Klaskamerklets: In gesprek met Hesti van der Mescht

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies. Hierdie week gesels ons met Hesti van der Mescht, Afrikaans-onderwyser by Paul Roos Gimnasium.

1. Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Dis só ’n omvattende vraag dat ek dit nooit sal kan beantwoord nie. Ek is ook nie seker of die vraag spesifiek na die Suid-Afrikaanse onderwys-opset verwys nie, maar oor wat in die res van die wêreld aangaan, kan ek my nie sonder verdere navorsing uitspreek nie – ek brabbel dus maar oor Suid-Afrika en dié se onderwysstelsel.

Die vraag kan ook nie in een sin beantwoord word nie. Daar is nog groot verskille tussen gemeenskappe en yslike klowe en kranse waardeur en waaroor die grootste deel van die onderwysgemeenskap van hierdie land van ons moet worstel.

Ek het in my klas ’n persoonlike rekenaar, ’n digitale skerm, ’n iMac, ’n kleurdrukker, toegang tot die internet, e-pos, ’n witbord, toegang tot fotokopieergeriewe – noem maar op en dis daar. Die skool het ’n volledige biblioteek, ’n rekenaarsentrum, twee skoolsale, van die beste sportgeriewe in die land ... Het ék uitdagings?

Nie ver van my af nie sit kinders onder doringbome op omgekeerde roomysbakkies en skryf; is daar skoolhoofde wat soggens nie seker is of hulle leerkragte gaan opdaag nie en leerkragte wie se skoolhoofde eenvoudig nie omgee nie; gaan leerders met leë magies skool toe; lewe ouers in angs dat hulle kinders dalk op pad skool toe verkrag/vermoor gaan word, of in ’n taxi onder ’n trein gaan beland; verdrink kleintjies in puttoilette ...

Ek lees nou die dag van Riyaadh Najaar, die skoolhoof van die hoërskool Spine Road wat verlede jaar met ’n 100%-slaagsyfer kon spog. Hierdie skool was in die tagtigerjare (volgens die verslaggewer Julian Jansen) “’n brandpunt in die burgerlike protes teen apartheid”.

“Vandag,” skryf hy verder, “is die armoede en werkloosheid, die bendeprobleme en die maatskaplike probleme ... steeds presies dieselfde.”

Mnr Najaar het ernstige uitdagings – wat hy daagliks moet aanpak en oorkom. Sy skool is onlangs vereer as die mees verbeterde skool tussen 2012 en 2014, en het die prys gewen vir die hoogste slaagsyfer in rekeningkunde in 2014. Wat ’n suksesverhaal, en dit ten spyte van ...

Ek kry skaam: my éie uitdaging is ongeveer om, met al die moontlike hulpmiddels tot my beskikking, 30 woelige seunskinders op ’n slag in so ’n mate met Afrikaans te vermaak dat hulle darem op die ou end genoeg van die vak hou om genot te put uit dit wat Afrikaanse skrywers en digters bied en uiteindelik daarna uitsien om na my klas toe te kom.

Waarskynlik is die antwoord op julle vraag eenvoudig: hierdie land, Suid-Afrika. Dís die grootste uitdaging.

 

Koop Norme vir Afrikaans by Kalahari.com
Koop Flight Behavior by Kalahari.com
Koop Zorba the Greek by Kalahari.com
Koop Kaar by Kalahari.com

2. Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Ek verwys na die antwoord hier bo. Party se uitdagings is veel, veel groter as ander s’n.

My dogter werk vir ’n organisasie genaamd Help2Read, wat laerskoolkinders met leerprobleme in agtergeblewe gemeenskappe ondersteun. In sommige gevalle vorder kinders tot in graad 6 of 7 sonder dat hulle behoorlik kan lees. Hoe gebeur dit? Hoe het die stelsel hierdie skole en hierdie leerders gefaal? Sou ek dan moet sê dat die einste onderwysstelsel vir hierdie leerders minstens één van hulle grootste uitdagings is?

3. Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is byvoorbeeld eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Die vraag beantwoord eintlik homself. Ál die bogenoemde eienskappe – veral daardie laaste ene (grit) – is onontbeerlik. Geduld kom ook daarby – en geduld met jouself is amper belangriker as geduld met die leerders (want dit kom natuurlikerwys). Onderwys is nie vir sissies nie.

4. Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Ek peper hulle met vrae, of ek verskil hewig met hulle (dis seuns). Hulle weet altyd beter as ek, en hulle wil de laaste een altyd beter weet as hulle maats. Nie moeilik nie. Mans is eenvoudige wesens.

5. In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Reeds genoem, by vraag 1. Ek gebruik dit soveel as wat ek kan – maar soms gee ek sommer net op die outydse manier klas, op die bord en sonder hulpmiddels. Variety is the spice of life.

6. Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

My klas-“bybels” is Wannie Carstens se Norme vir Afrikaans en die Etimologiese Woordeboek. Die kinders is mal oor woordstories. Enige woordeboek, om die waarheid te sê, is altyd ’n wonderlike manier om hulle aandag te behou. LitNet is nogal ’n webtuiste wat ek gereeld besoek, en noodgewonge moet ek af en toe by die WKOD s’n inklok. Ek het kennis van tale soos Duits, Frans, Italiaans en Latyn, en verwys geweldig baie daarna tydens taallesse. Die internet is so vol van verwysingsbronne ... te veel om almal hier op te noem.

7. Hoe pas jy jou onderrig aan om leerders wat onderpresteer, te ondersteun?

Daar is min kinders in my klasse wat werklik onderpresteer – dis in die meeste gevalle nie nodig om onderrigaanpassings te maak nie. Gesprekke met individue en/of met ouers doen gewoonlik die ding, en natuurlik ekstra hulp, afsonderlik en buite skoolure.

8. Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Ek hanteer almal asof hulle buitengewoon begaafd is. Werk soos ’n bom ...

9. Hoe hanteer jy ’n leerder wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Verwys na die antwoord by vraag 7. Oueringryping is gewoonlik die uiteindelike oplossing, maar individuele gesprekke, buite die klas se hoorafstand, werk gewoonlik eerste.

10. Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Dis nogal moeilik – hulle is die minste geïnteresseerd in taalkunde, maar dit het meer met die sillabus te doen as iets anders. Ek doen maar my eie ding om dit te oorbrug. Sommige van die letterkundige werke en gedigte is uiteraard moeiliker om te verstaan as ander, en kort noodwendig langer en meer intense onderrig. Dalk is opstelskryf die héél moeilikste. Dít sit nie sommer in elkeen se broek nie.

11. Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Herhaling, maar met variasie, vraag-en-antwoord-metode, sodat hulle uiteindelik ervaar dat hulle sélf by die antwoord uitkom. Beeldmateriaal, veral met moeilike gedigte. Bykomende navorsing. Norme vir Afrikaans.

12. Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Op die oomblik is ek heel tevrede met wat op LitNet aangaan ... ek sal daaroor moet dink, maar ek het regtig nie nou tyd nie. Ek moet gou LitNet se webwerf besoek om navorsing te doen vir my volgende les ...

13. Kan jy ’n les (of lesidee) wat goed gewerk het, met LitNet deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Ek moet so dikwels verduidelik wat ’n infinitief is – dit kan dalk help as ek hier probeer. Selfs Norme vir Afrikaans kon my nie red nie!

Die infinitief is moeilik verstaanbaar, want in Afrikaans – én in Engels – lyk dit gewoon soos ’n werkwoord – wat dit natuurlik nie is nie. In ander tale kan jy dadelik aan die vorm daarvan sien dat dit ’n infinitief is. Die enigste vorme waaraan ons nog in Afrikaans die infinitief kan herken, is dié van “wees” en “hê”.

My verduideliking gryp terug na die oorsprong van die woord “infinite”, wat bestaan uit die Latynse voorvoegsel “in-“ (wat “nie” beteken) en die stam “finis”, wat “grens” beteken – en dan kom jy by die kombuisvertalinkie “onbegrens” uit.

Die infinitief is ’n vorm van die werkwoord, en dis onbegrens – dis nie verbonde aan ’n persoon, of aan enkelvoud of meervoud nie, en ook nie aan tyd nie. Aan die infinitief kan jy nie sien of dit gister of vandag gebeur of gebeur het nie, en jy weet ook nie wie of wat die “aksie” uitgevoer het nie.

Weens sy onbegrensde aard kan jy ook heelwat meer met ’n infinitief as met ’n werkwoord aanvang.

As jy dus die woord “swem” sien, kan dit dalk selfs as selfstandige naamwoord die onderwerp of die voorwerp van ’n sin wees (soos in “Swem is goeie oefening” OF “Ek hou van swem”). Dit word saam met die hulpwerkwoord van tyd “sal” gebruik om die toekomende tyd te vorm, of saam met al die modale hulpwerkwoorde.

Noudat ek dit lees, klink dit soos ’n lam verduideliking – ek sal weer tyd hieraan moet bestee.

14. Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of film(s) het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Ek het begin verlede jaar Barbara Kingsolver se Flight Behaviour gelees, en dit het my so ontstel dat ek onmiddellik terggegryp het na my ou gemaksone-boeke: Zorba the Greek en Christ Recrucified van Kazantzakis; The Secret History van Donna Tartt. Ek het ook ál 800-en-hoeveel bladsye van Victor Hugo se Les Miserables gelees, ’n persoonlike uitdaging wat ek vir myself gestel het – en ek het elke liewe Franse woord en uitdrukking en elke verwysing wat ek nie verstaan het nie, nageslaan.

Vir my 60ste verjaarsdag het ek Kaar van Marlene van Niekerk by ’n paar oudleerlinge present gekry. Ek wou dit natuurlik omtrent verslind, figuurlik gesproke, maar dit was heelwat makliker gesê as gedaan.

Die beste film wat ek onlangs gesien het, is The Dresser, met Albert Finney, Tom Courtenay en Edward Fox. Dit het 100% op Rotten Tomatoes gekry en het my so hartseer gehad dat ek onmiddellik daarna na Poena is Koning gekyk het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top