Kan ons werklik Vrouemaand vier sonder om met onsself eerlik te wees?

  • 1

Op 9 Augustus 1956 het ongeveer 20 000 vroue opgetrek na die Uniegebou in Pretoria, in protes teen die apartheidpaswette. Hulle het gestaan en geveg vir vryheid. Vandag is Suid-Afrika verlos van die wrede apartheidsisteem en die onmenslike wette wat daarmee gepaard gegaan het. Maar vandag is Suid-Afrikaanse vroue steeds nie regtig vry nie. Buiten die feit dat gelyke toegang tot geleenthede en gelyke betaling vir vroue steeds nie verwesenlik is nie, is daar nou nóg ’n struikelblok wat Suid-Afrikaanse vroue se vryheid steel, genaamd: vrees. Ons vrees vir ons lewens. Suid-Afrikaanse vroue is gebind deur die kettings van geweld teen hulle.

Hoe lank gaan ons dit nog toelaat?

Moet ons bloot wag vir die regering om dit aan te spreek, of aanhou kla oor ons swak polisiëring, of is daar dalk iets wat ons hieraan kan doen? Ek en jy en die gemiddelde persoon daar buite. Hoeveel keer sien ons mikroagressie teenoor vroue en kies om eerder ander kant toe te kyk. Hoeveel keer sê ons iets as ons geweld vermoed? Hoeveel keer bly ons eerder net stil? Hoeveel keer vra ons uit om seker te maak of sy wel veilig is en of sy enigiemand het om mee te praat? Maak nie saak wie sy is nie. Of het ons eenvoudig ’n nuwe normaal aangeleer?

Ek dink die dapper vroue van 1956 verwag meer van ons. Die geveg teen die paswette het beteken hulle het vir gelykheid geveg. In elke opsig. Om vrylik te kan rondbeweeg sonder ’n pas, maar ook sonder vrees. Sonder om bang te wees as jy vrou alleen iewers heen moet gaan. Om te moet wonder of jou uitrusting dalk te gewaagd is en dalk sal ontaard in verkragting. Ja, ons moet dit sê soos dit is.

Verkragting is nooit die vrou se skuld nie. Maak nie saak al dra jy net minirompies en bloese met lae halse nie. Verkragting is verkraters se probleem en word 100% deur hulle veroorsaak. Ons het ’n verkragting-, moord- en geweldprobleem teenoor vroue in Suid-Afrika. Hierdie is nie ’n probleem vir vroue om op te los nie. Hierdie is ’n probleem vir elke Suid-Afrikaner om op te los. Ons moet besef totdat ons nie almal vry en veilig is nie, niemand werklik veilig is nie. Suid-Afrikaanse vroue verdien beter. Alle Suid-Afrikaners moet beter doen om hulle die basiese mensereg van veiligheid te gee.

Elke keer dat ons iets sien, aanvoel, hoor of vermoed, mag ons nie stilbly nie. Ons kan dit eenvoudig nie meer aanvaar nie. Ons moet aandring, veg en staan vir beter. Totdat dit verander. Ons kan nie aanhou die sisteem blameer nie. Die vroue van 1956 was vasgevang deur ’n onderdrukkende sisteem en het aanhou opstaan vir waarin hulle glo. Hulle was wel eers jare later bevry, maar dit het hulle nie gekeer nie. Daarom kan ons nie langer toelaat dat geweld teen vroue ons samelewing verwoes nie. Ons verdien beter.

Op 9 Augustus 1956 het die vroue 14 000 petisies by die deur van eerste minister JG Strijdom gelos en daarna vir 30 minute lank stilgestaan en toe begin om ’n proteslied te sing wat ter ere van die geleentheid gekomponeer is: “Nou het jy die vroue aangeraak, jy het ’n rots geslaan.” In die jare daarna het die frase "slaan jy ’n vrou, slaan jy ’n rots” vroue se moed en krag in Suid-Afrika verteenwoordig. Hierdie frase is steeds vandag waar en ons durf dit nie vergeet nie. As jy in Suid-Afrika vandag jou hand vir ’n vrou lig, slaan jy die Suid-Afrikaanse rots. Opgemaak uit almal van ons. Tot ons dit begin besef en dienooreenkomstig optree, gaan niks verander nie. Gaan ons mag terugneem in eie hande of gaan ons toelaat dat die mishandelaars wen? Suid-Afrika is sterk, sy is veerkragtig en sy is die sterkste wanneer ons saam staan.

’n Mens wonder soms wat jy kan doen en hoe jy moet maak wanneer jy geweld wil rapporteer, ongeag of vermoedelik of reeds bevestig. Al vertrou baie nie meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie, glo ek dat geweld as ’n eerste stap aangemeld moet word. Ek wil ook organisasies lys wat betekenisvolle werk doen, daagliks slagoffers help en na wie enigiemand kan uitreik:

  • POWA: People Opposing Women Abuse
  • Saartjie Baartman Centre for Women and Children
  • FAMSA: Family And Marriage Society Of SA
  • ADAPT (Agisanang Domestic Abuse Prevention and Training)
  • Gender-Based Violence Command Centre
  • LifeLine: 0800 150 150
  • Masimanyane Women’s Rights International
  • Nisaa Institute for Women’s Development
  • Shukumisa
  • Sonke Gender Justice
  • TEARS Foundation
  • The Trauma Centre
  • The Frida Hartley Shelter.

Maar onthou, die kragtigste wapen is jou eie agentskap. Staan op. Laat jou stem gehoor word. Wees deel van die verandering. Dit begin by ons elkeen.

#StandUp

#SpeakUp

#BeTheDifference

#EndGenderBasedViolence

  • 1

Kommentaar

  • Chris Erasmus

    Ek hoor die luide gejuig van dit is vroue maand. Dit is goed so. Ek voel vir elke vrou, meisie, dogtertjie wat in die land verkrag word. Ek voel vir elkeen van die vroulike geslag wat fisies aangerand en verniel word. Ek is kwaad vir mans wat vrouens mishandel en slaan. Ek het twee keer in my lewe tussen beide getree in sulke insidente en besluit nooit weer in my lewe nie. In albei die gevalle is ek uitgejou en amper aangerand en toegesnou dat dit nie my geveg is nie en my neus uit hul sake hou. Nie die man nie, die vrouens het my dit toegesnou. Ek het my hand nog nooit vir 'n vrou gelig nie. Daar was geleenthede wat dit voorgedoen het, maar het weggestap. Ek is ook kwaad omdat ek as 'n burger van die land onder die etiket/brandmerk moet lewe dat Suid Afrikaanse mans is vroueslaners en verkragters. Ek sê nie daar is net by een bevolkingsgroep vroueslaners nie, maar is daar nie statistieke van sulke gevalle nie. Dit sal interresant wees. Wat my die meeste laat wonder is, hoekom slaan mans hul vrouens/lewensmaats? Hoekom verkrag mans kinders/vrouens. Sal ons ooit 'n oplossing of antwoord kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top