Klaas Steytler (1922–1998)

  • 0

Gebore en getoë

Nicolaas Georg (Klaas) Steytler is op 20 April 1922 op Ladybrand in die Oos-Vrystaat gebore. Sy pa was inspekteur van skole in die Vrystaat en Klaas is vernoem na die ou strydros in die politiek, Klasie Havenga. Sy ma was Henriette Stander.

Die biblioteek op Harrismith was een van sy gunstelingplekke en daar het hy alles gelees, van cowboystories tot Grimm. Hy het dit ’n “lesende jeug” genoem. (Die Burger, 19 April 1997)

Hy het op Harrismith grootgeword, waar hy in 1939 aan die Hoërskool Harrismith gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Klaas het aanvanklik ’n handelsgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal, maar het gou besef dit is nie sy rigting nie. In 1945 het hy ’n BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

In 1946 het Klaas as joernalis by Die Vaderland begin werk. In 1947, net na die Tweede Wêreldoorlog, is hy op ’n vragskip Kanada toe, waar hy vir drie jaar in Montreal by die International Air Transport Association gewerk het.

Klaas en die bekende skrywer Elsa Joubert het mekaar in die Jameson-saal by die Universiteit van Kaapstad ontmoet toe hulle albei as volwasse studente weer gaan studeer het na hulle reeds gewerk het. In 1948 het Elsa deur Afrika tot by die Nyl gereis en oral briewe van Klaas gekry. Laat in die veertigerjare van die twintigste eeu het Klaas en Elsa met rugsakke deur Europa gereis. Hulle het in Berlyn in ’n vliegtuig belaai met steenkool aangekom. Klaas wou ’n artikel daaroor skryf, maar sy koerant wou die storie nie plaas nie. “Almal was moeg vir die oorlog en stories oor die wêreld waar dit plaasgevind het.”

Klaas het aan Johann Botha vertel dat toe hy Elsa die eerste keer gevra het of sy saam met hom sal uitgaan, sy gesê het sy sal daaroor dink. Toe het hy gesê: “Nou, terwyl jy dink, lees Dostojefski se Crime and punishment. As jy dit klaar gelees het, sal ek jou uitneem. Wat toe so gebeur het.”

In 1950 is Klaas en Elsa in die Paarl getroud en twee dogters, Elsabé en Henriëtte, en ’n seun, Nico, is uit die huwelik gebore. Na hulle huwelik het hulle Johannesburg toe getrek waar Klaas se loopbaan in die joernalistiek in alle erns by Die Transvaler begin het, hoewel hy in 1946 reeds ’n driekwartjaar by Die Vaderland gewerk het.

Rachelle Greeff skryf dat soos dit enige deurwinterde verslaggewer betaam, doen hy al wat beat is: van howe en misdaad tot finansies. Hierop het sewe jaar by Huisgenoot gevolg, waarvan vyf jaar as redakteur. Vanaf 1971 tot 1973 was hy niefiksie-redakteur by Tafelberg Uitgewers en in 1973 het hy besluit om voltyds te skryf. Ander werkondervinding was as laaimeester van veevoer, vragmotorbestuurder, baksteen-teller, skrywer van smalls en tikker (manlike tikster). Hy het ook as vertaler (van Afrikaans na Engels) by Hansard gewerk “tot hulle my gefire het”.

In 1967, toe Klaas redakteur van Huisgenoot was, is hy en Elsa uitgenooi Duitsland toe en in Berlyn het hulle in dieselfde hotel as vroeër gebly. Hulle was van plan om Oos-Europa te gaan besoek, tot ’n dringende telegram hulle gemaan het om onder geen omstandighede die grens oor te steek nie. Die spioen Juri Loginof is pas in Suid-Afrika gevang en die Russe sou glo die eerste verhandelbare Suid-Afrikaners wat agter die destydse Ystergordyn beland, gryp vir inruil.

Klaas het as joernalis baie belangrike lesse geleer, veral oor dissipline en struktuur, het hy aan Herman Wasserman net voor sy 75ste verjaardag vertel: “Daar is by die Vaderland allerhande dinge by my ingeprent wat my later bygebly het toe ek begin skryf het. Soos die eerste paragraaf – baie belangrik. Kyk byvoorbeeld na die manier waarop Marquez sy eerste paragrawe skryf. In Chronicle of a death foretold en Love in the time of cholera. Hy begin so. Die beginparagraaf is baie belangrik.

“Jy moet jou storie so vertel dat hy dadelik sy draad kry. Jy moet so ’n voorspel gee, en daarna die drade begin optel. Ek glo baie in struktuur. As die struktuur reg is, loop die storie ook reg.” (Die Burger, 19 April 1997)

Carl Jung het ’n groot invloed op Klaas en sy werk gehad en hy het aan Herman Wasserman meer vertel oor die temas in sy werk, veral die “trickster”-motief en hoe hy in Jung se leer van argetipes ’n “hulpmiddel gekry het, ’n manier om na myself en die mensdom te kyk. Jung hang vir my saam met skryf. Ek het sekere antwoorde in Jung gevind op bestaansvrae wat ek aan myself gevra het. As jy groter duidelikheid het oor bestaansvrae, is dit wat op papier uitkom ook duideliker.”

In Johannesburg het Klaas en Elsa saam met Jan Rabie, Abraham de Vries en Rita Elferink met die Excelsior Groep begin. Klaas het verduidelik dat dit ’n kwessie was van brûe bou en terselfdertyd het dit hulle eie insigte geweldig verbreed. Hulle het hulself net eenvoudig tuis gevoel by die bruin mense van Coronationville en Kliptown. “Hoogty van apartheid ten spyt het hulle hulself in Afrikaans gehandhaaf,” het Elsa vertel. “Op die ou end was daar elke jaar ’n Kerskonsert in die stadsaal waar al die kore van bruin skole kom sing het, en die plek was tot barstens toe vol.”

Klaas het voortgegaan: “Ons het dit reggekry om lede van die Eoan Groep individueel Johannesburg toe te bring, en een maal het ’n bruin pianis met die SAUK Simfonieorkes onder Anton Hartman opgetree.” Elsa het die jaar van die Wonder van Afrikaans onthou toe hulle SV Petersen as belangrikste eregas gehad het en die mense behoorlik in hom opgegaan het. “Hy was vir hulle ’n rolmodel van wat in en met Afrikaans bereik kan word.” (Die Burger, 18 November 1995)

Klaas en Elsa was van die stigting af in die Afrikaanse Skrywersgilde bedrywig. Die aanvanklike motivering was antisensuur.

In die vroeë tagtigerjare het dit onder die aandag gekom dat die Kaaplandse Biblioteekdiens gereeld groot getalle boeke laat verpulp. “Daar was onreëlmatighede met nuwe aankope en geen nuwe rakruimte nie. Ons het ingespring en versigtig uitgesoek watter boeke ons kon aanry vir bruin en swart skole, wat niks gehad het nie. Jan was ook daarby betrokke. Toe sal ek eers uitvind watter mynveld die Afrikaanse letterkunde in hierdie omstandighede is. Standaard skrywers soos, neem nou Sangiro en Mikro, was net uit. Ons is Jurie Naudé wat toe Nasionale Pers se tydskrifbestuurder was, ook groot dank verskuldig. Ons het gedink al die terugsendings van onverkoopte tydskrifte –HuisgenootSarieLandbouweekblad – kon ook goed te pas kom. Ons kon dit verniet van hom kry, maar die BTW moes betaal word. Daarvoor het ons gaan geld bedel by Sasol, en gekry.” Die kinders kon die tydskrifte huis toe neem en die hele gesin kon dit lees. En dit was ook ’n wonderlike aanvulling by skoolprojekte.

Hulle het ook op gereelde weeklikse grondslag met onderwysers van Afrikaans aan swart skole bymekaargekom om hulp te verleen met die dosering van taal en letterkunde. Maar met die skole-oproer van 1985 en 1986 het dit alles op ’n end gekom. (Die Burger, 18 November 1995)

Gedurende die 1970’s was Klaas lid van die Sensuurraad onder Jannie Kruger.

Die gesin het later na Kaapstad getrek, waar hulle in Oranjezicht gebly het.

Klaas het in die vyftigerjare begin skryf, aanvanklik onder die skuilnaam Jan Harmse. Hy vertel aan Amanda Botha (Transvaler, 3 September 1982) dat dit pure skugterheid was wat hom agter die naam Jan Harmse laat skuil het. In 1975 verskyn Zapzap, in Seepunt gaan dit pienk en plesierig en in 1977 Die wonderwerke van Judas Iskariot en ander vertellings. Klaas vertel dat hy graag met ware gebeure werk. Dit is die egtheid van die gegewe wat hom as skrywer boei en prikkel. As kind het Klaas onder meer ’n klein, rooi boekie met die naam Die wonderbaarlike avonture van Jan Harmse liefgehad. En dié Jan was so minuskuul dat hy bo-op ’n mier kon sit. “Ek wou net so onopsigtelik soos Jan wees,” het Klaas aan Rachelle Greeff vertel. (De Kat, Oktober 1991)

Zapzap, wat ook vir televisie verwerk is, is ook op ’n ware voorval gegrond en so ook Die leeukuil wat in 1982 gepubliseer is. Zapzap handel oor Miss Breggie Venter en ’n jong uitgewersklerk wat betrokke raak by ’n bankroof en dan ontvoer en aangehou word. Ietwat onortodokse maniere om te ontsnap, die geld terug te kry en die skurke aan die kaak te stel, maak van hierdie boek skreeusnaakse leeswerk. In 1992 is dit ook vir televisie verwerk met Koos Roets as die regisseur. Kobus Louw het dit verwerk en van die spelers daarin was Kitty Albertyn, Emgee Pretorius, Elizabeth Archer, Sandra Ferreira en Marko van der Colff.

