Karakteropvoeding in skole: komplekse noodsaaklikheid

  • 3

Jeanette-de-Klerk-LuttigMoraliteit is volledig deel van opvoeding en oor die noodsaak van karakteropvoeding en die vestiging van kernwaardes in skole word daar nie meer geargumenteer nie. Vanuit verskillende uiteenlopende samelewingsfere is daar eenstemmigheid dat dit ’n dwingende noodsaaklikheid is.

Die noodsaaklikheid van karakteropvoeding in skole kan vanuit hoofsaaklik twee perspektiewe gemotiveer word: vanuit ’n morele-dilemma-benadering of vanuit ’n positiewe-groei-benadering. Vanuit eersgenoemde val die fokus op die morele dilemmas waarin ons land vasgeval is.

Die realiteit van die gebrekkige moraliteit in ons land word weerspieël in die morele dilemmas in ons skole, soos geweld, boeliegedrag, groepwreedheid, verkragting, diefstal, oneerlikheid, vandalisme en disrespek. Hierdie morele dilemmas kan teëgewerk word deur suksesvolle en volhoubare karakterontwikkeling van leerders.

Die tweede benadering fokus op die deugde van ’n morele persoon en is strook met die skuif in die etiek weg van die vraag: “Wat is reg en verkeerd?” na die vraag: “Wat konstitueer ’n goeie mens?” Hier val die klem nie op etiese probleme nie, maar op die positiewe gevolge wanneer deugde in mense ontwikkel word.

Wanneer leerders waardes soos respek, verantwoordelikheid, eerlikheid en hardwerkendheid uitleef, styg akademiese prestasies, verbeter interpersoonlike verhoudings en word die skool ’n baie aangenamer plek vir leerders en onderwysers. Aristoteles het tereg gesê: “Geluk is die beloning van deugsaamheid.”

Karakteropvoeding as die doelbewuste poging van gesinne, skole en gemeenskappe om kinders en jongmense te help om kernwaardes te verstaan, daarby in te koop en dit uit te leef, is egter multidimensioneel en kompleks. Ongelukkig is mense dikwels baie naïef en idealisties daaroor en nie bewus van die talle slaggate wat pogings tot karakteropvoeding in skole kan pootjie nie. In dié artikel word slegs enkele van die hindernisse bespreek.

Een van die grootste struikelblokke is die feit dat daar dikwels ’n blinde kol is vir die interpersoonlike grondslag van karakteropvoeding. Effektiewe karakteropvoeding berus in die eerste plek op die sosiale en emosionele verhoudings wat in die skoolkultuur ingebed is. Opvoedkundiges soos Dewey, Durkheim en Piaget het saamgestem dat die sosiale verhoudings in ’n skool die hartklop van karakteropvoeding is.

Karakteropvoeding gaan meer oor hoe mense teenoor mekaar optree as oor wat hulle vir mekaar sê. Wanneer leerders egter nie van jongs af ervaar dat die wêreld ’n veilige plek is en dat hulle hul ouers en primêre versorgers kan vertrou nie, beleef hulle ander as ’n bedreiging en hulself as onwaardig. Dit is baie moeilik vir onderwysers om ’n vertrouensverhouding te bou met leerders wat aanneem dat volwassenes nie in hul beste belang sal optree nie en wat daarom onwillig is om hulself te verbind aan die skool of enigiemand by die skool.

In navorsing word na sulke kinders as “trust bandits” verwys. Slegs wanneer onderwysers daarin slaag om ’n dikwels lang en moeilike pad te stap en ’n vertrouensverhouding met sulke leerders te ontwikkel, sal die weerstand teen die skool verminder en kan die positiewe karakterbouboodskappe van die skool deur die leerders gehoor word. Alle pogings tot karakterontwikkeling sal nutteloos wees indien daar nie ernstig en doelgerig gefokus word op die bou van positiewe verhoudings en die ontwikkeling van ’n omgee-skoolgemeenskap waar leerders en onderwysers beleef dat hulle raakgesien word, werklik deel is van die skool en daar behoort nie.

Ook die gehalte van die verhoudings onder die personeel het ’n groot invloed op die morele klimaat van ’n skool en dit is dikwels ’n aanduiding of die karakterontwikkelingsinisiatief van die skool gaan slaag of nie. Leerders is baie meer bewus van die gehalte van die verhoudings onder die personeel as wat onderwysers vermoed.

Dikwels beleef onderwysers dat hulle nie kollegas op die personeel het wat bereid is om hulle te ondersteun indien nodig nie, maar konkurrente wat hulle wil “wen”. In so ‘n mededingende, negatiewe omgewing voel baie onderwysers eensaam en vervreemd van die skool en is dit vir hulle moeilik om hulself te sien as betrokke, professionele opvoeders en morele modelle en mentors.

’n Ander slaggat is dat karakteropvoedingsprogramme, veral vanuit Amerika, dikwels onkrities net so hier by ons gebruik word. Die program Character Counts van die Josephson Instituut in Los Angeles wat dikwels in Suid-Afrikaanse skole gebruik word, skryf ondemokraties ses karakterpilare of kernwaardes voor wat in alle skole gevestig moet word. Omdat elke skool se konteks en geskiedenis verskil, behoort elke skoolgemeenskap sy eie kernwaardes te kan kies met insette van al die betrokkenes – die ouers, onderwysers en leerders.

’n Seunskool in die Boland het byvoorbeeld broederskap as een van hul kernwaardes en ’n meisieskool het afgerondheid as ’n kernwaarde. Dit is tog vanselfsprekend dat daar nie een “stel” kernwaardes vir alle skole kan wees nie. Ook die twaalf kernwaardes wat in die manifes oor waardes, onderwys en demokrasie (2001) deur die regering voorgestel is vir alle publieke skole, het nie gerealiseer nie. Van die redes daarvoor is onder andere dat waardes nie van bo af voorgeskryf kan word nie, asook die feit dat te veel waardes voorgeskryf is. Navorsing toon dat die ideale aantal kernwaardes vir enige organisasie tussen drie en vyf is.

