Klassieke klug en Karoo-kortverhaal in nuwe Radioteater-seisoen

  • 0

Klassieke klug en Karoo-kortverhaal in nuwe Radioteater-seisoen

Splinternuwe radiodramas uit die penne van die sanger-akteur Richard van der Westhuizen en die skrywer Riana Scheepers vorm deel van RSG se Tweede Radioteater-seisoen vir 2014.

Die seisoen begin op Donderdag 2 Oktober om 20:00 met Gideon van Eeden se Steriel, ’n stuk oor twee ambulansmanne wat hoofsaaklik op die Kaapste Vlakte werk. Die dwelmkultuur gooi ’n onheilspellende skaduwee oor hul verhouding...

’n Week later volg die aktrise Vinette Ebrahim en Hugo Taljaard se Die ongelooflike reis van Max en Lola – ’n roerende drama oor vriendskap en oudword. Die akteurs Ilsé Klink en Louis van Niekerk vertolk die rolle.

Richard van der Westhuizen se debuut-drama, Splinterglas, is ’n gesinsdrama oor ’n jong meisie wat ’n groot trauma verwerk. Frieda van den Heever, Johann Nel, Shirley Ellis, Johan Botha, Anrich Herbst en Pieter van Zyl vertolk die rolle.

André Kotzé, onder andere bekend om die RSG-vervolgverhaal Seespinnekop, het ’n kortverhaal van die skrywer Pauline Smith as Die pyn vir die radio verwerk. Dit is ’n liefdesverhaal wat in die Klein Karoo afspeel en die luisteraar in trane sal laat. Gretha Brazelle, Elma Potgieter, Francois Stemmet en Julie Strijdom vertolk van die rolle.

Wilken Calitz se God van klank is ’n futuristiese drama oor ’n wêreld waar klank en alle musiek verbied is. Hoe oorleef musikante en die mensdom sonder om ooit ’n stuk musiek te hoor?

Riana Scheepers het in opdrag van RSG haar eerste radiodrama aangepak. ’n Lang, lang nag debuteer op Donderdag 6 November en is ’n erotiese liefdesverhaal.

Baie, baie lank gelede was daar ’n Persiese sultan met die naam Shah-Ryar. Hy het ’n beeldskone vrou gehad, maar dié vrou was ontrou aan hom. Hy het haar in die kamerheer se arms betrap toe hy onverwags teruggekeer het van ’n jagtog.  Sy vrou, én die kamerheer,  natuurlik, is dadelik onthoof.

Die verbitterde en verbysterde sultan het gesweer dat hy geen vrou ooit weer sal toelaat om ontrou te wees aan hom nie. Die vele vroue wat hy elke keer as bruid geneem het, is ná net een nag onthoof.  Die enigste getroue vrou, het hy gesê, is ’n dooie vrou.  Meer as 3 000 pragtige jonkvroue het só hul lewe verloor. Totdat Sheherazade op die toneel verskyn het.
Dit is bekend dat Sheherezade meer as ’n 1 001 nagte haar lewe behou het... maar hóé het sy, ’n vrou wat beslis nié die mooiste van al die vroue van Persië was nie,  dit reggekry?  Dit is wat Scheepers in ’n Lang, lang nag verklap.

Die res van die seisoen sluit in die heel eerste radioverwerking van Pieter Fourie se klassieke klug, Die proponentjie; Charles J. Fourie se Ella se perde; Mari Snyman se Die borde met die blou patroon; asook Dries van Heerden se Offer aan die seegod.

Die skrywer Harry Kalmer het ook sy boek, Die man met die dertien kinders, spesiaal vir die radio verwerk.

Die seisoen word afgesluit met Willem Fransman se splinternuwe Kersdrama wat op Donderdag 25 Desember uitgesaai sal word.

Radioteater word elke Donderdagaand om 20:00 op 100 tot 104 FM uitgesaai en Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

www.rsg.co.za

 

RSG is die wenner van die Fleur du Cap-toekenning vir Innovasie in Teater asook die BASA-prys vir Innovasie vir sy 2013 RSG Radio Kunstefees – ’n eerste vir Suid-Afrika.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top