Vir André P Brink (Rapport, 25 April 1976) is Zapzap geskrywe “in wat ’n mens eintlik net kan bestempel as die harregatstyl van sekere Amerikaanse spanningsverhale – in Raymond Chandler se tradisie; met Mickey Spillane dalk ook aan die verbysluip.

“Kortom, hoogs gesofistikeerde vermaak, waar op die stramien van ’n speurverhaal uitbundig gesatiriseer en gehekel word met Suid-Afrikaanse mense en tipes en style. (...)

“Dit is in die skrywer se vermoë om die onverwagte te hanteer asof dit doodordinêr is, en in sy onhebbelike gebrek aan ‘respekte’ vir Koeie en koeie, dat sy plesierigheid geleë is. En daarby in sy vermoë om – met weinig insinkinge – ’n haas ongelooflike pas in die opeenvolging van buitensporige tonele vol te hou en nog boonop die hele netwerk van handelinge te laat vásknoop.

“Sedert G Sutherland se dae het ons nog nie só ’n lagstorie in Afrikaans gehad nie; maar dan met die genot van hoogs intelligente (soms selfs intellektuele) beplanning daarby, en in ’n ikonoklastiese satire wat jou by wyse van spreke na jou asem laat snak.

“Dis ’n storie wat enige chroniese lyer van hardlywigheid sal genees. En as die purgasie soms té sterk aangemaak is, is die eindresultaat nog altyd iets wat mens nie wil misloop nie. Dit is ’n boek vir wyd en syd lees, veral vir ons óór-ernstige dae. Vir my het hy pienk getiekel.”

In 1977 vergas Klaas Steytler ons weer in die persoon van Jan Harmse met Die wonderwerke van Judas Iskariot en ander vertellings.

Vir Audrey Blignault (Beeld, 20 Februarie 1978) was die verskyning van Judas Iskariot ’n verrassende gebeurtenis in die Afrikaanse letterkunde: “Die heel besondere verdienste van die skrywer is dat hy daarin slaag om in elke vertelling die bekende gegewe van ’n Bybelse wonderwerk letterkundig skeppend tot eietydse allegorie te verdiep. Op die verhaalvlak is die vertellings boeiend, dramaties, realisties-beeldend, maar onmiskenbaar loop die allegoriese ondertoon deur die werk as geheel en word die drie vertellings saam ’n Christelik-godsdienstige uitspraak oor die morele klimaat van die huidige tyd en die moderne mens wat meen dat hy straffeloos die boosheid in sy lewe kan toelaat. (...)

“Die skrywer handhaaf ’n kragtige prosastyl in die drie vertellings. Die fiktiewe werklikheid wat die skrywer skep, is volkome oortuigend: die barre weiveld van die varke, die verskriklike sensuele brutaliteit van Gadara; die histeriese drukte van die bonte skare in Kapernaum, Judas se selfvernietigende droom oor die Dag van Wraak wanneer Israel deur die Messias weer tot sy volle glorie herstel.

“Die persone in die drie vertellings word in hul volle menslikheid gebeeld. Stylmiddele soos ironie, dramatiese teenstelling, selfopenbaring deur persoonlike belydenis word hoogs effektief gebruik. Elke vertelling afsonderlik en die drie vertellings as geheel is ’n onontkombare uitspraak oor die normloosheid, die geestelike doodsheid en die tragiese verloëning van die mens se religieuse behoefte in hierdie tyd.

Die wonderwerke van Judas Iskariot is ’n boek waarin elke leser iets van homself herken, ’n boek wat die mens van vandag opnuut bewus maak van die essensie van die Christelike godsdiens.”

In 1982 het Klaas die Harmse-masker gebêre met drie suksesboeke – Die doodkis-spesjelDie leeukuil en sy Engelse vertaling van Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein onder die titel To die at sunset. Laasgenoemde is so goed oorsee ontvang dat ’n Londense resensent dit in dieselfde asem as Karen Blixen en Conrad genoem het.

Die doodkis-spesjel het jare vantevore (in die vroeë 1950’s) as ’n kortverhaal in die blad Ons Lewe verskyn. Klaas het dit geskryf toe hy nog joernalis by Die Transvaler was en het dit herskryf om in ’n nuwe gedaante te verskyn – in 1982 by Juventus. Gertjie se pa besluit om groot geld te maak deur doodkiste te verkoop. Hierdie doodkiste word op die solder gebêre en moet van die hand gesit word, al moet die kopers oorreed word deur middel van hulle vrees vir hulle “kwale” en die dood. Maar De Lange word nie ryk van die verkope nie. Toe kom die spruit af na die groot reën en die kinders ry lekker in die water in ’n skuit. Gertjie en sy broer, Lewies, “leen” toe ’n doodkis, en dit word vlot gemaak met baie plesier. Die doodkis-spesjel keer egter teen ’n klip om en Gertjie beland in die water terwyl sy “skip” stroom-af dryf. Wat daarna van die spesjel en sy uitvinder word, kom aan die lig as Pa hoenderboer word.

Ian Raper (Hoofstad, 25 Oktober 1982) meen dat hierdie nie net ’n boek vir seuns is nie, maar dat ander lesers ook baie stukkies plesier hierin kan vind. “Ek is veral ingenome met die stylhelderheid en die vermyding van die sentimentele sonder om gevoeligheid in te boet. Die pas word volgehou en die skrywer se mense en sy omgewing word met begrip en toewyding geteken. Dis stukke beter as die meeste ‘jeugromans’ omdat dit onmiddellik, fris en lewendig die werklikheid met liefde en sonder valse idealisme deur die oë van ’n spesifieke, onbevange kind beeld.”

Vir Hannie Schutte (Transvaler, 14 Februarie 1983) praat die seun, Gertjie, uit die geborgenheid van ’n gelukkige gesin en die skrywer praat nie saam nie. “Die verhaal behou dus so sy egtheid.”

Klaas het tydens die bekendstelling van die verwerkte weergawe van Die doodkis-spesjel getiteld Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was, vertel: “Die Lewe, die storie oor 3 p, toe Gert Basson, toe feitlik sonder enige resensie darem uitverkoop. Die boekie het nooit stilgestaan nie. Toe kom Hettie (Scholtz) einde verlede jaar (1992) en sê die boek se tyd het nou aangebreek. Ek het toe op die gevaar gewys: Gert het die oorspronklike gaan uitgrawe. Styl is glad nie aan verander van 1956 tot 1982 nie, want ek het toe redelik uitgebrei. Nou, begin ’93, sê ek vir Hettie, wat gaan gebeur as ek uitbrei en toevoeg en die styl het verander? Wat daar was, het ’n sekere soort ongekunsteldheid, ’n natuurlike vloei, ’n toonaard van sy eie. Sê maar soos ’n Schubert-trio, miskien sy nr 1 (aanmatiging om so iets te vergelyk, maar dit is min of meer die tonale omvang).

“Toe begin ek maar en skryf ’n paar hoofstukke by en vul ander uit en gooi ’n paragraaf in, en blaas in die algemeen op die kopie. Niks is egter weggelaat nie. Miskien moet ek verduidelik wat dit beteken om op ’n storie te blaas. Dit is soos klei – jy blaas daarop, en dan moet jy kyk of die mense vanself begin rondloop. En van self begin praat. (...) Klaargemaak, toe hou ek die resultaat teen die lig om te kyk of daar enige gaatjies is waar ek naaldwerk gedoen het. Niks krakies, niks gaatjies nie. Die styl van 1956 het behoue gebly. Ewenwel, ek gee toe die resultaat vir Hettie. En sy sê: hierdie storie is nou rond.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1994)

In ’n onderhoud met Romi van der Merwe het Klaas gesê: “Om aan ’n storie te torring en dit uit te bou, is nie nuut nie. Party Japanners skryf al lank hul tekste uitvoerig oor. Wat soms daaruit voortvloei, is ’n gevoel van rondheid wat jy by die lees van die teks ervaar; ’n begin en ’n einde wat nie reguit loop nie, maar ’n sirkel vorm, soms ook mandala genoem – die Indiese simbool vir ’n sirkel.” Hy het verder verduidelik dat die idee vir rondheid uit die godsdienswêreld van Hindoeïsme en Boeddhisme en deur die filosoof Jung en sy volgelinge gebruik word om ’n patroon van orde te beskryf.

