Klaskamerklets: In gesprek met Coenraad Walters

  • 0

Ek voel dis nodig om ’n "vraag nul" hier in te voeg: “Waar hou jy skool en wat is jou pligte?” Ek is aangestel as bibliotekaris by ’n privaat hoërskool in Somerset-Wes, Somerset College. Ek gee wel klas, en drie grade se Afrikaans Huistaalklasse is my verantwoordelikheid. Daarbenewens is ek verantwoordelik vir navorsingsvaardighede. Dit word nie formeel gedoseer of op die rooster ingewerk nie; ek word gevra om klasse toe te spreek oor verskillende aspekte of om individue te woord te staan. Verder is ek betrokke by kulturele aspekte van die skool: ek help met die administrasie van die skoolkoor en die debatvereniging, en ek is lid van die onlangs-gestigte akademiese komitee, wat die akademiese program van die skool wil versterk en onderwysers wil bystaan in die uitvoer van hul pligte. As bibliotekaris is ek verantwoordelik vir die aankoop van boeke, administrasie en katalogisering, tydskrifte en ander take wat navorsing ondersteun.

My situasie is dus anders as dié van baie kollegas wat ook hier hul menings gaan uitspreek. Daar is 13 matrieks, 11 graad 11’s en 13 graad 8’s in my klasse vanjaar. Hierdie kwartaal neem ek ’n graad 9-klas waar vir ’n kollega wat met kraamverlof is – daar is 18 studente. Dissipline is daarom baie selde ’n wesenlike probleem vir my.

Die gemeenskap waaruit die studente kom, is ook welvarender as die meeste in Suid-Afrika, wat beteken dat ek meer boeke kan voorskryf en ander planne (soos uitstappies) kan uitvoer. Die uitgebreide rekenaarnetwerk maak ook heelwat dinge moontlik: dis vinnig en maklik om gou ’n video of beeld op die internet te vind en in die klas te vertoon; ek kan van die studente verwag om op Beter Afrikaans se webwerf te registreer om hul spelling en taalkennis sodoende uit te brei.

Ek is terdeë bewus van die voorreg wat ek op die oomblik het: tussen 1992 en 2000 het ek in Woodstock in Kaapstad skoolgehou in ’n aansienlik minder-bemiddelde gemeenskap. Daar was groot klasse (maklik 48, in ’n klaskamer waar ek met groot konsentrasie 43 skoolbanke kon inpas) en groot dissiplinêre probleme – onder meer omdat baie van die studente geen uitsig op naskoolse studie of opleiding gehad het nie.

1. Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

In ’n onlangse gesprek met ’n vriendin het sy gesê kinders het dikwels nie ’n entoesiasme vir die toekoms nie. Die onderwys probeer baie hard om studente vaardighede te laat aanleer en kennis te laat opdoen: die uitdaging is om ’n toekomsdimensie daaraan te verleen. Dis nie goed genoeg om vir kinders te sê: "Dis soos medisyne: dis goed vir jou" nie – hulle moet kan insien hoe dit hulle vir die toekoms voorberei. Gegewe die manier waarop ons wêreld verander, met tipes werk wat verouderd raak en verdwyn en vervang word deur nuwe poste, is aanpasbaarheid en gretigheid vir voortdurend nuwe dinge leer uiters belangrik.

2. Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Hulle word so gebombardeer met inligting dat hulle dikwels moedeloos voel. Hulle moet leer onderskei tussen die oppervlak en die diepgang; tussen kwaliteit en verstrooiing. Hul kurrikulums is veel komplekser en meer veeleisend as in vorige geslagte. Dit is daarom van enorme belang dat hulle goed kan lees, en dat hulle krities kan nadink oor wat hulle lees. Die stroom werk wat van hulle verwag word, maak dit soms moeilik om hierdie vermoëns werklik op te skerp en toe te pas.

3. Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdaging(s) van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik, byvoorbeeld, is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Alles wat genoem is, is uiters belangrik vir die individu wat onderwys gee se selfbehoud as mens. Onderwys is ’n enorm slopende aktiwiteit: daar word soveel energie en emosie uit jou uit getap elke oomblik van elke dag. As ’n mens dit kan deurmaak en steeds jou kern as mens kan behou, het jy oorwin! Vir my is dit nou maklik om te praat, gegewe hoe klein my klasse is, maar ek onthou my ervaring by my vorige skool geweldig goed. Dit raak soms onmoontlik om aktiwiteite in te pas wat jóú siel voed sodat jy iets het om aan jou studente uit te deel.

