Klaskamerklets: Onderhoud met Dewald Koen

  • 1

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Dewald Koen, Afrikaans-onderwyser by Kingswood College.

Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Daar is hoofsaaklik twee aspekte van die onderwys wat my kwel. Eerstens bekommer dit my dat daar op onderwys as beroep neergekyk word. Leerlinge vra gereeld vir my waarom ek die onderwys as beroep gekies het. Hulle is dan heel verstom wanneer ek hul inlig dat ek altyd geweet het dat ek ’n onderwyser wil word. Dit bekommer my dat daar so min jongmense is wat die onderwys as ’n loopbaan oorweeg, veral op sekondêre vlak. Onderwysers raak stadig maar seker ’n “bedreigde spesie”. Ek voel ook baie sterk oor ouerbetrokkenheid by hul kinders se leerproses. Ek vind dit kommerwekkend dat baie ouers hul kinders soggens by die skoolhek aflaai en verwag dat die onderwyser verantwoordelik moet wees vir elke aspek van hul kinders se opvoeding. Ek glo dat dit beide die ouers en die onderwysers se taak is om as ’n span saam te werk om te sorg dat elke kind sy/haar volle potensiaal bereik.

Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Koop Kaar by Kalahari.com

 Leerlinge vind dit baie moeilik om in die klaskamer te konsentreer, weens al die afleidings wat hoofsaaklik deur tegnologie teweeg gebring is. Leerlinge se daaglikse skedules is oorvol en gevolglik slaap baie tieners nie genoeg nie. Dit is ’n bose kringloop, aangesien dit alle aspekte van hul skoolloopbaan affekteer.

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdagings van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

My filosofie in die klaskamer is gemeenskaplike respek. Ek glo dat onderwysers nie kan verwag dat leerlinge hul outomaties moet respekteer nie. Respek moet verdien word. Verder glo ek dat onderwysers nie bang moet wees om te erken as hul gefouteer het nie. ’n Goeie sin vir humor in onontbeerlik vir enige onderwyser in die hedendaagse klaskamer. Leerlinge vind meer geredelik aanklank by ’n onderwyser wat nou en dan ’n grappie kan maak, maar daar moet terselfdertyd teen gewaak word dat die klaskamer in ’n sirkus ontaard.

Ek vind al hoe meer dat talle leerlinge ’n “ouer-figuur” in die onderwyser soek, hetsy dit weens gebroke gesinne is of bloot omdat ouers te veel tyd by die werk spandeer en nie altyd tyd maak om met hul kinders te gesels nie. Onderwysers moet hul leerlinge ken. Hul moet weet wat hul huislike omstandighede is en watter uitdagings hul in die gesig staar. Sodoende kan die onderwyser daadwerklik poog om elke leerling in sy/haar klas se lewe op een of ander wyse positief te beïnvloed.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Ek hou daarvan om gesprekke met my klas te voer. Geen onderwerp is in my klas taboe nie. My leerlinge weet dat hulle oor enige onderwerp kan gesels, mits dit nie afbrekend van aard is nie. Deur middel van gesprek leer ek my leerlinge beter ken en deel ek my lewenskennis met hulle. Talle aspekte, soos rassisme, armoede, MIV/Vigs, homoseksualiteit, aborsie, misdaad en dies meer affekteer leerlinge in 2014. Ek moedig gereeld doelbewus gesprekke rondom omstrede onderwerpe aan om te verseker dat leerlinge albei kante van ’n saak kan bespreek. Ek maak altyd seker dat ek juis dié individue se opinie vra wat soms in die massas kan “verdwyn”. As introverte leerlinge sien dat die onderwyser hul insette en bydraes waardeer, raak hul mettertyd meer gretig om ook aan klasgesprekke deel te neem.

In watter mate het jy toegang tot, en maak jy gebruik van, tegnologie in jou klaskamer?

Ek is baie bevoorreg om toegang tot elke moontlik tegnologiese hulpbron in die klas te hê. Tegnologie word gereeld ingespan om lesse te verryk deur byvoorbeeld prente of video’s van die internet te vertoon, films te kyk of bloot hul selfone in die klas te gebruik om inligting op te soek. Ons laat leerlinge ook toe om as deel van mondelinge assessering hul eie filmpies te maak. (Dit lei tot groot vermaak vir beide leerlinge en onderwysers.) Maar as taalonderwyser glo ek egter steeds in pen en papier. Leerlinge moet boeke lees en ordentlik kan skryf. Dit is ononderhandelbaar.

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Ek is verslaaf aan boeke en besit ’n uitgebreide versameling boeke wat ek daagliks raadpleeg. Ek maak gereeld van webtuistes soos LitNet en Versindaba gebruik om inligting of hulpbronne te bekom. Die IEB-skole het ook ’n wonderlike webblad, Allegaartjie, waar onderwysers vraestelle en PowerPoint-aanbiedings met mekaar deel

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerders wat onderpresteer te ondersteun?

