Foto: verskaf deur NALN en met toestemming geplaas |
|
Sêgoed van Karl Kielblock Sy grafskrif moes só lees: “Vereer was ek nooit In 1979: “Die gewone skrywer wie se boeke gelees word, moet aangemoedig word. Die probleem is dat die Afrikaanse skrywer op sy tweede wind moet skryf omdat hy eers ’n bestaan moet maak en hy hier nie uit sy skryfwerk ’n bestaan kan maak nie.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) “Daar is nie iets soos inspirasie nie, net konsentrasie.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) In 1979 oor die “moderne skrywer”: “In die meeste gevalle sou die publiek nooit eens van dié skrywers se boeke geweet het nie as daar nie so ’n bohaai oor gemaak is nie. Enigeen kan oor seks skryf. Dis geen kuns nie. Maar wat se verhaal het jy dan? Dit raak maar net so vervelig soos enige ander onderwerp.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) “My beste werk is altyd die een waarmee ek besig is.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) “’n Skrywer moet hom kan vereenselwig met sy karakter en die milieu waarin hy leef. Sy agtergrond moet wyd genoeg wees om hul optrede en leefwyse te kan verstaan.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) “Hoe skryf ’n mens ’n boek? Jy gaan sit en skryf bo-aan die bladsy: ‘Hoofstuk een, bladsy een’. Dan die eerste sin. Dan die tweede sin. Tot jy so 60 000 woorde het.” “Ek skryf omdat vir my lekker is. En hoewel ek glo dat nie een van my werke ’n bydrae tot die letterkunde was nie, is ek tevrede dat ek ’n bydrae kon doen om my volk se leeslus aan te wakker.” (Hoofstad, 28 Februarie 1979) Oor die verfilming van sy werke: “Op my oudag is dit vir my ’n verjongingskuur dat die SAUK my boeke verfilm. Ek het gedink daar het al ’n laag stof oor die boeke gegroei wat ek in die jare veertig geskryf het, en nou gee hulle vir my dié genot.” (Beeld, 7 Junie 1984) |
Gebore en getoë
Karl August Kielblock is op 23 Oktober 1907 op Beaufort-Wes in die Wes-Kaap gebore. Sy vader was Herman Frederick Kielblock en sy moeder Karoline Luïse, gebore Artz. Hy was die tweede jongste van elf kinders. Sy pa was ingenieur by die poskantoor en hulle huistaal was Duits en Engels.
In 1914, toe Karl sewe jaar oud was, is sy pa oorlede en moes sy ma vrou-alleen sorg dat al elf kinders ’n goeie skoolopleiding ontvang.
“As seun het ek baie op my maag gelê en water uit ’n droë gora – gorê noem ons hulle in die Karoo – gedrink. En een wat eenmaal uit ’n gorê gedrink het, verloor nooit sy liefde vir daardie land nie.” (Voortrekkerpers se Boekenuus)
Sy ouers het gesorg dat daar baie boeke in hulle huis op Beaufort-Wes was, sodat Karl se belangstelling in boeke van kleins af geprikkel is. As seun het hy tot drie boeke per dag gelees. Sy liefde vir goeie musiek is ook aan sy ouerhuis gekweek. Hy het die gereelde “musical evenings” aan hulle huis onthou en sy oudste suster was instrumenteel om in die jong Karl ’n liefde vir lees aan te wakker.
Karl het arm grootgeword en in sy kinderjare kon hulle elf kinders maar net na die diere gaan kyk wanneer die sirkus op die dorp was. “Ons het geweet jy kon nie ’n sikspens gaan vra om in die tent te gaan sit nie.” (Beeld, 7 Junie 1984)
As jongeling was daar ook nie veel Afrikaanse boeke op die rak nie en hy moes klaarkom met vertaalde werke uit Engels en Duits. Sy gereelde leesboek was die Harmsworth-ensiklopedie.
Sport was ’n ander groot liefde op skool en hy het aan sokker, tennis en krieket deelgeneem.
Hy het in 1925 aan die ou Boys’ High op Beaufort-Wes gematrikuleer.
Verdere studies en werk
Karl wou na matriek ’n bydrae lewer om sy eie geld te verdien en so die huishouding te probeer help, en hy het gehoop om ’n loopbaan in die joernalistiek te begin. Hy het egter dié ambisie laat vaar toe Die Burger sy aansoek afkeur en ’n Engelse koerant hom teen slegs £6 per maand in diens wou neem.
Hy is dus na die Paarlse Onderwysopleidingskollege, waar hy hom in 1927 as onderwyser bekwaam het.
In 1928 is hy aangestel aan die Sekondêre Skool in die Strand. In 1956 het hy ’n aandeel gehad in die stigting van die Primêre Skool Lochnerhof. Hy was onderhoof aan die Primêre Skool Strand tot en met sy aftrede in 1967.
