
“Klein botteltjie, groot gif” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Klein botteltjie, groot gif
Dis net hoelat julle koerantmense se koppe werk; julle dink vir mens in ’n opskrif in vas. Toe jy nou vir my voorsê: “Jy is klein botteltjie, groot gif,” toe sien ek al wa’ loop vat jóú kop sy draai. Jy wil ’n Ellen Pakkies uit my storie maak, maar ek is nie Ellen Pakkies nie. Die klein botteltjie se vergifting is eerder vir myself. Ja, ek het ’n kind, my Aubrey, op die tik en dis hoekom ek nou ook vandag in die gerig staan ... en waaroor daa’ oor my gepraat raak, maar my storie issie so nie. Ek wil dat da’ hoop is en ek baklei virrit. Vat my woorde en draai dit om in die koerant se taal in. Wat geskryf kom, is given wings. Ek skuld die community.
Ek kan nie vir Aubrey vannie tik lossny nie, soos Ellen gemaak het nie. My salf is daarvoor te dun. Die tik kleef hom vas met ’n grip soos ’n octopus. Ek sit hie’ met afgekapte hande en kyk hoe Aubrey stadig en séér reg voor my doodgaan – opgevriet van die tik. In sy kop in, sy tande, sy lyf. Da’ gat niks van hom oorbly nie. Die Djirre wiet; hy sê hy soek die inner peace wat die tik gee, wat dan van my? My geluk sal daarin sit as hy ophou soek na sy happiness in die tik se insuie. Ek kry my peace as ek sy habit uit hom kan uitsuie.
Kyk nou hoe anneste was dit met Julian. Hy het my lewe gedraai en my oë ope gemaak soos ek hulle nie oopgemaak wou gehad hettie. Hy’t my laat sien wat ek nie moes gesien hettie. ’n Goeie kind, maar hy’t die gif hier oopgekrap. Nie dat hy so gebedoel hettie. Ek het maar altyd op ’n deksel gesit en van niks gewiet’ie. Hy kom op ’n môre hier verbygehol. “Kanalla! Stiek my weg – die gangsters soek my lyf.”
“Kom! Gou kyk,” ja’ ek hom. “Hier, in die slaapkamer, daar’s ’n trapdoor onder die kooi. Klim in!”
Staan ek oor die onderdeur, my laaste entjie oppie lip. Hier kom die gangsters. Ek reken dit was die Hard Livings, dié keer. Die voorprater het so ’n windgat-skeefgat-maniertjie van staan aan hom. Broek hang laag aan sy boude. Laag onder die tros, askies.
“Dag, antie, jy’t nie dalk ’n dude hier ve’by sien sny nie, nè?”
“Of die duiwels hom ry? Long gone. Doerie kant toe.” Ma’ ek sien dit gaan meerder kos om hulle van die deur af te wys. “Kom inspect! Ek laat nie my huis deurmekaar krap nie, geho’. Kom jy, wat lyk of jy jou nog kan inhou, kom in en kom kyk hie’s net ek hie’so. Julle annestes hou vir julle yt my huis yt!” Toe wys ek hom deur my huis en daar is niks. Ek maak die kaste oop en druk die klere eenkant toe lat hy ordentlik kan sien daar is niks. “Dis die badkamer en daar lê g’n mens in die bad nie.” Maar hy lag nie virrit nie. Weet nie van laughter is the best medicine nie.
“Nou toe kom. Gaan soek annerplek. Dink jy nou ek sil iemand hier by my loop wegstiek. Ek wil niks met julle se make en late te doene hettie.” Ek sit my kwaadgesig op en gooi nog skeltale. “Jy wiet ek is oorlede pastor se vrou!” Asof dit nou van help gaan wees.
Toe sê daai man vi’ my ’n ding wat ek na la-ang dink eers glad begin kry. Hy sê: “Djy was nou die dag nog in die game? Djy’s dan die eks-kingpin se wyf?” Wat hy wa’ kry?
Nou wiet djy een van die gangsters gaan nog ure lank agter die sinkplate staan en jou doplê om te sien of die wegholler nie by djou deur uitslip nie. Dan is dit hangpaal vir my en my unexpected guest. So loep ek soos sonne’ sonde deur die huis en skuur so met my hakskeen daar by die kooi . “Ons is nou onder die watch. As jy comfortable is da’ onner, klop nou net sagweg so enetjie? Ek sal vir jou kom drie kloppe, pause, drie kloppe as als veilig is. Knock three times on your ceiling.”
Hy maak sy een kloppie. Mooi sag. Ek weet mos hy is gemaklik daar. Dit was dan my oorlede man, die pastor, se lêplek waar hy hom vir die hiernamaals se lang lê ingeoefen het. So het hy my ge-vertel, so tussen al die Here-sal-voorsiene deur. Ek het hom geglo, my man wat vir my en Aubrey gesorg het. Julian maak twee kloppies. Wat sal hy wil hê. Is hy bang vir donker da’ onner? Hy moetie nou ontydig benoud kry nie.
Ek lig die trapdoor ’n skrefie. Vra Julian: “Bietjie water en is daar nie ’n entjie nie, my keel is droog. Kanalla.”
