Kewerkoningin
MG Leonard
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307860
Hierdie boek is die tweede in die sogenaamde kewertrilogie. Die eerste boek, Kewerknaap (Beetle boy), het reeds in Februarie 2017 by Protea verskyn. Die derde boek, Kewerwraak, word binnekort verwag.
Daar is twee sake wat hierdie boek uitsonder: die uitstekende vertaling deur Kobus Geldenhuys en dat dit die tweede boek in ’n reeks van drie is.
Die algemene indrukke van die boek is die gehalte daarvan en dat dit wel op sy eie gelees kan word buite die konteks van die eerste boek. Die boek skop af met die herstel van die vorige avontuur en die opbou van spanning na die volgende avontuur, wat sy klimaks in deel drie sal bereik met ’n geheime missie na die Amasone-reënwoud.
Darkus se pa is in die vorige boek ontvoer en met ’n breedvoerige reddingsplan deur Darkus, sy oom en vriende, Virginia en Bertolt, gered.
In hierdie aflewering van die trilogie is dit duidelik dat Lucretia Cutter, die booswig, nie klaar is met Batholomew Cuttler en sy seun Darkus nie. Sy beraam ’n slinkse plan van wêreldoorname waar sy haar spesiale biologies-gemodifiseerde kewers gaan bekendstel en ontplooi. Die verhoog is die filmtoekennings in Los Angeles, VSA. Lucretia Cutter se dogter, Novak, is een van die genomineerdes en vergesel haar ma na dié geleentheid. Sy raak ook bevriend met Darkus teen die einde van die vorige boek.
Tussen Novak, Darkus, Darkus se twee vriende, sy oom en ’n paar wetenskapkennisse van sy pa moet hulle weer die wêreld red. Natuurlik word die kewers ook uit Lucretia se “kloue” gered, want sy het ’n string geheime en sy lyk deesdae heelwat anders ...
Voorheen is daar beweer dat reeksboeke nie voordele inhou vir die jong leser nie (Snyman, 1983:325, 330). Dit was hoofsaaklik omdat reekse soos die Keurboslaan- en Maasdorp-reekse uit ’n groot aantal boeke bestaan, wat die lees daarvan duur en moontlik vervelig kon laat blyk het. Ander reekse vir jonger kinders het dieselfde formaat en bevat karakters wat die gevoel van massaproduksie kan skep en daarmee saam swak gehalte. Tog is hierdie reeksboeke een manier om jong lesers aan die lees te kry en hul liefde vir lees te help kweek.
Die gewildheid van onlangse reeksboeke het drasties toegeneem. Mens kan maar net kyk na al die reekse soos The hunger games, die Divergent-reeks en The maze runner. Al drie hierdie reekse is in multimiljoendollar-rolprente omskep wat weer op hulle beurt die boeke soos soetkoek laat verkoop het. Die uitgangspunt is derhalwe nie net dat die reeksboek gewild is nie, maar dat die leser ’n verhouding met die karakters en verteller bou. Sodoende word daar motivering geskep vir die lees van die volgende boek in die reeks.
Reeksboeke is daarom eerstens storieboeke, hetsy wetenskapfiksie, fiksie of speurverhaal, en word gelees vir plesier omdat dit lekker stories is.
Laastens lees die teks gemaklik en is die vertaling suksesvol. Dit is grootliks te danke aan die vertaler, Kobus Geldenhuys, se ervaring en gebalanseerde werksmetode.
Geldenhuys het by die SAUK se kinderprogramme begin werk met oorklanking (Storiewerf 2006). Hy was betrokke by die vertaling en oorklanking van kinderprogramme soos Moemin. Hy het ook Roald Dahl se bekende kinderliteratuurtekste soos Charlie and the Chocolate Factory en Charlie and the glass elevator vertaal. Sy vertaling van die sesde boek in die Harry Potter-reeks het opslae gemaak, sowel as sy vertaling van Cressida Cowell se How to train your dragon – Hoe om jou draak te tem: Hoe om drakonees te praat, waarmee hy die 2015-Elsabé Steenbergprys gewen het (Bookslive 2015). Hierdie boek spreek van sy ervaring, en al is die vertelling nie na ’n Suid-Afrikaanse konteks verplaas nie, is dit steeds geslaagd. Dit skep die indruk van ’n kinderweergawe van die James Bond-karakter wat egter in plaas van sportmotors ry en Russiese spioene uitoorlê, na kewersake omsien.
Beslis ’n lekker vakansieleesprojek vir beide seuns en dogters wat van buitengewone avonture hou.
Bibliografie
Bookslive. 2015. “Respekteer die bronteks en die skrywer” – Kobus Geldenhuys deel sy goue reël vir vertaling. Aanlyn beskikbaar: http://protea.bookslive.co.za/blog/2015/08/11/respekteer-die-bronteks-en-die-skrywer-kobus-geldenhuys-deel-sy-goue-rel-vir-vertaling (23 Januarie 2018 geraadpleeg)
Snyman, L. 1983. Die kind se literatuur. Kinderpers van SA: Durbanville.
Storiewerf. 2006. Kuier by ... Kobus Geldenhuys. Onderhoud deur Leana Moolman. Aanlyn beskikbaar: https://www.storiewerf.co.za/onderhoude/oh_kobusgeldenhuys.html (23 Januarie 2018 geraadpleeg)