Op 31 Maart 1939 is Karl met Susan Vera Abel getroud, ’n onderwyseres wat hy in die Strand ontmoet het. ’n Seun en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Hulle het ook drie kleinseuns en vier kleindogters.
Karl sal veral onthou word vir die wonderbaarlike dinge wat hy gedoen vir die romantiese instinkte van duisende Afrikaanse adolessente met stories soos Die skat van Java en die avonture van Jasper le Feuvre, Guillam Woudberg en Lafras Cuyper. Karl het homself egter nie gesien as ’n man met ’n romantiese streep nie. “Dit is maar moeilik om romanties te wees as jy arm grootgeword het in ’n Karoodorpie,” het hy aan Sybelle Albrecht (Transvaler, 11 Junie 1984) vertel. “En as jy sommer jonk-jonk al kennis gemaak het met blinde politieke emosie en onverdraagsaamheid. As jy as ‘Hun’ uitgeskel en met beesmis betakel is net omdat jou ma en pa toevallig Duits praat.”
Dit is daarom dat hy ná al die jare steeds sterk gevoelens nagebou het oor dinge soos nasionalisme, patriotisme en volksidentiteit. Dit was tot voordeel van Afrikaanse lesers dat Karl Kielblock nooit die behoefte gehad om dié emosies te verwoord in politieke toesprake en geskrifte nie, maar dit verwerk het in meer as veertig gewilde verhale wat sedert 1936 uit sy pen verskyn het, het Albrecht verder geskryf.
Karl was ’n ywerige sportman. Hy het tennis, rugby, krieket, sokker en gholf gespeel en was voorsitter van die Strand Tennisklub, asook lewenslange lid daarvan. Hy het vir jare die Bolandse Tenniskampioenskap in die Strand gereël.
Hy het ook ’n aktiewe bydrae tot die gemeenskap gelewer. Hy was die laaste voorsitter van die ou Munisipale Biblioteek totdat dit deur die Provinsiale Biblioteek vervang is.
Karl se eerste boek, Die skat van Java, het hy bloot per toeval begin skryf. As onderwyser wou hy hê dat sy klas ’n opstel moes skryf deur hul verbeelding te gebruik. “Verbeel julle jul speel op die strand tussen die sandduine en skielik hoor jul dan ’n geweerskoot,” het hy aan sy klas verduidelik. “Julle hardloop oor die eerste sandduin, en wat sien julle?”
As hulle mooi sou skryf, het hy belowe, sou hy ook sý weergawe skryf. Só goed was sy poging dat hy dit gebruik het as inleiding vir sy eerste boek, Die skat van Java. Dit was in 1936 en dié boek het baie herdrukke belewe.
Hy het onthou dat een resensent na die boek verwys het as “’n eentonige aaneenskakeling van vervelige gebeure”. (Hoofstad, 28 Februarie 1979)
Hy het gedurende hierdie tyd met die skrywer Mikro (CH Kühn) kennis gemaak en het Mikro se belangstelling, aanmoediging, kritiek en vriendskap altyd baie hoog op prys gestel.
JW het Die skat van Java vir Volksblad van 8 Augustus 1936 bespreek: “Die fabelagtige skat van Java het oorspronklik aan die Portugese behoort, maar aangesien die vernaamste volke van Europa destyds almal na die rykdom van die Ooste gejaag het, het Nederlandse, Franse en Engelse skepe ook aan die soektog deelgeneem nadat die skat aan die onbekende kus van Afrika begrawe moes word.
“Die leser word ingetrek in ’n atmosfeer van vlieënde kartetse en ronddwarrelende hartsvangers, van seemansdapperheid en rowerdurf, van Oosterse geure en storms op see.
“Die skat van Java bevat ook ’n weelde van skeepsbenamings en seemansuitdrukkings wat gevaar geloop het om vir ons taal verlore te gaan weens onbruik. Verklarings van die onbekende terme word agter in die boek gegee. […]
“Die verhaal is, in die eerste plaas, ’n avontuurlike vertelling; die geskiedkundige agtergrond word nie deur middel van langdradige beskrywings aan die leser opgedring nie. Tog bevat die verhaal ’n kosbare hoeveelheid pitkos vir die jeug. Kielblock het veral goed daarin geslaag om die gees van die tyd goed op te vang en weer te gee.”
Karl Kielblock se reeks boeke oor Lafras Cuyper speel in die 18de eeu af. In die eerste boek, Lafras Cuyper / Kanonnier, is hy ’n sestienjarige knaap met ’n sterk avontuurlus. Hy versteek hom aan boord van ’n skip in die Tafelbaaise hawe om te ontsnap van sy listige tante en wrede neef. Hy word gedwing om lid te word van die bemanning van ’n Engelse oorlogskip.
