Ons het 10 minute gelede in Oudtshoorn aangekom. Ek is besig om my tas uit te pak. Ek hoor iets agter my en draai om. ’n Klein tannietjie, heelwat ouer as water selfs, kom by die gang afgeskuifel. Sy begin haar remme pomp-pomp buite die deur, maar die brieke is duidelik nie meer wat dit was nie en sy kom eers binne-in die kamer tot stilstand. Reg onder my neus, waar ek staan met ’n paar delicates in die hand. “Raai hoe oud is ek?” val sy letterlik met die deur in die huis. Ek, effens uit die veld geslaan, trek net my skouers op. “Agt-en-tagtig en die oom is nege-en-tagtig. Ons kom bly elke jaar in hierdie huis. Ek voel nie vandag so lekker nie, ek het die hele oggend opgegooi. O, kyk, die kamer het nuwe gordyne. Wat is jou naam? My skoondogter is ook Nadine.”
Let the games begin.
Maar eers, voor die pret, die donkerste blou. Want die 26ste KKNK en die eerste kunstefees na die uitbreek van die pandemie, is verby. En die meeste feesgangers weet, die post-festival blues is ’n vieslike siekte. Hoe unpack jy daai gevoel van absolute verlatenheid?
Jy gaan delf diep, jy praat en skryf dit uit jou uit.
“Daar’s niks so lekker soos mense in lewende lywe nie,” sê Karen Zoid die middag voor haar eerste vertoning, oor ’n sterk koppie koffie in die Feeskafee.
Tereg. Ons is almal waarskynlik uitgehonger vir ’n baie spesifieke tipe van interaksie. Vir die nabyheid van ander lywe, van asems en beweging. Mens besef eers werklik hoe sterk daardie gemis was nadat jy jou weer by ’n kunstefees bevind het. Om ons sit mense met borde vol skaapstertjies, koek en bier. Hulle lyk opgewonde. Op hulle merke. By die feesmark loop tieners met chipstix, kinders met Tippie die Olifant-hoedjies en ouer mense met glimlagte rond. In die teaters en skoolsale, afwagtend vir iemand om ons tog net weer om hemelsnaam bietjie te vermaak of weg te voer of te laat huil, sit ons die meeste stoele vol. Maskers net halfmas, want wragtag. (Daar was immers ’n inentingsmandaat.)
Als is kleiner, ja. Die shows minder en die stalletjies is nie die hele Baron van Rheede vol nie, maar die feesgangers wat opgedaag het, is sekerlik ook nie die mense wat heelweek regsit vir gratis vermaak nie. Dié wat opgedaag het, het ’n lojaliteit en selfs ’n besitreg teenoor die fees en die kunste. Hulle wou régtig weer vir Tinarie en Anna-Mart in full force sien. Hulle wou die Laatnag-kuier bywoon saam met regte mense. Hulle wou luister hoe Michèle Meyer en Kirby van der Merwe oor hulle boeke praat. In lewende lywe. Elna van der Merwe, die koördineerder van Boekstories, laat weet: “Mense het baie hartseer geraak tydens van die boekgesprekke. Ons almal se emosies het vlak gesit, want ek dink ons was oorstelp om weer bymekaar te wees en mense op verhoë mee te maak.”
Soos tydens Karatara, wat handel oor die brande in Knysna (en die enigste dansproduksie op die fees); soos tydens Ek, Anna van Wyk (Marthinus Basson se verstommende huldeblyk aan die ontslape dramaturg, Pieter Fourie); Die halwe huis (’n debuutwerk deur Ricardo Arendse oor presies wat ’n man tot selfdood dryf); soos tydens Sandra Prinsloo se Spertyd. En soos tydens Marita van der Vyver se gesprek met Cintaine Schutte. Oral het mense met rooi oë by teaters en gesprekke uitgestap. Merkbaar geraak, die trane vlak. Einste Marita skryf op Facebook: “Die trane die rol … Dit was vir my (en blykbaar vir baie ander ook) die motto van die KKNK.”
Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees, sekondeer die algemene gevoel: “Almal gaan dink ek is ’n cry baby,” lag hy, “en ek is eintlik nie iemand wat emosioneel raak in die publiek nie. Maar ek was die hele week konstant emosioneel. Ek het myself probeer afvra, hoekom? En ek het besef, vir my persoonlik was dit oorwegend dankbaarheid. Ja, jy is moeg en jy stres en dis ’n release van twee en ’n half jaar. Maar die hele fees was hierdie jaar ’n vorm van terapie, waar jy die pandemie en als wat gebeur het, kon prosesseer. En watter beter manier om dit te doen deur teater en musiek. En mense. Dit was ’n familie wat bymekaargekom het.”
Benewens die emosionaliteit rondom die fees is mens stomverbaas om te hoor dat Hugo en sy span ’n suksesvolle en byna insidentvrye fees in ses baie kort weke bymekaargetrek het. Hoe op aarde eet jy dié olifant en hoe hanteer jy dié tipe druk? Met diepe waardering teenoor mense se geduld, harde werk van kunstenaars en almal wat moes inspring en help reël; die ondersteuning en die vertroue van al die borge; mense in die dorp en van buite; en bloot net deur hope liefde, blyk dit. “It truly takes a village,” sê Hugo, steeds merkbaar emosioneel, ’n dag na die fees. “Die gode was met ons. Maar ja, die borge soos Absa en my direksie het hulle nekke uitgesteek en ’n groot kans gewaag, want die kunste en die dorp en feesgangers het hierdie so nodig, om verskeie redes. Mens hoop van harte ander borge en ander feeste sal ook die kans waag.”
