Karel Benjamin se storie

  • 7

Die man op die hoë leer onderbreek kort-kort sy verfwerk om aandagtig deur die venster na Elsa Joubert en haar man, Klaas Steytler, te staar waar hulle lang tye ononderbroke voor hul tikmasjiene sit en werk. Die staardery het hulle later so senuweeagtig dat hulle hom uitvaltyd prontuit vra waarom hy nie sy oë van hulle kan afhou nie.

Skrýf hulle? vra die verwer. Ja, hulle skryf, bevestig hulle. Die man met die grys pet glimlag breed. Dan kon hy tog sy oë glo.

Karel Benjamin (Foto: © Annari van der Merwe)

Sy naam is Karel Benjamin en hy skryf óók, vertel hy. Stories, spele en lirieke, al van skooldae af. Nie dat hy ver kon leer nie; ná standerd ses moes hy uitspring om die pot aan die kook te help hou.

Elsa en Klaas is ingenome om ’n nuwe skrywer te ontmoet. Hulle drie is portuurs wat ouderdom aanbetref en hulle voel onmiddellik ’n geneentheid jeens hom. Ná die verwery uiteindelik klaar is, gaan soek hulle hom in Woodstock op waar hy by familie inwoon. Hy slaap op die rusbank in die woonvertrek. Dis sy plek. Hy skuif versigtig ’n klein soetkysie onder die bank uit. Dit bevat sy versamelde werk: ’n stewige stapel bladsye, party gehawend, ander geel verbleik.

Verwonderd lees hulle die spele (soos in Engelse plays). Pure Middeleeuse moraliteitspele, reken hulle, natuurlik met ’n kwaai Kaapse swaai. Uiteraard nie geskik vir ’n gekultiveerde moderne Afrikaanse teatergehoor nie. En die stories is darem net te vergesog. Maar die lirieke lyk belowend. Elsa probeer Randall Wicomb interesseer. Die lirieke herinner haar aan sy folk songs. Maar daar kom niks van nie.

En toe, veel later, word Kwela Boeke in 1994 in die lewe geroep, spesifiek as heenkome vir “histories-agtergestelde” skrywers, soos daar in dié tyd verwys is na diegene wat nie tot die kulturele hoofstroom behoort het nie. Elsa en Klaas gryp die geleentheid aan en laat my, die uitgewer, kom wat juis hoog en laag na nuwe stemme in Afrikaans soek.

Op die vasgestelde dag en datum en uur sit en wag die drie van ons op Karel Benjamin. Die Steytlers het intussen uit hul hoë huis na ’n enkelvlak twee huise verder op in Belvederelaan getrek.

Ons wag tevergeefs. My enigste kollega, Nazli Jacobs, werk net halfdag, en later moet ek noodgedwonge en onverrigter sake terugkeer kantoor toe. Die Steytlers is erg teleurgesteld.

Dit blyk toe dat Karel Benjamin se senuwees die vooruitsig van ’n ontmoeting met ’n uitgewer nie kon vat nie. Die Steytlers besluit dat hulle my liewer volgende keer sal bel wanneer hy opdaag, dan kan ek vinnig van die Strandgebied opry Oranjezicht toe, terwyl hulle hom rustig hou.

’n Nuwe dag en datum word bepaal. Ek hou my gereed. Maar toe Elsa so ’n uur of twee voor die afgespreekte tyd deur hulle voorvenster kyk, roep sy benoud vir Klaas. Daar word ’n fliek reg voor hulle voorhekkie in Belvederelaan geskiet, en onder die spelers is daar ook polisiemanne in uniform. As Karel Benjamin die wetsmanne sien wanneer hy by hulle straat indraai, sal hy hom uit die voete maak, sê sy bekommerd. Al genade is, sy moet op die hoek van Bo-Oranje vir hom gaan staan en wag.

Toe die filmspan heelwat later vertrek en Elsa pootuit huis toe loop, is daar steeds geen teken van Karel Benjamin nie.

Maar uiteindelik het hy tog sy vrees oorkom en sy familie se bangmaakstories dat ons sy werk gaan steel en vir eie gewin gaan uitgee, geïgnoreer en by die Steytlers opgedaag.