Ek glo dat elke leerlinge die reg het om akademies te kan presteer en is bereid om tot op die uiteinde van die aarde vir elkeen van my leerlinge te gaan. Ek skroom nie om selfs op Sondae skool toe te gaan en leerlinge, hetsy in groepe of individueel, te help nie. My lesse word so aangebied dat elke leerling die geleentheid kry om deel te neem. Sodoende kan ek vinnig bepaal wie dalk met ’n sekere aspek van die sillabus sukkel. Ek glo ook daarin om leerlinge persoonlik te nader indien ek voel dat hul addisionele hulp benodig. Leerlinge het nie altyd die vrymoedigheid om hulp te vra nie. Elke leerling in my klas moet soos die toppresteerder voel. Indien elke leerling spesiaal voel, presteer hulle sommer outomaties beter.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Ons bied die Gevorderde Program in Afrikaans aan wat voorsiening maak vir begaafde leerlinge wat in die Afrikaanse letterkunde belangstel. (Dit is soortgelyk aan Cambridge se A-vlak.) Dit is ’n driejaarkursus wat alle genres van die letterkunde dek. Verder verwag ek ook van my begaafde leerlinge om meer te doen as wat van die res van die klas verwag word. Ek sal soms vir hul ’n addisionele opdrag of selfs ’n meer uitdagende opdrag gee om hul intellektueel te stimuleer.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

My benadering tot dissipline is psigologies van aard. Leerlinge gee uiting aan hul frustrasies deur “stout” te wees. Ek lê my daarop toe om so ’n leerling te laat verstaan dat hy/sy my “aandag” gekry het. Ek kommunikeer met die leerling en probeer agter die kap van die byl kom om vas te stel waarom die leerling dissiplinêre probleme veroorsaak. In 90% van die gevalle wat ek al ondervind het, was ek in staat om tot die leerling deur te dring. Kommunikasie tussen die onderwyser en leerling is baie belangrik. Elke dissiplinêre probleem word individueel benader en volgens die omstandighede hanteer. Ek glo nie daarin om “straf” links en regs uit te deel nie. Detensie is ’n mors van tyd en dien geen nut nie. Daar is leerlinge wat detensie deel van hul weeklikse program maak. Hanteer die probleem agter die gedrag.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Ek onderrig Afrikaans as addisionele taal. Die leerlinge sukkel baie met skriftelike take weens hul gebrek aan voldoende woordeskat. Dit is baie uitdagend om leerlinge te leer hoe om goeie stukke te skryf indien hul nie oor die woordeskat beskik om hulself uit te druk nie.

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Ons fokus baie op woordeskatvaslegging in die AOO-fase. Leerlinge word ook aangemoedig om die woorde wat hul leer, in konteks te gebruik en dit deur middel van toepassing gevolglik te onthou. Die paar Afrikaanssprekende leerlinge op ons kampus word ook aangemoedig om Afrikaans met leerlinge in die koshuis en op die sportveld te praat.

Watter onderrighulp sal jy graag op LitNet wil kry?

Enige onderwyser se grootste wens is om meer tyd in ’n dag te hê. Daar is bloot nie genoeg ure in ’n dag om die “perfekte” les vir elke graad vir elke dag van die jaar voor te berei nie. Ek sou graag wou hê dat meer onderwysers hul vraestelle met mekaar op LitNet deel. Dit neem ure in beslag om vraestelle op te stel en dit sou alle onderwysers se lewe soveel makliker maak indien almal bereid was om hul hulpbronne met mekaar te deel. Ek vind dit baie kommerwekkend dat daar soveel onderwysers is wat bloot óf weier óf nie die moeite wil doen om hulpbronne met mekaar te deel nie. Almal is besig en gevolglik sou almal daarby baat indien ons hulpbronne met mekaar kon deel.

Het jy ’n les of les-idee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Leerlinge word selde die geleentheid gegun om kreatief te wees. My beste lesse het gespruit uit kreatiewe projekte wat ek leerlinge laat doen het. Onderwysers moenie tieners onderskat nie. Selfs die gespierde rugbybreker hou ook daarvan om soms sy vinger in ’n pot verf te druk of selfs om iets te teken. Ek het al leerlinge gevra om hul gunsteling Afrikaanse woord in die woordeboek op te soek, dit dan met hul vingers op ’n plakkaat te skryf en die woord dan visueel uit te beeld deur dit op hul plakkaat te verf deur slegs hul vingers te gebruik. Na afloop van die pret moes elke leerling in Afrikaans aan die klas verduidelik wat sy/haar woord beteken en daarna het ons lekker vir al die (“interessante”) verfprojekte gelag. Soms moet ’n mens net die handboek neersit en die verf uitpluk – selfs met jou graad 11-klas. Daar is min dinge wat leerlinge so opgewonde maak soos om iets onverwags in die klas te doen.

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of film(s) het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Ek is behep met lees, en versamel al wat ’n boek is. Dit is baie moeilik om gunstelingboeke op te noem, maar daar is wel ’n paar wat ongetwyfeld uitstaan. Vanjaar se gunstelinge sluit in Johann Nell se Sondag op ’n voëlplaas, wat my ure se leesgenot besorg het. Chris van der Merwe se bundel literêre opstelle, Die houtbeen van St Sergius, het ek behoorlik verslind. Marlene van Niekerk se Kaar is fenomenaal.

Ek herlees ook graag ouer tekste. Karel Schoeman en Ingrid Winterbach is twee van my gunsteling Afrikaanse skrywers. Ek lees ook al wat ’n jeugroman is om in voeling te bly met die wêreld van die hedendaagse tiener. Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies en Uit, asook Annelie Ferreira se Tot siens, Koning Arthur tel onder vanjaar se bestes. Christien Neser se Amper Einstein verdien ook ’n plek op elke onderwyser se boekrak. Wanneer ek tyd vir myself nodig het, lees ek graag Annelie Botes se romans. (Sy is my “boekma”.) Ek sal hier moet stop – anders gaan ek nooit ophou om oor boeke te praat nie.

 
Kontak Carine Janse van Rensburg by carine@litnet.co.za as jy graag wil klaskamerklets of enige ander bydrae, sprankelende voorstel of kreatiewe gedagte tot ons Skole-afdeling wil lewer.

  • 1

Kommentaar

  • Dewald ek wou 'n onderwyser word en het toe nie daarby uitgekom nie. Het jou antwoorde waardeer. Moet nooit jou entoesiasme verloor nie. SA het duisende onderwysers soos jy nodig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top