Kersspel

  • 2

Foto: Canva

Kersspel

Daar is eintlik net twee dinge wat mense laat stry oor wie se idee dit nou eintlik was: ’n reuse-sukses en ’n klaaglike mislukking. Juis daarom die heftige debat oor die ware oorsprong van Klipkerk-gemeente se pas afgelope Kersspel.

Ons was almal een oggend ná erediens besig om tee te drink toe oom Vossie my op behendige wyse tussen die bedieningstoonbank en tant Sarie Koster vaskeer.

“Skryf jy nog, broer?” verneem die Vosman met gemaakte belangstelling.

Ek vermoed dadelik ’n verskuilde agenda. Benewens ouderling, is my inkwisiteur ook handelaar in generiese motoronderdele. Vossie’s Bolts & Spares.

“En wat is jou tweede vraag, oom Vossie?”

“Wil jy nie die vreeslike misdaadstories van jou bietjie los en vir ons ’n Kersspel skryf nie? Dêmmit, man, dis al November, en ons moet die eerste Sondagaand van Desember op die planke wees. Ek sê nou op die planke, maar ek bedoel opvoer, in die kerk hier neffens.”

“Ja, gebruik tog vir ’n verandering die talente wat onse liewe Heer jou gegee het vir ’n goeie saak,” voeg tant Sarie by. Ek neem haar vermaning ter harte, al is sy – so vermoed ek – ’n ywerige leser van rosige boekklub-romans.

“Nou, wat het julle in gedagte,” verneem ek ewe vroom van agter my teekoppie.

My vraag word sommer die Maandagaand beantwoord, tydens ’n vergadering in die kerksaal. Almal is daar: dominee Tienie, Pierre ons orrelis en koorleier, die hoof van die Sondagskool, twee lede van die eerwaarde kerkraad en natuurlik oom Vossie in sy hoedanigheid as selfaangekondigde sameroeper van die pasgestigte Kersspel-beplanningskomitee. Tant Sarie is ook aanwesig, oënskynlik slegs as waarnemer.

Skaars het almal hulle sit gekry of oom Vossie vat die woord.

Ek was verniet bekommerd oor my verantwoordelikhede as draaiboekskrywer, want sommer vroeg in sy openingsrede sê oom Vossie dat van almal ek die maklikste taak het – die Kersspel gaan tog maar oor ’n baie bekende, ou-ou verhaal. Nee, sê hy, eintlik draai alles om die spelleier. Dis die spelleier wat moet seker maak dominee Tienie weet wanneer om te praat en wanneer om te swyg, dat orrelis Pierre weet wanneer dit tyd is vir die staltoneel se rustige musiek en wanneer om by wyse van fanfare die ganse Klipkerk te laat bewe. En die koor, ja, die koor moet weet wanneer om vas te knyp en die hoë note te vat en wanneer om te laat los. Die skaapwagters, wyse manne uit die Ooste, Josef en Maria (almal vroeg-laerskool) moet presies weet wanneer om met hulle gebarespel te begin en wanneer om tjoepstil te sit.

En, voeg oom Vossie nonchalant by, dis hoekom Sarie Koster vanaand hier is.

“Dames en here, ontmoet ons spelleier!” sê hy met groot gebaar.

Tydens die daaropvolgende vergadering kry die projek verder lyf. Oom Vossie stel ons voor aan Dewald en Drikus.

Alliterasie is omtrent al wat die twee uiteenlopende kêrels gemeen het. Dewald is ’n gesette jong man met ligte, krullerige hare. Sarie Koster se susterskind, laat oom Vossie val. Biblioteekassistent van beroep en lid van ’n amateurtoneelgeselskap.

“Hierdie is sy eerste betaalrol,” sê tant Sarie trots.

“Én hy was al op die Staatsteater se verhoog,” voeg oom Vossie by. In welke hoedanigheid en watter tyd van die dag of nag dit was, word nie gemeld nie, maar dis duidelik dat die Klipkerk-gemeente besonder bevoorreg is om krullebol Dewald as gaskunstenaar in sy midde te hê.

Dominee Tienie maak keel skoon. “Broers en susters, tye verander, en die kerk het geen keuse as om by te bly nie. As jy deesdae iets behoorlik wil aanbied en boonop toegangsgeld vra, moet jy bereid wees om net die beste te kontrakteer, en net die beste kos geld.”

Drikus, daarenteen, is ’n klein, skraal introvert met donker, onrustige oë. Volgens ons sameroeper is die man besonder tegnies aangelê en reeds ’n geruime tyd ’n werknemer van Vossie’s Bolts & Spares.

