ABSA KKNK 2013 Kuns: Vanitas 2013

  • 0

Vanitas 2013

Kurator: Clare Menck
Groepuitstalling

Vanitas
: alles is betekenisloos; die lewe 'n gejaag na wind ...

Die  Latynse term vanitas vertaal losweg na 'ydelheid', en word veral in die Nederlandse en Vlaamse stillewe-kuns van die 16de en 17de eeu raakgevat in die simboliek van skedels, rook, uurglase, vis of dooie diere, vrugte, insekte soos vlieë en skoenlappers wat iewers huiwer, en seepbelle.  Hierdie uiteenlopende simbole beklemtoon die paradoks van die lewe-dood-teenstrydigheid deur middel van hul vasvat van sensuele genot en oorvloed, teenoor die sekerheid van die vervlietendheid en verganklikheid van vreugde, plesier en lewe. 

Duikertjie-skedel en popkop deur Johann Louw

“Fifteen minutes of fame” is 'n hedendaagse omskrywing van die vanitas-tema wat in breë trekke die verganklikheid van faam en sukses ook bysleep.  Die Latynse frase memento mori (onthou dat jy sal/moet sterf) wat herinner aan die mens se dood en die kortstondigheid van als wat lewe, hou ook nou verband met die vanitas-tema in die tradisie van die skilderkuns.

Vanitas 2013 poog om hierdie ou-wêreldse tema in hedendaagse Suid-Afrikaanse skilderkuns raak te sien, met 'n lys van gevestigde en belowende kontemporêre skilders op die uitstalling. Nuwe simboliese beelde word gevind wat nietemin steeds die naelstring met die oeroue wysheid behou.  Vanitas 2013 bestaan uit skilderye deur Ingrid Winterbach, Johann Louw, Andries Gouws, Walter Meyer, Anton Karstel, Clare Menck, Henk Serfontein, Anathi Tyawa, Simon Stone, Nicolaas Maritz, Frikkie Eksteen, John Murray, Eugenie Marais, Peter van Straten, Cobus van Bosch, Jan du Toit, Wendy Gaybba, Annelie Venter, Kennett Sinclair, en Albert Greving (Nederlande). Vanitas 2013 word saamgestel deur Clare Menck (kurator).

Gratis daagliks, Prince Vincent-gebou, Baron van Rheedestraat

 

Besoek die virtuele galery

 

Gaan terug na die kunstenaarlys

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top