Kennisgewing: Oproep om referate vir die SAAWK se jaarlikse algemene simposium vir 2021

  • 0

Die SA Akademie se jaarlikse simposium vind virtueel op 16 September 2021 plaas. 

Vanjaar word ’n nuwe model gevolg om die simposium aan te bied: 

Die aantal referate wat gekeur word, sal vooraf opgeneem en ’n week voor die simposium op die Akademie se Facebook-blad gebeeldsaai word. Belangstellendes sal dus die referate vir ’n week lank vooraf op eie tyd kan kyk. Op die dag van die simposium, 16 September 2021, sal u kan inskakel en word die referate bespreek en vrae kan aan die referente gevra word. 

Tema: Armoede in die Suid-Afrikaanse samelewing

Die omvang en impak van armoede, ’n geleefde ondervinding wat oor rassegrense strek, is rede tot ernstige kommer in die Suid-Afrikaanse samelewing. Daar word gereeld aangevoer dat die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika van die grootste in die wêreld is. Daarby is “die armstes van die armes” lank reeds nie slegs ’n politieke slagspreuk nie, maar ’n werklikheid wat sterk in die nasionale psige resoneer. 

Die rol van die burgerlike samelewing en nieregeringsliggame word in hierdie tydsgewrig al hoe belangriker in die demokratisering van ons land en die fasilitering van transformasie. Omdat die verhouding tussen staat en burgery toenemend uitgedaag word in die proses om ’n deelnemende demokrasie te bestendig, is ’n omvattende gesprek en verkenning van die verskynsel van armoede aangewese. Die Akademie, as ’n “multidissiplinêre organisasie wat die belange van alle Suid-Afrikaners wil dien, (wat) streef na uitnemendheid, billikheid, hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes”, is uitstekend geposisioneer om aan hierdie gesprek deel te neem. 

Armoede is nie net ’n gebrek aan inkomste nie, maar is die uitkoms van bepaalde sosio-ekonomiese toestande wat mense daarvan weerhou om ten volle hulle lewens as aktiewe landsburgers uit te leef. Armoede en die bestuur van hulpbronne soos water en steenkool, of armoede en aardverwarming kan daarby gevoeg word. Armoede en siektebeheer onder mens en dier, asook armoede weens langdurige droogte kan ook onder die loep kom. Die oorsake van armoede kan geanaliseer word vanuit multidissiplinêre perspektiewe.

Die Akademie wag referaatvoorstelle in oor hierdie tema en subtemas ‒ verwante temas/terreine sal ook verwelkom word: 

  • oorsake van armoede
  • arm aan kennis/kundigheid 
  • armoede en ideologie 
  • armoede en beleidsonsekerheid 
  • armoede en korrupsie/staatskaping 
  • armoede en die ekonomie 
  • armoede en geweld 
  • armoede en ouderdom 
  • armoede en taal
  • armoede en die onderwys 
  • armoede en die kerk 
  • armoede en die ekologie (aardverwarming) 
  • armoede en gesondheidsdienste 
  • armoede in die landbou 
  • armoede en hulpbronnebestuur 

Belangstellendes wat ’n bydrae (maksimaal 20 minute) wil lewer, word hartlik uitgenooi om ’n voorlegging te doen wat aansluit by die oorkoepelende tema en verwante temas/terreine. ’n Opsomming van ongeveer 350 woorde van u beplande referaat word gevra. U voorlegging moet vergesel gaan van ’n kort CV (twee of drie paragrawe in prosastyl) en ’n hoëresolusiefoto van uself. Verskaf ook asseblief u volle name en van, titel, adres, e-posadres, landlyn- en/of selfoonnommer. 

Voorleggings moet voor 28 Junie 2021 aan dr. Linda Brink gestuur word by linda@akademie.co.za. ’n Keurkomitee sal finaal oor elke voorlegging besluit. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top