. Dit was omdat 651 'n bietjie groter as die ander twee was – ongeveer 900 vierkante meter.
Mnr Greyling is daarna deur die kantoor van die Nasionale Behuisingskommissie in kennis gestel dat sy tender suksesvol was en dat hy na die kantoor moes kom om die nodige koopkontrak te voltooi. Daar was egter 'n ligte mistykie. Terwyl Greyling getender het op erwe 645, 648 en 651, het die Behuisingskommissie hom in kennis gestel dat sy tender op erf 652 suksesvol was en dat hy dié erf kon koop teen R8 200. Die ligte mistykie was dus 'n tikfout: in plaas van 651 het daar in die Behuisingskommissie se brief gestaan 652. Dié verskil was egter baie groot. Erf 651, waarop Greyling getender het was, soos jy sal onthou, 900 vierkante meter, maar erf 652 – wat foutiewelik in die Departement se brief genoem is – was 1 900 vierkante meter groot. Dit was bestem vir groepsbehuising, wat beteken het dat hierdie erf baie waardevol was.
Mnr Greyling het na die Behuisingskommissie se kantoor gegaan, die brief waarin hy meegedeel is dat sy tender op erf 652 aanvaar is getoon, en 'n koopkontrak vir dié erf gesluit. Hy het daarna die volle bedrag betaal wat nodig was vir die oordrag. Eers tóé het die Behuisingskommissie agtergekom dat hulle eintlik die baie meer waardevolle erf 652 in plaas van 651 aan Greyling verkoop het. Die Kommissie het gevolglik geweier om aan hom oordrag te gee en hy het die Kommissie hof toe gevat.
Die regter het beslis dat daar 'n geldige koopkontrak tot stand gekom het tussen Greyling en die Nasionale Behuisingskommissie en hy het die Kommissie beveel om oordrag van erf 652 aan Greyling te gee.
Hierteen het die Behuisingskommissie appèl aangeteken en die saak het voor drie regters van die hooggeregshof in Pretoria gedien.1 Die hof het beslis dat dit nodig was om vas te stel of mnr Greyling se optrede versoen kon word met dié van 'n redelike man in sy posisie. Hulle het beslis dat die herhaalde verwysing in die Behuisingskommissie se brief na erf 652, in plaas van 651 waarop Greyling getender het, ingedruis het teen die ware feite. 'n Redelike man in Greyling se posisie, het die hof beslis, sou nie stom en gelate op die teenstrydigheid tussen wat hy getender het en wat aanvaar is, gereageer het nie, maar hy sou vrae aan die Behuisingskommissie gerig het om die deurmekaarspul op te klaar. Hy was immers bewus daarvan dat hy nie op erf 652 getender het nie, en die hof het beslis dat hy óók die blaam gedra het vir wat die hof genoem het "die bestendiging van die fout in die koopkontrak".
Die hof het dus beslis dat daar geen wilsooreenstemming tussen die partye was nie en die Behuisingskommissie se appèl het geslaag. In 'n latere saak2 het die appèlhof met goedkeuring na hierdie uitspraak verwys en beslis dat as 'n party tot 'n kontrak agterkom dat daar 'n wesenlike moontlikheid van 'n misverstand tussen die partye is, daar 'n plig op hom rus om te praat en uit te vind presies wat die bedoeling van die ander party is. Om 'n winskoop op te raap in die wete dat daar 'n misverstand by die ander party kan bestaan, sal beteken dat die winskoper nie bona fide optree nie. In só ‘n geval, het die appèlhof beslis, is daar nie wilsooreenstemming tussen die partye nie en gevolglik geen bindende ooreenkoms nie. Wilsooreenstemming is immers die basis waarop 'n kontrak tussen twee of meer partye tot stand kom.
Mnr Greyling was dus sy winskopie van erf 652 kwyt en hy moes die Nasionale Behuisingskommissie se aansienlike regskoste ook nog betaal. Verder was hy ook sy kopie van erf 651, waarop hy aanvanklik getender het, kwyt, omdat dáárdie aanbod nooit deur die Behuisingskommissie aanvaar is nie. Hy het dus lelik tweede gekom, maar gelukkig het hy vir ons almal 'n les nagelaat om in gedagte te hou wanneer ons 'n kontrak sluit. Maak dus seker dat jy en die ander party met wie jy 'n kontrak sluit, honderd persent saamstem oor die bedinge en voorwaardes van die kontrak. Die beste ding is om 'n paar rand uit te haal en die hulp van 'n bekwame prokureur in te roep. Dis honderd maal goedkoper as wat 'n latere hofsaak dalk mag kos.
1 Vgl Nasionale Behuisingskommissie v Greyling 1986(4) 917 (TPA)
2 Vgl Sonap Petroleum (SA) (Pty) Lltd (formerly known as Sonarep (SA) (Pty) Lltd) v Pappadogianis 1992(3) SA 234 (A)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

