Kerkorrel se Hoe ek voel

  • 1

Ons almal onthou vir Johannes Kerkorrel. Die man wat saam ander anti-establishment musikante deur Suid-Afrika getoer het en op elke dorp kontroversie tussen die konserwatiewes en die jeug veroorsaak het. ’n Onafhanklike denker, ’n troebadoer, ’n rolmodel en ’n romantikus. Sy dood het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse musieklandskap gestuur en daar was nooit weer ’n plaasvervanger nie. Maar sy musiek hou aan voortleef, en met ’n nuwe herdenking-CD deur Gallo, getitel Hoe ek voel, stuur die Hillbrow-toring sy seine sterker as ooit die nag in.

Met 17 snitte op is Hoe ek voel ’n pakkie plesier met al die Kerkorrel-gunstelinge, soos “Hillbrow”, “Al lê die berge nog so blou” en “Halala Afrika”. Benewens die ou gunstelinge is daar ook snitte wat die intense liefde van Kerkorrel uitbeeld. Binne die CD-omslag skryf die musiekghoeroe Deon Maas (wat die samestelling van die CD behartig het): “hy was lief vir die liefde.” Snitte soos “As jy my kan volg”, “Hoe ek voel”, “Liefde” en “River of love” bevestig hoe groot Kerkorrel se liefde was en hoe sy liedjies oor die liefde soveel inspirasie vir ander musikante gegee het, soos Amanda Strydom se weergawe van “Hoe ek voel”. Dan is daar natuurlik ook die snitte wat net sowel in die FAK-sangbundel sou kon verskyn, soos “Te veel vir ’n Witvrou in Afrika” en “Blou aarde”.

Hierdie CD is beslis ’n juweel wat in enige Kerkorrel-liefhebber, of selfs enige Afrikaanse musiekliefhebber, se CD-versameling moet wees. ’n Pakket van al Kerkorrel se mees gesogte werke en ’n stukkie heimwee wat jou terugneem na ’n plek in tyd waar die krag van ’n woord berge kon verskuif.

Kerkorrel het dalk nie sy drome oorleef nie, maar met hierdie CD wat in die agtergrond speel, kan jy drink op hom wat gekry het waarvoor hy vra, ewige rus en musiek wat vir die nageslag bewaar en waardeer sal word.

Klik hier om Hoe ek voel te koop by Kalahari.com.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Sal beslis die CD aanskaf. Hy het briljante musiek geskryf - is mal oor "Hillbrow" - Elvis Blue sing dit ook baoe goed!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top