Volgens JM (Die Burger, 6 November 1964) word Lafras Cuyper se ervaringe ter see gedurende die Napoleontiese oorloë toe die Engelse en die Franse gereeld slaags geraak het, op ’n spannende wyse uitgebeeld. Hy word baas-kanonnier weens sy buitengewone gesigsvermoë en aangebore skerpskuttereienskappe.
Al die verhale in die reeks (Luitenant Lafras Cuyper, Lafras Cuyper, kanonnier, Lafras Cuyper en die Hirondelle, Lafras Cuyper in die Britse lokval, Lafras Cuyper in Frankryk, Lafras Cuyper in Venesië en Lafras Cuyper en die gravin) is lekkerleesverhale met ’n sterk spanningslyn. Die verhale was meestal op die jonger geslag gerig en het die leser teruggevoer na die wêreld van bloedige seegevegte en swierige danspartye.
Kielblock het met hierdie verhale bewys dat hy oor die vermoë beskik om ’n lekker, leesbare spannende verhaal te vertel en terselfdertyd sy karakters te laat lewe. Lafras Cuyper het ’n held vir menige jong leser geword en Kielblock het met hom ’n karakter geskep wat die leser lank sal onthou. Kielblock weet ook presies hoe om elke maal die storie ’n onverwagse wending te laat neem. Ook slaag hy daarin om met die akkurate historiese agtergrond, wat goed nagevors is, die jong lesers se belangstelling in die geskiedenis te stimuleer.
Met Moord op Eendevlei (1943) het Karl sy reeks speurverhale met Frans Lindenhof as die baasspeurder ingelei. Dit is opgevolg met Moord op Kroonbaai, Moord in Arkadia, Moord op Alles Verloren, Moord op Geitjieskop, Onder die stil waters, Onrus op Rusdal en Weerlig slaan twee maal. Hierdie verhale is almal deur resensente beskryf as spannend, waarin die leser gewoonlik naels kou tot die laaste bladsy met Lindenhof wat sy knap speurvernuf moet inspan om die geheime op te los. Voeg daarby die “asemhygende intrige, dwarrelende handeling, van bladsy tot bladsy afgewissel met fyn karaktertekening, fyn stylvermoë en oorspronklikheid”, en jy het Karl Kielblock en die Afrikaanse speurverhaal op sy beste, soos die uitgewers dit gestel het.
In Boeke-Insig (Januarie 2008) vertel Francois Smith, skrywer en uitgewer, hoe hy Karl Kielblock en dan spesifiek sy speurder, Frans Lindenhof, onthou: “In die vroeë jare tagtig het ek Vrydagaande met my hande agter die kop gelê en wag vir elfuur. Langs my in die donker was die klein Philips-radio’tjie wat ek vir my 15de verjaardag gekry het. Elfuur sou ek die tydsein hoor. Dan so ’n kort stilte. En dan die aankondiging wat soos ’n langsteelbyl in ’n dik bloekomstam inkap: ‘Moord op Eendekuil [sic], deur Karl Kielblock.’
“Ai, die Karl Kielblock … Ek het sy speurverhale gelees, nie juis sy Lafras Cuyper-stories nie. Maar van Eendekuil en spesifiek die radioverwerking daarvan kan ek niks behalwe die aankondiging onthou nie. Kielblock se speurder sal ek egter nie vergeet nie, sersant Frans Lindenhof! Noem al die groot speurders, Maigret, Derrick, Faber, Morse, Wallander, Adamsberg … Lindenhof staan ook in daardie ry, neffens speursersant Demosthenes H de Goede. Lindenhof klop byvoorbeeld aan ’n deur en een of ander vervaarde dorpenaar maak oop. En wat merk al hierdie deuroopmakers altyd heel eerste van Lindenhof? Dat hy toebedeel is met ’n besonder snelgroeiende baard – sy baard groei so vinnig dat hy stellig twee keer ’n dag moet skeer!
“So onthou ek dit. Ook dat dit omtrent al is wat ’n mens van speursersant Frans Lindenhof weet, dat hy twee keer ’n dag moet skeer. En dat die speurintrige homself altyd bykans onafhanklik van Lindenhof tussen die dorpenaars uitwoed – dat jy skaars bewus is van hoe hy die skroewe aandraai. Altyd op ’n dorp, nè, nooit in ’n stad nie. Wat het van al die dorpspeurders geword?
“Wat het van Karl Kielblock geword? Om een of ander rede het ek nie ’n enkele van sy speurverhale op my rak nie. […] Ek kry ’n Kielblock in Stellenbosch se universiteitsbiblioteek, presies die een waarna ek soek: Moord op Eendevlei. Kan jy nou meer, dis ‘vlei’ nie ‘kuil’ nie.
