Katriena kom in haar blommehemel tuis

  • 3

Foto: Canva

Katriena kom in haar blommehemel tuis

Namakwaland se blomme was vanjaar weer ’n besondere skouspel. Ek en my mediese kollegas neem elke mooi blomjaar ’n groep HIV/Vigs-pasiënte soontoe om dit te sien en ervaar. Ons kan weens finansiële redes nie almal saamneem nie. Ons gee voorkeur aan dié wat swak op behandeling reageer, persone wat moontlik nie meer baie lentes op die ondermaanse oor het nie. Dié wat finansieel sukkel, kry ook voorkeur.

Die bus is normaalweg maande vooraf reeds vol bespreek, veral indien die kenners ’n goeie blomjaar voorspel. Ons was vanjaar weer nie teleurgesteld nie. Die pasiënte het reeds douvoordag voor die hospitaal gewag. Enkele kan nie sonder hulp beweeg nie. Vir dié gaan haal ons vooraf tuis. Katriena Losper is een van hulle. Die siekte het haar immuunsisteem so erg afgetakel dat sy nie meer sonder hulp kan loop nie. Katriena het slaggereed met haar loopraam vir ons gewag.

Die bus het kort na sonop vertrek. Die opgewondenheid was tasbaar. Ons pasiënte se lewensblyheid val my altyd op. Kort voor lank het almal gesing en gelag. Weddenskappe is oor en weer aangegaan oor wie die eerste veldblomme sou sien. Ons het opgewonde gille reeds duskant Melkbosstrand gehoor. Van daar af noordwaarts het die blommetapyt al hoe meer veelkleurig geword.

Die weer het perfek saamgespeel, ’n windlose, helder lentedag met slegs enkele skimmelwolkies ver oor die see. Ons het by Velddrif gestop vir ontbyt. Die blomme was nog toe, maar die veld was vol belofte.

By Vanrhynsdorp het die gewoonlik onverbiddelike Knersvlakte in ’n veelkleurige blommeskouspel verander. So ver die oog kon sien, het ’n ononderbroke blommetapyt van alle kleure en geure die veld bedek. Ons het halt geroep kort duskant Vredendal. Almal het uitgeklim, sommige stadiger en meer moeisaam as ander. Almal was opeens stil, oorweldig deur die skouspel. Die veld was bedek met ’n veelkleurige, geurige blommetapyt, ’n lente-sprokieswêreld soos min.

Katriena het uitasem-opgewonde blomname geprewel toe sy hulle herken: “Blousporrie, duikerwortel, boesmankers, jakkalsblom ... en daar is ’n sandlelie,” het sy hulle geïdentifiseer. Sy het in Namakwaland grootgeword en die wêreld goed geken. “Dit is ’n dankbare kontrei,” het sy gesê. “Dit is wel ’n harde wêreld wat meestal vaal en klipperig lyk, maar as dit die slag mooi reën, show die veld te allerliefliks af.”

Daar is besluit dat almal vir 40 minute die veld self kan verken, die mooi sien, ruik en ervaar. Die groep het soos ’n waaier oor die veld uitgesprei. Die Maskamberg het oor die vlakte gewaak. Ek en my kollegas het ook in gedagte versonke die veld ingedwaal. Danksy die ideale weer was die plate botterblomme, madeliefies, bokbaaivygies en geil plasse gousblomme wawyd oop. ’n Soet geur het in die lug gehang.

Ek het onwillekeurig aan Opperman se gedig gedink:

Op die groot saaidag van die heelal
het reeds ’n entjie duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
’n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

Die stilte is slegs onderbreek deur die vrolike geroep van bokmakieries, tinktinkies, suikerbekkies en af en toe die skor geroep van ’n korhaan na sy maat. Ek het op die naat van my rug gaan lê en die oomblik ingeadem, oorweldig deur die onbeskryflike mooi ervaring. Ek moes later teësinnig opstaan en terug bus toe stap. Dit was tyd om terug te ry Kaap toe. Voor ons kon vertrek, het ons besef dat iemand kort. Ons het weer die veld ingeloop, soekend en roepend.

Ons het vir Katriena op ’n blommebed gekry, ’n kalkoentjie in haar hand, tjienkerientjees in haar hare en ’n gousblomkroon om haar kop. Sy het met oop oë op haar rug gelê en die lentehemel ingestaar. Sy het so rustig gelyk. Sy het tuisgekom in haar blommehemel.

Ek is tot vandag oortuig dat Katriena nie wou terugkeer Kaap toe nie. Sy het die hemel gesien en besluit om daar te bly.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top