Gaandeweg kom ek onder die besef van die enorme verantwoordelikheid wat op Dewald en Drikus se skouers rus. Hoewel ek as draaiboekskrywer aanvanklik nie daarvan kennis gedra het nie, weet ek dit nou: Drikus gaan ’n kabel vanaf die Klipkerk se orrelgalery tot by die galery bokant die preekstoel span en dit van ’n katrolmeganisme voorsien. ’n Spesiaal-vervaardigde korset sal rugkant aan die kabel geheg wees. Net voor die einde van die verrigtinge sal dit tyd wees vir die Grand Finale. Met die hulp van oom Vossie gaan Dewald (paslik gegrimeer en geklee in engelgewaad) hom in die korset inwikkel. Onder die geklank van orrelfanfare en welluidende koorsang sal Drikus vanaf die preekstoelgalery die katrolmeganisme aktiveer en die kollig op Dewald laat val. Hierna volg ’n kort maar skouspelagtige vlug oor die koppe van die gemeente vanaf die orrelgalery tot bokant die preekstoel.

“An evening to remember.” Oom Vossie klink selfvoldaan. Vossie van Vuuren, tot nog toe maar net nog ’n speler in die motoronderdelemark, nou ’n Kersspel-impresario.

Ek is die Saterdagoggend voor die opvoering by toe die kabel geïnstalleer word. Ek is ook ooggetuie van Dewald se eerste en enigste oefenvlug – ’n voorreg wat ek met ’n uitgelese groepie toeskouers deel: tant Sarie, orrelis Pierre en sy koor, dominee Tienie, die skaapwagters en wyse manne uit die Ooste, asook Josef en Maria.

Ons kyk stil toe terwyl oom Vossie op effe hardhandige wyse vir Dewald in die korset inforseer. ’n Besorgde tant Sarie lyk ietwat ontsteld oor die rowwe behandeling wat haar susterskind te beurt val, maar is ook sigbaar opgewonde.

Ook maar goed die man het nie ’n praat- of singrol nie, dink ek. Met daai ding om sy lyf kan hy beswaarlik asemhaal.

Ook dominee Tienie lyk vir die eerste keer ietwat besorg.

Inkennige Drikus sit reeds op sy galerysitplek skuins bokant die preekstoel toe oom Vossie my beveel om langs hom stelling in te neem.

“En waaraan het ek dié eer te danke, oom Vossie?”

“Jy moet die spotlight werk. Drikus kan nie alles doen nie. Beskou dit as ’n voorreg,” sê hy met die omdraai en wegstap.

“Raait! Gereed? Begin!” bulder oom Vossie vanaf die orrelgalery.

Drikus lek een keer oor sy droë lippe voordat hy die katrolmeganisme aktiveer. Die kontrepsie beweeg en die engel kom tjierie-tjierie-tjierie stadig maar seker reguit na ons toe aangevlieg. In die soberheid van ’n Saterdagmôre, sonder dramatiese effekte soos beligting en orrelfanfare, lyk Dewald na iets tussen Interflora se Hermes en ’n oorgewig Cupido, maar ek sê liewer niks. Vra ook nie of die engel-in-vlug se pers gelaatskleur nie dalk van asemnood getuig nie.

Gelukkig bereik Dewald sy bestemming sonder voorval, en terwyl hy hom met hoorbare asemteue uit sy korset wikkel, opper ek die tjierie-tjierie-tjierie van die katrolmeganisme.

“Oom Vossie, dit gaan mos afbreuk doen, moet iets nie iewers olie kry nie…”

“Nee wat, die orrel en die koor gaan dit uitdoof. Hou jy maar net die soeklig op die regte plek. Op die engel.”

Wie se idee was dit...

Die Sondagaand verloop die Kersspel volgens plan. Ek was weliswaar ligweg verbaas – eintlik nie – toe ek voor die aanvang van die verrigtinge op die program sien dat alles moontlik gemaak is deur Vossie’s Bolts & Spares.

Dit word tyd vir die hoogtepunt, die Grand Finale. Terwyl die gemeente doer onder in ’n staat van betowering verkeer, beveel Pierre met heftige armgeswaai sy koor tot aksie en trek hy die orrel se longe oop vir die fanfare. Terselfdertyd aktiveer Drikus hier langs my die katrolmeganisme. Ek skakel die kollig aan en rig dit op Dewald.