“Nou kom ek agter dat ek as skoolseun die hersiene 1982-uitgawe moes gelees het, want die biblioteek het ook die oorspronklike 1943-uitgawe. Ek lees eers die ouer een, daar in die openingsparagraaf kry ek dit wat my 25 jaar gelede soveel genot verskaf het: Kielblock se lakonieke humor en spitsvondigheid wat my seker destyds as byderwets opgeval het. Nou lees ek dit as ’n soort ironie wat dit laat lyk asof Kielblock bietjie tong in die kies met die konvensies van die speur-genre omgaan – iets wat heel later ’n kenmerk van die postmodernisme sou word.
“Hierdie ironiese kommentaar op die vertelling self is in die 1982-uitgawe uitgehaal om dit ’n baie meer natuurlike verhaal te maak. Om verstaanbare redes, want ek glo nie die populêre spanningsverhaal gedy op selfironisering nie. Maar hierdie speelsheid is nog in die oordrewe beskrywings van karakters se uiterlike. Wat egter beslis gewaai het, is die paar liederlike rasverwysings van die vroeëre uitgawe.”
So het Smith ook Die skaam man en Onrus op Rusdal raakgeloop, en hieroor vertel hy: “Wat ek egter onweerstaanbaar vind, is dat die held in Die skaam man se naam Matthys Deurman is (onthou, Lindenhof is ’n agtergrondfiguur) en dat hy op Schoutensdorp by sy tante Rinda kuier. Ja, Deurman en Rinda! En op die flapteks staan dat Kielblock, ’n onderwyser van beroep, se liefde vir skryf hom ‘al selfs skoolhoofskappe van die hand laat wys het’. Vir sulke onderwysers haal ek my hoed af. En Lindenhof bly op my lys van grotes.”
In 1959 is Die skaam man gepubliseer en in 1979 vir televisie verwerk. Dit vertel die verhaal van ’n skaam man wat op die platteland vakansie hou en skielik sy hande vol het met ’n mooi vrou en ’n rampokkerbende. Dit gebeur met Matthys Deurman bloot omdat hy ’n vriend van speurder Frans Lindenhof is. Die vrou is lewendig en temperamenteel, en in haar poging om ’n familielid uit die bende se greep te red, raak sy by gevaarlike dinge betrokke. As Matthys sy neus in die saak steek, is dit net ’n kwessie van tyd voordat iemand lelik seerkry.
Die sanger Gert van Tonder het die hoofrol vir televisie vertolk, met groot name soos Harriet Pienaar, Patrick Mynhardt, Paul Eilers, Jacques Bosch en Tamina Klein in van die ander rolle. Fred Nel was die regisseur en onder sy regie kon hierdie produk goed met soortgelyke oorsese produkte vergelyk.
Oor Onrus op Rusdal het ED (Die Burger, 17 Mei 1963) geskryf: “Rusdal, ’n klein dorpie ‘suid van die Langeberge, nie te ver van die see nie’, is skielik nie meer so rustig nie ná ’n paar raaiselagtige moorde en die verskyning van ’n paar vreemdelinge, onder wie die befaamde speurder Frans Lindenhof, wat daar kom vakansie hou.
“Die skrywer verstaan die kuns om die leser te boei en die spanning te handhaaf. ’n Moord hier, ’n noue ontkoming daar, afgewissel met romanse en eienaardige gebeurtenisse, soos ligte en ‘stemme’ in die mis op die see – en gou-gou ontstaan ’n eersteklas intrige waarin die leser saam met speurder Lindenhof op die spoor van ’n bende is.
“Karl Kielblock, bekend as een van ons beste speurverhaalskrywers, hanteer hierdie resep met sy gewone vaardigheid. Die leser verwag ’n verrassende ontknoping – en die skrywer stel hom nie teleur nie!”
Moord op Eendevlei was so gewild as vervolgverhaal op televisie dat dit twee maal gebeeldsend is.
Reeds in 1942 het die baie gewilde en geheimsinnige Jasper le Feuvre, wat ná jare met wraakgedagtes na die ou Kaap terugkeer, sy verskyning uit Karl se pen gemaak. En het dit só ’n indruk gemaak dat dit vir televisie verwerk is en in 1984 op die Afrikaanse Diens van die destydse TV1 uitgesaai is. Karl was baie entoesiasties oor hierdie uitsending, want met twee akteurs soos Hans Strydom en Morné Coetzer in die romantiese hoofrolle kon dit nie anders as om ’n sukses te wees nie.
Ook Guillam Woudberg is vir televisie verfilm en in 1987 gebeeldsend. Die verhaal speel hom aan die einde van die 18de eeu af in die tyd van die kortstondige Republiek van Graaff-Reinet. Guillam Woudberg (Danie Joubert) is die held, ’n grensbewoner wat skielik hoor dat hy twee spogplase in die Boland geërf het. Die voorwaarde van die erflating is dat hy self op die plase moet woon, wat hy omseil deur ’n geriefshuwelik met ’n Bolandse meisie, Suzette Davel (Michelle Botes), te sluit. Dít en die spanning tussen die Engelse heersers en rebelle sorg vir al die aksie en ’n paar misverstande. Daan Retief was die regisseur.
