Klein dorpie groet groot gees: Paternoster se mense bring hulde aan Johan Carosini

  • 1

Die Paternoster Hotel lank gelede (Foto: verskaf)

Johan Carosini (1939–2021) was tot sy aftrede in 2016, en selfs daarná vir diegene wat hom geken het, byna sinoniem met die bekende Paternoster Hotel en die byna méér bekende Panty Bar. Johan en sy vrou, Wilna, wat vroeër vanjaar oorlede is, het die hotel in 1973 gekoop.

Johan is in 1939 in Laaiplek op die Weskus gebore en was ’n Weskusser in murg en been – gasvry, reguit en plat op die aarde. In sy jare as eienaar-bestuurder was hy lang ure op sy voete. Harde werk en toewyding aan die besigheid was aan die orde van die dag, maar die mense wat sy hotel besoek het, was altyd sy eerste prioriteit. As ’n gereelde kliënt vir ’n ruk lank nie kom gesig wys het nie, het Johan gebel om te hoor waar hulle is en of hulle oukei is.

Die dorp is verslae oor hierdie verlies en ’n paar mense uit die gemeenskap – André Kleynhans (’n goeie vriend), Giorello Carosini (Johan se seun), Madi Pieterse, Ursula Walters, Petra Dekker en Hedwig Slabig – het herinneringe aan hom met Liné Loff gedeel.

 

André Kleynhans

’n Advertensie vir die hotel wat in die vroeë 1970’s in die Weslander verskyn het (Geplaas met toestemming van die Weslander)

’n Spotprent wat in die Weslander verskyn het (Geplaas met toestemming van die Weslander)

’n Spotprent wat in die Weslander verskyn het (Geplaas met toestemming van die Weslander)

 

Giorello Carosini, Johan se seun, het ’n video en foto’s van sy pa met LitNet gedeel:

Die musiekvideo van Carike Keuzenkamp se "Sarah de Jager" is in 1985 in Paternoster verfilm. Johan Carosini en die Paternoster Hotel kan in die video gesien word:

Johan (Foto: verskaf)

Johan in die Panty Bar (Foto: verskaf)

Johan en sy seun Giorello

Johan saam met sy kleinniggie en sy suster (Foto: verskaf)

Die Carosini-gesin: Giorello, Wilna, Johan en Johanni (Foto: verskaf)

 

Madi Pieterse

Hoe ironies kan die lewe tog wees? Vir die afgelope sowat drie jaar het ek sporadies probeer om ’n afspraak met Johan Carosini te maak om ’n artikel oor hom te skryf. Die gedagte was om die man wat ek soveel jare gelede ontmoet het en by wie ek gewerk het, vir ander te wys.

Maar dit was my nie beskore nie. Hy het Alzheimersiekte gehad en was teësinnig om te praat. En nou sal daardie onderhoud nooit gebeur nie en moet ek hom vir oulaas groet uit onthou van lank terug.

Vergun my dus die geleentheid om ’n stukkie oor hom te deel.

In die middel 1980’s het my pa, Pieter Pieterse, sy karavaantjie staangemaak by Tietiesbaai. Paternoster was die naaste 'dorp' waar hy darem melk- en broodvoorraad kon aanvul. En by die hotel het hy gereeld van die tiekieboks in die portaal af sy familie en uitgewer gebel.

Johan en my pa het gereeld gesels en Johan, altyd bereid om te help, het met tyd soort van ’n boodskapdraer geword tussen my pa en mense wat soontoe gebel het om met hom te praat.

My pa was nie lank hier nie voordat ek ook my weg hierheen gevind het. Johan het my aangestel as “baarmoeder” (hy het gereken ek is vroulik en kon tog nie ’n “barman” wees nie). Hierdie benaming van hom het natuurlik groot aftrek geniet by dié wat ’n draai in die kroeg gemaak het.

Johan Carosini was ’n besige man, sowaar. Dan in die kroeg, dan in die kombuis, dan by die buiteverkope. Dit was geen maklike taak om alles vlot te laat verloop nie. Daardie jare was dit nie net vir telefoon optel en bestel en die goete word afgelewer soos vandag nie. Jy moes maar in die kar klim en aankope in die dorp gaan doen (dis nou Vredenburg). Of in die Kaap. Hy was saans flou geloop. Ten spyte daarvan was hy die een wat gesorg het dat alles gesluit kom voordat hy bedwaarts gekeer het.

Gelukkig het hy sy geliefde Wilna aan sy sy gehad. Sy was altyd in die omte, soos ’n skaduwee. Die seuns, Giorello en Johanni, was nog in die skool. Paternoster Hotel was hulle huis. Smiddae het hulle vir Johan opgesoek en vertel van hulle dag by die skool.

