Klaskamerklets: Onderhoud met Lisa Smith

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Lisa Smith, Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Garsfontein in Pretoria.

Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Om belangstelling by kinders vir die essensie van my vak te kweek te midde van al die baie ander goed, soos ’n vol buitemuurse program, hope ander vakke se huiswerk, geweldige persoonlike en familietrauma, kompetisie van die TV en sosiale netwerke, verhoudings, gevare en misdaad waarmee hulle óók nog gekonfronteer word. Om met ouers oor die weg te kom wat alles vir hulle kinders begeer en wil gee, maar wat nie die skool en onderwyser die geleentheid gee om ’n kind sekere vaardighede wat niks met die vak nie, maar wel met die lewe te doene het, nie.

Wat, dink jy, is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Tydsbestuur en om te kies tussen dit wat reg en verkeerd is. Met die voorbeelde wat leiers in die politiek, sport en vermaaklikheidswêreld stel, is dit vir my moeilik om ’n kind te oortuig om die regte ding te doen en te leer as mense sonder geleerdheid poste in hoë posisies kry en misdaad kan pleeg sonder om daarvoor te boet. Kinders soek van altyd af die maklike pad en waar ek waardes moet leer, word waardes in die land links en regs afgetakel – moreel en andersins. Om so ’n kind gefokus te kry op ’n spelreël of die skryf van ’n opstel is dan baie moeilik.

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik, byvoorbeeld, is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Ja, humorsin, vasbyt-mentaliteit, kreatiwiteit, tegnologiese vaardigheid, entoesiasme, toegewydheid, aanpasbaarheid is baie belangrik. ’n Omgee vir nie net die kind nie, maar die toekoms van die land, is ook in ’n onderwyser se hande. Mense besef nie dat dit wat jy vandag in ’n kind se lewe kan regkry of reg leer, hy/sy in die toekoms sal inploeg nie. Ons land het baie nodig om kinders te onderrig wat voorbeelde vir alle landsburgers kan en sal stel.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Tegnologie, natuurlik. Hulle is genieë met tegnologie, en as jy ’n les kan aanbied wat die tegnologie kan gebruik, is hulle aandag dadelik by jou en die les. Hulle kan jou help om iets te soek of te doen op die rekenaar en hulle geniet dit om ons te help en te wys hulle kan. Hier kan jy jou verstom aan wat hulle weet en ons nie. As jy bereid is om van hulle te leer, is hulle soveel meer bereid om by jou te leer. Ek glo dat indien jy kan hoor en sien, en selfs ander sintuie inspan, jy baie makliker en vinniger leer. Daarom is my leuse: “Werk slimmer, nie harder nie.”

In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Ek is bevoorreg om toegang tot alles te hê wat tegnologies is. Ek het ’n eie webtuiste geskep: www.afrikaans4all.com ofwww. afrikaans4all.co.za, waar ek boeke, CD's, DVD's en plakkate beskikbaar het vir ouers, leerders en onderwysers. Ek het ’n program met die naam Articulate aangekoop en ontwerp die wonderlikste interaktiewe lesse daarop. Ek het ook self ’n interaktiewe witbord gekoop wat baie goed in die klas gebruik kan word. Ek gebruik dit tans tuis waar ek ekstra klasse aanbied. Ek het 100% van die dag toegang tot die internet en soek gereeld dinge op om die kinders te wys, eerder as net daarvan te vertel.

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

LitNet, Mieliestronk, die ATKV se Taalgenoot en Klasgids, Afrikaanse tydskrifte, en natuurlik ontwerp ek my eie om taal of poësie makliker en vinniger op te som. PowerPoint en ander bronne bo genoem.

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerder(s) wat onderpresteer te ondersteun?