Karl het ook sy hand aan ’n Bybelroman gewaag en in 1950 is Die swaard verteer uitgegee. Dit beeld die lewensgeskiedenis van Joab, leërowerste van Dawid, en groot nasionale stryder vir die eenheid en vryheid van sy volk Israel, uit. Die verhaal toon ’n ooreenkoms met die spanningsverhale waarmee Karl bekendheid verwerf het.
Dit blyk uit ’n keurdersverslag (in NALN se knipselversameling) dat die titel, Die swaard verteer, nie die oorspronklike titel van die verhaal is nie. Dié was net Joab. Die keurder se naam word nie vermeld nie, maar hy/sy was veral getref deur die “dramatiese voorstellinge en die lewendige aaneenskakeling van pakkende gebeurtenisse.
Vir die keurder beskik Kielblock oor die begaafdheid om die dorre materiaal wat uit die Bybelgegewe blyk, weer te gee om ’n prikkelende en spannende verhaal te vertel. Ook word die Bybelgegewe op ’n baie oorspronklike manier behandel en slaag Kielblock weldeeglik daarin om dit op ’n realistiese wyse weer te gee sodat die geskiedenis nie vaag en abstrak bly nie. Die keurder het dus die vrymoedigheid om die publikasie van die werk aan te beveel.
JPS het Karl Kielblock se verbeelding van die verhaal van Joab só beskryf (Huisgenoot, 13 Oktober 1950): “Die eerste deel van die verhaal van Joab is denkbeeldig: hy sluit by koning Saul se leër aan en veg saam met Jonatan om die Filistyne uit Israel te verdryf. Hy gaan na Gat om sy vader Kaleb, ’n wapensmid, te bevry en word gewond. Ná baie wedervaringe beland hy in Egipte en keer terug met net een doel voor oë: om sy volk te verenig en van sy vyande te verlos.
“Dan volg die geskiedenis van Joab soos dit in die Bybel opgeteken is. Maar die skrywer het nie slegs die blote feite van die Bybelverhaal saamgesmee tot ’n eenheid nie, maar ook daarin geslaag om die mense te laat lewe. Hy gee ’n duidelike beeld van die lewenswyse en gewoontes van die tyd, in Egipte en ou Israel. Dit is een van die redes waarom die boek lesenswaardig is.
“In die tweede plek bied die boek ’n verhaal wat die gewone leser van die Bybel in stukkies en brokkies vind en daarom selde in die geheel ken; en in die derde plaas is dit geensins ’n blote brok geskiedenis hierdie nie. Die swaard verteer vertel die storie van Joab in ’n deurlopende verhaal en gee ’n duidelike beeld van die stryd van Israel teen sy vyande gedurende daardie tydperk.
“In die derde plek is dit glad nie bloot ’n stuk geskiedenis nie, maar ’n spanningsverhaal wat die leser boei van die eerste tot die laaste bladsy. Joab word ’n sterk figuur: hard en byna onmenslik, maar oortuigend. Naas hom word die mensliker koning Dawid amper ’n swakkeling. Mnr Kielblock het ’n figuur, wat nooit baie duidelik na vore tree nie, groot gemaak sonder om die geskiedkundige feite te verkrag. Dit is ’n boek wat deur alle lesers geniet sal word; deur sommige om die storie, vol spanning en handeling, deur ander om die helderder insig wat dit in hierdie brokkie van die geskiedenis gee.”
In 1970 is die Scheepers-prys vir Jeuglektuur vir Rebel aan Karl Kielblock toegeken. In sy commendatio by die toekenning van hierdie prys het FV Lategan (tikskrif in NALN se knipselversameling) gesê: “Kielblock het met Rebel ’n nuwe stofgebied betree, naamlik die heroïese worstelstryd van die twee Boere-republieke, dapper bygestaan deur hulle ‘rebelle’-broers uit Kaapland, in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902.
“In hierdie spannende verhaal tree die karakters gemotiveerd op en die handeling verloop flink. Die oorlogsavonture wat die hooffiguur beleef, is van die begin af met die liefdesintrige verweef en die twee ontwikkelingslyne word in ’n oortuigende slot saamgetrek. […]
“Die verhaal is daarby ook uit die heroïese volksverlede om die jeug met gesonde en frisse lewensuitkyk te inspireer en om hulle nasionale trots en bewussyn te versterk, soos dit die wens van die skenkers van die Scheepers-prys was.