In daardie stadium was oom Kallie, soos ons almal hom later genoem het, in sy ledige ure ’n lekeprediker op die voorstedelike treine. Ná ’n leeftyd van ondeundheid het hy sy ma op haar sterfbed beloof dat hy hom van sy verkeerde weë sal wend, sy saxofoon sal wegpak en ander mense ook op die smal weg sal probeer hou. Sy verhouding met die Steytlers het in hierdie teken gestaan. Toe hulle ’n ruk vantevore die hoekhuis betrek het, het hy spesiaal gekom om seën op die huis en hulle verblyf daar af te bid.

Van links: Klaas Steytler, Linda Rode, Karel Benjamin, Annari van der Merwe en Elsa Joubert (Steytler) (Foto: © Annari van der Merwe)

Toe ek daardie dag teetyd by die huis instap, sit en kneus oom Kallie die los velle papier wat hy as voorbeeld van sy skryfwerk saamgebring het angstig in sy hande. Ek snap dadelik ek hom moet daar wegkry, want sy agting vir die Steytlers was sodanig dat hy voortdurend behoedsaam na hulle loer vir goedkeuring, te geïnhibeerd om ’n volsin te sê – dit terwyl die onnutsige vonkel in sy oë ’n onbedwingbare sin vir humor en lewensvreugde verraai.

Die Steytlers som die situasie met groot begrip op en sonder verdere omhaal van woorde is ons daar weg. Op pad stop ons by die Tuine-sentrum. Ek koop by PNA vir oom Kallie twee lekker dik leë A4-oefeningboeke, hardeband en gelinieer. Basta verder op los papiere skryf.

Daar is ’n blye herkenning toe ons die kantoor in die Broadway-gebou binnestap. Nazli ken oom Kallie se mense en hom van sig. Haar ouma, by wie sy dikwels kom, bly naby hulle in Woodstock; sy self loopafstand daarvandaan in Walmer Estate. Sturvies, hmm, beduie oom Kallie met die kop. Deftige mense.

Ek lees gretig op soek na ’n outentieke nuwe stem. Maar dis duidelik dat oom Kallie nie met fiksie te vertrou is nie. Sy stories is buitensporige fantasieë, wensdrome wat heeltemal onrealisties waar word. Toe onthou ek wat Elsa my van sy jonger jare vertel het. “Oom Kallie,” sê ek, “in daai nuwe boek moet jy asseblief vir ons jou lewensverhaal skryf. Van jou geboorte af. Hoe jy in Goodwood grootgeword het voor dit wit gebied verklaar is.” Hy sal so maak, sê hy. Maar iets beswaar hom: Hy het nie eintlik ’n plek waar hy in rus en vrede kan skryf nie.

Ons staan in Kwela se klein ontvangsvertrek. “Maar Oom kan mos hier sit en skryf,” sê ek. Hy kyk na die ronde tafel in die middel van die klein kamertjie, die stuk Ghanese kentelap teen die muur, en knik. Ons spreek af dat hy sommer die volgende oggend sal inval. Ek en Nazli stap saam die lang leë gang af na die ingang van die gebou. (Kwela was die enigste huurders op die grondvloer van die byna onbesette gebou.) Ons beduie uitvoerig hoe hy moet loop om Kwela weer uit sý rigting te kry.

Stiptelik om nege die volgende oggend lui die telefoon. Ons moet hom asseblief buite kom haal, vra oom Kallie, hy bel van die tiekieboks af op die hoek. Ek en Nazli kyk na mekaar. Nie een van ons het besef hoe ’n geloofsprong hy gewaag het om op te daag nie.

En daar by die ronde tafel het oom Kallie oor maande die manuskrip van Staan uit die water uit! met die hand in die eerste dik A4-boek geskryf. Later sluit Clive Hanekom hom by ons aan as kantooradministreerder. Tot oom Kallie se groot vreugde, want nou kan hy lekker grappies met hom maak as ek en Nazli te verwoed besig is. Oom Kallie is van nature ’n vrolike man en praat graag in ryme. Hytou petytou; laat waai, sê die kraai – dié soort van ding. Clive se dagtaak word ’n fees. Ons hoor dié twee dikwels lag, meestal wanneer oom Kalie aankom of vertrek, want as hy eers by die ronde tafel sit, skrýf hy.