Oom George en tannie Geraldine, saam met wie ek en kollega onwetend tydens die fees ’n huis moes deel, het elke dag tussen vier en vyf vertonings gaan kyk. Geraldine reken hulle kom al vir nege jaar Oudtshoorn toe vir die KKNK, maar George sê met ’n knipoog dis al langer as twintig jaar. “Sy brein werk beter,” sê Geraldine, en vra weer my naam. “O, my skoondogter is ook Nadine,” sê sy.
Amanda Strydom, die ouma van die fees, soos sy spottend na haarself verwys, het hierdie jaar aan haar 26ste KKNK deelgeneem met haar vertoning Nostalgie. Sy was elke jaar in Oudtshoorn sedert 1995 en is die enigste kunstenaar wat nog by elke KKNK opgetree het: “Dis fantasties om terug te wees, dis fantasties om voor ’n lewende gehoor te perform en te sien hoe uitgehonger mense is vir die kunste, vir musiek, vir saamwees. Ek sê dankie dat ek hier kon wees om genesing en vreugde te bring, ’cause that’s what we need. All we need is love.”
Liefde, én medemenslikheid, reken Hugo. ’n Fees, ’n stuk kuns, ’n teaterstuk met wêreldklas kunstenaars is nie vanselfsprekend nie.
“Ons het dalk hierdie week weer geleer dat ons almal mekáár moet vier. Ons moet jong kunstenaars wat nog nooit op die verhoog was nie, vier, net soveel soos wat ons die veterane soos Amanda, Sandra, Antoinette, David Kramer, Marthinus en Frank moet vier. En ja, hulle het saam gevier.”
Marguerite Robinson, joernalis en Kannapaneellid, stem saam: “Die wonderlike ding van iets wat terugkeer, is die vanselfsprekendheid wat wegval. Dit was goed om weer daaraan herinner te word.” As deel van die paneel wat elke dag tussen vyf en ses stukke moes kyk, reken sy ook mens moet al die kunstenaars genadig wees. “Hier is mense wat vir meer as twee jaar nie op ’n verhoog was nie. Dis soos ’n ruiter wat deur ’n perd afgegooi is. Jy moet weer terugklim op daai perd. Ek dink nie ons besef wat dit aan kunstenaars gedoen het nie. Hulle moet diep dankbaar wees, dit moet verblydend wees, maar hulle dink sekerlik ook: ‘Ek was donners lanklaas op hierdie perd.’”
En al was hulle lanklaas op daai perd, het hulle almal hulle A game gebring. En die feesgangers was ontvanklik vir dit wat die kunstenaars gebring het, meen Hugo. “Die fees het hoop gegee, en geweldig baie vreugde en inspirasie. Ons weet die pandemie is nie verby nie, maar ons kon weer die lewe vier en ’n vorm van normaliteit beleef. Daar was ’n lewensvreugde wat ek lanklaas gevoel het.”
Karen Meiring, uitvoerende hoof van die KKNK vir bykans 10 jaar, reken dis die kollektief, die gedeelde ervaring van 'n fees, wat mens nie kan vervang nie. Fanie Viljoen, wat aan ’n boekpraatjie deelgeneem het, reken mens besef eers werklik hoe groot die leemte sonder die kunste was wanneer jy in die gehoor gaan sit, die ligte doof en die vertoning begin. Skrywer en joernalis Pieter van Zyl het die heeltyd met hoendervleis rondgeloop en Koos Kombuis se reaksie? “I’m as happy as a pig in shit.”
Dis moeilik om hoogtepunte uit te sonder in ’n week waar als en almal so emosioneel gelaai en in dieselfde asem so vatbaar vir normaliteit en beauty was. Ja, mens kan sekerlik probeer om te sê wat jou eie gunstelinge was. Karin Preller en Mary Sibande se grootse kuns, Anna Davel se sjarme, of die feit dat Beer Adriaanse elke middag om 18:30 R1 000 uitgedeel het aan die skerpste mense in Oudtshoorn (Slim vang sy baas, Klein Karoo version). Dalk was dit ’n ou bekende akteur wat jou in trane gehad het; miskien was dit die barman by die Feeskafee wat jou hart gesteel het. Dalk was dit Schalk Bezuidenhout se grappies, ’n stukkie kinderteater, of ’n Lucky Packet-produksie wat jou in ekstase gehad het. Dalk was dit ’n roosterkoek by die mark, ’n stuk volstruisvleis by die immergewilde Nostalgie-restaurant, of dalk was dit jou vriende wat jy lanklaas in lewende lywe gesien het. Of dalk, as jy ek is, was dit ook die ou oom en ’n ou tannie saam met wie jy onwetend ’n huis moes deel vir ’n week wat die fees vir ewig in jou geheue gaan inbrand.
“Ons gaan vandag huis toe,” sê tannie Geraldine. “Weet jy, ons kom seker al agt jaar hiernatoe.” Oom George knipoog en gaan laai die tasse in die motor. Hulle moet terug Hermanus toe. “Ek weet nie of ek volgende jaar weer hier gaan wees nie,” reken tannie Geraldine. Want sy is al agt-en-tagtig.
Kommentaar
Lieflik geskryf, Nadine. En lank lewe al die tannie Geraldines wat ons kunstefeeste so getrou ondersteun!
Wonderlik vir julle mensies.
Oe, dis huilmooi beskryf. Ek verstaan ja! In vervoering, innig dankbaar, diep bly, so saam-saam ...