“Die bekroning het ook aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die geleentheid gebied om erkenning te verleen aan ’n voortrekker op die gebied van gesonde ontspanningslektuur in Afrikaans. Want Karl Kielblock was die eerste outeur wat hom doelbewus toegespits het op die skryf van ‘ligte’, maar gesonde, nasionaal-gerigte lektuur in Afrikaans. Sy werk word sedert 1936, toe sy eerste verhaal, Die skat van Java, by Nasionale Pers verskyn het, gretig deur oud en jonk gelees. Hy het sy stof uit ons nasionale romantiek van die Hollandse periode aan die Kaap geput en ouer lesers dink met genot aan verhale soos Die vreemdeling en Jasper le Feuvre en baie ander wat gereeld verskyn het en herdruk is. Ook vir hierdie bydrae tot Afrikaans betuig die Akademie opregte erkentlikheid.”
Uit die vroeë geskiedenis van die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) het Karl sy verhaal getiteld Lodewyk Alleman se soektog (1971) geskryf. Dit speel af in die tydperk nadat die kleurlingstamme in die omgewing van die Oranjerivier die rivier oorgesteek het, die Namastamme oorrompel het en al verder noordwaarts getrek het totdat hulle met die Herero-nasie gebots het.
Lodewyk is ’n bruin seun wie se pa deur ’n Nama-rowerbende ontvoer is omdat hulle hom as smid baie goed kan gebruik. Die res van die jaggeselskap is uitgemoor. Lodewyk pak die bykans onbegonne taak aan om sy pa te gaan red.
Hy kry hulp uit ’n baie onverwagte oord toe ’n meisie, Eva, en haar donkie, ou Valetjie, hom te hulp snel. Dit beteken vir hom baie.
Die resensent in Boeke Rapport (10 Oktober 1971) onder Anita Moodie het die bespreking só afgesluit: “Met ’n bietjie gegewens oor Suidwes in die tyd van Hendrik Witbooi kry die verhaal sy loop. Die sette en teensette word op heel vernuftige wyse uitgewerk en daar is genoeg handeling van die soort waarvan kinders en liefhebbers van avontuurverhale hou. Was daar maar meer skrywers so bekwaam soos Karl Kielblock om te voorsien in die behoefte na hierdie soort boek.”
Oor Lodewyk Alleman se soektog het Karl self verduidelik, skryf WO Kühne in sy rubriek “Van alle Kante” (Die Burger, 28 Augustus 1971): “Ek het nie probeer om die Afrikaans van daardie tyd en omgewing weer te gee nie. Eerstens, omdat dit bra moeilik sou wees, en tweedens, omdat dit dalk die indruk sou wek dat ek die gek probeer skeer, iets wat glad nie my bedoeling is nie.
“Interessantheidshalwe het ek die oorspronklike plekname gebruik, behalwe in die geval van Windhoek omdat Jonker Afrikaner alreeds in 1945 die naam van Ai Gams (warm water) met die huidige vervang het.
“Van al die stamhoofde in daardie gebied was Hendrik Witbooi, kaptein van die Witboois, seker die kleurrykste en merkwaardigste. Waar hy in dié verhaal op die voorgrond tree, het ek hom en sy groot ideaal so getrou as moontlik probeer uitbeeld teen die onstuimige agtergrond van die jare voor die koms van die Duitse gesag.
“Keister, die Rooidoeke en Wasfontein bestaan net in my verbeelding, maar daar was in werklikheid ander kapteins en stamme wat hulle in wreedheid en roekeloosheid oortref het. Des te meer troon Hendrik Witbooi in sy strewe om ’n onafhanklike nasie te stig, bo hulle uit.”
Kühne het ten slotte geskryf: “Teen die agtergrond wat Kielblock herskep, en met die verduideliking wat hy gee van sy ‘resep’, laat die skrywer dan die sestienjarige kleurlingseun en sy rietskraal, mishandelde Eva Jonker optree – doodnatuurlik, en so universeel-menslik as wat iemand met die goedgekose naam van Alleman dit kon doen. Kielblock se ongedwonge respek en deernis vir sy karakters maak ’n mens se hart sommer warm.”
In ’n onderhoud met Sybelle Albrecht (Vaderland, 7 Junie 1984) het Karl gesê: “Dit het altyd vir my ’n groot klomp navorsing en harde werk gekos voordat ek een van my historiese romans of selfs ’n speurverhaal die lig laat sien het. Maar dit was altyd ’n verrykende en vernuwende ervaring en dit het my soveel plesier verskaf dat die gedagte om my pen op my oudag neer te lê, nie sommer al by my opgekom het nie.”