Dewald, tot nog toe miskende biblioteekassistent, gefrustreerde amateurtoneelspeler en vermeende eenmalige gordynoperateur van Staatsteater-faam, begin sy epiese tog na die preekstoelgalery.

Van tjierie-tjierie is daar nie sprake nie – die orrelspel, geesdriftige koorklanke en ’n oorstelpte gemeente se oe’s en aa’s doof alles uit, presies nes oom Vossie voorspel het.

En ek laat my lig skyn. Haarfyn, sekuur op Dewald wat met pieringoë en gepofte wange al hoe nader kom.

Aanvanklik vorder hy goed, maar halfpad begin maal die engel skielik met arms en bene asof hy ’n seeskilpad is.

Wie se idee was dit?

Niemand weet presies wat gebeur het nie. Nie tegniese deskundige Drikus, sameroeper Vossie van Vuuren of spelleier Sarie Koster nie.

Ek vermoed dat Dewald in ’n poging om die korset makliker aan te kry sy asem ingetrek en daarna ingehou het. Die vlug was net te lank en die asem uit waarskynlik vinniger en minder gekontroleerd as die asem in.

Eers die angsgille, toe die dowwe slag en daarna die geskokte stilte.

Die orrel speel vir ’n paar oomblikke voort totdat Pierre agterkom sy koor het hom verlaat. Bonkige basse, tenger tenore, soprane en alte verdring mekaar om oor die rand van die orrelgalery te loer na wat daar onder aangaan.

Te midde van die chaos arriveer ’n leë, stukkende korset tjierie-tjierie-tjierie by die preekstoelgalery.

Die kollig word skielik soeklig. Waar’s Dewald?

Eers speel die lig oor dominee Tienie se vol gelaat. Hy staan doodstil soos ’n soutpilaar, oë na bowe. Daarna val die lig op tientalle geskokte gemeentelede wat haastig naderstaan om hulp te verleen. Uiteindelik kry ek hom: middelblok, derde ry van voor, ’n lewelose, korpulente figuur, bo-op ’n paar wriemelende kerkgangers.

Wie se idee was dit?

Eerder, wie gaan die rekeninge betaal? Dié van die ortopediese sjirurg en fisioterapeut wat Dewald op die moeisame pad van herstel geplaas het, asook die koste van die sielkundige wat hom daar moet hou.

Nie oom Vossie se idee nie, nee. Hy het die aand se gebeure en sy aandeel daarin soos ’n ou jas uitgetrek en eenkant toe gegooi, net soos hy hom waarskynlik voorheen uit vele saketransaksies gewikkel het.

Ook nie ’n steeds getraumatiseerde tant Sarie se idee nie. Sy sou en wou nie haar susterskind aan sulke gevare blootstel nie, beweer sy. Sy sê ook dat die familie die regsadvies van ’n uiters knap kleinneef (’n regstudent in sy tweede jaar) ingewin het en dié sê hulle moet dagvaar. Maak nie saak of jy Woordbediener, orrelis, draaiboekskrywer, koorlid, werknemer of eienaar van Vossie’s Bolts & Spares is nie, verwag ’n besoek van die balju!

Ook nie Drikus se idee nie, hy het maar net gedoen wat van hom verwag is. En in ’n enkele oomblik van verontskuldiging besig die inkennige kêrel jou werklikwaar ’n volsin: “Ek’t vir oom Vossie gesê daai ou sal moet gewig verloor, anners gaan die cable of die corset snêp, en toe snêp die corset.”

Nee, alle vingers wys nou skielik na my.

My idee? Ek is maar net die skrywer van ’n baie bekende, ou-ou verhaal, ’n baie bekende, ou-ou verhaal sonder ego’s of verskuilde agendas.

 

  • 2

Kommentaar

  • Dit bly die ewige ironie: is iets 'n sukses as daar nie genoeg elmboë is om te stoei vir voor in die koor kom nie? Maar, o wee! Vir mislukkings is daar ontelbare wysvingers wat soos soekligte dwaal om tog net aflaaiplek te kry vir die skuld! Dankie, Marius Ackermann, vir jou kollig, albeit tong in die kies, op ons ou mensdom se swaktes!

  • Dit is 'n plesier om hierdie satiriese teks te lees! Die woordkeuses, sinsbou, die handeling skep die humor so meevoerend! Die karakteriserings is oortuigend en dit berei die intrige goed voor. As daar weer 'n bundel kortverhale oor Kersfees- of ander kerklike feesvieringe saamgestel word, behoort hierdie teks beslis gekies te word. As iets vars en oorspronkliks. Sal ook goed vaar as voorlesing..

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top