Kladboek

  • 0

Aan’t kaste regpak ontdek sy ’n kladboek
met geparste blare, elk benoem, maar
kinderlomp ingeplak. Voor haar
val ’n kleintyd oop met langsteel-poinsettias
by die agterdeur wat jaarliks wit en taai
sou bloei as haar pa die stele einde Julie
stomp afsnoei. Speel-speel en gedagtig
aan Gandhi het sy frangipani’s geel
en melkerig om haar nek gestring, min wetend
dat dié vlesige blare gou tot vrot sou verwring.
Daar is moerbei- en varingblare, grysgroen
verdroog, en ragfyn konfetti van ’n doringboom
oor die tafel gestrooi. Sy huiwer oor dié kleinood,
plaas dit by ’n bondel papier om dalk later te herwin –
maar dralend bly die herinnering.

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top