“Ek is all out vir ciggies. Ek moet by’rie kêffie om loep. Hang in there tot ek kom sê ek’s t’rug.”
Loop ek toe winkels toe, my ogie wyd ope, want Aubrey het nog nie huis gekry nie. Half goed dat hy êrens annerplek as by die huis met sy DT’s baklei, anneste moet ek man staan en geslat wôrre asof ek nou sy seer sal kan wegvat. As ek hom preek oorlat hoe sy oorlede pa gelukkig is om tog nie sy sonde aan te kyk nie, lag hy my net af. Die hart van ’n moeder kan ook net só groot wies, nè?
Dis lat ek van die kêffie af kom met die rookgoed dat ek vir hanggat kry wat agter my rug terug gesteel het net toe ek uit is en nou rondkrap in my huis en in my goeters. Hierlangs sluit jy nie jou deur nie, dan briek hulle ’n ruit of skop die deur af. O gotta, help tog dat hy niks wiet van wat onner die vloer aangaan nie. Lat Julian ook nie gedink het sy voetstappe is ek wat signal hy moet uitkom nie. Ek hou ’n sterk plêstiek lat agter die deur reg vir kwaatsoekers. Ek grip die lat stewig vas en slaat op die vloer net agter hanggat. Hy skrik amper sy broek los. Wat soek djy, praat ek hom skrik. Wil djy van dié lat proe? Loep! Ek ken jou ma-goed, wa’s jou respects? Ek ja’ hom straataf laat die bure weet wat hy daar in my plek wil aangevang het. Lat hulle sy gesig ken. Daar is baie bure in onse gemeenskap wat in die naam van my man, die pastor, sil sorg dat die gangsters hulle uit my plek uit hou. Uit respekte.
Dis nou klein storietjies maak voor die groot storie, want toe ek nou sien alles is skoon so agte’mirrag se kant en vir Julian opklop, kom hy daar uit die hemel se voorhangsels onder die bed uit en vertel hy vir my wat daar onder die vloer in my eige huis aangaan; daar waar pastor so vir sy hiernamaals ingelê het. My kop slaat geheel toe. Ek het allie tyd bo-op ’n lieg gebly. Vir dankbaar dat ek hom skuilte gegee het, kom Julian nog elke week en gee vir my ’n geldjie-ietsie, maar wat, Aubrey vat dit – net só! – weer af vir die tik se belustiging. Hy skel my nou nog oor die stash onder die bed wat ek vir die polieste gegee het. Hy kon vi’ jarre mos veniet gesnuif het! Ek het so gedink. Van die drugs was in plastieksakkies en die ander in botteltjies. Die botteltjies het my laat dink aan die Arappe se djinni wat jy liewer in die botteltjie onder die prop moet hou en nie laat uitkom nie. Hulle is evil spirits.
Die pastor loop dooi eer hy die werke van sy hande aan sy eie kind kan sien. Hoelat hy andere mense se kinders uitmekaar briek? Sil’it aan hom gevat het soos dit aan my vat? Maak die kinders snuif, hy sê: Kom ek wys djou hoe lyk die hiemel. Lat ek nou so sit wonder. Toe ek hom hoor sê het: Die Djirre sal voorsien, wassit nie: Die Djirre sal oorsien nie? Hy moet wiet God slaap nie. So skuldig soos die pastor was, so skuld ek elke moeder met ’n kind wat vas is aan die tik – hie’ in die Birchwood se community.
Hie’ sta’ ek en bek vekoep. Ek wil ieder lat djulle my storie oorvat, koerantvrou. Jy kan sommerste hoor hoelat my storie die waarheid is, maar koerantskryf kry nooit ’n verteller se wikke en knikke bygesê nie. Dit val tussen die letters deur. Wat daar nié in jou storie sal wees’ie, is die keel se slukke, die oog se mistiness, die bewe in die stem of die spu en snot nie. Ma’ my message. Hy moet daar staan. Loud and clear, geho’.
Die Soeklig – Maandag 11 Mei.
Klein botteltjie groot gif, so kan ons Henrietta Moses se lewe opsom. Henrietta is ’n weduwee. Soos sovele moeders van die Kaapse Vlakte het sy ’n kind wat aan tik verslaaf is. Henrietta het besluit om ’n positiewe bydrae tot die bekamping en bevegting van die euwel by te dra toe sy onder die vloer in haar huis die bewyse kry dat haar oorlede man ’n pusher was. Sy het dadelik die polisie se dwelmeenheid ingeroep. Daar was ’n groot voorraad tik, bestanddele en dokumentasie wat die verskaffers en die korrupte netwerk van dwelmsmokkelary aan die man gebring het.
Onder haar vloer in die slaapkamer was ’n klein vertrek wat deur haar man as ’n stoorplek gebruik is. Sy het nooit iets vermoed nie, het Henrietta vertel. Haar man, ’n pastoor, het haar vertel hy gebruik die spasie vir sy meditasies.
Ek is in die koerant. Ek koep tien copies en deel uit. Rietjie roep die mense my, Rietjie van Tube Street. Kyk hoe vêr het ons gekom, lat hulle Birchwood se stories wil optel en op koerantpapier sit.
Nou moet hulle net lee’ om hom te skrywe soos hy is.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

