Kinders grootmaak: dis nie sommer vir foeter nie

  • 0

Kinders grootmaak: Wat niemand jou ooit vertel het nie
Jane Jarvis en Debbie de Jong
Uitgewer: Struik Publishers
ISBN: 9781770076648
R159.95

 

As iemand selfs so kort as drie jaar gelede vir my gesê het dat ek vroeg in 2009 ’n resensie van ’n boek oor kindergedragsmodifikasie (in kort, hoe om op te voed sonder om te foeter) gaan skryf, sou ek in alle waarskynlikheid gedink het hulle is van hulle koppe af. So loop die sirkel van die lewe egter sy gang en so begin die een na die ander van my (sogenaamde) loskop kunsvriende die volgende fase van hul volwasse lewens binnegaan. Ek dink byvoorbeeld aan my goeie vriend, die sanger Bacchus Nel, wat ’n tydjie gelede pa geword het.

Vir iemand wat uit ’n gewone Afrikaanse huis gekom het, is Kinders grootmaak: Wat niemand jou ooit vertel het nie van Jane Jarvis en Debbie de Jong ’n heel anderse avontuur. Kyk, van meet af aan moet ek dit duidelik maak dat ek, my broer en my sussie wel pak gekry het wanneer ons aan die verkeerde kant van die huishoudelike gereg gekom het, maar (en dis ’n groot maar) ons is nooit aangerand nie. So, die gedagte aan lyfstraf was nog nooit vir my ’n buitengewoon skrikwekkende een nie. Ek onthou dat ons destyds altyd deeglik bewus was van die rede vir die tug wat ons ontvang het en ook dat my ouers dit gewoonlik as die laaste stap beskou het.

Aan die ander kant hou dames Jarvis en De Jong deeglike argumente voor om die teendeel te staaf. Sommer vroeg in die boek spreek hulle my vrese oor die sukses van lyfstraf in die volgende stukkie aan:

Die vraag is: Makeer jy regtig niks? Het jy regtig ongedeerd daarvan afgekom? Probeer die volgende vrae beantwoord, en jy sal gou die antwoord vind.

  • Is jy vreesbevange dat jy ’n fout sal maak?
  • Werk jy hard en doen jou bes om verwerping en bespotting te vermy?
  • Is jy angstig?
  • Probeer jy mense tevrede stel, in so ’n mate dat hulle jou as ’n vloerlap beskou?
  • Vind jy dit moeilik om komplimente te aanvaar?
  • Vermy jy gesag?
  • Is jy bang vir mense in gesagsposisies?
  • Kan jy konflik hanteer of raak jy aggressief en onttrek jy jou aan die situasie?
  • Is jy effens (of baie) senuagtig oor wat ander mense van jou dink?
  • Het jy steeds ’n sterk behoefte om jou ouers tevrede te stel?
  • Voel jy jy is nooit regtig goed genoeg nie?

As jy bevestigend geantwoord het op sommige van hierdie vrae (en glo my, dit is met die meeste mense die geval), beteken dit dat, hoewel die straf wat jy as kind ontvang het waarskynlik ’n einde gemaak het aan ’n langvergete misstap, daardie straf nietemin ’n letsel gelaat het.

Aldus Jarvis en De Jong.

Ons lewe in ’n uitsonderlik gekompliseerde tyd en omstandighede, dus kan die vraag ontstaan of baie van bogenoemde probleme die gevolg van ons omgewing eerder as die eindproduk van ons ouers (se omgee) is. Dit sal egter baie meer tyd en plek neem om te bespreek as die bietjie wat ek hier tot my beskikking het.

Kinders grootmaak leun swaar (en tog baie gemaklik) op die sielkundige Lawrence Kohlberg se sewe stadia van morele ontwikkeling. Volgens Kohlberg behels hierdie stadia drie vlakke, nl die prekonvensionele (4-10 jaar), die konvensionele (10-13 jaar) en die postkonvensionele (13 jaar tot volwassenheid) vlakke.

Tydens die prekonvensionele vlak kan die kind se gedrag in twee van die stadia opgedeel word. Stadium 1 is wanneer die kleintjie se gedrag gemotiveer word as optrede om negatiewe gevolge te vermy. Dan, in stadium 2, tree die kind op om beloning te ontvang. Stadium 3 (dit hang natuurlik van ’n kind se persoonlike ontwikkeling af en verskil van kind tot kind) is wanneer die konvensionele vlak gewoonlik bereik word. Hier tree die kind op om ander se afkeuring te vermy. Tydens stadium 4 begin die kind ooreenkomstig wet en plig op te tree. In die boek gebruik hulle later ook die oulike voorbeeld van die kind wat met die ouer raas omdat laasgenoemde ’n padreël verontagsaam het.

Stadium 5 is waar die postkonvensionele vlak in werking begin tree, en aanvanklik tree die kind op om ander se respek te behou. Tydens stadium 6 begin die kind (of jong volwassene) om sy/haar eie beginsels te handhaaf. Stadium 7 is dan ook die laaste fase van groei en hier handel die mense se motivering van optrede oorwegend oor universele beginsels.

Hoe verder mens lees, hoe meer kom jy agter dat heelwat van die hoofstukke in die boek mekaar oorvleuel. Dit pla egter glad nie en slaag eerder daarin om sekere belangrike idees meer deeglik by die leser tuis te bring. Jarvis en De Jong glo onwrikbaar daarin dat kinders vir goeie gedrag beloon behoort te word eerder as om vir die teenkant gestraf te word. Hulle skoei hulle metodes op die sewe stadia, en volgens hulle kan onvanpaste gedrag (stap vir stap) in so min as ongeveer drie weke positief begin verander.

Heelwat word in hierdie gids gedek, onder andere ou probleme soos deurmekaar slaapkamers, oggend- en aandroetine, week- en maandbeplanners, huiswerk, speletjies en pret, TV, gesonde eetgewoontes, ensovoorts. Bogenoemde word ook baie netjies en gemaklik in die inhoudsopgawe uiteengesit sodat die leser direk kan blaai na dit wat vir hom of haar van belang is.

Hierdie boek is een wat alle ouers gerus maar kan aanskaf. Al stem jy nie noodwendig saam met alles nie, is dit baie goed om die boek as riglyn of verwysing (of ’n alternatief wanneer jy voel jou planne werk nie meer nie) op jou boekrak aan te hou.

Jane Jarvis is ’n opvoedkundige sielkundige, betrokke by die assessering van leerders wat op skool sukkel. Haar aktiwiteite sluit in terapie, akademiese ondersteuning, assessering vir skoolgereedheid en vroeë ingryping, sowel as ouerberading en opleidingsessies vir onderwysers.

Debbie de Jong is ’n remediërende terapeut betrokke by akademiese ondersteuning van leerders met leerprobleme. Sy assesseer leerders wat op skool sukkel en hulp en leiding nodig het, skryf hulpbronmateriaal vir onderwysers en bied ook werksessies aan vir die opleiding van onderwysers.

Kinders grootmaak: Wat niemand jou ooit vertel het nie word deur Struik uitgegee en is by alle goeie boekwinkels beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top