Karen Meiring oor die 2013 kykNET Fiëstas

  • 2

Die benoemings vir die jaarlikse kykNET Fiësta-toekennings is pas bekendgemaak. Karen Meiring, hoof van kykNET, beantwoord enkele vrae oor die toekennings en die gepaardgaande geleentheid wat beplan word.

Goeiedag, Karen. Hoe gaan dit met alles?

Dit gaan lekker met alles en ons is baie opgewonde oor die komende Fiëstas by die Staatsteater.

Die benoemings vir die kykNET Fiësta-toekennings is onlangs bekendgemaak. Hoe het die proses verloop en wie was daarby betrokke om op dié finaliste te besluit?

kykNET stel ’n paneel aan onder leiding van Herman Van der Westhuizen (voorsitter). Hulle besoek al die feeste en beoordeel stukke volgens ’n puntestelsel. Die nominasies word daarvolgens bepaal en dan deur ouditeure geverifieer. Beste Fiësta-gasaanbieder en Beste Fees se nominasies word bepaal deur kykerstemme via SMS.

Die Fiësta-toekennings word vanjaar vir die derde maal aangebied. Hoe het die projek vanjaar verloop in vergelyking met vorige jare? Vind jy dat daar ’n groei in belangstelling is?

Daar is beslis ’n groei in belangstelling. Elke jaar verloop die projek gladder en bereik ons groter hoogtes.

Luidens die mediaverklaring word die toekenningsgeleentheid vanjaar vir die eerste maal in die Staatsteater in Pretoria aangebied. Waarom is daar besluit om dit hier aan te bied en wat kan gehoorlede verwag van die geleentheid, veral wat Ian von Memerty se leiding betref?

Die eerste twee jaar was ons in die Kaap en het dit goedgedink om die Noorde ook ’n geleentheid te gee om hierdie spesiale glansgeleentheid by te woon. Ons het ook intussen ’n nou samewerking met die Staatsteater in Pretoria geloods en sien uit na toekomstige projekte daar. Gehoorlede kan ’n wonderlike aand volgepak met vermaak verwag en die talentvolle Ian von Memerty sal verseker dat almal onder die indruk gaan kom van die ongelooflike vondste in talent oor al die genres heen wat ons feeste jaarliks oplewer.

’n Ooglopende vraag om te vra is natuurlik hoe kykNET, ’n televisiekanaal, se inploeg van energie en mannekrag in die dek van feeste en teaterwese ontstaan het en hoe daarop besluit is om ’n toekenningsgeleentheid daarvoor te hou. Bygesê, natuurlik: Fiësta is al jare lank op kykNET te sien. Hoe het hierdie verhouding gegroei tot dusver?

Die televisie- en teater-bedrywe staan nie in isolasie van mekaar nie. Alhoewel ons mandaat die uitsaaiwese is, is die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf relatief klein. Deelnemers aan ons televisieproduksies is ook intensief betrokke by die feeste. Daarom beskou ons hulle as deel van ons familie en voel baie sterk daaroor om hierdie platforms te ondersteun. Dit is na alles die geboorteplek van nuwe talent en programidees vir ons televisieprogramme ook. ’n Ryk voedingsbron vir ons kanale. En daarom is dit ook vir ons ’n eer om betrokke te wees in hierdie opsig. Die Fiëstas is kykNET se jaarlikse geleentheid om saam met vriende en kollegas die kunste in Suid-Afrika te vier en erkenning te gee aan uitsonderlike prestasie in teater en die kunstebedryf gedurende die afgelope jaar. Die Fiëstas erken werk van hoogstaande gehalte wat landswyd by kunstefeeste te sien is. Applous vir elke kunstenaar en kunstefees wat in die afgelope jaar ons lewens verryk, ons perspektiewe verbreed, ons vermaak en aan die hart gegryp het. Die program Fiësta is van intrede af ’n baie gewilde program en kykNET se gesig by feeste, groot en klein landswyd en hierdie verhouding groei van krag tot krag.

In dieselfde asem – hoe voorsien jy sal hierdie verhouding in die verre en nabye toekoms ontwikkel?

Ek voorsien geen grense nie, net oop horisonne. ’n Verhouding wat gee en neem en vir alle betrokke partye voordelig is. Ons glo dit gaan groei in prestige en dat ons elke jaar meer en beter kan deel met en gee vir deelnemers, benoemdes, wenners en bo alles by uitstek ’n produksie op televisie lewer wat ons kykers in oopmond verwondering en bewondering gaan laat. En daardeur ook meer teatergangers en voete by feeste te kweek.