Hierdie soeke na rondheid, die vrae oor wat die bestaan behels, het Klaas in die jare vyftig na hipnose gelei. Hy het al die prosedures van telepatie en gedagteprojeksie geken en was ’n gekwalifiseerde hipnotiseur. In die vroeë dae van sy stokperdjie het talle vriende na hom toe gekom vir hipnose. “Iemand moet bereid wees om hom aan jou sorg oor te laat sodat jy binne-in hom kan rondstap. Julle moet altwee saam konsentreer, bereid wees om saam te werk, dan gaan al die deure oop.”

Klaas het ook al die geheime van die I Ching-stokkies geken soos opgesluit in die Chinese Boek van Veranderinge (Richard Wilhelm-vertaling) en gooi soms die bamboesstokkies om mense te help. Hy het baie op daardie gebied gelees. Hy het ook soms wat hy “beduidende” drome genoem het, gedroom. “Die mens se ervaringsveld is geensins wat hy bewustelik ervaar nie,” vertel hy aan Romi van der Merwe. (Rooi Rose, 1 Desember 1993)

Oor die laphoedjie op die voorblad van Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was lê daar ook ’n storie agter. “’n Ou vriendskap met die oorlogskorrespondent en filmmaker Al J Venter in die jare 80 het uitgeloop op ’n uitnodiging om vir ’n week by ’n militêre basis op die Angolese grens te kuier. (Dié ervaring was die inspirasie vir die titelverhaal in Elsa se bundel kortverhale, Dansmaat.) Ek het bedags saam met die soldate in hul buffels uitgegaan en gou besef ek sal bedekking vir my kop moet kry. Vir R2,59 het ek toe die laphoedjie aangeskaf en dit agterna met wit en rooi blaartjies deur my kunstenares-suster, Maxie Steytler, laat versier.” (Rooi Rose, 1 Desember 1993)

Hierdie boek was na sy publikasie een van die topverkopers by Exclusive Books en in 1993 is dit deur Paul Eilers oor Afrikaans Stereo voorgelees.

Hans du Plessis (Beeld, 25 Oktober1993) skryf oor die nuwe uitgawe dat dit nie ’n jeugverhaal in die eng sin van die woord is nie. “Aanvanklik is dit die kind Gertjie se perspektief, maar dan op die doodkisstorie van die hele gesin, eintlik die hele diep Vrystaatse gemeenskappie. Later word dit al meer jeugverhaal vir sover dit uiteindelik die kinders se spel met die doodkis word. (...) Steytler het lankal bewys dat hy Afrikaans kan gebruik, en met hierdie novelle bevestig hy die vermoë. Die taal loop net so lekker as wat die storie loop. Dit voel of jy met die lees so glad op die taal se water sit en stroom-saam gly. En jy hoef nie ’n sekere ouderdom te wees om dit te geniet nie: jy kan so jonk of so oud wees as wat jy wil; dis pure plesier.”

Op Afrikaans Stereo se Skrywers en Boeke (13 Januarie 1994) sê Phil du Plessis: “Hierdie werk moet in ons lettere die status toegeken word wat die skrywer Antoine de Saint-Éxupery se Klein Prinsie onder die Franse het. Klaas Steytler se taal is volks, maar sy eie. Dit is geamuseerd, maar in sigself vermaaklik, met gepoleerde en verrassende kwinkslae.”

Die leeukuil word ook in 1982 gepubliseer en het etlike herdrukke beleef nadat dit vir skole voorgeskryf is. Die verhaal is kortliks soos volg: ’n Geskeide man, pas uit die tronk, daag op sy seun se dertiende verjaardag by laasgenoemde se huis op. Hy neem die seun sonder sy moeder se medewete uit vir ’n “opskoppie” in Hillbrow, onwetend dat die seun aan ernstige epilepsie ly en sal sterf as hy nie sy medikasie gebruik nie. Die seun se moeder en haar man soek intussen naarstiglik na die twee.

Abraham de Vries skryf dat, besware ten spyt, daar lanklaas so ’n leesbare boek op sy lessenaar beland het. (Vaderland, 25 November 1982)

Volgens Kerneels Breytenbach (Die Burger, 28 Oktober 1982) is Die leeukuil ’n boek sonder literêre pretensie, maar dat dit juis danksy die fyn uitgewerkte verwikkeling en die prikkelende vertelwyse tog ’n groter statuur verkry het. “Die gebrek aan pretensie en die totale afwesigheid van geforseerde aktualiteit is die dinge wat jou die gouste opval, uiteindelik is dit die gehalte van die personasies se menslikheid wat jou hart vasgryp: onsentimenteel, eerlik.”

Joan Hambidge (Hoofstad, 6 Desember 1982) wil nie die afloop van die gebeure in haar resensie skets nie, want sy voel dat ’n mens die spanning self moet meemaak om uit te vind of Daniël betyds gevind gaan word. Sy skryf verder: “Maar wat hom uiteindelik voltrek binne die kort bestek van hierdie verhaal, word oortuigend beskryf op sowel psigologiese as juridiese vlak. (...) Die roman is opgebou uit ’n magdom van teenstrydighede (skuld versus onskuld, armoede versus rykdom, ens) en die onversoenbaarheid van dié uiterstes. Die primêre boodskap is dat die noodlot of die gevolge wat dade in die verlede gehad, nie ontduik kan word nie. Die motiewe in die roman word behendig hanteer en Steytler is ’n uitmuntende raconteur.” Die dialoog is egter vir Hambidge soms té gedwonge om werklik te oortuig, maar Die leeukuil is in die geheel ’n werk wat haar beïndruk het.

Klaas het in 1985 verder bekendheid verwerf met die skep van Dirk Hoffman, die televisie-advokaat. Hierdie speurreeks het sy ontstaan gehad toe Klaas en die skrywer, Chris Barnard, een aand gesels het oor die idee van ’n Afrikaanse speurreeks. ’n Petrocelli-tipe karakter met ’n paar verskille het vir hulle nie te sleg geklink nie. Met die hulp van sy skoonseun, John Latsky, wat ’n regsgeleerde is, en sy seun, Nico, destyds ’n dosent in strafreg, het Klaas die navorsing vir die reeks gedoen sodat die meeste stories op ware opsienbarende hofsake geskoei is. Dirk Hoffman moes ’n man wees wat eerder met mense as met geld sal werk, wat medemenslik is, wat ’n common touch het, wat snaakse liefhebberye het en van musiek hou. Daarby moes die sake waarby hy betrokke raak, realisties en wáár wees. Hoewel die hofsake waar was, het die personasies nie werklik bestaan nie. “Ek was te bang iemand herken homself in ’n storie en vat my hof toe.” (Die Burger, 25 Oktober 1985)

Die regisseur van die reeks was Koos Roets en George Ballot was Dirk Hoffman. Klaas was baie tevrede met die reeks en vol lof vir Roets: “Geloofwaardigheid was vir my baie belangrik: my karakters en gebeurtenisse moes by mekaar pas. Dit moes nie ’n strooisage vol onwerklikhede wees nie. Daarom was ek baie bly dat die stukkies sosiale kommentaar in my teks behou is, want as jy ’n teks skryf, moet jou verwysingsveld na aan die waarheid wees.” Dit was die eerste televisiereeks waar een van die hoofrolle spesifiek vir ’n gekleurde geskryf is. (Sarie, 29 Januarie 1986)

’n Eenbedryf deur Klaas, Die gyselaar, is in die bundel Alles op die spel wat deur Klipbok Uitgewers uitgegee is, opgeneem.

In 1986 het Klaas aan Chris Barnard vertel dat daar twee woordverwerkers in die Steytler-huishouding is – syne en Elsa s’n. Soggens tienuur het hy in sy skryfkamer ingestap. die deur toegemaak en homself afgesonder. Hy het geglo, soos John Steinbeck, roetine is al wat ’n skrywer tot sy beskikking het om hom teen luiheid te verdedig. “Jy bly daar sit, of jy gewerk kry ofte nie. Jy sít. En as niks wil gebeur nie, dan begin jy skryf nogtans, al kom dit hóe krom of skeef uit. Vanmiddag of môre of anderdag sal wel daarop verbeter.

“En nou sal ek jou ’n ander ding beduie. Die dag as jy só sukkel, help dit altyd as jy vir jouself sê: goed, dit werk glad nie, probeer jou ding nou op ’n eenvoudiger manier sê. Dan, skielik, begin die woorde kom. ’n Ou wat sukkel om te skryf, is baie keer ’n ou wat ingewikkelder probeer skryf as wat nodig is.” (Rapport, 20 Desember 1986)

Met die publikasie van Die walvisman in 1986 het André P Brink (Rapport, 8 Maart 1987) sy bespreking só begin: “Klaas Steytler bied in hierdie roman ’n vernuftige – maar dikwels ook nét vernuftige – herontwerp van en bespiegeling oor die verhaal van Jona, in opvolging van sy vorige ondersoek van Bybelse motiewe in Die wonderwerke van Judas Iskariot.