Oom Kallie is ’n netjiese man. Hy duld nie ’n uitgekrapte woord nie. Hy skeur eerder die bladsy uit. Die dik swart oefeningboek raak al hoe dunner, maar asof hy intuïtief geweet het wanneer die nou veel dunner boek “vol” gaan wees, is die storie oor sy Kaapse jeug ook net mooi klaar toe hy by die laaste bladsy kom. ’n Storie wat plomps! begin toe hy so dertien was en hy en ’n paar skoolmaters stokkies draai en ’n hoender op die strand by Blouberg gaan braai. Sy ma, klaarblyklik ’n kwaai vrou, slaan hom so met ’n plank toe hy die aand by die huis kom dat sy ouma haar van hom af moet wegskeur. Ons is geskok, maar vir oom Kallie is dit doodgewoon. Dis die lewe.

Staan uit die water uit! is waarskynlik die eerste boek in Afrikaans oor ’n werkersgemeenskap wat van binne uit geskryf is deur ’n volmondige lid van daardie gemeenskap.

Vir oom Kallie, wat gewoond was om teen die helling van Duiwelspiek te gaan sit en skryf, of die wind nou waai en of dit stuif en winter is, is dit ’n onvoorstelbare luukse om in stilte en ongesteurd te kan sit en skryf. As hy eers aan die gang is, raak hy so weggevoer dat ons nie sy aandag kan kry tensy iemand aan sy skouer gaan stoot nie. Hy skryf sy lewensverhaal in een asem soos hy dit herbeleef. En wat hy geskryf het, het hy geskryf. Linda Rode, wat die manuskrip met groot omsigtigheid persklaar maak, vra hom of hy nie dalk net ’n inleidende paragrafie wil byvoeg voordat sy lewensverhaal as ’t ware so ’n bietjie met die deur in die huis val nie:

Dis Saterdag, ek is weer so ’n opgeskote outjie en ek staan in die skaduwee van ons groot denneboom op die hoek van Akkerweg en Townsendstraat. ’n Sagte windjie speel deur die bome. Orals waar jy kyk, sien jy blare en stukkies papier waai, gemeng met ligte sandstoffies. Ons mooi ou wit gekalkte huisie is so te sê omring van blomme. Hy skitter van mooigeit. Ons grond, ’n hele akker, lyk selfs soos ’n grastapyt, gemeng met gousblom en lappe papierblomme. Die portjackson-bome en ons heining van rooikrans is ’n fontein van kleur ...

Maar nee, dit kon hy eerlikwaar nie vermag nie. Wat klaar geskryf was, was klaar. En toe sy hom vra om ’n vaagheid rondom een van die figure in sy storie op te klaar, kon hy glad nie die persoon onthou nie. Dit was werklik vir hom onmoontlik om uit sy bewussynstroomtegniek te breek. Die oplossing vir die inleidende paragraaf was om ’n besinnende passasie verder aan uit die manuskrip vorentoe te skuif sodat die outobiografiese vertelling nou begin met:

Die lewe draai soos ’n wiel, dan gaan hy staan. Waar hy gaan staan en hoe hy weer gaan draai, hang van jou af. Mens is jou lewe se drywer. En jou gedagte is soos ’n lig wat skyn. Jou gedagte kan vorentoe en agtertoe skiet soos ’n alwewende straal. Verby die wolke, deur die reën en deur die wind. Skierlik is jy weer jonk. Jy loop weer deur ou strate, plekke wie se name verander is maar wat jy steeds so goed ken.

Dis Saterdag en ek is weer so ’n opgeskote outjie ...

In sy eiesoortige vertelstyl lig oom Kallie nie net die sluier oor sy werkersgemeenskap se leefwyse en ervarings in vervloë preapartheidsjare nie. Hy gebruik die uitsonderlikste Afrikaans, wat tot ons verbasing net enkele Engelse woorde bevat (hoofsaaklik die name van musiekinstrumente), maar ryk is aan uitdrukkings onbekend aan ons: akkers toe gaan; molland toe; kwaai burghs; sellekkies; vierkant familie; pang; dik gebars; lekker gebaard; gedora; hoog in die druiwes; lekker tanne nat ... Agterin die boek plaas ons ’n lys van woorde en uitdrukkings wat ons nie in ons Afrikaanse woordeboeke kan vind nie.

Inderdaad ’n outentieke nuwe stem in Afrikaans. En ’n nuwe soort skrywer in Afrikaans.