As ’n mens deur die benoemingslys kyk, is daar ’n diverse mengsel van jonger en ouer kunstenaars onder die kandidate. In watter mate beskou jy dit as ’n aanduiding van die stand en toekoms van Afrikaanse teater?

Dit maak my opgewonde. Afrikaanse teater het tans ’n tuiste in die Afrikaanse kunstefeeste, al is daar talle uitdagings rondom infrastruktuur en befondsing. Dit word ook ’n samekoms van gevestigdes, veterane en jongeres. Elke jaar is daar iemand en iets nuut wat verras en inspireer, en net so is dit wonderlik dat ons ouer staatmakers bly ontwikkel en ons steeds vermaak met hulle ryk ervaring. Dis altyd ’n riem onder die hart om te sien ons kunstenaars werk. Dit is positief vir die stand en toekoms van Afrikaanse teater en ek glo die Afrikaanse teater beleef ’n soortgelyke bloeitydperk as ons Afrikaanse filmbedryf tans. Die kunste en teater het al die ondersteuning en blootstelling nodig wat hulle kan kry. Ons hoop dit lei ook tot beter staatsondersteuning en begrip vir die kunstenaar.

Die feeste waarvoor die publiek kan stem om hul gunsteling aan te dui is Innibos, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Renoster Horingfees en die Vryfees. Kan jy verklap wat jou eie gunsteling-fees uit hierdie benoemdes is, en waarom?

Dis vir my onmoontlik om te kies. Elke fees het so ’n unieke identiteit en ek wens hulle almal ewe veel voorspoed toe.

Die blote feit dat Fiësta bykans elke week ’n verskillende fees in die land (en buurlande) kan bywoon, dui sekerlik op ’n gesonde feeskultuur onder Afrikaanses. Waaraan is dit te danke?

Ek dink ons Afrikaanses verlustig ons in ons kultuur, en ons intense trots op ons taal is ook ’n groot aansporing. Ons is almal gesteld op die behoud en voortbestaan van ons taal en kultuur en geniet die gesellige samesyn van mede-Afrikaanses met sulke feesgeleenthede. Dis vir ons altyd lekker om te kuier, en as dit rondom kultuurpotte, by wyse van spreke, kan geskied, hoeveel te beter!

Vanweë jou eie vroeëre betrokkenheid by die KKNK en jou bywoning van feeste het jy uiteraard al ’n hoë getal produksies beleef by die feeste. Wat sou jou raad aan jong regisseurs, musikante en so meer wees om hul produksies te laat uitstaan (selfs in só ’n mate om vir ’n Fiësta-toekenning benoem te word) tussen die talle ander produksies?

Werk hard, hou uit, mik vir die son en onthou moeite kos nie noodwendig meer geld nie.

Die benoemings is:

Beste Akteur

1. Albert Pretorius, Nagwond
2. Terence Bridgett, Master Harold en die Boys
3. Tobie Cronjé, My man se vrou se man
4. Wessel Pretorius, Ont

Beste Aktrise

1. Alida Theron, Op Dees Aarde
2. Marli van der Bijl, Putsonderwater
3. Amanda Strydom, Voor ek vergeet
4. Sandra Prinsloo, Oskar en die pienk tannie

Beste Manlike Byspeler

1. Wessel Pretorius, N is vir Neurose
2. De Klerk Oelofse, Ubu en die Secrecy Bill
3. Johann Nel, Putsonderwater
4. Stian Bam, Babbel/Bos/Vrou vantevore

Beste Vroulike Byspeler

1. Anna-Mart van der Merwe, Doodsnikke
2. Hannah Borthwick, N is vir Neurose
3. Karli Heine, Op Dees Aarde
4. Wilna Snyman, Op Dees Aarde

Beste Regisseur

1. Wessel Pretorius, Ont
2. Pieter Venter, Putsonderwater
3. Lara Bey, Oskar en die pienk tannie
4. Marthinus Basson, Op Dees Aarde

Teaterontwerp
1. Marthinus Basson, Bos, stelontwerp
2. Marthinus Basson, Op Dees Aarde, stelontwerp
3. Johan Ferreira, GPS vir die lewe, beligting
4. Patrick Curtis, Doodsnikke, stelontwerp

