Kersversierings is vanjaar minder flambojant en kleiner. Kersboompies uit herwonne of natuurlike materiale is aan die orde van die dag. Minder liggies flikker. Alles het net eenvoudig te duur geword. Baie sê “Ons het nognie eens geskenke gekoop nie.” Ander het hulle strategie van geskenke koop verander.
Dit alles is deel van die Meesterplan. Vir ons wie in die koms van Jesus as ons Verlosser en Saligmaker glo, sal Kersfees altyd daar wees. En omdat ons glo en by die krip in Betlehem kniel met ons oë op die kruis, daar ver op Golgota, pla die gebrek aan baie en blink ons nie. Deur Sy voorbeeld na te volg, kan ons vir ieder en elk geskenke gee sonder om ‘n enkele sent daarvoor te betaal.

Gee Onverdeelde Aandag wanneer iemand jou aandag soek. Al wat dit kos is om vir ‘n wyle te stop waarmee jy besig is.
Gee Komplimente, mits dit eerlik bedoel word. Al wat dit kos is om iets moois in iemand te soek.
Gee Stilte deur vir een dag per week nie die TV of radio aan te skakel nie. Al wat dit kos is die inboet van steurnisse van buite en om ‘n slag binnetoe te kyk en luister na wat jou siel wil hê.
Gee Plesier. Lag vir jou eie onsinnighede en deel dit. Al wat dit kos is die aanvaarding dat jy nie perfek is of hoef te wees nie.
Gee Kalmte deur nie opvlieënd te raak oor nietighede nie. Al wat dit kos is om tot tien te tel, weg te stap en jouself te vra of jou ontsteltenis oor ‘n maand of ‘n jaar nog sal saakmaak.
Gee Geduld deur meer dinge self te doen. Al wat dit kos is om tot die besef te kom dat niemand net vir jou gerief regstaan nie en dat daar dinge is wat jy nooit sal kan verander nie.
Gee Ruimte deur terug te staan. Al wat dit kos is die besef dat elke mens alleen-tyd nodig het om die filters wat jy help vuilmaak het, om te ruil.
Gee Vergifnis aan hulle jou te na gekom het. Al wat dit kos is die besef dat jyself nooit vry kan wees as jy nie ander uit jou gedagtewêreld kan verban nie.
Gee Vrede deur konflik te ontlont en dit nie aan te jaag nie. Al wat dit kos is om die woord “Jammer” te kan sê sonder vrees dat ‘n ramp jou gaan tref.
Gee Getrouheid aan jou maat, kinders, vriende. Al wat dit kos is om aan jouself getrou te wees en nie jou beginsels prys te gee nie.
Gee Nederigheid selfs al beweeg jy in hoë kringe. Al wat dit kos is dat jy sal bely dat dit wat jy besit en die vermoë om te kon werk daarvoor, alleen maar deur genade gekom het.
Gee met Jou Hart wanneer jy van jou besittings uitdeel. Al wat dit kos is die wete dat wanneer jy gee met die doel om om te koop, dit jou geen blywende geluk sal bring nie.
Gee Gasvryheid deur die hele straat se mense na jou huis te nooi vir ‘n groet-mekaar. Een keer per jaar, vir een of twee uur. Al wat dit kos is die opruim agterna.
Gee Regverdigheid deur nie die onmoontlike van iemand te verwag nie. Al wat dit kos is om aan jouself erken dat jy nie tevrede sou wees in dieselfde omstandighede nie.
Gee Eerlikheid deur nie ander se integriteit aan te tas met leuens nie. Al wat dit kos is die besef dat geen leuen vir ewig verborge bly nie.
Gee Bedagsaamheid aan alle mense, maar veral jou huismense wie jy as vanselfsprekend aanvaar. Al wat dit kos is om te besef die nou-oomblik is kosbaar; daar mag miskien nie ‘n later of ‘n netnou wees nie.
Gee Liefde uit die suiwerheid van jou siel, sonder enige pretensies. Al wat dit kos is die keuse om liewer gehaat te word vir wie jy is, as om liefde te ontvang vir wie jy nie is nie.
Deur die opregte gee van hierdie eenvoudige, gratis geskenke, gee ons dit inderdaad aan Jesus self op die herdenking van Sy geboortedag.
Mag die liefde van God, waarmee Hy sy Seun aan die wêreld gegee het, elkeen se hart hierdie Kersfees in so ‘n mate vernuwe dat ons hierdie geskenke sal uitdeel en ontvang vir die duur van die Nuwe Jaar.
Suikerbrood en suurvye


Kommentaar
Ek verstaan nie waar Kersfees deel is van die meesterplan nie, kan jy my asb. 'n Bybelverwysing gee waar hierdie fees deur Messias of enige, enige ander persoon in die Bybel gevier is?
Seblief tog.