Vreemd hoe die nuwe, gekonnekteerde wêreld van vandag werk. Hoe jy alles van alles en almal kan weet en dan tog sit en uiteindelik vind dat jy eintlik nie veel weet nie. Praat nou die dag met die bankamptenaar en ons praat oor hoe ons papierloos geword het want elke enkele keer wat ek die bank besoek vat hulle papierkopieë van my ID, my bewys van adres, en ek dink as ek mooi sit gaan hulle my onderlyf ook kopieer op die groot masjien wat agter staan en elke transaksie getrou op papier herhaal. Ingeval die papierlose stelsel nie werk nie ... ja ... ek vra nie meer self die vrae nie, ek lag maar saam ...
Wat my bring by doodsberigte. Want dit is een ding wat ek getrou volg en wat darem nog die sente inbring so af en toe. Doodsberigte vind jy nie oor die kuber nie. Jy hoor daarvan. Altans, dis hoe dit hier by ons werk. Jy weet as Piet van antie Sannie dood is van sy lewerkwaal of as hy longontsteking had (ons weet mos wat daai ene is) of 'n trok het vir Koos doodgery. Die soort van doodsberig bedoelende.
So strompel Jan hier in en ons groet en gesels en beduie na mekaar en ek hoor Jan hakkel nie so dit beteken Jan is nugter en ek vra hom oor Kenoe se gesondheid want laas nog was sy opgeneem in een van die Provinsie se hospitale en ons weet dat mense doodgaan in provinsie hospitale onder dié politieke party se beheer. En dis nie eens die ANC nie ... Ek vra hom hoe dan so en hy sê hulle het gesê dit was haar bors en ek weet sy is bloot net deel van die statistiek.
Want die Here weet sy was nog blakend gesond net nou die dag. Dat die stelsel haar gefaal het is onwetend vir die onnosel kiesers en ondersteuners van die stelsel se rekening maar ons weet mos hoe maklik die deursnee liberaal en kieser sy gat aan die gewone burger se leed kan afvee, reg? Verkeerd.
Kenoe kon nooit kinders kry nie. Of sy onvrugbaar was en of hulle die ding nie reg gedoen het nie is nooit openbaar nie. Wat Kenoe wel gedoen het was om ander wat wou teel en nie wou kinders grootmaak het nie se maaksels groot te maak en REG groot te maak. Sy het in haar leë plaaswerkershuis vele kinders groot gemaak. Kort neffens die skatryk polities-gekonnekteerde boer wat altoos so kerm en kla oor hoe sleg dit gaan kort na hy R10 miljoen kon uithaal vir sy eie privaat-seiljag. Nie dat ons nou op boere konsentreer nie maar tog:
Hoe is dit moontlik dat 'n plaaswerker se vrou kan sterf in 'n provinsiale hospitaal terwyl daar private mediese sorg is? Terwyl die bekende boer kan roem in Landbou Weekblad oor hoeveel koeie daar daagliks gemelk word?
Ek vra die vraag vir die boer en hy beduie vir my dat dit een van die ekonomiese realiteite van die dag is. En toe sien ek waarom geen politikus of groot sakeman die laaste 30 jaar in enige provinsiale hospitaal opgeneem is nie. Hulle is te kak bang om afskeid te neem.
oester

