Karoo-ontwikkelingskonferensie: Karoo se "Arabiese Lente"?

  • 0

Die Karoo Development Foundation, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat, reël die tweede Karoo-ontwikkelingskonferensie in Beaufort-Wes, wat 14 tot 17 Oktober 2012 gehou sal word. Doreen Atkinson van die Universiteit van die Vrystaat beantwoord enkele vrae oor die konferensie.

Doreen, hoe vorder die voorbereiding vir die konferensie en hoe lyk die belangstelling daarin?

Die program is alreeds amper oorvol! Die volgende uitdagings is om die Karoo Boekbonanza en die Great Fracking Debate te finaliseer.

Volgens jul webwerf word daar tydens die konferensie gefokus op breking (''fracking'') en toerisme in die Karoo. Die debat oor hierdie twee elemente – veral breking – woed al lank. Wat was die motivering daaragter om hierdie groot konferensie te reël, en waarom nou?

Die fracking-kwessie was definitief ’n motivering. Maar eintlik is die konferensie ’n opvolg op die Karoo-ontwikkelingskonferensie van Maart 2009 in Graaff-Reinet. Ons wou die konferensie elke twee jaar hou, maar daar was net te veel voorbereiding nodig, en ons het nie die nodige fondse gehad nie. Aan die einde van 2011 het ons ’n skenking gekry by die Nasionale Navorsingstigting (NRF) vir ’n Karoo-konferensie. Daarom kan ons dit in Oktober 2012 aanbied.

Die eintlike doelwit van hierdie jaar se konferensie is om die gemeenskap van die Karoo ’n kans te gee om redelik indringend oor die toekoms van die streek te besin. Daarom is die tema "Reik uit vir ons toekoms: Mense, ruimte en tuiste in die Karoo". Hierdie benadering bou veerkragtigheid in die Karoo-gemeenskap, op verskeie terreine – landbou, toerisme, ekonomiese ontwikkeling, biodiversiteit, kuns en kultuur, erfenis, sowel as breking.

Daar is groot ook praktiese vordering met Karoo Lam (sien www.karoomeatoforigin.com), Karoo Toerisme en Karoo crafts. Ons is ook besig met ’n webwerf oor Karoo Crafts en Karoo events (www.karoocraft.co.za). Toerisme-besighede kan by ons Karoo Toerisme-Ekspo uitstal.

Daar is verskeie groot name op die program wat aan gesprekke sal deelneem – onder meer Jonathan Jansen, opvoedkundige en rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Hoe is daar besluit op watter sprekers en belanghebbendes om te nooi?

Daar was ’n oop uitnodiging aan die breë Karoo-gemeenskap, sowel as aan universiteite en privaat navorsers, om voorstelle te maak vir referate. Gelukkig kon ons omtrent almal akkommodeer, so daar was nie moeilike besluite nie. 

Jonathan Jansen is uitgenooi omdat hy so sterk voel oor opvoedkunde en ontwikkeling, en sy integriteit word orals hoog aangeprys. Hy is natuurlik ’n openbare spreker van formaat wat mense se denke sal prikkel. Hy is ook ons universiteit se visekanselier, en het al baie belangstelling getoon in die werk van ons universiteit se Kluster op Volhoubare Ontwikkeling. Dis juis hierdie Kluster wat die praktiese reëlings vir die konferensie tref.

Richard Cowling is ’n navorser met ’n uitstekende internasionale reputasie. Hy is een van die min ekoloë wat kan besin oor die verhoudings tussen ekologie, maatskaplike ontwikkeling, ekonomiese ontwikkeling, en regeerkunde. Hy is genooi as gevolg van sy briljante artikel in die tydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences, "An operational model for mainstreaming ecosystem services for implementation". Hierdie intersektorale en interdissiplinêre benadering is juis wat ons nodig het in die Karoo. Die artikel kan verkry word op hierdie webwerf.

Wat die ander sprekers betref: Ons is baie trots dat ons so ’n verskeidenheid instansies het wat verteenwoordig word, insluitende:

  • Universiteit van die Vrystaat
  • Universiteit van KwaZulu-Natal
  • Rhodes-universiteit
  • Universiteit van Kaapstad
  • Universiteit van Pretoria
  • UNISA
  • Universiteit Stellenbosch
  • Wilderness Foundation
  • Landbounavorsingsraad.