Karel Benjamin met sy debuut (Foto: © Annari van der Merwe)

Die eerste keer toe oom Kallie geld by my wil leen, sê ek nie by mý nie, teen sy royalties ja. Sy oë verloor hulle lag. Ek verduidelik, en hy aanvaar dit so en ons maak ’n ooreenkoms wat ons albei onderteken. Die boek verskyn en sy outeurstaat moet aan hom gestuur word. Maar dis problematies. Uiteindelik word die Steytlers se straatadres sy posadres – hy durf nie dat sy outeurstate by sy woonplek afgelewer word en sy huisgenote van sy besigheid uitvind nie, want hulle gaan sekerlik sy pos onderskep. Hy sal nooit die einde daarvan hoor of ’n sent van sy verdienste sien nie, verseker hy ons. Wat in ieder geval amper gebeur, want die uitgewery betaal nie kontant nie en oom Kallie het nie ’n bankrekening nie.

Die enigste uitweg is dat sy tjeks aan my oorgemaak word, dit in my rekening gedeponeer word en ek hom dan die kontant gee. Dit werk goed tot oom Kallie op ’n dag kla dat ons nog nie sy outeursverdienste aan hom uitbetaal het nie. Maar natuurlik het ons, sê ek, en ons het die bewyse op skrif. Daar skuif ’n bevange uitdrukking oor sy gesig. Wag, ek roep vir Clive, sê ek. Clive, het ons oom Kallie se laaste royalties vir hom gegee? Maar of course, sê Clive. En toe: Oom Kallie, kan Oom dan nie onthou nie? Jy het nog die note in jou sokkie gesteek. Sommer daar ín die bank voor ons uitgestap het.

Maar ek loop die storie vooruit. Toe oom Kallie sy deel gedoen het, maak Linda die manuskrip met die grootste sorg persklaar sodat niks van die outentisiteit van die vertelling ingeboet word nie. Nazli ontwerp die boek. Piet Grobler bestudeer die vertelling, kyk na foto’s en maak daarvolgens pensketsies by elke hoofstukopskrif. Ook ’n volkleurbuitebladontwerp waar oom Kallie se gelykenis sy longe op ’n saxofoon leeg blaas.

Toe Staan uit die water uit! verskyn, vier ons dit in die kamertjie met die ronde tafel en kentelap teen die muur waar die boek letterlik letter vir letter met die hand geskryf is. Ek, Clive en Leonie Hofmeyr wat uithelp in Nazli se afwesigheid, is daar. Linda Rode ry van Bellville af in stad toe. Elsa en Klaas Steytler kom spesiaal vir die okkasie af Strandgebied toe. Hulle staan weerskante van oom Kallie toe ons ons glase vonkelwyn lig.

Die inontvangsneming van sy skrywerseksemplare was ’n intieme geselligheid, maar die bekendstelling van die boek in September 1996 word ’n glansryke geleentheid. Ons sit almal af Saldanha toe vir die Afrikaanse Skrywersvereniging (tot kort tevore die Swart Afrikaanse Skrywersvereniging) se gala-aand. Onder voorsitterskap van wyle Patrick Petersen is daar ’n skrywerskonferensie op Vredenburg gereël. Ons vier egter die okkasie in die Protea Hotel, Saldanhabaai. Die meeste gaste oornag in die hotel, maar oom Kallie en EKM Dido, wie se debuutroman, Die storie van Monica Peters, terselfdertyd bekendgestel sou word, bly die naweek saam met Leonie op ’n plaas in die buurt. Oom Kallie is skoon beenaf op Dido. Omdat sy boek outobiografies is, neem hy aan hare is ook en hy spreek haar heeltyd bewonderend aan as Monica. Dit help allermins om te verduidelik dis ’n roman, en Leonie het haar hande vol as chaperone.

Die Protea bars uit sy nate van die Kaapse gaste. Jakes Gerwel is die gasspreker; hy word vergesel deur Phoebe; Elsa en Klaas Steytler is eregaste. Hein Willemse en Larry Pokpas van UWK is daar; Hans du Plessis, Peter Snyders, Diana Ferrus en Ingrid Geldenhuys; Tyron Appollis en sy seun; ook Melvin Whitebooi, Heindrich Wyngaard, Kirby van der Merwe, Willem Fransman. Noem maar op. En natuurlik EKM Dido en Karel Benjamin.