’n Jong seun wat in die suide van Nederland grootgeword het, is die hoofkarakter in Die helder stad. Hy sluit by die Kinderkruistog aan om sy pleegsuster te probeer opspoor. “Dit word ’n spannende en oortuigende relaas waarin die skrywer daarin slaag om iets van daardie verre verlede werklikheidsgestalte te laat kry deur sy verhaalpersone, gebeur en tydruimtelike beelding,” het PD van der Walt (Transvaler, 31 Mei 1975) geskryf. “Dit word dus meer as ’n vlak stukkie romantiek of avontuur, hoewel dit nog geen besondere historiese roman is nie. Dit is egter in die eerste plek ’n verhaal vir jong lesers met die elemente waarvan jong lesers sal hou: deugsaamheid wat oor skurkery seëvier, waagmoed en leiersvermoë, opoffering en uithouvermoë en oorwinning. Die roman self getuig van vaardigheid in hierdie genre van die skrywersvakvernuf, wat natuurlik ook nie anders kan nie, gesien die talle suksesverhale waarmee Karl Kielblock al dekades lank geslagte jong lesers in die Afrikaanse verhaalkuns geïnteresseerd hou.”
Op 26 November 1991 is Karl Kielblock in die ouderdom van 84 jaar in die Strand, waar hy tot sy dood gewoon het, oorlede. Hy is oorleef deur sy vrou, Vera, sy seun Johan, sy dogter Suzette, en vyf kleinkinders.
Huldeblyke
- Gideon Joubert: “As skoolseun het ek Karl Kielblock se boeke verslind. Watter skoolseun het nie? In my verbeelding het ek my voorgestel hoe sy helde lyk. En dan: die skrywer. Hoe lyk hy? Seker ’n romantikus met ’n opstandige kuif en skerp, deurdringende oë? Ek was ’n middeljarige man toe ek hom die eerste keer ontmoet het – ’n kalm, gebalanseerde mens met rustige blou oë. Die enigste aanduiding van verwantskap met helde soos Jasper le Feuvre en Lafras Cuyper was die vonkeling in die oë wat af en toe die gesig verhelder het. Ek sou wat gegee het om hierdie uitsonderlike man as onderwyser (dit was sy beroep) te gehad het. Op sy rustige manier kon hy jou aandag hou.
“Dit is die tragedie van menswees dat die ouderdom ook hierdie onblusbare gees moes inhaal. Hy laat ’n erfenis ná wat tydloos is. Hierdie geliefde skrywer van jeugverhale se werke sal nog aan baie geslagte van jong seuns, en hopelik dogters ook, groot vreugde verskaf en hulle laat léés. Hy het my leer lees, en boonop ’n liefde vir die see en seilskepe gekweek wat my lewe ingrypend beïnvloed het. In 1936 het Die Skat van Java verskyn. Ek was dertien jaar oud en dit was die eerste boek deur Karl Kielblock wat ek gelees het. Daar is die saadjie geplant wat tot gevolg gehad het dat ek sewentien ryke jare eers dekjonge in ’n seilskip en later vlootoffisier was, en die res van my interessante lewe aan die joernalistiek gewy het.
“Agter in Die Skat van Java het die eerste lys van Afrikaanse seeterme verskyn. Later toe ek in ’n seilskip gedien en nóg later voorsitter van die Vloottaalraad geword het en die seemanstaal my vak was, het ek besef hoe deeglik Karl Kielblock se kennis van seilskepe was en hoe raak en korrek die terme wat hy in sy boeke gebruik het. Hy was die eerste Afrikaanse skrywer wat ’n liefde vir die see by die jeug ingeskerp het.” (Die Burger, 30 November 1991)
- Bertie du Plessis: “Met die dood van Karl Kielblock het Afrikaans een van sy knapste gewilde skrywers verloor. Terselfdertyd is die ‘goue’ generasie van Afrikaanse jeugverhaalskrywers verder uitgedun. Kielblock het romantiese, historiese en speurverhale geskryf. Die meeste van sy werke was nie in die eerste plek op die jeug gemik nie, maar hy het die romantiek by die jong avontuurlustige leser in die laat jare veertig deur die jare vyftig en sestig laat leef. Vir my was Karl Kielblock se bydrae as skrywer van die speurverhaal belangriker en het hy die grondslag vir die Afrikaanse speurverhaal behoorlik gelê. En al hoort ’n skrywer nie by die grotes in die Afrikaanse literatuur nie, as hy soveel ure se suiwer leesplesier op ’n ontvanklike ouderdom verskaf het sodat sy dood byna soos dié van ’n ou vriend ervaar word, moes ’n skrywersloopbaan die moeite werd gewees het.” (Volksblad, 12 Desember 1991)
Publikasies
|
Publikasie |
Die skat van Java: ’n avontuurverhaal vir seuns |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die vreemdeling |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Jasper le Feuvre |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Moord op Eendevlei |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Soos water op die grond |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die avonture van die vrywillige gevangene: die avonture van kapt Elias Sonnenstein |
|
Publikasiedatum |
1944 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Publicité |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die avontuur van die goue beeld |
|
Publikasiedatum |
1944 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Publicité |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Moord in Arkadia |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Bloemfontein: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Dawid en Goliat. Saam met Hettie Cillié |
|
Publikasiedatum |
1953 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
|
Literêre vorm |
Bybelverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die avontuur van die goewerneur se dogter |
|
Publikasiedatum |
1944 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Publicité |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Moord op Kroonbaai |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Guillam Woudberg |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Guillam Woudberg keer terug |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Adriaan Deneys |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Moord op Alles Verloren |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Moord op Geitjieskop |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die swaard verteer |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ek, die moordenaar |