Beste Prestasie in ’n Musiekgedrewe Produksie

1. Emo Adams, Plekkie in die son
2. Amanda Strydom, Wierook en mirre
3. Vagina Dentata, Vagina Dentata
4. Janine Neethling, Wierook en mirre

Beste Musiekproduksie

1. Christiaan Olwagen, Vagina Dentata
2. Basil Apolis, ’n Plekkie in die Son
3. Koos Kombuis, GPS vir die lewe
4. Amanda Strydom, Wierook en mirre

Beste Solo-vertoning
1. Marion Holm, Holmakiesie
2. Wessel Pretorius, Ont
3. Sandra Prinsloo, Oskar en die pienk tannie

Beste Nuwe Afrikaanse Opvoering

1. Wessel Pretorius, Ont
2. Christiaan Olwagen, N is vir Neurose
3. Marlene le Roux, ’n Plekkie in die Son
4. Basil Apolis, ’n Plekkie in die Son
5. Schalk Schoombie, Liefde, Anna
6. Louis van Niekerk, Liefde, Anna

Beste Prestasie in Klassieke Musiek

1. Winand Grundling, 14 Stasies van die Kruis
2. Consort, Venetian Tonic
3. Trio met ’n Twist, Trio met ’n Twist
4. Kelebogile Boykanyo, Vocal Recital

Beste Prestasie in Dansteater of Fisieke Teater

1. Xolani Ntombela, African Rhythms
2. Keepsake Minus 3, Keepsake Minus 3
3. Mamela Nyamza, Okuya Phantsi Kwempumlo / The Meal

Beste Prestasie in Visuele Kuns

1. Diek Grobler, Fopspeen Moving Pictures
2. Katie Barnard du Toit, Vrees en Verlies
3. Paul Emsley, Feeskunstenaar: Woordfees 

Beste Aanbieding

1. Nicola Hanekom, Babbel
2. Hugo Theart, Op Dees Aarde
3. Wessel Pretorius, Ont
4. Marthinus Basson, Op Dees Aarde
5. Lara Bey, Oskar en die pienk tannie

Beste Opkomende Kunstenaar

1. Marli van der Bijl, Putsonderwater
2. Christiaan Olwagen, N is vir Neurose
3. Winand Grundling, 14 Stasies van die Kruis
4. Wessel Pretorius, Ont

Kaartjies om hierdie jaar se kykNET Fiëstas by te woon is by Computicket beskikbaar. Volg kykNET op Facebook vir meer inligting.

Vanjaar se borge is:

Platinum: kykNET

Goud: Clover, Die Dagbreek Trust en Toyota.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Hi

    Ek soek iemand wat 'n program sal loods om met mans se gal te werk wat vrouens mishandel en nie respekteer nie.
    In November is daar 'n groot Hoya oor die onderwerp,maar word gemik op vrouens.
    Hulle is die slagoffers en dit is tydmors om op hulle te fokus.
    Die mans en jong seuns en laerskoolseuns moet op 'n deurlopende basis geteiken word.
    November is te laat.
    Iemand soos Freek en Coenie kan in die opsig gebruik word.Coenie se "maak n verskil" kan vervang word met "eer die dames ,vrouens in jou lewe of iets dergeliks.
     Dankie vir u aandag.
    ONS HET KYKNET GEMIS IN DIE VAKANSIE. WAS ERG TELEURGESTELD.
    IS egter erg dankbaar vir KYKNET-programme uit gesondheid s pies.
    Alle seën 
    Marius Acker 
  • David Malherbe

    Kommentaar oor die gehalte van die Kyknet programme. Ek hoop Karen Meiring sal die plasing ten minste lees. Ek is 'n 69-jarige wat meestal Kyknet kanaal 144 geniet. Ek voel egter die gehalte van Kyknet is besig om af te neem en nie soos ek sou verwag te verbeter nie. Was teleurgesteld toe julle Andries Enslin vervang het met die huidige godsdienstige programme. Die huidige programme is goed maar Andries Enslin was beter. Die laat-aand aktualiteitsprogramme was puik. Dat julle dit egter nou verander en verkort het, is nie so goed nie. Was die kommentaar van gaste dalk te na aan die waarheid en julle dus onder druk om dit staak? Die groot klagte is die verwydering van die dagbreekprogram en die vervanging daarvan met hierdie verkorte laataand aktualiteitsprogramme. As ek die programme alreeds laataand gesien het, hoekom sou ek dit vroegoggend weer wil sien? Ek is seker julle kan baie beter doen as wat tans die geval is.

    Groetnis
    David Malherbe

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top