Elsa Joubert (Steytler), Karel Benjamin en Klaas Steytler (Foto: © Annari van der Merwe)

EKM Dido, Jakes Gerwel en Karel Benjamin (Foto: © Annari van der Merwe)

Ek herken oom Kallie nie. Hy is gejak. Ek sien hom vir die eerste keer in ’n snyersbaadjie. En vir die eerste en laaste keer sonder sy pet. Skamerig laat hy hom die aandag welgeval, staan hy met sy linkerhand om die regterpols gevou langs Jakes, terwyl laasgenoemde die twee Afrikaanse debuutskrywers aanprys. Later glimlag hy effens meer ontspanne waar hy wynglas in die hand tussen Elsa en Klaas staan. Die Steytlers was onnodig bekommerd – oom Kallie het steeds aan sy ou aanspreekvorme vasgehou en geweier om hulle aan te spreek soos dit betaamlik is in die nuwe Suid-Afrika. Maar hulle het verniet asem opgehou. Oom Kallie het kwalik ’n woord gesê daardie aand.

Die ander gaste vergoed vir sy swye. Dit klink soos ’n bynes. Tot ’n lang slap man wie se naam nie eens op die program verskyn nie, almal tot stilte bring met ’n luide: “Hoit my naam is Loit!” En net daar maak Loit Sôls sy ghoemadigdebuut met kitaarbegeleiding. (Kwela gee later hierdie heeltemal andersklinkende nuwe Afrikaanse stem in boekvorm uit.)

Terug in die Kaap word ’n TV-onderhoud met oom Kallie gevoer. ’n Artikel oor hom verskyn in ’n vrouetydskrif. Op ’n dag kom hy uitasem Kwela se kantoor binne. ’n Wildvreemde man in ’n deftige swart kar het hom in Buitenkantstraat op die sypaadjie sien stap, van die pad getrek en uitgeklim. Is jy tog nie Karel Benjamin nie? wou hy weet.

In die tyd toe daar in die gees van die nuwe demokratiese Suid-Afrika ’n wye verskeidenheid boeke op die voorgeskrewe lyste verskyn het, word Staan uit die water uit! deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys op die voorgeskrewe lys vir graad 10 geplaas. Die doel van dié uitgebreide lyste was dat die inhoud van voorgeskrewe boeke meer verteenwoordigend sou wees van die vele diverse gemeenskappe in die land. Oom Kallie se debuut was dus in die kol.

Oom Kallie skryf ’n tweede boek. Weer met die hand en weer by die ronde tafel. Maar intussen het Clive oom Kallie van Tipp-Ex vertel, en toe die manuskrip van Pastoor Scholls trek sy toga uit klaar is, is die tweede dik swart A4-oefeningboek nog ’n sentimeter dikker van al die woorde wat rojaal met die wit vloeistof doodgeverf is.

Klaas Steytler sterf in in 1998. Hy is nie daar om die verskyning van Pastoor Scholls in 1999 mee te maak nie. Dié versameling stories is ook outobiografies van aard en weer eens opgefleur met Piet Grobler-pensketse. Pastore speel ’n groot rol. So ook polisiemanne. Dis onafwendbaar, want in gemeentes en ’n gemeenskap wat nooit ’n verskoning gesoek het om jolyt te maak nie, moet iemand morele standaarde en iemand anders wet en orde probeer handhaaf. Dikwels sonder veel sukses, maar met wonderlik komiese gevolge – in ieder geval in Karel Benjamin se vertellings.

Die leraarts en pastore van die tyd toe ek jonk was, was kwaai mense. Van hulle soort is daar nou maar min te kry. Een wat vir my soos ’n toring gestaan het bo almal was ’n leraart met die naam van Pastoor Scholls. ’n Baie gawe en lieflike mens, maar een wat ’n duiwel kan word as jy aankom met jou duiwelmaniere. Hy was ’n baie mooi man. Die gemeente was vir hom lief en nogtans baie bang. Hy het nou sommer sy gemeente reggemoer, het hy gesê, ek kan dit nog onthou.

Carl Petrus Johannes Jacobus Benjamin sterf in November 2002 in die ouderdom van 74 in Kaapstad in ’n tehuis vir bejaardes. Die hartseer nuus is ’n skok. Nie een van ons het eens besef hy was siek nie. Ons word wel deur die familie oor sy begrafnisdiens in Bishop Lavis ingelig.

