Trooskos

  • 0

In hierdie vreemde tye het ek baie geleer – van ander mense, maar meestal oor myself. En ek het besef hoe belangrik dit is om deernis te hê – nie net met ander nie, maar ook met jouself.

Vir my was deernis nog altyd baie belangrik. In my kombuis is daar net twee goue reëls waarby ek hou – of ek nou vir ’n kosfotosessie vir die tydskrif kook of vir vriende en familie kos maak. Die een is om respek vir die bestanddele te hê en die ander, die belangrikste, is om ’n deernis te hê vir die mense vir wie ek kook.

Maar met hierdie grendeltyd en die virus nou steeds ’n dreigende skadu voor die son, het al die ander dinge weggeval. Deernis is al wat tel.

Foto’s: Pixabay.com

Ek het ’n twiet raakgelees van een van my gunstelingkosskrywers, Nigel Slater. Hy vertel hoe aangedaan hy was toe hy dié antwoord van Dolly Alderton in haar Dear Dolly-rubriek in die Britse koerant The Sunday Times raakgelees het.

Dolly is blond en mooi en glad nie soos ’n mens jou ’n troostante sal voorstel nie. En, ja, dis seker ’n ander soort diskriminasie en vooroordeel, maar dis glad nie die antwoord, met soveel deernis, wat jy by iemand só glansryk sou verwag nie.

Die brief wat aan haar gerig is, kom van ’n enkelma van twee. Sy kla dat sy tydens die grendeltyd sonder hulp met haar twee kinders in ’n piepklein woonstelletjie ingehok was. Sy het die virus gekry en was baie siek. Agterna het sy in die gewoonte gekom om saans vir haar ’n jenewer en tonikum te skink. Sy het op die rusbank gaan sit met haar gunstelingmaaltyd, roosterbrood met grondboontjiebotter, en Netflix gekyk. Daar was nie tyd of ruimte vir oefening nie en nou pas haar klere nie meer nie. Wat kan sy doen, wil sy by Dolly weet, om gewig te verloor en weer jonk en sexy te voel?

Sy het niks om oor skaam of skuldig te voel nie, het Dolly geantwoord. Die drankie saans was ’n welverdiende kalmeermiddel ná ’n harde dag van kinders oppas. En met die roosterbrood met grondboontjiebotter het sy gehoor gegee aan haar liggaam se behoefte aan trooskos. Sy het ook geluister na haar liggaam en nie soos ’n mal ding rondgespring op die instruksies van ’n oefenvideo op YouTube nie.

Dis wat die media jou laat glo van jou verwag word, meen Dolly, nie waarna jou liggaam soek nie. Sy is deur ’n moeilike tyd van afsondering en siekte, en sover dit Dolly aangaan, hoef sy haar glad nie te kasty oor haar eetgewoontes en versuim om te oefen nie. Sy het gedoen wat sy moes om te oorleef.

Die hele dieetbedryf het saamgesweer om jou te laat glo sekere kos is sleg vir jou, meen Dolly. Roosterbrood met grondboontjiebotter is beslis verbode. En om te eet terwyl jy Netflix kyk, is nog slegter vir jou.

Dis alles nonsens, sê Dolly. Moenie glo wat die media jou probeer wysmaak nie. ’n Mens moet leer om na jou liggaam te luister. Dis glad nie waar dat jy jou skielik sal oorgee en ’n berg eclairs sal verorber wanneer jy jou eie eetinstinkte volg nie. Wanneer jy geleer het om al die stemme daar buite stil te maak en te eet waarvoor jou liggaam vra, sal jy self in ’n eetpatroon val wat jou sal help om geleidelik van al die ekstra kilo’s ontslae te raak.

En as jy nog twyfel, sê Dolly, verbeel jou dis jou kind vir wie jy kos gee wanneer jy vir jou ’n bordjie skep. Troetel jouself en voed jouself soos wat jy met jou kind sou gedoen het. En elke keer wanneer jy jouself wil verwyt oor iets wat jy geëet het wat volgens die media nie goed is vir jou nie, verbeel jou dat jy met jou kind praat.

Wanneer jou kind na jou toe kom, siek en moeg en omgekrap, gaan jy tog nie vir hom iets gee wat volgens voorskrifte binne die toelaatbare kalorietelling van die dag val nie. Jy gaan hom iets gee wat hy sal geniet en hom ’n bietjie beter sal laat voel. Dis so belangrik, meen Dolly, om jouself met dieselfde deernis te behandel as waarmee jy jou kind sou getroos het.

Dolly se wyse woorde het my laat terugdink aan een van die lekkerste maaltye van die grendeltyd. Ek kan nie onthou wanneer ek meer getroos en gekoester gevoel het as daardie dag om die tafel nie. En dit alles oor ’n eenvoudige bak macaroni-en-kaas.

Ek het gedurende die grendeltyd my huismense bederf met die lekkerste kosse uit my kombuis, my manier om my kop skoon te kook en om my mense te laat vergeet van virusse en dinge.

Al die ander kere het ek die wonderlikste macaroni-en-kaas gemaak – ryk en oordadig met vyf soorte kaas of die Griekse pastitsio, basies macaroni met baie kaas en maalvleis. Ek het al spek of ham bygewerk, vars kruie en ’n goudbruin kors van krummels en parmesaan.

Maar nie een van dié geregte het soveel genoegdoening verskaf soos die eenvoudige bak op daardie dag nie. Trooskos op sy beste – ’n skottel vol deernis.

Karen se doodgewone macaroni-en-kaas

Genoeg vir 4–6

½ van 500 g-pak macaroni
1 eetlepel olie
6 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 teelepel mosterdpoeier
2 koppies melk
1 koppie gerasperde cheddarkaas.

Maak die macaroni gaar volgens die instruksies op die pakkie. Dreineer en roer ’n eetlepel olie deur sodat die pypies nie aan mekaar vassit nie. Klits die eiers. Geur met sout en peper en mosterdpoeier en klits die melk by. Roer die gaar macaroni en die gerasperde kaas by en giet in ’n oondvaste bak. Bak vir 1 uur in ’n voorverhitte oond van 160º C. Die geheim lê in die eenvoud van die bestanddele en die lang, stadige bak.

In die kombuis beteken deernis vir my net een ding: trooskos. En vir my is trooskos op sy beste ’n bak doodgewone macaroni-en-kaas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top