Kerk oor die muur of oor die Rubicon deur Frits Gaum: ’n resensie

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Kerk oor die muur of oor die Rubicon: Oor geloof, onreg en ’n hofsaak
Frits Gaum

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk was vroeër ’n baie magtige organisasie. Nie net was die kerk talryk aan lidmate en gemeentes nie, maar het dit ook sosiaal en selfs polities baie invloed onder lidmate geniet. Maar die kerk is vandag ’n skadu van wat dit was, en het sedert 1985 meer as 500 000 lidmate verloor.[i] Waar die kerk eenmaal met meer as ’n miljoen lidmate kon spog, was daar teen 2019 na raming slegs sowat 690 000 lidmate oor. Die daling in getalle word aan verskeie faktore toegeskryf, onder meer emigrasie en dalende geboortesyfers. Maar in die kwyning van die kerk is die kerk self dikwels sy eie grootste vyand. Teen hierdie agtergrond vra Gaum tereg in die titel van sy boek of die NG Kerk "oor die muur" is. Die boek se titel herinner ook aan een van Gaum se vorige boeke, Fluit, fluit, die kerk is uit?, wat in 2012 met die Andrew Murray-prys bekroon is.

Maar die boek laat nie reg geskied aan die titel nie, en die grootste rede hiervoor is miskien dat die boek te veel probeer doen en dek. Die meeste mense met selfs ’n vae belangstelling in die doen en late van die NG Kerk sal waarskynlik vertroud wees met die Gaum-familie se lang geskiedenis met die kerk, wat ek nie alles hier in besonderhede wil herhaal nie. In kort is die familie bekend vir hulle aktivisme ten opsigte van die LGBTIQA+-gemeenskap se status binne die kerk. Die kosbaarste deel van hierdie boek is dan ook die dele waar die historiese ontwikkeling gedokumenteer word, en in die besonder hoofstuk 4, "Met die kerk hof toe?", na aanleiding van ’n geskiedkundige hofsaak waar die kerk gedaag is nadat dit sy eie kerkorde se reëls verontagsaam het. Baie van hierdie gebeure is reeds gedokumenteer, byvoorbeeld in die boek Weerlose weerstand van Andre Bartlett (Protea Boekhuis 2017), maar hier word dit uit ’n ander perspektief vertel en ook aangevul met die uiteindelike uitspraak van die hof ten gunste van die applikante.

Maar wees gewaarsku, dit lees maar soos ’n riller. Gaum vertel byvoorbeeld hoe die kerk sedert 1986 worstel met homoseksualiteit. Teen 2004 het die kerk een van die grootste taakspanne ooit saamgestel, bestaande uit nie minder nie as 18 lede, om die saak van homoseksualiteit te bestudeer. Die taakspan had vir Bartlett as voorsitter, maar weens die tweespalt binne die taakspan is daar uiteindelik twee verslae geproduseer wat glad nie met mekaar saamgestem nie. Op dié manier is daar vir jare lank klei getrap, maar die kerk het uiteindelik in 2015 besluit dat homoseksuele lidmate erkenning sal verkry deur middel van "verbintenisse", maar slegs in gemeentes wat daartoe instem. Die huwelik bly egter die eksklusiewe reg van heteroseksuele mense. Dié besluit het ’n aardskudding in die kerk veroorsaak, en ’n menigte behoudende lidmate het dit hulle lewenstaak gemaak om die erkenning van enige homoseksuele verbintenis ongeldig te maak. Wat dan ook gebeur het in die daaropvolgende groot vergadering in 2016, maar toe wéér omgekeer is deur die hof in 2018.

Daar is egter ’n baie lang hoofstuk met die titel "Glo ons (nog) so?", wat omtrent 100 van die boek se 240 bladsy in beslag neem. Hoe minder mens eintlik oor hierdie vreemde hoofstuk sê, hoe beter. Bygesê, ek is nie ’n teoloog nie, en ek reken vir mense met ’n uiters ywerige belangstelling in die teologie sal die hoofstuk miskien baie waardevol wees. In hierdie hoofstuk besin Gaum oor ’n dokument wat ongeveer 20 jaar gelede deur hom en ander teoloë opgestel is, getiteld "Geloofsverklaring 2000", in sy hoedanigheid as redakteur van die Kerkbode (die kerk se mondstuk). Hierdie geloofsverklaring lees ’n bietjie soos ’n belydenisgeskrif, maar dit was skynbaar nooit die doel daarvan nie. Dit was die jare van die "Nuwe Hervorming", wat kritiese gesprek oor die kerk in die openbaar bevorder het. Gaum noem nie die Nuwe Hervorming by die naam nie, maar verwys wel na die "teologiese strydvrae", waarvan die koerante in dié jare vol was, en wat as motivering vir die "geloofsverklaring" gedien het. In hierdie hoofstuk kan mens lees hoe Gaum sy idees uiteensit, onder meer dat hy die evolusieleer aanvaar en ook ’n ou-aarde-kreasionis is. Die mens is uniek in vergelyking met ander spesies, verklaar Gaum, ’n gevolgtrekking wat, vermoed ek, nie oral ewe gemaklik aanvaar sal word nie. Hoewel die mens uit ouer spesies ontwikkel het, het God "op ’n bepaalde manier ingegryp sodat homo sapiens God se beelddraer sou wees" (bl 87). Hy tree hier ook in gesprek met ander tersaaklike boeke, soos die paleontoloog Jurie van den Heever se Wat moet ons met ons Kerk doen? (Naledi 2017), en lewer ’n pleidooi vir die onvoorwaardelike aanvaarding van LGBTIQA+-mense in die kerk. Die vraag wat telkens gevra word, is of die kerk 20 jaar na die publikasie van "Geloofsverklaring 2000" steeds dieselfde "glo".

In ’n sekere sin dien die boek dus as ’n bietjie van ’n terugblik vir Gaum, hoewel dit natuurlik geensins sy hele loopbaan dek nie. In die finale hoofstuk word daar dan tot die gevolgtrekking gekom dat die kerk nie oor die muur is nie, en wel oor die Rubicon van selfdegeslagverbintenisse geworstel het. Of laasgenoemde heeltemal waar is, sal die tyd moet leer, want alle aanduidings is daar dat die strydbyle nog lank nie begrawe is rakende die saak van LGBTIQA+-lidmate nie.[ii]

Dan gaan die slothoofstuk oor in ’n besinning oor die pad vorentoe vir die kerk, maar die kerk staar ’n onseker toekoms in die gesig.

Daar is enkele hoogtepunte in die boek, wat dit die moeite werd maak om te lees, maar mens kry tog die gevoel dat die fokus dalk te veel rondspring. Die vraag oor of die NG Kerk oor die muur is, word nie deurgaans aangespreek nie, met die gevolg dat elke afsonderlike hoofstuk ’n bietjie soos ’n afsonderlike silo uitstaan.

[i] Oosthuizen, J. Afrikaanse kerke loop leeg. https://voertaal.nu/afrikaanse-kerke-loop-leeg, 19 Januarie 2019, afgelaai op 23 Januarie 2021.

[ii] Eybers, J. NG Kerk "gaan skeur". https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/ng-kerk-gaan-skeur-20201212, 13 Januarie 2020, afgelaai op 23 Januarie 2021.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top