
Foto: Canva
Katalogus van huisgode
Die yskaslig die staatmakermonnik
wat sy eennootdreunsang bulder
by elke opening.
Die ganglamp ’n pelgrim-Moses
hakkelend tussen moerstrip en geloof.
In die badkamer die paar spieëlligte
tweelingapostels wat aljimmers stry
oor die waarheid van weerkaatsing.
Selfs die nagliggie in die kiddo
se kamer ’n wenskers van genade.
En die TV se blou agtergloed
’n verveelde engel wat skaars
luister na die eindtitels
van die wêreld.
Almal opgeskryf in my boekie,
elke watt ’n weerspreking,
elke gloeidraad ’n straatprediker:
die laaste bidders
wat mooi niks vra nie.


Kommentaar
Wonderful - a joy to read. One of the finest poems to appear on this site for a very long time, I think. I wish I could pinpoint what exactly is so touching about it.
Pragtig en aangrypend, Pieter. Jy het my in vorige skrywes met nuwe oë na jou geliefde Boesmanland laat kyk. Met "Katalogus van huisgode" wys jy weer dat jy 'n bobaas-woordkunstenaar is.