“In hoofsaak word die Bybelverhaal gemoderniseer: die profeet Jona ben-Amittai – ’n naam wat uitgelê word as ‘Waarheidliewende Duif’ – gaan in die hawe van die hedendaagse Tel-Aviv aan boord van ’n Cipriotiese skip op reis na Spanje; in ’n kwaai storm word hy, hoofsaaklik op eie versoek, oorboord gegooi en onderneem ’n helle vaart deur die kollektiewe onderbewuste van sy ras om tot selfkennis te kom; nadat hy op ’n strand uitgespoel het, vlieg hy na die moderne groot stad Ninevé, waar sy waarskuwings die koning-president noop om ’n noodtoestand uit te roep, maar uiteindelik word die stad wel gespaar.”

Vir sy gevoel bly Die walvisman te veel op die vlak van blote vernuf, het André P Brink afgesluit: “’n Swaar uitstal van erudisie wat nie altyd narratief verantwoord is nie; en die opwindende moontlikhede van die verhaalopset word dus nie werklik in verhaalterme verwesenlik nie.”

Joan Hambidge skryf in Die Transvaler (13 Februarie 1987) dat deur die gebruik van die allegorie, die mite (Jona ben-Amittai), die sinneloosheid van geweld én die naderende apokalips van die Westerse wêreld geteken word. “Steytler lewer eweneens felle kommentaar oor die huidige Suid-Afrikaanse opset deur van dié ‘objective correlatives’ gebruik te maak. (...) Die Jungiaanse stramien word besonder noukeurig uitgewerk in Die walvisman. Jona se individuasieproses en sy ontdekking van die skaduwee en anima word só vernuftig hanteer as in enige Leroux-roman. Jona word terselfdertyd ’n projeksie van die leser se ‘ongeïndividueerde persoonlik’ – slegs as die leser die mistieke, die bo-natuurlike boodskap aanvaar van Steytler, word hy weer een.”

Die slot was egter vir Hambidge ’n teleurstelling omdat daar té veel gepraat word en nie genoeg gewys word nie, aangesien ’n roman soos ’n “rolprent” moet wees. Hambidge wys op ander krapperige punte: “Die skryfstyl is onbeholpe, die Anglisistiese taalgebruik en droë passasies wat op die lange duur begin steur. Maar, moet ek beklemtoon, was die lees van Die walvisman ’n aangename leeservaring en ’n enorme vooruitgang in Klaas Steytler se oeuvre.”

Phil du Plessis (Die Burger, 18 Desember 1986) skryf: “Hoe Steytler die kort, lugubere en onwaarskynlike storie van Jona, die profeet wat deur ’n walvis ingesluk is, in ’n roman omskep, is ’n soort subtiele wonderwerk. Mens moet die boek oor ’n tydjie ’n paar keer deurlees om dit ten volle te waardeer. Die skrywer se benadering is ’n neo-Talmudiese eksegese wat uitgaan van die begrip: Alles is Torah, Alles is Woord, Alles is Werklik, kom ons kyk hoe dit aanmekaar sit. Die resultaat is ’n veelvlakkige roman wat van meet af aan die eienskappe van sy eie diskoers analiseer. Leser, skrywer, die onbekende outeur van die Bybelboek en natuurlik die hoofkarakter, Jona Ben Amittai, later (ironies genoeg) Duif genoem, word betrek in ’n uitpluis van natuurlike en bonatuurlike gegewens. Die boek het ’n droë en dikwels humoristiese styl wat ’n baie leesbare teks tot gevolg het. (...) Klaas Steytler se doodluiterse en direkte benadering van die kwessies wat hy aanspreek, laat jou hierdie roman, wat eintlik totaal tot sy eie tyd spreek, met fassinering lees.” Du Plessis meen dat Steytler gruwelik onderskat word as skrywer en dat Die walvisman onteenseglik die belangrikste Afrikaanse roman van die jaar is.

Chris Barnard (Rapport, 20 Desember 1986) wou by Klaas weet hoe dit voel om ’n boek te skryf waarvan almal hou: “Jy vra my ’n reguit vraag en ek gaan jou reguit antwoord: Lékker!” (Rapport, 20 Desember 1986)

Die walvisman is in 1991 benoem vir die Ou Mutual-prys.

In die somer van ’36 word in 1991 uitgegee en daarmee het Klaas die hele land aan die praat en wonder gesit. Die verhaal speel af op die Vrystaatse dorpie K-, wat ’n doodgewone rustige plattelandse dorp is totdat die nuwe apteekassistent, Dewwie Dykstra, daar opdaag. Die eienaar van die apteek, Sinclair, is verlangs familie van haar. Sy het ’n misterieuse, effens soel voorkoms wat aanvanklik kommentaar uitlok, want sy kom immers van die Kaap af. Mettertyd kry sy egter die goedkeuring van sosiale leiersfigure, en hulle gades, op die dorp. En dit is waar die moleste begin - aan die begin hoofsaaklik agter die skerms, of toonbank, of toegetrekte gordyne.

Johann Botha (Die Burger, 27 Augustus 1991) skryf: “Die mans voel erg aangetrokke tot die deemoedige, afhanklike Dewwie, wat by nader beskouing nie alte onkundig (of onwillig) is in die rol van die Verleidelike Vrou nie.”

Die vertellersperspektief dring hom nie op aan die leser nie, skryf Botha, “en dit blyk veral uit die verwisseling van perspektiewe, die naas mekaar plaas van karakters en hul reaksies en die wyse waarop hul tonele op mekaar inspeel, die een toneel as ’t ware met die ander vervleg raak. Sinclair self, die plaaslike dr Jannie Brand, die nutswerker Adderjaan Kruger, advokaat SP Crous van Bloemfontein, ouderling Thys Dippenaar en die seuns Hansie Strauss en Sagrys Kruger ervaar ’n taamlik direkte betrokkenheid by die donker dame. Maar dit kring uit na sowat al die karakters en omvat ’n paar grafiese sekstonele, klappe, vloeke en vuishoue, ’n geskinder en sensuur, egskeiding en die dood.

“Steytler weier konsekwent om té betrokke te raak by sy karakters wat voor- en nadele het. Aan die pluskant is die vermyding van sentimentaliteit: dis trouens ’n heel onsentimentele vertelling, wat nie wil sê onsimpatiek nie. Aan die minuskant is daar ’n ietwat vlak karakterisering, waarvoor gekompenseer word deur die vervlegting van gebeure, gedetailleerde agtergrond- en tipetekening en ’n stout, maar grotendeels samehangende intrige.”

Johann Botha beskryf die vermaak as “intelligent wat uit eie reg getuig van aansienlike vakmanskap en van ganser harte aanbeveel kan word by alle lekkerleespape wat hou van ’n storie met die smaaklike byt van ligte speserye en meer as ’n knypie aweregse humor”.

Klaas se vriende het hom geterg en gesê dit is sy “stout boek” en ’n neef het gebel en gesê: “Maar, Klaas, die mense waarvan jy vertel, hulle loop dan nóú nog hier op die dorp rond ...” Hy het egter aan Johann Botha (Beeld, 3 Oktober 1991) gesê dat daar heelwat meer as seks in Somer sit. “Dit is allereers ’n storie. Maar daar is ook ’n matrys – ek hoop ’n amper onsigbare matrys: die gebeure op die dorp, ook die historiese agtergrond, moet as ’t ware in mitologiese perspektief bekyk word. Die dorp is die boek se eintlike hoofkarakter.”

Van Klaas se ervaringe as joernalis is ook ter sake, veral die waarneming van die destydse politieke toneel: die hele strukturering van die Afrikaner-Konsep teen die agtergrond van die groei van die Nasionaal-Sosialisme in Duitsland. Die armoede en agterlikheid van baie Boeremense, die mitologisering van die Swart Gevaar. “Ek kyk nou (1991) daarna terug soos ek destyds daarna kon gekyk het. Ek wou dit vaslê. Wat ons nou is, kom ook daarvandaan.”

Hy het verder aan Johann Botha vertel: “Dan is daar my durende belangstelling in die mitologie – dis mos maar argetipes in beweging – en in die insigte van mense soos Jung en Adler. Die onverbiddelike stuwing van die lewe, en veral die konsep van die anima, sowel die positiewe as die negatiewe kant.”

Klaas het ook lank nagedink oor wat so ’n dorp soos K- moveer: geld, status, sosiale norme. Die kerk wat begin verstar het. En amper onsigbaar, onder die oppervlak: altyd aanwesige seksualiteit. Dit interesseer hom al lankal – dié teenstrydige pole van seksualiteit. Vir die Katolieke oortuiging verteenwoordig dit skepping van nuwe lewe. Maar kyk nou hoe gebruik mense, in Amerikaanse trant, vierletter-vloekwoorde in ’n negatiewe verdelgingsbetekenis: seks as vernietiger.