Daar is ook heelwat private navorsers wat in die Karoo woon en werk.

Die debat oor breking wat tydens die konferensie sal plaasvind, word op die program as ’n potensiële "humdinger" beskryf. Verwag jy dat daar uiteenlopende standpunte oor breking in die Karoo sal wees, en selfs mense wat moontlik ten gunste daarvan is, in watter mate ook al? Wat verwag jy sal die belangrikste gesprekspunte tydens dié debat wees?

Die lede van die paneel is nog nie gefinaliseer nie. Daar was al baie gesprekke hieroor! Dis belangrik dat ’n verskeidenheid ingeligte menings hieroor gehoor word.

Verskeie drukgroepe is reeds gevorm oor breking in die Karoo. Wat is die impak wat hierdie groepe het en hoe beïnvloed dit die moontlikheid dat breking in die Karoo moontlik wel in die toekoms ’n realiteit kan wees?

Dis ’n baie belangrike vraag. Die ontstaan van hierdie drukgroepe was ongelooflik vinnig en effektief nadat die aangeleentheid die eerste keer geopper is. Veral Treasure the Karoo Action Group het alreeds baie werk gedoen. Dit wys hoe belangrik die sosiale netwerke van die Karoo geword het. Is hierdie die Karoo se "Arabiese Lente"?

Hierdie saak is ook om ander redes belangrik:

  1. Breking is ’n nuwe tipe mynbou, omdat sy "voetspoor" baie breër kan wees as gewone tipes myne s’n. Omdat dit moontlik ondergrondse water kan affekteer, is die implikasies daarvan baie groter.
  2. Die internasionale ervaring van breking is nou al baie verpolitiseer, sodat ons eie drukgroepe baie inligting gekry het. Ek weet nie waar daar in die geskiedenis al ooit soveel debat was selfs voor ’n belegging begin het nie. Is hierdie ’n nuwe soort openbare deelname in besluitneming?
  3. Dit is verstommend hoe geheimsinnig die regering tot dusver was, selfs oor die name van die lede van die openbare kommissie.
  4. Die intensiteit van die debat skep die indruk dat nie-ekonomiese oorwegings al belangriker raak. Baie mense besin nou oor die kulturele integriteit, simboliek en ekologiese erfenis van die Karoo. Of liewers, hulle wil graag ekonomiese ontwikkeling aan hierdie nuwerwetse waardes koppel. Mense raak dus nou meer kieskeurig oor die tipe ekonomiese ontwikkeling wat hulle wil bevorder. Is dit ’n nuwe tendens vir die toekoms?

Watter nuwe insigte, mikpunte en doelwitte dink jy sal met die verloop van die konferensie bereik word? Met ander woorde, wat sal moontlik die uitkomste van die konferensie wees?

Die belangrikste is:

  1. Om die gemeenskap van die Karoo bloot te stel aan nuwe sprekers, inligting en insigte.
  2. Om die gemeenskap van die Karoo ’n geleentheid te gee om samehorigheid te bereik, veral deur ons werksgroepe op Woensdag 17 Oktober.
  3. Om die belangrikste navorsingsuitdagings te identifiseer vir toekomstige ontwikkeling in die Karoo.
  4. Om die Karoo meer blootstelling te gee in die nasionale bewussyn, media en regeringskringe.
  5. Om samewerking tussen die vier Karoo-provinsies te bevorder.
  6. Om die interaksie van verskillende sektore te bevorder (landbou, toerisme, biodiversiteit, ekonomiese ontwikkeling, ens), om meer volhoubare ontwikkelingsoplossings te identifiseer.
  7. Om die ryke erfenis, talent en kreatiwiteit van die Karoo te vier!
  8. Om die Karoo en sy mense te geniet!

Kan jy verduidelik hoe die konferensie in samewerking met LitNet Akademies sal optree?

LitNet Akademies is in vier opsigte belangrik:

  1. As ’n moontlike publikasievennoot vir die sprekers se referate, op ’n hoë akademiese standaard.
  2. Om die moontlikhede van akademiese publikasie in Afrikaans te bevorder, veral onder mense wat dit nog nooit oorweeg het nie.
  3. Om LitNet Akademies se Karoo-fokus uit te bou.
  4. Om stukrag te gee aan die Karoo Boekbonanza.

     

 

- Besoek die Karoo Foundation se webwerf vir die voorlopige program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top