Katedraal

  • 0

för Johan,eftersom vi båda älskar katedraler så mycket 

Al om die tweede Sondag evangeliseer orrelis Sophie op die magtige Cavaillé-Coll-orrel in die katedraal St Sulphis.
Sy lok skares en dissipels om communie te vier.
Kort voor die einde van die vroeë mis word die laaste benediksie uitgesaai
oor breedte en lengte van die katedraal.

Sophie sit slaggereed om haar toegif te offer sonder voorbehoud.
Sy laat loop met ʼn brute geesdrif wat menige protestant sal knak.
Op links van haar registreer die allerfraaiste seraf (beleg in vlees en bloed) stoppe in en uit op bevel.
Sy neusie is porselein, sy voorkoppie glim.

Haar vingertjies knie die toetse tot saligheid sodat hoor en sien vergaan.
Elke aksie word hout geëggo deur die klakheid van ʼn swetterjoel subteksies.
Kundige voetjies temper die pedale ondeurgrondelik.
ʼn Gejoel en gesketter ontlaai vanuit die magtige gewelf.
Ingewande sidder, gebeentes ratel in ontvanklikheid en oorstelpte sieligheid.

Smart en verdriet word terstond geannuleer,
karmosyn sondes witgekalk.
Parogiale enklaves ontban,
biegsels ontbieg,
onse liewe vrou van goeie bystand gefop.
Gerwe eskatologiese vraagstukke word suiwer glas.

Die grand tutti ontsluit en die pas versnel baldadig.
Sophie sing die laaste draaie van haar improvisasie luidkeels mee – al luider en luider.
Ekstase du uit en ʼn musikale petite mort ontplof!
Dit is volbring.
ʼn Onbeholpe applous verseël die milde gawe gelewer binne die presiese tydgleuf van 7 minute en 39 sekondes.
Knetter en klap stoot die seraf die stoppe terug,
toon erkentlikheid en vertrek.

Amen.

Dis stil ...

Luister ook

Marius Coetzee lees drie van sy nuwe gedigte

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top