Klaas het hom effe vervies vir resensente wat nie wil lees wat daar geskryf staan nie. “Dewwie Dykstra stap uit die boek se motto die verhaal binne.” Die motto is ’n aanhaling uit Arthur Avalon se The Serpent Power, en het dit oor die sogenaamde derde tsjakra, Manipuraka, waar die godin Lakini vertoef: “MANIPURAKA. Hier vertoef Lakini, almal se weldoenster. Sy is vierarmig, luister van liggaam, is donker (van gelaatskleur), is geklee in ’n geel gewaad en getooi met ’n verskeidenheid versiersels en verhef deur drink van ambrosyn. Deur te mediteer op hierdie Lotus van die Nawel word die mag verkry om (die wêreld) te verwoes en te skep.” Hierna het heelparty tonele in die boek vir Johann Botha nuwe vonkel gekry.

Louise Viljoen (Vrye Weekblad, 20 September 1991) skryf dat die vertelling mettertyd ’n meesleurende vaart kry en dat dit algaande duidelik word dat dit met groot planmatigheid afstuur op sy tragiese, en tog ook lakoniese, slot. “Hierdie romanagtige peiling van ’n Suid-Afrikaanse dorp se onbewuste staan sy plek vol in ’n jaar wat alreeds sy kwota goeie én leesbare Afrikaanse romans opgelewer het.”

Vir Charles Malan (Beeld, 21 Oktober 1991) is In die somer van ’36 een van die toeganklikste en onderhoudendste boeke oor die seksuele wat nog in Afrikaans verskyn het.

“Klaas Steytler betrek die mistiek, joga, die Jungiaanse soektog na die self en die Freudiaanse ontleding van die seksuele, libidinale dryfvere. (...) Die boek is so onderhoudend, trouens, dat dit ‘gevaarlike’ dog verpligte leesstof behoort te word vir tienerseuns wat dit gate uit sal geniet wanneer twee knape die verbode vrugte vanuit die riete bespied en hulle op ’n skreeusnaakse wyse probeer benoem. (...) [D]it is moeilik om te voorsien hoe enige gevoelige leser nie deur hierdie ryk roman geboei en geïntrigeer kan word, of nie waardering kan hê nie vir die verwisseling tussen die raakste, sensuele beskrywing van die alledaagse, en dan weer die greep op die groot gang van dinge.”

In die somer van ’36 was een van die benoemdes vir De Kat, Antenne 2 en Tafelberg Uitgewers se romanwedstryd, ’n finalis vir die M-Net-Boekprys vir 1991/1992, en op die kortlys vir die CNA-prys vir 1992.

Om Klaas se sewentigste verjaardag in 1992 te herdenk, het die drie kinders, Nico, Elsabé en Henriëtte, ’n bundel bestaande uit briewe wat hy oor jare aan hulle geskrywe het, saamgestel en laat set en bind. Die titel is Hier is alles wel, Pa ½ - Familiebriewe van Klaas Steytler. Dit het selfs ’n denkbeeldige ISBN – 20 04 1922 20 04 1992, om sy geboorte- en dié verjaardagdatum aan te dui. Die unieke verhouding wat die drie kinders met hulle pa gehad het, blyk duidelik uit die aanhaling: “Ons sit almal as gelykes om die tafel, geen hoër as die ander nie, soms net ’n bietjie ouer.” Klaas se opvatting oor sy rol as ouer was altyd prima inter pares – eerste onder gelykes – maar soms ook tweede – aldus Romi van der Merwe (Rooi Rose, 1 Desember 1993). Die “Pa ½” in die titel het uit die dae van sy ou Olimpia-tikmasjien gekom, toe hy met mening die punt wou slaan om sy brief te eindig en keer op keer per ongeluk die toets daarnaas, die ½, getref het.

Klaas verduidelik verder aan Romi van der Merwe dat familie soos klitse is: “Hulle sit vas – met mekaar sowel as aan mekaar. Oorlewing hang van die ondersteuning van jou bloed af. As die familieband reg is, kan jy deur moeilike tye kom. Dis jou bastion waar jy skuil. Liefde en begrip is die basis van die gesin.”

In 1993 is ’n huldigingsplegtigheid by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) vir Klaas en Elsa gehou. Klaas het gepraat oor die wanbalans in die Afrikaanse boekewêreld. “Ons leef in die eeu van die inligtingsontploffing, en aan die Afrikaanse kant is ons nie veel verder as die Geelbladsye nie.” Hy het verder gesê dat Jan en Alleman meen die Afrikaanse letterkunde bestaan net uit prosa, poësie en drama. Niefiksie, wat ook met gesag praat, word jaarliks vereer, maar word skynbaar eerder beskou as deel van verskillende wetenskaplike gebiede as iets wat onder die kultuursambreel hoort. “Ek wil graag ’n klomp leesbare boeke sien oor onder meer die Angolese oorlog wat sewentien jaar geduur het. Dit moet ’n omvattende beskrywing wees van wat daar gebeur het en hoe die mense dit ervaar het. Die stof, die bos, die daaglikse lewe en die binnewerkinge moet in dié boek weergegee word.” (Beeld, 1 April 1993)

Die goue kalf: ’n sepie in 13 spele, wat in 1995 by Queillerie verskyn het, was die laaste boek wat gedurende Klaas se leeftyd gepubliseer is. Klaas moes met hierdie boek met die woord suggereer wat die visuele aspek van ’n televisiesepie vir die kyker gee.

Volgens Phil du Plessis (Afrikaans Stereo: Skrywers en Boeke, 14 Desember 1995) was sy sukses om dit reg te kry, dawerend. “Dit bevat ’n hele aantal karakters uit Zapzap om die sentrale karakter van ’n Fries-kalf wat nie veel met hulle sondes uit te waai het nie, maar byna-byna ’n sondebok word.”

Cecile Cilliers (Beeld, 18 Desember 1995) skryf dat ’n mens by die vroeë lees dink dit is darem te woordryk, “en dan dink jy – dis, mens weet, ’n sepie dié tot die laaste kamera-voorskrif toe. Elke Dinsdagaand voor die kassie, verkieslik laterig. En dan vát die storie jou, die hoogs onwaarskynlike storie van die Premier van die Wes-Kaap wat die kat in die donker knyp en gekrap raak en van Flaffie wat haar brood aan beide kante wil laat botter. En jêm. En van die twee oujongnooiens wie se ding en dinge ds Worsling van Hopefield bitter skeef sal laat opkyk, en hulle vriend, Soutie wat verlief is op Madelief, ’n baie mooi kalf. En onvermydelik, van Koosvandermerwe, die fiekser, die segsman/seksman, die nar. Of iets in dier voege. Dis nie net die storie wat jou vasgryp nie. Klaas Steytler het ’n lagwekkende aanvoeling vir die absurde wat beide karakter en situasie betref. Pure pret is dit, van begin tot end, maar tog nie sonder ’n satiriese inslag nie.”

Gabriël Botma (Die Burger, 1 Oktober 1996) skryf dat Steytler hier ’n vervolg op Zapzap, in Seepunt gaan dit pienk en plesierig bring, maar hierdie keer beland Breggie en Soutie nie weer in ’n bankroof nie, maar plaas Steytler sy lesers én sy karakters midde-in die nuwe Suid-Afrika.

En in die fiktiewe Wes-Kaap kom dit op die volgende neer: “Sy Edele Paul Dawonder, die premier, wat deur sy skelmpie, Flaffie, afgepers word met ’n rolletjie film waarop hy net in sy sokkies verskyn. Hy vaardig sy vertroueling en sterk regterarm, Koosvandermerwe, af om Flaffie te gaan ‘fieks’.

“Miss B en Soutie word deel van die prentjie rondom Flaffie, ’n Engelse nooi en ’n veraf familielid van Breggie. Breggie en Soutie ruk saam met Miss B se vriendin, Fancy van Wyk, op om die gerugte van Flaffie wat in die moeilikheid is, te gaan ondersoek. Soutie neem ook vir Madelief sy Fries-verskalf saam.”

Botma skryf voorts: “Dit is die plaaslike literêre aansluiting by Etienne Leroux se bees in Sewe dae by die Silbersteins, wat vir hierdie leser die meeste plesier verskaf. Die slotgedeelte van die boek – wat afspeel op ’n reuse-maskerbal op die landgoed Groote Verwachting van die miljoenêr Abel Spohr – is hoeka in die beste tradisie van dié oorle meester van Afrikaans satire. Natuurlik met Steytler se unieke waarnemingsvermoë, styl en aanslag.”

Maar vir Botma oortuig die inhoudelike nie altyd nie of anders gaan die grap by die leser verby: “Dis moontlik, want ’n mens waardeer eers baie van Steytler se magdom selfbewuste woordspelings en -speletjies by die tweede lees. Tog werk sy geliefkoosde tegniek, om in die fynste detail in te gaan wanneer hy die absurdste tonele skets, langdradigheid in die hand. En dit terwyl sy vindingryke skryfstyl spoed vra.”