Ek betrek hulle ouers. Ouers moet vennote wees in die onderwys en waar ek nie kan dreig en raas en selfone wegvat nie, moet ouers dit doen. Baie ouers weet niks van die vakke se inhoud nie en weet nie hoe om die kind te help nie. As jy hulle met inligting bemagtig, voel hulle dat hulle ook ’n bydrae kan lewer, en gewoonlik is hulle baie bereid om dit te doen. Ek bied ook ekstra klasse by my huis aan, en Skype met kinders wat in ander dorpe en provinsies bly. Kinders kan ook op my Facebook-blad inskakel en vrae/hulp vra. Afrikaans 4All. Hulle kan ook op my webtuiste by "kontak my" klik en ’n e-pos stuur met vrae.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Ai, hier dink ek is baie van ons skuldig, want ons ploeg so om deur die werk te kom dat daardie kinders nie die ekstra tyd kry wat hulle verdien nie. Vir my graad 9-klasse het ek geleer om puik opstelle te skryf en die hulpmiddels tot hul beskikking te gebruik. Ek het nou onderneem om ’n boekie saam te stel en dit namens hulle op my webtuiste te verkoop, waar ek ongeveer 30 van hulle opstelle sal laat opneem sodat ander leerders dit kan koop en sien hoe dit gedoen kan word. Die wins word tussen die skrywers verdeel. Verder is ek tans self besig met ’n skryfkursus waar ek leerders hopelik volgende jaar kan help om ook te begin skryf en hulle eie boeke te publiseer. Ek sien nogal uit daarna.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Ek moet erken, ek kry wel daarmee te doen, maar baie min. Ek is redelik streng, en leerders weet dat daar in my klas gewerk word. As mens volperiode klasgee en hulle hulle konstruktief besig hou, is daar nie tyd vir probleme nie. Ek bel die baie erge gevalle se ouers sommer net daar uit die klas uit. Dit doen ek in één klas één keer per jaar. Die storie versprei vreeslik vinnig en dan is ek vir die res van die jaar goeie dissipline gewaarborg. Hier moet ek vir die skoolhoof en bestuur ’n kompliment gee. Die stelsels by my huidige skool is van so aard dat daar baie ondersteuning vir die onderwyser in dié verband is. Verder ’n kompliment vir ouers en leerders: ek was nog nooit by ’n skool waar die kinders so goedgemanierd is soos waar ek nou is nie. Ouers belê in hulle kinders se opvoeding ook, en dit maak my taak baie maklik. Baie dankie daarvoor. Ek sê ook gereeld vir die kinders hoe verras ek deur hulle maniere is, en ek dink dit laat hul ekstra oplet daarna.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Taalleer. Leerders dink omdat hulle die taal praat, hoef hulle dit nie te leer nie. Dit is egter ver van die waarheid. As jy die "strukture"/terminologie ken, kan jy dit toepas. Dan kan ek jou enigiets vra, en omdat jy die "vaktaal kan praat", sal jy die werk soveel makliker vind om te leer en toe te pas.

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Ek het in 2010 in een van my klasse vir die leerders op papier gewys hoe om vinnige flitskaarte met verskillende vorme en kleure en op ongewone maniere te maak en dan te leer. Jy som dus bladsye se werk op een kleurvolle papier op. Watter een leer makliker en vinniger? Watter een onthou jy makliker en vinniger? Een dogter het na die tyd na my toe gekom en gesê sy is te lui om dit self te doen en gevra of sy myne kan koop! Nou, ja die res is, soos hul sê, geskiedenis. Vandaar die flitsgidse vir taalleer en letterkunde wat leerders nou op my webtuiste by my kan aankoop.

Lisa Smith se kontakinligting

Watter onderrighulp sal jy graag op LitNet wil kry?

As almal kan saamstaan en vraestelle kan uitruil – met memorandums, natuurlik, sal dit baie help. Oulike idees hoe om lesse aan te bied sal ook welkom wees.

Het jy ’n les of lesidee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Ja, graag. Ek stuur ’n PowerPoint-les wat ek vinnig aan mekaar getimmer het as inleidingsles vir Manaka. Plek van die horings. Ek het foto's van die internet afgelaai en die stambome uitgewerk deur die foto's te gebruik. Terwyl ek die boek gelees het, het ek die stambome en foto's op die witbord gewys en leerders kon aanmekaar opkyk en ’n beeld van die karakters kry. Dit het gehelp om die karakters baie vinnig te leer ken. Ek het toevallig vir Morgan Freeman ook gebruik. As die leerders nie geweet het wie die karakter is nie, het ek gesê dis Morgan Freeman. Hulle memoriseer naderhand die stamboom aan die hand van die foto's en leer die name sodoende baie gou ken. As ek dit weer moet doen, sal ek net bekendes se foto's gebruik. Die assosiasie is dan baie sterk en hulle leer die boekkarakter vinniger ken.

Klik hier om toegang tot Lisa se les te kry

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op ou gemaak het?

Sabbatsreis, Kamphoer, 13 uur, Kobra, Life of a king – hierdie fliek gaan oor die voordele wat skaak inhou vir alle aspekte van jou lewe. Ek is die "skaakjuffrou" en leer leerders baie lesse aan die hand van skaak.

 

Kontak Carine Janse van Rensburg by carine@litnet.co.za as jy graag wil klaskamerklets of enige ander bydrae, sprankelende voorstel of kreatiewe gedagte tot ons Skole-afdeling wil lewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top