- Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

Toe Naomi my vra om deel te neem aan LitNet se navraag oor wie KI gebruik en wie nie, en waarom (of waarom nie), was ek so half uit die veld geslaan. Ek het nog nooit iets met KI te doen gehad nie. Maar ... ek hou van ’n uitdaging.
In die vroeȅ 1990’s was my broer Carl – nou professor Carl Marnewick van UJ – ’n student wat besig was met ’n meestersgraadprojek in rekenaarwetenskap. Toe ek hom destyds vra wat hy navors, het hy gesê: “Kunsmatige intelligensie”. Wat ek verstaan het, was dat dit so werk: Veronderstel ’n vervoerband waarop motors vervaardig word. Langs die band staan ’n robot wat net op ’n spesifieke plek op die bakwerk ’n gat boor en dan weer sy arm terugtrek en wag vir die volgende kar wat voor sy staanplek stilhou. As daardie kar nou ’n duim te vroeg of te laat op die band gaan staan, is die robot geprogrammeer om sy eie posisie aan te pas om tog die gat op die regte plek te boor.
Dit was volgens prof Carl wat KI is – ’n robot wat selfstandig ’n probleem aanspreek en oplos. Vandag ontwerp KI-robotmasjiene nie net die motors nie, maar ook die fabrieke en bande van die vervaardigingsproses, en selfs ander robotte om van die take uit te voer. Ek is ’n verbruiker van die produkte wat met KI vervaardig is, maar nie self ’n gebruiker van KI nie.
Terwyl ek vanoggend langs die see stap, vra ek vir Ansie (my vrou): “Wat dink jy? Ek weet niks van KI nie.” Sy antwoord: “Jy het agter geraak.” Ek stem saam. “Ek is te dom. Ek is te oud.” Voor ek kan voortgaan, voeg sy by: “En te lui om uit te vind.” Ek is al daardie dinge.
Ek het in my loopbaan as advokaat nie KI gebruik nie. Dit was destyds – 1976 tot 2012 – nie beskikbaar nie. En as dit was, sou ek dit nie gebruik het nie, want ek verkies – en dit word van my as advokaat vereis – om persoonlik die navorsing te doen sodat die regter op my voorlegging kan vertrou. ’n Advokaat het ’n regsplig om die reg na te vors en korrek aan die hof voor te lê. Met KI sal dit iemand anders wees, ’n onbekende robot doer iewers wat met geheime logaritmes voorgee om die korrekte antwoord te verskaf. Onlangse gevalle het reeds voorgekom waar advokate in die moeilikheid gekom het omdat hulle op KI gesteun het om ’n argument voor te berei, en KI het sommer gesag wat voorgegee het om beslissings in vorige sake te wees, versin. Ja, versin. En die advokate was onervare genoeg om nie self die navorsing te doen nie: met boek in die hand, of op ’n uitgewer soos LexisNexis of Juta se webwerf.
As nagraadse student – 1988–1996 – het ek ook nie KI gebruik nie, want dit was ook toe nie beskikbaar nie. Selfs die internet was nog in sy beginstadium. Ek moes die boeke en artikels wat ek wou raadpleeg gaan soek in biblioteke en institute: Londen, Oxford en Cambridge. Van daar oor na Hamburg en op pad terug, by Utrecht, Amsterdam, Leiden, Rotterdam en Parys. Noudat ek daaraan dink: Ek sou daardie ondervinding nie in ’n honderd jaar verruil om vir ’n dag of ’n week voor ’n rekenaar te sit en lees wat KI oor die onderwerp te sê het nie. KI sal ook nie vir my ’n doktorsgraad verdien nie. Die dag toe ek daardie proefskrif indien, moes ek skriftelik verklaar dat dit my eie oorspronklike werk is. Hoe dan, met ’n tesis wat deur KI geskryf is?
As skrywer sou KI my ook nie kon help nie. Vir Shepherds & butchers het ek die doodsvonnisregisters – wat nie op die internet beskikbaar is nie – een vir een geraadpleeg, en onderhoude gevoer met verskeie persone wat by die voltrekking van die doodsvonnis betrokke was. Hoe sou KI ’n onderhoud met een van daardie persone kon gevoer het? Vir Clarence van Buuren: die man agter die donkerbril het ek die oorspronklike polisiedossier, die oorspronklike saakrekord, en ’n joernalis se versameling van notas, koerantuitknipsels en selfs briewe wat Van Buuren vanuit die dodeselle geskryf het, kon raadpleeg. Ek het nie KI nodig gehad om my te help om die getuienis en Van Buuren se karakter te ontleed nie.
Ag nee wat, selfs onlangs toe ek ’n veteraanmotor oorgebou het, het ek self die boor vasgehou, gemeet waar die gat moet wees, en daar geboor.
KI is nie ’n instrument vir my nie.

