Klara kom tuis: Kronkelpaaie maak boek boeiend

  • 0

Klara kom tuis
Margaret Bakkes
Lapa-Uitgewers
ISBN: 9780799344462
Bladsye: 111
Handelsprys: R130.00

Klik hier en bestel Klara kom tuis nou by Lapa

Margaret Bakkes het al verskeie romans, versamelbundels en kortverhale geskryf. Haar jongste roman, Klara kom tuis, is deur Lapa-Uitgewers gepubliseer. Dit is 111 bladsye lank en het die formaat van die uitgewers se Romanza-reeks.

Dit is egter nie ’n romanse nie, maar ’n roman. By romanses is almal mooi en begeerlik, en almal lewe aan die einde gelukkig voort, die liefde oorwin of gevind, die kinkels in die kabel van die liefdestryd uitgestryk. Soos die titel van die boek aandui, kom Klara ook uiteindelik op die punt waar sy die geluk wat haar ontwyk het, kan aangryp. Die proloog noem ’n brief wat ’n vrou wat aanstap in jare, ontvang het, en die leser weet daar kom ’n openbaring, ’n dénouement.

Voordat die leser egter daarby kom, is daar die relaas van Klara Verbeek se lewe saam met die man met wie sy getrou het, Stefan de Wet. Hy is ’n man met ’n militêre loopbaan en hulle het dit nooit breed nie. Hy studeer egter en is ambisieus en vol ideale. Sy loopbaan sal hulle wegneem van die plek waar sy gelukkig was en waar haar familie was, na ’n ver plek in die suide, waar die aanpassing weer van voor af moet begin. Dit is die ou storie van klein begin en darem stappie vir stappie vorder.

Die kinders kom ook, een na die ander, en geluk word afgewissel met treurigheid. Die alledaagse, die vervelige roetine, die sleurwerk, die tweedehandse besittings is alles deel van dié huwelik. Stefan noem dit: “Speeltyd is verby.” Hy is prakties en vas op die aarde en sy wonder of dit nie die “doodsklok” van die huwelik kan laat lui nie. Haar ma is ’n voorbeeld van iemand wat haar eie talente ten bate van haar man verwaarloos het.

Klara is nie iemand wat tevrede is met min stimulasie en ’n vaal bestaan waar sy altyd gedienstig aan die man en sy ambisies sal wees nie. Soos sy sê, “’n Mens het ’n plig om jou teen wanhoop te verset.” Sy sprei haar vlerke oop om te vlieg. Sy is kreatief van aard en deur te skryf gaan sy haarself bevry. Nie net geldelik nie, maar deur die verruiming van haar gees. Sy glo “’n mens moet self vir jou siel sorg”, maar terselfdertyd het sy ook ’n vrees “vir oud en eenzaam zijn”.

Sy verdien genoeg vir ’n oorsese reis. Stefan, wat haar mismoedigheid en haar versugtings verstaan, moedig haar aan om alleen saam met ’n toergroep te gaan, en dit is net hier waar ’n ander man haar lewe binnekom. Haar dilemma is: Is dit ’n mite dat ’n vrou net vir haar man lief kan wees? Haar keuse gaan die verloop van die res van haar lewe bepaal. Sy weet daar gaan “afgrondelike verskeurdheid” wees, waar haar keuse ook al val.

Ons het dus hier ’n liefdesverhaal, en dit is nie ongewoon dat mense voor sulke keuses te staan kom nie. Dit is so oud soos tyd en die liefde self. Wat betref die gelukkige einde, die bymekaarkom van al die drade om ’n enkele, bevredigende oplossing vir die menslike dilemma te bied, dit is daar. Maar die kronkelpaaie voor daardie einde, dit is wat die boek boeiend maak. Afhangende van die leser se smaak.

Bakkes het die vermoë om emosies in al hul kleure, en die omgewing in sy doodsheid of prag, baie goed uit te beeld. Met haar skryfvermoë skort niks. Lees ’n mens haar werk, dink jy: hier is ’n skrywer wat ook gereis het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top