Karen, dié is oek jóú struggle!

  • 1

Foto van Olivia M Coetzee: verskaf

Wat is die storie van die mag wat maak en doen soes hulle dink reg is? Waa in die opvoeding wat hulle kry wôt daa gepraat van mensemishandeling? Because dit lyk nie of hulle warrie wat hulle doen en hoe hulle dit doen nie. En hoekô lyk dit dat al die mishandeling gebeu net met mense van kleur? Hangberg, Khayelitsha, en al die anne plekke waa djy net mense van kleur kry is waa dit soe gan. Mense wôt uit hulle huise uit gedonner (wan daa issie ’n bietere woort om dit te beskryf nie) – kinnes, vroumense, mans, oumense, dit maakie saakie, hulle loep deu onne die hand van die mag.

Een ding wat baie clear is, is die feit dat die mense wat swaa’kry onne die hand van die mag mense van kleur is. En die gattie oo “ooh, die swâtes is alwee die victims” nie, niee, dit gat oo die feit dat mense van kleur elke dag van ôs liewe moet baklei tien die system wat gevestig is in die wortels van ôs se samelewing wat ’n paar hoeg hou deu die res af te druk.

Daai ideë van rasse en die “veskil” tussen die wit “godekind” en die swat “heidene” lê nog vars in ôs bloed; soe vars dat die smaak daavan ’n man of vrou van kleur wat deel is van die mag die regverdiging sal gie dat hulle iemand annes van kleur kaalgat kan uittrek en uit hulle huise uit kan smyt sonne ienige skaamte.

En dis sieke maa nou ôs probleem dat ôs sit met die bitter nasmaak van apartheid en kolonialisme. En dis sieke maa nou ôs wêk om ôs bekke uit te spoel lat daai smaak kan vedwyn? Kyk hie, dissie dat ek sê dat wit mense die probleem is nie, niee. Die system van wit oppergesag is die probleem, en die geloef in wit oppergesag is die probleem.  In die system betieken die mens van kleur se liewe niks. En dié wat gloe in die system, soes die mag, kan dan maak en doen en afbriek en skop en donner soes hulle wil, wan dis mos maa net ’n swât heiden, of hoe?

Hoekô wil ôs rêrig maak soes mense van kleur rêrig sê het in hulle land wanne ôs samelewing gegrond is in ’n system wat ’n klein groepie mense bevoorreg, en die res van ôs bakhand lat staan. Die mag, polisie en alles daai was nie gemaak vi die benefit van mense van kleur nie. Dit was nooit om ôs veilig te hou, of ôs strate veilig te hou, of ôs bestaan veilig te hou nie.

Die Baas se plaas moet proetek wôt!

Ek kan vestaan hoekô ’n wit mens sal gatvol wies om te hoo van ôs se struggles en van apartheid dit en kolonialisme dat. Maa mense van kleur is gatvol om stil te bly oo ôs se struggles. Wan die system waavan ôs deel is wassie gemaak vi ôssie, en dis net ôs wat struggle. That is a fact!

Ek hoo al hoe sê Karen: “Maar wit mense het hard gewerk om te kom waar hulle is.” Om eerlik te wies, Karen, was daa in my geskiedenisboeke nooit stories vetel oo die mense wat die strate van die Kaap gebou het nie, maa ek het gelee van Jan van Riebeeck en hoe hy ôs se saviour was. En hoe die wit mense die land gebou het. Maa Karen, toe ek groot raak toe leer ek niewe dinge van die veliede en vestaan hoekô dinge is soes dit is. Ek noraggie navorsing om te vestaan hoe die system nie ’n system vi mense van kleur issie, wan ek liewe in dit elke dag van my liewe.

Imêgine gou net hoe anneste sou apartheid gewies het as wit mense actually hulle monne oepgemaak het tien dit. Of wou hulle nie praatie wan, you know, hulle gat dan gesien wôt as die een wattie die game saam wou speelie. Is dit nog altyd die riede hoekô wit mense soe stil is oo die oppressie van mense van kleur wat nog steeds gebeu? En miskien is daa mense wat nie soes Karen dink nie, en hulle wil ’n samelewing hê wat die waarde van amal sien, en ek hoep hulle sal opstaan en uitpraat tien die system wat gemaak is om hulle te bevoorreg deu die oppressie van die res van ôs.

  • 1

Kommentaar

  • Ek sien in Groot Brittanje noem hulle ook wit vroue Karen - is dit nou weer ‘n ander manier om wit mense by te kom. Nie baie oorspronklik nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top