PERSVERKLARING
Spitsberaad oor onderwys
Onderwys in Suid-Afrika is tydens die pas afgelope spitsberaad van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) in Bellville-Suid, aangebied in samewerking met die ATKV, vergelyk met ’n terminaal siek pasiënt in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal, gekoppel aan ’n asemhalingsapparaat wat dit nog net kunsmatig aan die lewe hou. Dit was die mening van mnr Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die SBA. Die sprekers en beraadgangers, onder wie ’n groot groep praktiserende en afgetrede onderwyslui van oraloor, het dié haglike situasie in die onderwys bevestig. Van die knelpunte wat uitgelig is, was swak onderwysadministrasie, gebrekkige handboekvoorsiening, ’n tekort aan leermateriaal en tegnologie, die vervalle toestand van baie skoolgeboue, dissiplinêre probleme onder leerders en onderwysers en die ondeurdagte oorname van onderwysstelsels, wat meebring dat slegs sowat 33% van die leerders wat vir graad 1 ingeskryf word, in matriek uitkom. Daar is ook gewag gemaak van die nypende tekort aan onderwysers, veral in die grondslagfase en in kernvakke soos Wiskunde. Daar is op die droewige gevolge van laasgenoemde gewys, naamlik dat leerders by veral plattelandse skole nie meer die vak, wat vir bepaalde studierigtings verpligtend is, kan aanbied nie, met die gevolglike langtermynverlies aan bepaalde kundigheid in die land.
Die beraad het egter nie in misnoegdheid bly vassteek nie, maar het ook die positiewe bevestig: dat voortreflike onderwys ondanks die ernstige leemtes in die onderwysstelsel steeds voortgaan waar die wil daarvoor bestaan. Paul Colditz van Fedsas het gewys op die mag waaroor beheerliggame beskik ingevolge die SA Skolewet, en het ’n beroep gedoen op die ontsluiting van ouers se mag. Chris Klopper van die SAOU het onder meer gewys op die belangrikheid van moedertaalonderrig in die strewe na voortreflike onderwys. Hy het in dié verband gemaan teen die gevaar van taalverswelging deur Engels. Dr Theuns Eloff, Rektor van Noordwes-Universiteit, het gesê dat die hoëronderwyssektor swaar getref word deur die negatiewe uitwerking van gebrekkige skoolonderwys, soos die hoë uitvalsyfer onder studente toon. By NWU, het hy vertel, word daar egter van kreatiewe oplossings soos tolkdienste en ondersteuningsprogramme gebruik gemaak.
Uiteindelik was daar eenstemmigheid daaroor dat die gesprek oor ’n breër front uitgebrei moet word, spesifiek onder onderwyskundiges, en dat die burgerlike samelewing, insluitende die kerk, kollektiewe verantwoordelikheid behoort te aanvaar om gehalteonderwys na ons klaskamers, kolleges en universiteite terug te bring. Versuim ons om dit te doen, loop ons gevaar om die toekoms van ons jeug en ons land ernstig te benadeel.
Navrae kan gerig word aan Danie van Wyk (daniel.vanwyk@media24.com of tel. 021 914 1379 of 083 382 3565).
Mnr Danie van Wyk
Uitvoerende Hoof
Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
31 Julie 2012