Klaas het ten tyde van sy afsterwe aan ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog gewerk. Hierdie boek is na sy dood verwerk deur sy seun Nico en sy vrou Elsa, en deur Tafelberg gepubliseer onder die titel Ons oorlog: roman. Nico skryf in sy Voorwoord dat dit die outeur se “laaste versugting (was) (...) dat die roman volbring moet word, en tot in sy laaste dae het hy nog aan die konklusie gedikteer”. Elsa het probeer om die roman volgens die oorspronklike, omvangryke visie te voltooi deur die ontbrekende hoofstukke, soos deur Klaas beplan, te skrywe. Dit het egter nie gewerk nie, want die stylbreuk was te groot en die hoofstukke is toe nie gebruik nie. Die gepubliseerde produk is uiteindelik ’n seleksie en “samesnoering” deur Nico Steytler uit die outeur se “geskrewe en gesproke woord” van ’n voltooide onderdeel van die beplande roman, slegs die familiestorie, Klaas Steytler se storie – aldus Helize van Vuuren. (Die Burger, 10 Januarie 2001)

Die ware wedervaringe van die Sanders-gesin waarvan Klaas se moeder lid was, word in Ons oorlog weergegee en bied ’n deursnit van die oorlog. Klaas vertolk familiestories en skep sodoende veel meer as ’n bundel vertellings. Die meeste vertellings in die boek het ’n hoofkarakter en die gebeure word uit die perspektief van hierdie hoofkarakter geteken.

Volgens Stoffel Cilliers (Volksblad, 12 Februarie 2001) kom die leser gou agter dat ’n baasverteller aan die woord is en dit maak van hierdie publikasie een van die oortuigendste, boeiendste en leesbaarste publikasies oor “ons oorlog”. “Die skryfproses is voorafgegaan deur jare lange nougesette navorsing wat die skrywer in staat gestel het om dit in die fynste besonderhede uit te beeld. ’n Deurwinterde joernalis is hier aan die woord – maar ook ’n fyn hanteerder van ironie en humor. (...) Die oorlog word uitgebeeld as avontuur, maar ook, sonder bitterheid, as kruheid, wreedheid en sinloosheid.”

Jan-Jan Joubert (4 Maart 2001) beskou Ons oorlog as een van die beste vertellings oor die gebeure tydens die Anglo-Boereoorlog onder die vloedgolf publikasies oor die onderwerp. Steytler vertel van sy familie se belewenis van die oorlog. “Die oorlog was ’n grusame tragedie en Steytler gebruik die persoonlike aard van die vertellings om ’n veelheid verhale te laat lewe. (...) In Ons oorlog is Steytler, die ou baasverteller, aan die werk, met sy taalaanvoeling, sy humor en sy fyn aanvoeling vir die epiese.”

Vir Helize van Vuuren (Die Burger, 10 Januarie 2001) is Ons oorlog ’n besonderse roman, “miskien een van die boeiendste van die talle tekste wat die laaste tyd oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het. (...) Ons oorlog is in hardeband en besonder smaakvol uitgegee – ’n memorabele boek, asook ’n waardige en waardevolle afsluiting van ’n oeuvre.”

Volgens Chris van der Merwe (Insig, Februarie 2001) is Ons oorlog die verhaal van ’n oorlog tussen Brittanje en die Boere-republieke en ook van die private “oorlog” in ’n gesin. Ook gaan dit oor “oorloë” wat op ’n oorlog volg – die konflikte wat agtergelaat word ná die sluiting van vrede. “Aan die begin van die verhaal vertrek die skrywer-verteller, op die punt om te sterwe, na die onderwêreld – ’n plaaslike variasie op die klassieke voorstelling van die onderwêreld, met Charon en die hond Cerberos wat die gestorwenes oor die doodsrivier roei. Die verteller gee aan die man en sy hond ’n koekie om te eet en, soos Marcel Proust se Op soek na die verlore tyd, is dit die stimulus vir die oproep van ’n hele herinnering. Die verteller word uit die onderwêreld teruggestuur om oor sy voorgeslag uit te vind en in ’n verhaal aan hulle gestalte gee; in sonderheid moet hy van sy moeder vertel, oor wie hy nog ongelukkig voel en wie hy in sy gedagtes vermy. In hierdie stadium heet die verteller ‘Niemand’ – omdat hy homself van sy geslag afgeskei het, het hy geen identiteit nie. Sy ondersoek na sy voorsate is ’n reis na kennis en begrip, na versoening met sy mense en met homself. Aan die einde van die roman keer hy terug na die onderwêreld, en hierdie keer word hy wel toegelaat om die rivier oor te steek. Sy vertellings oor die verlede het genesend gewerk. Niemand het Iemand geword.

“Die verhale wat tussen Niemand se eerste en tweede besoek aan die onderwêreld vertel word, is kortverhale wat elk in hulle eie reg aangrypend is. Maar die kortverhale word ook verbind tot langer verhaallyne; die verskillende verhaallyne lewer op mekaar kommentaar en vul mekaar aan; die geheel word tot ’n eenheid saamgesnoer. Die ‘onvoltooide’ roman is merkwaardig voltooid.”

Ons oorlog het Van der Merwe soms laat dink aan Van Wyk Louw se drama Die pluimsaad waai ver, met die sentrale vraag: Wat is ’n volk? Want nes Louw, gee Steytler ook ’n genuanseerde beeld van die mense waaruit ’n nasie bestaan: belangrikes en gewones, verbitterdes en dié wat vergewe, verraaiers en helde. “Die boek gee ook ’n boeiende historiese beeld van die Anglo-Boereoorlog – oor die lot op plase, slagvelde en konsentrasiekampe. Nooit word dit ’n verbitterde blik nie, want die Engelse, soos die Boere, het hulle goeies en slegtes. Soms kom uiters interessante historiese gegewens aan die lig, soos die brief wat dr Hendrik Verwoerd aan Klasie Havenga geskryf het met die versoek dat hy (Havenga) nie vir Strydom in die premiersverkiesing moet opponeer nie (bladsye 13–14).

Ons oorlog is ’n boek wat in onderdele sowel as in die geheel ’n ontroerende ervaring aan die leser bied. Hoewel dit oor ’n oorlog van ’n eeu gelede handel, het dit ’n besondere toepaslikheid op ons huidige samelewing – deur die temas van vergiffenis en versoening in ’n verdeelde samelewing; en van die deurwerk van ’n traumatiese verlede.”

Ons oorlog beleef ’n tweede uitgawe in 2014 – weer by Tafelberg Uitgewers. Fransjohan Pretorius is die resensent vir hierdie uitgawe van Ons oorlog (Rapport, 27 Julie 2014): “Met die inligting in die familie-stories, aangevul met uitstekende bronne soos Steytler se pa se geskiedenis van die oorlog, en ’n skeut gesonde verbeelding rekonstrueer die skrywer ’n meesleurende verhaal van die oorlogslotgevalle van die Sanders-Steytler-Visser-Havenga-familie. (...)

“Die werk is ryk aan meesterlike beskrywings (...) en die puik navorsing val op. (...) Hierdie ontroerende verhaal is daar vir lees en weer lees, ’n trotse kommando-maat vir PG du Plessis se Fees van die ongenooides.” (Rapport, 27 Julie 2014)

Andries Gouws (Die Burger, 14 Julie 2014) het met die lees van hierdie nuwe uitgawe van Ons oorlog onwillekeurig begin dink dat versoening iets eie aan Suid-Afrika is: “Die lyding van die Afrikaners in die Boereoorlog was ongelooflik swaar, maar net ’n dekade ná die oorlog het Afrikaners en Engelse saamgewerk in die Unieregering. Dit laat ’n mens dink aan die onlangse verlede en hoe Suid-Afrikaners weer versoen geraak het ná die ellende van die apartheidsjare.

Ons oorlog is ’n roman oor gebeure van meer as 100 jaar gelede, maar die storie van menslike lyding en weer opstaan, sal altyd relevant bly.”

Klaas is op 27 Augustus 1998 in hulle huis in Oranjezicht aan kanker oorlede. Hy het sy vrou, Elsa, drie kinders en ses kleinkinders agtergelaat.