4. Hoe moedig jy jou klasse aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

Met klein klassies is dit nie moeilik nie: dis veel makliker om almal raak te sien, op elkeen se nommer te druk, aan te dring op ’n bydrae, nie tevrede te wees met "Ek weet nie, Meneer" nie; ook om groepwerk te laat slaag sodat almal gedwing word om aktief besig te wees. Dis ook makliker om die Interessante Skootsindroom (ISS) op te let en die selfoon of tablet te verwyder wat die afleiding verskaf.

5. In watter mate het jy toegang tot en maak jy gebruik van tegnologie in jou klaskamer?

Ons is baie gelukkig: daar is op die oomblik in elke klaskamer ’n rekenaar en dataprojektor. Dit laat ’n mens toe om voorbereide lesse visueel te versterk, of om op die ingewing van die oomblik iets te soek wat die les of onderwerp ondersteun.

6. Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Daar is betreklik min webtuistes beskikbaar vir Afrikaans Huistaal, maar die internetweergawes van die koerante en tydskrifte verskaf maklik benutbare bronne, onder meer spotprente vir visuele geletterdheid. LitNet verskaf dikwels nuttige resensies; Versindaba verskaf inligting oor digters en soms oor individuele verse. Ek het reeds Beter Afrikaans genoem – ’n uiters waardevolle toevoeging!

Boeke: natuurlik die HAT (dis maklik vir Huistaalstudente om ’n Huistaalonderwyser vas te vra!); Groot verseboek; Grové se stokou Literêre sakwoordeboek, Cloete se Literêre terme en teorieë – ek wens daar wil ’n splinternuwe Afrikaanse literêre woordeboek op die mark verskyn! Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die Etimologiese Woordeboek, Pharos se Tweetalige Woordeboek, atlasse, geskiedenisse – die voordeel van bibliotekaris wees is dat al hierdie boeke op rakke net buite my kantoor beskikbaar is!

7. Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerder(s) wat onderpresteer te ondersteun?

Studente met werklike probleme kan aansoek doen om tydens toetse en eksamens met skribas of voorlesers te werk. Ek hoef min te doen; eintlik moet ek net sorg dat kopieë van vraestelle betyds ingelewer word om die proses te laat funksioneer: dit word uitstekend bestuur deur ons Students Development Unit (SDU). Individuele sessies tydens pouses of na skool is ook beskikbaar, waartydens ek kan seker maak of iemand ’n begrip werklik verstaan. In die klein klasse waarmee ek werk, is sulke remediërende ingrypings soms binne klasverband moontlik.

8. Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

In ’n skool soos ons s’n is Afrikaans Huistaal ’n kursus wat net toegewyde studente lok: vele ander volg die maklike pad en neem Eerste Addisionele Taal. Die hele klas verg dus besondere uitdagings om te verseker dat hulle geniet wat ons doen (omdat hulle keuses het!) en dat hulle die kursus verrykend vind. As ’n mens van almal buitengewone werk verwag, is jy soms verbaas waartoe hulle in staat is. As bibliotekaris sorg ek natuurlik dat interessante en uitdagende Afrikaanse boeke aangekoop word om die Huistaalstudente van uitstekende leesstof te voorsien.

9. Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Dit is ’n rare verskynsel in my klasse, maar nie totaal onbekend nie (en dit lê in die vak en die klein klassies, nie my supersoniese onderwysvermoëns nie!). Ons skool het heelwat strategieë om dissiplinêre probleme vas te vat: daar is detensiesessies op Vrydagmiddae; elke student is lid van ’n tutorgroep – ’n onderwyser kan dus die tutor vra om met die student te gesels oor probleme; een van die adjunkhoofde is verantwoordelik vir dissipline en kan ook ’n rol speel om sulke probleme op te los. ’n Student wat probleme in die klas skep, word dus nie eenvoudig met straf in gedagte benader nie: as daar ander kwessies ter sprake is, word dit ook gehanteer, onder meer deur ons SDU, wat bestaan uit beraders en terapeute wat studente kan ondersteun en ook gedragsprobleme kan aanpak.

10. Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Ek bespreek soms komplekse filosofiese sake met studente in ’n poging om hulle denke bloot te lê. Hulle vind dit soms baie vreemd en uitdagend, maar wanneer hulle aangemoedig word om die kwessies te deurdink en toe te pas, kom hulle met knap werk vorendag. Daarby vind hulle dit soms moeilik om my geesdrif oor sekere literêre werke te verstaan!

11. Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Verduidelik, vereenvoudig, voorbeelde, toepassings, visuele materiaal, enigiets wat beskikbaar is!

12. Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Ek sou graag meer videomateriaal wou hê: mense wat gedigte voordra – dalk ’n volskaalse voorlesing van Raka en Joernaal van Jorik, soos die video-opname van Fiona Shaw wat TS Eliot se “The waste land” voordra.

LitNet sou dalk ook kon help om onderwysers te help om meer onlangse gedigte te identifiseer vir skoolgebruik – dis moeilik om baie onlangse verse te gebruik, omdat die bloemlesings vir skoolgebruik al ’n paar jaar oud is en uitgewers nie meer so gretig baie bloemlesings publiseer nie. Daar is planne om te maak, maar die werkende hande moet gevind en gekoördineer word.

13. Kan jy ’n les (of lesidee) wat goed gewerk het met LitNet deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Iets baie eenvoudigs wat tot groot pret aanleiding gee vir informele mondeling. Ek gebruik dit gewoonlik wanneer ons oor die konsep van kultuur praat as voorbereiding vir Raka. Op klein stukkies papier – een meer as die aantal studente in die klas – skryf ek allerlei kulturele aspekte neer: radio; televisie; teater; opera; brei en hekel; waatlemoen; biblioteke; museums; boeresport; boeremusiek; braaivleis; die internet; ens (dis nie moeilik om die lys aan te vul nie). Al hierdie papiertjies, liggies toegevou, word in ’n houer geplaas. Ter wille van tyd bepaal ’n mens van die begin af die volgorde waarin die studente gaan optree – skryf dit neer sodat niemand later kan stry nie!

Nommer een kom vorentoe en trek twee van die papiertjies. Hy kyk daarna en kies een waaroor hy wil praat. Die ander een gaan terug in die houer. Nommer een het dan een minuut om buite die klas te gaan staan en te besluit wat hy oor sy onderwerp wil sê. Hy moet sê wat dit is, hoe dit by ons kultuur inpas, of dit iets is wat hy as deel van sy kultuur beskou en of dit bewaar moet word of nie. Ná 60 sekondes word hy ingeroep en staangemaak waar hy moet praat. Hy kry nog ’n paar sekondes grasie: nommer twee kom trek haar twee papiertjies, kies waaroor sy wil praat, en gaan uit die klas uit. Sy kan voorberei terwyl nommer een praat (en vrae beantwoord, as sy praatjie maar kort en flou is!). Wanneer nommer twee regstaan, kom nommer drie kies, ens.

14. Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Ek fliek deesdae om praktiese redes redelik min, maar ek gaan kyk programmaties en uit beginsel na die Metropolitan Opera-flieks – daaroor is ek absoluut gek. Die fliek in Januarie van Wagner se Die Meistersinger von Nürnberg, altesaam ses uur lank, het ek oor een naweek twee maal gesien en dit was hemels!

Tydens 2014 het ek Penguin se 60 klein boekies wat in 1995 vir hul 60ste verjaardag uitgegee is, gelees. Die variasie en gehalte het my asem weggeslaan. Veral die werk van Damon Runyon, Camille Paglia, John Updike en Muriel Spark was vir my ’n ontdekking.

Al is ek gewoonlik nie lief vir bloed en geweld nie, is ek gek oor Deon Meyer (Kobra), Yrsa Sigurdardóttir (The silence of the sea), Robert Galbraith (The silkworm) en Martin Steyn (Donker spoor).

Fanie Viljoen se Uit was vir my uitstekend; ek het ook met groot genot David Levithan se Boy meets boy, Two boys kissing en Will Grayson, Will Grayson (lg saam met John Green) gelees. Fanie se Pleisters vir die dooies was ook ’n vuishou op die maag.

Jan Terlouw se Koning van Katoren in Daniel Hugo se skitterende vertaling was ’n heerlike voorgeskrewe boek; die opvolg, Soektog in Katoren, behoort verpligte leesstof te wees vir een en almal wat ’n vreedsame samelewing nastreef en wonder waarom dinge so gewelddadig bly.

Uit die lys van 136 boeke en boekies wat ek gelees het, was daar nog veel meer vreugde: Afrikaanse Asterix-boeke; DJ Opperman se bundels (2014 was sy eeufees); Laurent Cossé se A novel bookstore; Peter Carey se Oscar and Lucinda; Carina Stander se Wildvreemd (voorgeskryf vir die matrieks); Michiel Heyns se A sportful malice en Lost ground; Hennie Aucamp se Skulp. Maar dit begin nou klink na vertonerigheid ... As bibliotekaris is ver en wyd lees gelukkig ’n toelaatbare onderdeel van my werk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top