Die rooi ou Chev bakkie kreun en steun oor die geel golwende hobbels van die Namib-woestyn.
“Ek kan nou lekka check die reën is weg,” sing my pa vrolik in die bakkie se tweerigtingradio se handstuk in.
“Jou hier jou daar, jou doringblaar, die vaal jeep is baas,” sing oom Simon terug oor die radio. Ons lag lekker vir hom. Ons almal weet mos die rooi Chev, wat ons Sakkie gedoop het, is baas.
Ons is besig om ‘n nuwe paadjie te verken; ons gunsteling tydverdryf hier aan die kus van Namibië. Die aanwysing was om te ry tot by die afdraai na Spitzkoppe toe en dan regs te draai op die tweespoorpaadjie. Daar is nie ‘n bordjie van ‘n dag oud nie, maar dit sal ons Khanrivier toe vat.
Sakkie en die ander vierwiel-aangedrewe voertuie skommel oor die heuweltjies en deur die dongas, brul oor die klippe wat so groot soos klein huisies is, en glip om kokerbome en skerp, sanderige draaitjies. Agterop die bakkie is ekstra petrol, water en drinkgoed en die kamptoerusting wat ons al toe oë kan pak. Ons weet nog nie waar ons gaan kamp of hoe ver ons ry nie. Dit hang af van die terrein.
Daar is baie droë rivierlope in die Namib, maar elkeen is uniek. Maak nie saak hoeveel ons al verken het nie elkeen is ‘n nuwe, vars gesig.
Van almal is ons kinders natuurlik die meeste opgewonde. Ek is omtrent 12 jaar oud en hou saam met my jaar-jonger boetie vas aan die paneelbord. Ons is al eksperts met vashou - of is dit vasklou? As ons opry teen ‘n bult sien jy net skoon, wolklose blou hemel en wanneer ons afdaal net die geel-oranje van die sand en klip. By ‘n paar hindernisse wil ek graag uitspring en Ma lug haar opinie oor die wysheid van die plan. Maar die spul brul speel-speel voort.
Die ‘vlakte’ is agter die rug en ons daal in die rivierloop af. Nou raak dit nog meer tegnies. Selfs die vrolike manne is gefokus, die kinders effens bleker en die ma’s stil. En dan kry ons die moeder van alle hindernisse. Ons moet oor groot, plat, maar verhewe, rivierrotse ry onderdeur ‘n uitgekalfde deel van ‘n soliede oorhang en ingeboks met ‘n ronde klip so groot soos ‘n Orca aan die linkerkant. Gelukkig is die Khanrivier se rotse van daardie rondes soos Spitzkoppe s’n en nie brokkelrig, broos en skerp soos die Visrivier canyon s’n nie.
Die ma’s besluit om uit te klim en liewers te gaan sit waar hulle nie kan sien wat die manne aanvang nie. Behalwe my ma. Sy sit stil in haar hoekie van die kajuit. Sakkie het net een aaneenlopende sitplek gehad, maar ons al vier het netjies ingepas as ek so skuins verby die swart, blink gebruikte ratknop gesit het. Sy het by die venster gesit. Ek weet nie of dit was sodat sy vinnig kon uitspring en ons saamsleep as die “popo” die “fan” slaan of om te keer dat ek nie weer by die venster uitspring soos ek eenkeer op ‘n hoë duin gedoen het nie. Maar toe Sakkie se neus in is sê my pa ons moet uitklim sodat hy beter kan rondkyk.
Sakkie maak dit net-net met ‘n duim speling links, regs en bo; regtig nou-skraap. Jy kon hoor hoe ons weer begin asemhaal toe die gevaarte anderkant uitkruip.
Ons kinders besluit ons gaan bietjie op ons eie verken terwyl ons wag vir die ander voertuie om deur te kruip. Ek en my twee sussie-vriendinnetjies het die oorkantse oewer, wat twee verdiepings hoog was, uitgevaar. Daar was wit-en-swart miere so groot soos ‘n mens se duim wat uit die weg geruim moes word voor die twee histeriese sussies ‘n voet verder sit, steil kranse waar ons letterlik net een voet bo die ander kon sit (soos daardie staaltrappe teen die kant van ‘n gebou) en met klein vingertjies geklou aan enigiets wat nie los was nie. Ons het gebid dat daar nie slange of skerpioene is nie, bietjie hier-en-daar gehuil, maar uiteindelik bo uitgekom. Dit was hemels! O, die vryheid! En wie is nou bekommerd oor hoe ons weer gaan afkom? Dit is later se probleem.
En daar ontdek ons, reg bo die voertuie se gespook, ‘n vlak grot; omtrent een meter diep. Ons moes met ons rûe teen die rots sydelings skuifel tot ons in was. Ook maar goed die ouers was besig met ander dinge. Te trots op onsself kyk ons met blink oë oor die wêreld. Die son het begin sak en die lug omgetower in ‘n fantasiewêreld van kleur. Drie trotse klein dogtertjies trek los met die lied “We are the champions of the world” van Queen. My pa het later gesê dit was die mooiste ding wat hy nog ooit gehoor het.
Uiteindelik is almal anderkant. Die son het al agter die horison gesak en ons raak benoud. Gelukkig met verdere verkenning kry ons ‘n maklike skuinste waar die wal ingegee het en stap lag-lag die ‘berg’ af. En net anderkant die noue ontkominge - vir dogtertjies en voertuie - is die perfekte kampplek.
Tente word opgeslaan, vure gemaak en heeltyd is dit speeltyd. Daar word grappies gemaak en geterg. Die lagbuie weergalm in die rivier af. Om die vuur word die Suidwesterlied (met ‘n paar aanpassings hier en daar) en ander grappige liedjies luidkeels gesing terwyl die vleisies en roosterbroodjies gaar word en kinders word eers gesien wanneer dit etenstyd is. Ons klim rond, speel wegkruipertjie en oorlog-oorlog Starwars-styl met vingers as gewere en ‘n ‘gepeeu’ as jy skiet of ‘aaahhhh’ en ‘n dramatiese inmekaarsak wanneer jy ‘getref’ word. Geen wonder jakkalse, slange of skerpioene het dit nie naby ons gewaag nie. Laatnag kruip almal uitgeput en met vol mage in ons slaapsakke in op die dik, sagte riviersand. Die kampplek was nie regtig die bestemming nie. Dit was inderdaad net ‘n oornagrusplek ter voorbereiding vir môre se reis.

