Kersvader

  • 0

Lisa het haar kind by die laerskool kom oplaai. Die Kersvakansie het begin en toe Tiaan by haar in die motor inklim, groet hy haar nie eens nie. “Mamma, daar is nie regtig ’n Kersvader nie, nè? En ons gaan mos nie hierdie keer Kersfees hou nie?”

Nie hier op die skool se parkeerterrein nie, dink Lisa. Waar Tiaan so hard praat en die ander kinders kan hoor nie. Of die ma’s kan luister vanuit die motors met oop ruite nie. Al is hulle aandag nou by rapportkoeverte wat hulle oopskeur om dadelik die punte met hul kinders te bespreek.

“Geluk my kind, met al jou A’s.”

“Toemaar, my kind, volgende jaar gaan jy vir Marina klop en eerste staan.”

“Jou punte is goed, my kind. Nou kan ons eers ’n bietjie van skool vergeet, want een van die dae hou ons lekker Kersfees.”

Toe Lisa by die skool se hek uitry, vra Tiaan: “Mamma, hierdie Kersfees gaan alles mos oukei wees?”

Lisa ry met die straat af, verby die biblioteek, verby Checkers, verby die kerk met die hoenderhaan op sy toring. Sy antwoord nog nie vir Tiaan nie, sy dink aan ’n antwoord.

Tiaan was nog altyd op sy hoede vir die man met die swart stewels en die rooi klere. Vandat hy een jaar oud was, het Kersvader op Oukersaand by die familiesaamtrek opgedaag. Dan het Tiaan vir hom geglimlag. Effentjies. En wanneer die man met die waatlemoenmaag sy naam uitgeroep het, het hy tussen sy nefies en niggies opgestaan van die mat voor die Kersboom en versigtig sy present by Kersvader gaan haal.

Die man met die rooi mus en die wit krulsnor het saggies met sy hande op sy knieë geklap. “Kom, Tiaan,” het hy gesê, kom sit hier by Kersvader, op sy skoot.”  Die man met die lang wit baard het belowe Tiaan mag dan die grootmense se presente vir hulle aangee wanneer Kersvader hulle name op die Kersgeskenke uitlees.

Sy stem was vriendelik en hy het baie geglimlag. Sy tande het geblink wanneer hy sy mond oopmaak en hard lag. Maar wanneer hy sy arms uitgesteek het om Tiaan op sy skoot te tel, het Tiaan net sy kop geskud. Hy het sy ma se oë gesoek, hy het weggedraai van Kersvader en met sy present op Lisa se skoot gaan sit.

Verlede jaar, onthou Lisa, het al die nefies en niggies Oukersaand op Ouma en Oupa se groot balkon gestaan. Dit was donker buite en hulle het koeldrank gedrink en Ouma se Kerskolwyntjies geëet. Hulle het die Langeberge dopgehou. Nie dat hulle die berge kon sien nie. Maar hulle het die berge geken. Hulle het geweet waar om te kyk vir wanneer Kersvader al hoe nader sou kom.

Die grootmense het belowe hy gaan enige oomblik opdaag, die kinders sou sy helder ligte sien. Hierdie keer vlieg hy dalk met ’n helikopter. Of ry hy op ’n motorfiets. Miskien trek sy takbokke sy slee tussen die sterre deur.

Naderhand kon die kinders dit nie meer hou nie. Tot een van die grootmense by die sitkamerdeur roep: “Kersvader! Ons het jou glad nie so stilletjies deur die skoorsteen sien aankom nie! Lyk my jy’t ’n ver, ver pad gestap om vanaand by ons te wees. Kom kinders, kom groet vir Kersvader.” Maar Tiaan het nie gegroet nie.

Lisa het hom gekry waar hy in die donker op die balkon staan en na die sterre kyk. Die soetsuur van Oupa se lemmetjieboom het in die warm naglug gehang.

“Mamma, hierdie Kersfees gáán alles mos oukei wees?” sê Tiaan toe Lisa by hulle huis se oop hek indraai en dit met die afstandbeheer sluit.

Lisa kyk in die grys oë van haar kind langs haar op sy sitplek. “Nee, my lief, Kersvader sal nie weer by Ouma-hulle se huis of by ons kom kuier nie.”

Sy maak Tiaan se gordel los en sy neem sy klam hand in hare. “Oom Pierre sal nie weer daar wees nie. Sy speletjies is nie meer net julle twee se geheim nie.”

“Kersfees gaan oukei wees,” sê sy. “Ons gaan in Oupa se lemmetjieboom sit.”

En dalk, net dalk, gaan hulle ’n regte Kersvader sien, dink Lisa, want ons mag maar in sprokies bly glo.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top