|
Publikasiedatum |
1951 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Speurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Nooi uit die vreemde |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die wraak van Jasper le Feuvre |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Soos water op die grond |
|
Publikasiedatum |
1958 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die skaam man |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Rivier van drome |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Sonia Clercq |
|
Publikasiedatum |
1960 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Mooier as die blomme |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die vete |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Onrus op Rusdal |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper / Kanonnier |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Onder die stil waters |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die verlore skat: ’n verhaal vir seuns |
|
Publikasiedatum |
1964 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Luitenant Lafras Cuyper |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Spanningsverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Skuil in die skaduwees |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vaandrig Freyn |
|
Publikasiedatum |
1966 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper en die Hirondelle |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die lafaard |
|
Publikasiedatum |
1968 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Rebel |
|
Publikasiedatum |
1969 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Scheepers-prys vir Jeuglektuur 1970 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die raaisel in die spieël |
|
Publikasiedatum |
1970 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lodewyk Alleman se soektog |
|
Publikasiedatum |
1971 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Weerlig slaan twee maal |
|
Publikasiedatum |
1972 |
|
ISBN |
0624000303 |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper in die Britse lokval |
|
Publikasiedatum |
1973 |
|
ISBN |
062400421X (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die helder stad |
|
Publikasiedatum |
1974 |
|
ISBN |
0624006042 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper in Frankryk |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0624007553 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper in Venesië |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
0624010716 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verhale van Herodotos. Oorvertel deur Karl Kielblock |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Mitologie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lafras Cuyper en die gravin |
|
Publikasiedatum |
1979 |
|
ISBN |
0624013065 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Avontuurverhaal |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die erfenis |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0624018288 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
As J Heinrich:
|
Publikasie |
Daar het ’n ster verskyn |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0798117826 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Artikels oor Karl Kielblock
- Albrecht, Sybelle:
-
- Karl Kielblock is steeds skeppend. Transvaler, 11 Junie 1984
- Menige tot ridderlikheid aangespoor. Vaderland, 7 Junie 1984
-
- Bekende Karl Kielblock is oorlede. Volksblad, 27 November 1991
- Botha, Amanda: Kielblock “gebore” in klaskamer. Transvaler, 27 Oktober 1977
- De Kock, Annemari: Verander grafskrif … weer eens! Transvaler, 3 Desember 1991
- Dertienjarige se inskrywing naasbeste in briefskryfkompetisie [oor Kielblock se kleindogter]. Volksblad, 9 Oktober 1997
- Du Plessis, Bertie:
-
- Kielblock het die jonges laat léés. Volksblad, 12 Desember 1991
- “Kielblock se dood soos dié van ou vriend”. Beeld, 5 Desember 1991
-
- Joubert, Gideon: Karl Kielblock het ’n liefde vir die see by jeug ingeskerp. Die Burger, 30 November 1991
- Karl Kielblock. Wikipedia
- Karl Kielblock. Storiewerf
- Karl Kielblock. Transvaler, 29 April 1944
- Karl Kielblock in Strand oorlede. Beeld, 27 November 1991
- Kielblock is nog lank nie koud. Beeld, 7 Junie 1984
- Karl Kielblock op 84 jaar oorlede. Oosterlig, 27 November 1991
- Karl Kielblock weier Beaufort se huldiging. Die Courier, 28 Oktober 1977
- Kielblock se 39ste boek verskyn. Die Burger, 28 Oktober 1977
- Kielblock van Jasper le Feuvre-faam sterf. Die Burger, 27 November 1991
- Meisie van SA skryf 2de beste brief in kompetisie [oor Kielblock se kleindogter]. Beeld, 9 Oktober 1997
- Ons skrywer: Karl Kielblock: inligtingstuk van Voortrekkerpers. Boekenuus [geen datum]
- Pretorius, Frans-Johan: Karl Kielblock se leerlinge kry hom aan skryf. Netwerk24, 23 Oktober 2024
- Smith, Francois: Boekedag 2012: Francois Smith kies ’n karakter. LitNet, 19 April 2012
- Van Sittert, Freddie:
-
- Kielblock nog nie uitgeskryf. Hoofstad, 28 Februarie 1979
- Ná boekprys moes sy grafskrif verander word … Vaderland, 27 Februarie 1979
-
Karl Kielblock se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-09-13 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: verskaf deur NALN en met toestemming geplaas
Kommentaar
Sy broer het vir my Aardrykskundeklas gegee in HHH ... interresante onnie ...