Die aanwysings was vaag. Ons klomp wat met drie of vier voertuie uit die Kaap en Bellville gekom het om hom die laaste eer te bewys, ry kopskuddend op en af by mekaar verby in die aangewese straat, al vaste aanduiding wat ons het. (Elsa Steytler het nie daarna gevoel om sonder Klaas te kom nie.) Ons kan die kerk nie vind nie. Verder weg as verwag, is daar uiteindelik tekens van ’n begrafnis. Mense stroom die kerk binne – dis ’n “groot lykstasie” soos oom Kallie in “Johannes Cupido se begrafnis” skryf. Ja, beaam ’n vrou wat ons buite voorkeer en vra, Karel word hier begrawe. Teen dié tyd sal daar net nog plek reg voor die kansel wees, sê sy. Linda en Erwin Rode verdwyn onmiddellik in die kerk in. Ek en Nazli is nog aan die parkeer, toe kom Clive uitasem sê hulle het die regte kerk gekry: Dis daai platdaksaal links wat ons almal verbygery het. En vort is Clive; laat ons net so aan ons lot oor. Nazli, sê ek, Moslem of te nie, jy sal vir Linda en Erwin uit daai kerk móét gaan haal. Nazli begin dapper, maar steek in die ingangsportaal vas. Genadiglik kyk Linda, bekommerd oor wat van ons geword het, op daardie oomblik om waar sy en Erwin met geboë hoofde in die voorste ry sit. Teen die lig herken sy vir Nazli wat verwoed met die arm begin beduie, terwyl haar mond duidelik die woord “Kom!” vorm.

Uiteindelik was die laaste vier verdwaaldes ook op pad na die regte begrafnisdiens.

Dat nog ’n Karel op dieselfde tyd en in dieselfde straat begrawe sou word, net met ’n ander van en ander kerkverband, kon net sowel een van oom Kallie se begrafnisstories in Pastoor Scholls trek sy toga uit gewees het. Met hoeveel humor en kleur sou hy nie die konsternasie beskryf het nie. Hoe gelukkig dat hy wel twee boeke met kostelike, onnabootsbare stories nagelaat het. En watter bestiering dat hy deur die venster juis vir Elsa en Klaas Steytler hard aan die werk agter hul tikmasjiene sien sit het en toe daardie soetkysie onder sy rusbank kon uithaal as bewys dat hy ook ’n skrywer is.

  • Foto’s: © Annari van der Merwe
  • Die foto’s is met Annari se toestemming publiseer.
  • 7

Kommentaar

  • Annari, kosbare ineenvloei van die lewens van drie groot geeste. Groot dank vir die herinnering. Ton Vosloo

  • Avatar
    Annari van der Merwe

    Was dit nie vir Naspers se grootheid van gees en insig in die tye waarin ons ons bevind het en die heelhartige ondersteuning nie, sou niks van dit alles moontlik gewees nie. Dankie nogmaals na al die jare, Ton, vir wat Nazli Jacobs "a magic time".noem.

  • Avatar
    Adriaan van Dis

    Prachtig verhaal! In Amsterdam gelezen maar in mijn kop naar de Kaap gereisd en onderweg een traan geplengd. Ook een troostrijk verhaal in deze tijd van woede, onrecht en verscheuring.

  • 'n Heerlike en aandoenlike episode in ons onlangse geskiedenis. Kudos aan al die rolspelers.

  • Kai gangans Annari, jirre ... bring sikke lekke feel-good trāne neh!

    Ek is van meaning jillit heelimal vigiet van my, 'true's bob.

  • Avatar
    Willemien le Roux

    Annari, hoe heerlik dat jy tog nou uiteindelik een van die talle ongelooflike stories uit jou uitgewersdae vir ons neerskryf! Ek is seker Elsa en Oom Kallie sou glimlag oor die inspirasie wat hul gebring het, en saam met my vra: Nog, nóg!

  • Ek onthou nog asof dit gister was. Ons was almal so trots op oom Kallie. Ons was ook geinspireer deur sy storie. Baie dankie Annerie. Die blad was gelê vir so baie ander opkomende skrywers. Hopelik sal skrywers vandag besef wat ouer skrywers soos oom Kallie vir hulle gelos het. Watter groot storie het oom Kallie se storie nie tot gevolg gehad nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top