Kort voor sy dood het hy Elsa met ’n pragtige beeld van die oorgang tussen lewe en dood gelaat. Die beeld was geïnspireer deur die lig- en skadustrepe op hul stoep: “Ek sit en kyk na ’n duif, ’n grote, wat op die swart streep sit, doodstil sit, ’n hele rukkie, en toe, stadig, steek hy sy een pootjie uit en toe die ander en beweeg hy uit die donker streep oor na die lig. En sit daar rustig. Toe’s dit asof die duif vir my sê: Dis al wat die dood is, net ’n treetjie gee uit die donker na die lig.” (bl 459 van Elsa Joubert se Die reisiger)

 Huldeblyke

  • Frederik de Jager: “In die somer van ’36, diep gewortel in Indiese filosofie, is die boek wat my binne Klaas en Elsa se skerpsinnige huis gebring het. Vir my, haas buite bereik ver van die wyse man aan die ander kant, die leersaamste boekmaak van my loopbaan, en die begin van my verrykendste verbintenis met ’n skrywer. En nou is ons Klaas-loos. Hoe kan ’n land so iemand ontbeer? Ons laat jou gaan, Klaas, soos die toeval dit nou wil hê. Ek lig die hoed wat ek jou eintlik op jou 70ste verjaardag wou gegee het. Ek klink ’n whisky op jou reis. Vaar sag, vaar wel oor die Rivier Styx, af met die Ganges, op na die hemel. Jou ou aartsmite.” (Rapport, 30 Augustus 1998)
  • Charles Fryer: “Saam met Klaas verdwyn ’n melkweg indrukke wat nooit neergeskryf is nie. (...) Die avontuur om met Klaas saam te werk aan sy roman, sal ek mis. Maar om ’n meelewende, nederige, wyse, spitsvondige mens soos hy te geken het, was ’n avontuur waarvoor ek dankie gesê het – die dag onder die skaduryke bome teen Papegaaisberg, toe hy in Stellenbosch se rooi grond ingespit is.” (Insig, Oktober 1988)
  • Herman Wasserman: “Dis hierdie satiriese streep wat jy onthou. Nie net die diep oorwoë wyshede, rustig en een-een aan jou oorhandig nie, nie net die sterk oortuigingskrag agter die woorde oor die verlede se verkeerd nie, nie die reuse-stem nie. Maar wat Steytler se imposante teenwoordigheid onuitwisbaar gemaak het, is juis daardie vonkel in die oog wat spreek van iemand wat, soos Van Wyk Louw aangeraai het, die ironie intiem geken het.” (Beeld, 1 September 1998)
  • Abraham H de Vries: “Ek bring hulde namens die skrywers aan ’n kollega, maar meer nog, aan ons geliefde allervriend; aan die middelpunt van soveel voltooide en onvoltooide gesprekke; aan ’n steunpilaar wat vir niks wat met skrywers en boeke te make het ooit teruggeskrik het nie. Aan ’n outsideromdat hy leuens herken het as leuens. Aan ’n toegewyde vakman en onvolprese fyn hanteerder van die woord wil ek hulde bring. (...) Nie sy laaste verslag nie, maar sy taak as mens het Klaas Steytler met groot eer voltooi.” (Boekewêreld, 18 November 1998)
  • Afrikaanse Skrywersvereniging: “Klaas was van die begin af een van die persone wat met optimisme hom vir die saak van die agtergeblewe skrywer beywer het. So was hy en Elsa van die bekende gesigte uit die skrywersgemeenskap wat feitlik alle byeenkomste bygewoon het.” (Beeld, 1 September 1998)

By sy begrafnis het die predikant Prediker 3:12 aangehaal: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.”

Ná Klaas Steytler se dood vertel Elsa Joubert aan Willem de Vries hoe Klaas sy skryfwerk benader het: “Klaas het altyd die begeerte gehad [om Ons oorlog te skryf]. Dit is nie net ’n storie wat hy opgetel en vertel het nie, dis ’n storie wat hy moes skryf. Hy het ook baie navorsing gedoen. Hy het hom ondergedompel in hierdie vertellinge.

“Klaas het stadig geskryf, want hy wou ’n immersie in sy karakters hê. Vir sy benadering van skryfwerk moes jy as skrywer daaruit verdwyn. Hy het altyd dié beeld gebruik: Jy moet jou karakter kan opwen, jy moet hom só goed ken dat as jy hom opgewen het, hy self moet begin loop. Jy moenie deur die karakter praat nie. Jy moet verdwyn. Dít gee aan die karakters groot outensiteit en geloofwaardigheid.” (Die Burger, 12 Junie 2014)

Publikasies:

As Jan Harmse

Publikasie

Zapzap, in Seepunt gaan dit pienk en plesierig

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798105852 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Nou ja, vir my het hy pienk getiekel. Rapport, 25 April 1976
  • Louw, Anna M
    • Met oop oë vol goedige lag. Beeld, 15 Desember 1975
    • Skrywer meet oë vol lag en goedige ironie. Die Burger, 30 Oktober 1975
  • Storie propvol opwinding. Oosterlig, 29 Januarie 1976
  • Van Zyl, Anna: Vernuftige stukkie plesier. Volksblad, 12 Desember 1975
  • Zap-zap is plesierig. Transvaler, 10 Januarie 1976

 

Publikasie

Die wonderwerke van Judas Iskariot en ander vertellings

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624010635 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Blignault, Audrey
    • ’n Verrassing in ons letterkunde. Beeld, 20 Februarie 1978
    • Wonderwerke vir ons uitgelê. Oosterlig, 8 Maart 1978
  • JHS: Knap hantering van Bybelse temas. Volksblad, 31 Augustus 1978
  • Louw, Anna M: Fyn beelde van die siel. Rapport, 3 September 1978
  • Rabie, Jan: Biblical themes made new. The Cape Times, 2 Augustus 1978

As Klaas Steytler

Publikasie

Man in die spieël

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die doodkis-spesjel

Publikasiedatum

1982

ISBN

0907996442 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Claassens, Pieter: Werkie is pure plesier. Oggendblad, 10 September 1982
  • Joubert, Maureen: Werklik snaaks. Sarie, 27 Oktober 1982
  • Nuwe boek. Die Hervormer, Augustus 1982
  • Raper, Ian: Die doodkis-spesjel meer as jeugroman. Hoofstad, 25 Oktober 1982
  • Schutte, Hannie: Met ’n doodkis op die rivier. Transvaler, 14 Februarie 1983

 

Publikasie

Die leeukuil

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1987

ISBN

0798112298 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Breytenbach, Kerneels: Só moet ’n mens skryf! Die Burger, 28 Oktober 1982
  • Coetser, Attie: Die leeukuil (Klaas Steytler). Tydskrif vir Letterkunde, Jaargang 32, no 3
  • De Bruin, Philip: Boek sal niemand onaangeraak laat. Beeld, 9 September 1984
  • De Vries, Abraham H: “Middelmoot”-literatuur: ’n lekker storie vir een sit se deurlees. Vaderland, 25 November 1982
  • Du Plessis, JNS
    • Die leeukuil. Prisma, Mei 1990
    • ’n Literêr-logiese benadering tot die onderrig van Die leeukuil (Klaas Steytler). Die Unie, Februarie 1987
    • Vrae vir bespreking oor Die leeukuil (Klaas Steytler) en Die keiser (Bartho Smit). Die Unie, Junie 1987
  • Du Toit, PA: Vertelhouding in Die leeukuil van Klaas Steytler. Tydskrif vir Letterkunde, November 1993
  • Hambidge, Joan
    • Die leeukuil voorsien goed geskrewe leesstof. Hoofstad, 6 Desember 1982
    • Een blokboek goed, die ander onopwindend [Die leeukuil se blokboek deur Ia van Zyl]. Beeld, 4 April 1988
  • HK: Welkome toevoeging in Afrikaans. Oosterlig, 13 Januarie 1983
  • Kirchner, Emma: ’n Spel van waarheid en leuen. Suidwester, 1 Julie 1983
  • Klaas Steytler: Die leeukuil. Klasgids, Februarie 1984
  • Muller, Martie
    • Die Afrikaanse roman reik uit na vernuwing. Stilet, September 1993
    • Die leeukuil: ’n ironiese, utopiese roman – Klaas Steytler. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1993
  • Preller, Mauritz: Nuut op die rak. Beeld, 1 November 1982
  • Prins, MJ: Die tema van Die leeukuil (Klaas Steytler). Tydskrif vir Letterkunde, November 1992
  • Rabie, Jan: Disturbing tale and slice of history. The Cape Times, 10 November 1982
  • Van der Merwe, WP
    • Die leeukuil (Klaas Steytler): ’n bespreking, vrae en antwoorde vir T2-kandidate. Klasgids, Augustus 1999
    • Die leeukuil (Klaas Steytler). Klasgids, Mei 1999
  • Van Zyl, Anna: Leeukuil is ’n beeld van literêre eenheid. Volksblad, 26 Oktober 1982

 

Publikasie

Die walvisman

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1989

ISBN

0798120274 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1991 benoem vir die Ou Mutual-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, MC: Complete tale of sin and death. The Cape Times, 11 Februarie 1987
  • Brink, André P: Verhaal van Jona vernuftig as roman herontwerp. Rapport, 8 Maart 1987
  • Du Plessis, Phil: ’n Afrikaanse roman met ’n apokaliptiese visie. Die Burger, 18 Desember 1986
  • Ester, Hans: Jona in Johannesburg. Zuid-Afrika, November–Desember 1987
  • Hambidge, Joan: Boeiende ideë-boek. Transvaler, 13 Februarie 1987
  • Rabie, Jan: Skrywers vat-vat aan apartheid se turksvyland. Die Suid-Afrikaan, Mei 1987
  • Van Rensburg, Cas: Steytler lewer baanbreker. Beeld, 12 Januarie 1987
  • Van Zyl, Ia:

 