Sy ernstige, diep kant het Johan nie vir baie mense gewys nie. Ek reken uit die aard van die bedryf waarin hy was, was geleentheid daarvoor min. Mense het hotel toe gekom om te ontspan, ’n drankie of ete te geniet, en na sy vele stories te luister. Hy het net die vermoë gehad om die humor in situasies raak te sien en dit dan met kleur en geur oor te dra. Mens kon maar weet dat wanneer daar ’n skaterlag uit die kroeg opklink, dit nege uit die tien keer Johan was wat ’n staaltjie gedeel het.

Nou is die legende weg na sy finale rusplek toe. Johan Carosini, jy sal nie vergeet word nie; jou naam sal altyd in dieselfde asem as Paternoster genoem word.

Ek groet jou.
Madi

 

Ursula Walters

Wat sê mens? Hy was iets anders. Net so gou soos hy befoeterd kon raak, net so gou raak hy weer reg. Hy het so baie goed gesê wat ek nie hardop kan noem nie. Hy was baie trots op sy afkoms, maar ook trots om een van ons te wees. Hy het altyd gespog hulle Taljaners leef tot 130 jaar oud. En so kan ek aangaan. Hy het soggens gewag dat ek by die hotel moet verbykom sodat hy kan nonsens praat.

 

Petra Dekker

Om jou Paternoster Hotel sonder Johan Carosini voor te stel is bykans onmoontlik. Hy was so “all over the place”. Altyd besig. Of hy nou (baie jare gelede) die stofpad voor die hotel natgespuit het of kos bedien het of drankies vir gaste geskink het of geselsies aangeknoop het, hy was aan die gang.

Een reënerige wintersaand was daar ’n geselligheid by die hotel. Ek dink ’n TV-span was besig om ’n opname te maak vir die destydse Spies & Plessie-program. Die dak van die danssaal het gelek en Johan het met kastrolle en skottels van die kombuis af gehardloop om onder die lekplekke te sit en ’n krisis af te weer. Die dansery en vrolikheid kon aangaan rondom en tussen die houers op die vloer. Johan het die aand gered.

Waar hy nou is, sal hy sekerlik besig wees om almal om hom besig te hou, terwyl ons hom hier sal mis en onthou.

Petra Dekker se man, Vernon, saam met Johan Carosini in die Panty Bar (Foto: verskaf)

 

Hedwig Slabig

’n Bemarker duisend

In die dae toe

  • die grondpad na Paternoster so uitgery was dat jy jou kar se stuurwiel sou kon los daar waar die teer duskant Vredenburg eindig, en jou kar tot voor die Paternoster Hotel in die spoor gehou het
  • die kroeg Sondae “toe” was (jy kon wel van die portaal af inkom, maar elke dop was 10 sent duurder en jy moes staan, want die stoele is vir die dag gebêre)
  • die “snacks” by die darts-kompetisie gebraaide galjoen en snoektoebroodjies was ...

Daai tyd het Johan Carosini jare al op die meeste Sondae in Rapport se bylae die Paternoster Hotel onder vakansieakkommodasie geadverteer.

Die Transvalers het in die somer gekom, en die blomtoerbusse het in die lente die wit huisies en wit reënblommetjies kom bekyk en gebraaide snoek geëet.

Die Weskussers het met groot en klein karavane by Tieties-se-baai gestaan tydens somervakansies en Paasnaweek, en die boheemses van die Kaap het by Columbine met tentjies gekamp en kreef geduik. Die Panty Bar was altyd die plek om te stop vir ’n dop en Johan se stories.

En so het die dorp stadig uitgebrei.

Vakansiehuise is hier en daar gebou en die Winkel op Paternoster het oopgemaak om aan die besoekers goed te verkoop “wat soos die Weskus lyk”.

Dit was winter en op die tweekant-Coke-swartbord het gestaan OOP, maar die dorp was stil.

Johan Carosini stop met sy wit bakkie, en met sy haastige stappie kom hy by die winkel in en sê: “Waar’s die kryt?” en loop weer uit – staanbord toe.

Hy vee die middelste O uit en maak ’n E, kom terug en sê: “Julle inkommers kan mos nie Weskus spel nie.”

Jan Ponie, die winkeleienaar, vat die kryt, stap uit, en met ’n hê-hê-laggie skryf hy onderaan VE KOEP.

Nou, amper 30 jaar later, is die Paternoster Hotel en die Panty Bar volksbesit, “Oep ve Koep” ’n ikoniese gesegde, Paternoster ’n internasionale toeristebestemming – en ons Bemarker Duisend is nie meer met ons nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top