Killing my darling

  • 1

Foto: Canva.com

William Faulkner het gesê: “In writing, you must kill all your darlings.”

Stephen King herhaal dit: “… kill your darlings, kill your darlings, even when it breaks your egocentric little scribbler’s heart, kill your darlings.”  

Ek vergiftig jou in my gedagtes, my darling. Slukkie vir slukkie voer ek jou my opium-konkoksie. Stadig laat ek jou ontslaap. Snikkend hou ek jou dop terwyl jy in en uit my bewussyn versit. Ek is nog nie heeltemal gereed om jou uit te skryf nie. Al bestaan jy net in my kop, wil ek jou nie laat gaan nie. Maar die redakteur se rooipen het tyding gebring.

Ons lewe saam, al was dit net in my skrywersverbeelding, was dit ’n wonderlike ryk leeftyd. ’n Kortstondige naweek waar ek in ’n storie weggeraak het. Dit was ’n laat-Vrydagmiddag, die week het homself begin afsluit. My rubriek het net-net saktyd gehaal. Die HAT en Tesourus was op pad na hul gate op my boekrak.

Ek het jou ligte klop aan my komplekse skedel-kothuis se houtdeur dadelik herken. Jy het die afgelope kwartaal dikwels opgedaag, maar ek het jou aanhoudende klop vermy weens my besige hamster-skedule. Jy het niks gesê nie, net onseker getrippel. Nie seker of ek jou gaan innooi of wegjaag nie. Jy het my dopgehou met jou denimblou oë. Daardie kyk van jou wanneer jy kyk of ek kyk. Jy wat seker maak my oë rus op jou. Of wanneer jy saam met Elandré op RSG sing, sal jy my dophou of ek meegevoer raak.

My darling, jou hemelryke stem het hierdie skrywershart holrug gery, laat sjokolade klop. Ek het jou vinnig aan die hand gegryp en in die kothuis van my groot harsings ingetrek. Ek was bang die buurvrou, wat elke dag na boek twee vra, sien ek is voor my rekenaar, besig om te skryf aan jou. “Is dit nou die nuwe karaktertjie wat in jou volgende boekie gaan verskyn?” Fokkertjie-offertjie van my huis af as jy in kie-tjies oor my harde werk praat.

Die Here weet, jou mag ek nie gesoen het nie. Vir ons albei was dit op daardie stadium nie eties korrek nie. In my verdediging, en verbeelding, het jy my eerste gesoen. Daar staan jy toe. Onwerklik. Hemeltergend in die regte lobbe van my kothuis. Jy was verskrik deur jou skielike begeerte om my lippe te proe. Ek het na jou gesmag. Te lanklaas het ’n fabelagtige karakter soos jy by my aangekom. Ek het honger elke beskrywing en dialoog vasgepen en geproe. Ná ’n kamstige maand van skelm vry, moes ek my vriende van jou vertel. Die snoep bure het jou al weke terug sien in sneak. Die storie was los oor die karakter met blou, aanloklike oë wat tydig en ontydig by die skrywer inval.

“Ons sien jou nooit meer nie,” het die buurvrou gekla.

“Ek skryf,” was my verweer.

My vriende was nie baie gaande oor jou nie, my familie wou my onterf. Hoe sal ’n verhouding tussen ’n skrywer en ’n darling ooit kan werk? Dis verregaande – ’n vertolking wat nie vir ander sin maak nie.

In ’n Microsoft Word-dokument het ek en jy ná maande van Times New Roman-12 pt op ’n wit vel in Hollywood gaan woon. Jy wou sing en ek wou movies skryf. Ons was moerse ryk. En mooi. En toe famous. En ons het net oë vir mekaar gehad. Min baklei en dinge het áltyd uitgewerk – want, hallo, dis in my kop!

Ons het ’n seun en ’n dogter gehad, so twee jaar ná ons sprokietroue. Jou ma was glad nie happy dat ons trou nie, so sy was nie op ons groot dag nie. Ek het nooit besef jou ma is so ’n koei nie, totdat ek haar moes uitdink. Toemaar, ek sê mos alles werk uit. She came around. Jou ma het toe vrede gemaak dat ’n skrywer haar kind se hart gesteel het. Sy was gaande oor Zac en Mia. Ons kinders. Dink jou ma het net van my begin hou omdat ek so mooi met jou gewerk het. Wat sal Skoonma tog sê as sy hoor ek het jou uitgeskryf en jy gaan nooit geïnk word nie. Niemand gaan van jou hemelstem en denimblou oë lees nie. Dit breek my sjokolade-kloppende hart.

Ek wil net hier in my naweekbed bly saam met jou en nog stories uitdink oor hoe wonderlik jy dink ek is. Haastig blaai ek deur my karakterbybel, dalk kan ek jou herbedraad en ’n verhaal met meer klimaks skryf, nie net in die bed nie. Maar die naweek is afdraend. Maandag loer vir my met beloftes van hoop en drome wat net miskien gaan waar word. Tussen to do-lysies, kliënte en vuil wasgoed. Dit is dié nine-to-five wat my onderhou terwyl ek naweek na naweek passievol storietjies uitdink en net oor Hollywood kan droom.

Denise Mina het gesê: “Being lost in a story is an extraordinary human capacity, but the story has to be right.” Hoe kan ek as skrywer enige leser laat wegraak in hierdie liefdesverhaal vol clichés met ’n darling van ’n karakter wat in werklikheid net té indrukwekkend is om te bestaan? “Kill the darlings,” het my redakteur met rooi gekrap. Dit bly moeilik om ’n darling dood te maak, veral as jou darling ’n nie-fiktiewe fiksie is. En verál as jou verbeeldingslewe in Hollywood baie beter lyk as vroegoggend-vergaderings ná twee ure in die verkeer net om weer na ’n leë huis sonder warm liefde terug te keer.

Ek het my oë gerol toe jy saam met Miley Cyrus begin sing, maar hierdie sjokolade-kloppende hart is klaarblyklik nie net ’n cliché nie, dit verraai ook:

Why don’t you stand, stand by me, 
Oh my darling stand by me 
We gon’ make a movie, a movie and 
It’s gon’ be in three D, in three D

Hiér, waar jy nou in my arms ruk van die oordosis opium en ons Hollywood-lewe uit jou oë verdwyn, sê ek totsiens my darling. Mag jy vrede vind in my digitale asblik saam met al my gewese darlings (en Miley Cyrus). Al het die rooipen jou geskrap, bly jy my darling en ek sal altyd Hollywood onthou. Soos die uitdrukking lui, It wasn’t real but it was emotional.

Baie liefde,

The writer who kills darlings, but not for a living. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top