Publikasie

In die somer van ’36

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624029999 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 1990 kortlys van Antenne/De Kat/Saambou se romanwedstryd
  • 1991/1992 finalis vir M-Net-boekprys
  • 1992 kortlys vir CNA-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Belcher, Ella: Klaas Steytler se jongste lees lekker. Tempo, 22–28 November 1991
  • Botha, Johann: Dis Steytler met stywe knippies sout. Die Burger, 27 Augustus 1991
  • Du Plessis, Bertie: Léés dié roman – Somer is ’n verhaal wat jou in sy wêreld insluk. Insig, September 1991
  • Du Plessis, Phil: Wat die seks in Klaas se boek beteken. Beeld, 29 Augustus 1991
  • La Vita, Murray: Somer ’36 sleur die leser mee. Transvaler, 8 Oktober 1991
  • Malan, Charles: Hier het die liefde baie sluiers. Beeld, 21 Oktober 1991
  • Moenie een van die lekkerste leeservarings van 1991 misloop nie [advertensie]. Insig, September 1991
  • Müller, Petra: Die angel sit in die stert. De Kat, November 1991
  • MvM: In dié Somer word lotus bitter blom. Oosterlig, 6 September 1991
  • Rabie, Jan: Summer madness of small town. The Cape Times, 7 September 1991
  • Rooi lippe, wellus en nog rooier Blikore. Rapport, 18 Augustus 1991
  • Rossouw, Daan: Dewwie Dykstra – die donker godin. Volksblad, 19 Augustus 1991
  • Rossouw, Daan: Waar in die ou Vrystaat is dié K- dan? Volksblad, 15 Augustus 1991
  • Smith, Marieta: In die somer van ’36. Kaapse Bibliotekaris, Julie/Augustus 2003
  • Van Rensburg, G: Bespreek nou die bóék [brief]. Volksblad, 24 Augustus 1991
  • Viljoen, Louise: ’n Vrugbaarheidskoningin in die Vrystaat. Vrye Weekblad, 20–26 September 1991

 

Publikasie

Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was. Gewysigde en uitgebreide uitgawe van Die doodkis-spesjel

Publikasiedatum

1993

ISBN

1874901121 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Burger, Gerhard: Boeke vir Kersfees. Keur, 3 Desember 1993
  • Cilliers, Cecile: Klaas met oë soos Marlene Dietrich ... Insig, November 1993
  • De Roubaix, E: Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was. Kaapse Bibliotekaris, April 1994
  • Du Plessis, Hans: Steytler se doodkis-storie gly glad op die taal se water. Beeld, 25 Oktober 1993
  • Du Plessis, Phil: Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was. Afrikaans Stereo: Skrywers & Boeke, 13 Januarie 1994
  • Hugo, Daniel: Steytler se boek van vanjaar se wonderlikste [brief]. Die Burger, 27 November 1993
  • Jansen, Ena: Boek-van-die-maand-klub. Februarie 1994
  • Klaas Steytler onttroon vir Nathaniël as topverkoper by Exclusive. Beeld, 7 Oktober 1993
  • Le Roux, André: Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was. Sarie, 16 Februarie 1994
  • Malan, Lucas: Kis haal angel uit die dood. Rapport, 31 Oktober 1993
  • Steytler, Klaas:
    • ’n Sikspens vir ’n afslaer [uittreksel]. Insig, Oktober 1993
    • Tydens die bekendstelling van Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was. Exclusive Books, Pretoria, 28 September 1993
  • Steytler se boek verkoop die beste by Exclusive. Beeld, 28 Oktober 1993
  • Van der Merwe, Chris: Vrouefokus. Afrikaans Stereo, Februarie 1994
  • Van Zyl, Ia: ’n Nostalgiese terugblik. Die Burger, 9 November 1993

 

Publikasie

Die goue kalf: ’n sepie in 13 spele

Publikasiedatum

1995

ISBN

1874901422 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botma, Gabriël: Steytler se satire weer op dreef. Die Burger, 10 Januarie 1996
  • Cilliers, Cecile: ’n Mallemeule waarvan jy nie kan afklim. Beeld, 18 Desember 1995
  • Crafford, Albert: Hierdie goue kalf het in die sepie-put verdrink. Rapport, 19 November 1995
  • De Roubaix, E: Die goue kalf. Kaapse Bibliotekaris, Maart 1996
  • Du Plessis, Phil: Die goue kalf: ’n sepie. Afrikaans Stereo: Skrywers & Boeke, 14 Desember 1995
  • Jordaan, Dirk: ’n Kerskous vol boeke. Rooi Rose, 13 Desember 1995
  • Nuut op die boekrak. Taalgenoot, Desember 1995/Januarie 1996
  • Wÿbenga, Gretel: Boekbesprekings. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1997

 

Klaas Steytler as vertaler

  • Joubert, Elsa: To die at sunset. Londen, Hodder and Stoughton, 1982 [ISBN 9780340281291 (hb)]

Artikels oor Klaas Steytler

  • Barnard, Chris: ’n Minder geswinde Klaas. Rapport, 20 Desember 1986
  • Bekende skrywers in Bfn. Volksblad, 23 Maart 1993
  • Botha, Amanda: Klaas bêre sy Harmse-masker ná drie sukses-boeke. Transvaler, 3 September 1982
  • Botha, Johann: Die mag om te verwoes en te skep. Beeld, 3 Oktober 1991
  • Dedekind, Nonnie:
    • Afrikaans het nog ’n ver pad – Steytler. Volksblad, 29 Maart 1993
    • Angola se bosoorlog is deel van die kulturele sambreel. Die Burger, 30 Maart 1993
  • De Jager, Frederik:
    • “Vaar sag, vaar wel, wyse man Klaas”. Rapport, 30 Augustus 1998
    • Vir Klaas Steytler is dit op 70 nog hoogsomer. Insig, Junie 1992
  • De Vries, Abraham H:
    • Die man met die laphoed. Boekewêreld, November 2000
    • Sy taak as mens het hy “met groot eer voltooi”. Boekewêreld, 18 November 1998
  • EL Pupils gain insight into literary scene. Daily Dispatch, 16 April 1993
  • Erasmus, Elfra: “Vind uit waar volk se lam beentjie vandaan kom”. Beeld, 30 September 1993
  • Fryer, Charles: Laaste besoek. Insig, Oktober 1998
  • Gevierde Kaapse skrywer aan kanker oorlede. Volksblad, 28 Augustus 1998
  • Greeff, Rachelle: Bedeesde “Jan Harmse” gooi sy ou vel af. De Kat, Oktober 1991
  • Grütter, Wilhelm:
    • Brûe na ’n nuwe Helpmekaar. Die Burger, 18 November 1995
    • “Goor taal verdryf goeie taal”. Beeld, 24 September 1992
  • Kanker eis Klaas Steytler. Die Burger, 28 Augustus 1998
  • Kanker eis Klaas Steytler. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 1998
  • Klaas Steytler. Vaderland, 7 Januarie 1985
  • Klaas Steytler en die lotus van die nawel. Die Burger, 7 September 1991
  • Klaas Steytler, pa van “Dirk Hoffman”. Sarie, 29 Januarie 1986
  • Klaas Steytler sterf ná stryd teen kanker. Beeld, 28 Augustus 1998
  • Myburg, Marietjie: Long live Afrikaans. Daily Dispatch, 17 April 1993
  • Skrywer-egpaar praat by literêre noenmaal. Die Burger, 10 Augustus 1993
  • “Skrywers moet leer uit verlede se foute”. Volksblad, 11 Oktober 1993
  • ’n Skrywersvennootskap wat hou [uit: Rooi Rose]. Saffier, Augustus 1993
  • Speurreeks op hofsake gebaseer. Die Burger, 25 Oktober 1985
  • Van der Merwe, Romi: Op die stoep van die Steytlers. Rooi Rose, 1 Desember 1993
  • Van der Vyver, Marita: Humor in boeke. Vrouekeur, 16 Junie 2017
  • Van joernalis tot redakteur tot voltydse skrywer. Beeld, 1 September 1998
  • Wasserman, Herman:
    • Die verlede spook by Steytler. Die Burger, 19 April 1997
    • Hulde aan skerp satirikus wat dinge wou regmaak. Beeld, 1 September 1998
    • Met ’n vonkel wat die ironie geken het. Die Burger, 29 Augustus 1998
    • Steytler was skerp satirikus wat dinge wou regmaak. Beeld, 1 September 1998

 Artikels deur Klaas Steytler

  • Aantog van die groot onnoembare. Die Burger, 27 April 1993
  • Amusante rekord van vervloë tye [brief]. Die Burger, 7 November 1996
  • Die boek as nostrum vir die einde van die tye [Flapteks]. Die Burger, 21 April 1992
  • Die idiote besoek die Boere – Teatertruuk of weerspieël dit vrees vir die tye? Die Burger, 18 Februarie 1992
  • Dis dalk nou tyd dat Afrikaners begin toi-toi [brief]. Die Burger, 16 Desember 1993
  • Gee ons leesbare nie-fiksie – Steytler. Beeld, 1 April 1993
  • Indonesië: stand van Nederlands [brief]. Die Burger, 13 April 1996
  • Raspoetin in ander klere [Biegpuntjie]. Insig, Desember 1996
  • Skimmelafrikaans vreet aan ons taal. Rapport, 4 Oktober 1992
  • Wanbalans in die Afrikaanse boekewêreld. Dolos, 1994

Klaas Steytler se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-03-23 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top