Oorsese karakteropvoedingsprogramme is dikwels baie resepmatig. Omdat skole so geweldig van mekaar verskil, kan een resep eenvoudig nie vir almal werk nie. Daar is geen resepte by geslaagde karakteropvoeding nie, maar wel sekere beginsels wat met groot sensitiwiteit verskillend toegepas kan word in die verskillende kontekste van verskillende skole.

Nog ’n hindernis is die feit dat karakteropvoedingsinisiatiewe ongelukkig dikwels “gelanseer, gelaunch en dan gelos” word. Skole begin soms baie entoesiasties met karakteropvoeding, maar steek dan ongelukkig vas by die eenvoudige eksterne aspekte soos baniere waarop die waardes pryk en slagspreuke teen die mure en op T-hemde.

Dit kan alles ’n bydrae lewer, maar kom nie by dit wat werklik ’n verskil aan die klimaat van die skool kan maak nie. Die karakterinisiatief word dan nie wesenlik deel van die kurrikuluminhoude of die buitemuurse aktiwiteite nie; volwassenes en leerder-leiers modelleer nie die kernwaardes nie; die atmosfeer is kompeterend sonder enige omgee vir mekaar; en by die uitoefen van belangrike keuses is die eiebelang van die topbestuur belangriker as die skool se kernwaardes.

Dit is hartseer as mens by ’n skool instap waar respek as kernwaarde duidelik in die voorportaal pryk, maar in die gang af skree ’n onderwyser op leerders en pouses word leerders op groot skaal geboelie. Sulke oppervlakkige pogings is nie karakteropvoeding nie, maar word bloot vensterversierings wat leerders kwaad en sinies maak. Leerders is baie skerp en sensitief vir enige teenstrydigheid tussen wat gesê en wat werklik geleef word. Skole moet weet dat ’n geslaagde karakteropvoedingsinisiatief gaan vereis dat waardes verkieslik nie gepreek gaan word nie, maar uitgeleef gaan word; dat daar morele leierskap op elke vlak sal wees; dat met integriteit gewerk sal word aan verhoudings en daar nie verwag word dat net leerders aan die gehalte van hul karakter sal werk nie, maar ook die onderwysers.

Dikwels begryp mense nie dat karakteropvoeding omvattend en ingrypend is en alles insluit wat by die skool gebeur nie: die manier waarop leerders gegroet en gedissiplineer word, die toestand van die skoolgronde, geboue en kleedkamers, die debatte wat gevoer word oor morele dilemmas, die wyse waarop skoolspanne hul op die sportveld gedra, tot die atmosfeer en gesprekke in die personeelkamer. Soos ’n onderwyser droog opgemerk het: “Dis sowaar nie vir sissies nie.”

Onderwysers as sekondêre opvoeders kan egter nie alleen waardes vestig en al die morele dilemmas in die samelewing regstel nie. Hulle het die ondersteuning van ouers en die gemeenskap, ook van geloofsgemeenskappe nodig. Die hindernis waarteen baie onderwysers hul vasloop, is dat die waardes van die omgewing waarin talle leerders grootword, dikwels lynreg teenoor die kernwaardes van die skool staan en dit maak die taak van karakteropvoeders beide moeiliker en groter, of dalk meer dringend?

Maar nieteenstaande al die struikelblokke is die realiteit in ons land dat onderwysers dikwels die enigste en belangrikste karakteropvoeders in ’n kind se lewe is en dat hulle daardeur die “dun blou lyn” tussen orde en chaos, omgee en verwaarlosing, dissipline en verval, sukses en verspeelde kanse en respek en ontmensliking vorm.

Mens sou dalk so ver kon gaan om te sê dat die voortbestaan van ons demokrasie afhang van die vestiging van kernwaardes in ons jeug en die gehalte en volhoubaarheid van karakteropvoeding in ons skole.

  • Jeanette de Klerk-Luttig is as opvoedkundige betrokke by die Kantoor vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.
  • 3

Kommentaar

  • Uitstekende artikel Jeanette en ek stem saam met die kern-aanname dat onderwysers sleutelrolspelers in die proses van karakteropvoeding van leerders kan wees. Sou die Kantoor vir Morele Leierskap dalk karakteropvoedingswerkswinkels vir die doel kon ontwikkel?

    • jeanette de klerk-luttig

      Aan Hanre

      Ons het by die Kantoor vir Morele Leierskap karakteropvoedingprogramme ontwerp wat op die beginsels van karakteropvoeding baseer is en in skole gebruik word. Ek werk in skole in die hele land en gelukkig is baie hoofde nou bewus van die voordele wat 'n waarde-gedrewe skool inhou.

  • Francois Maya

    Hierdie artikel het elke kind, ouer, onderwyser en gemeenskapsleier nodig in ons plattelandse gebiede. Ek is tans 'n BTH Teologiese student in die UCCSA (United Congregational Church of Southern Africa). My fokus is op gespesialiseerde bediening en hierdie artikel is van onskatbare waarde. Ek dank ons hemelse Vader vir mense soos jy in ons land om vir diegene klein en groot nog te demonstreer/ leer dat daar hoop is vir ons wat glo. Ek wil net hoor of hierdie die Kantoor vir Morele Leierskap karakteropvoedingprogramme material beskikbaar het vir verdere gebruik en of die kursus op afstand gedoen kan word. Groete en seënwense aan almal betrokke in die goeie werk.
    Francois

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top