Kan
Kan die Suiderkruis
asseblief vir my sê watter
rigting om te volg?
Kan die maan se volheid
die son se strale weerkaats
en ? lig op die pad vorentoe skyn?
Kan die wind die blare rondstrooi
sodat ek weet
watter maand dit is?
REFREIN:
Want jy’t besit van my kop geneem
Jy’t my wese oorgevat
Jy’t my hart uit my borskas gesny
en my gelos om self die steke in te sit
Kan die reën uit die wolke tap
en die riviere laat oorloop
sodat ek weet watter kant die see sit?
Kan die blomme in kleure oopmaak
sodat ek weet dat
ek nog kan sien?
Kan die voëls hul liefdeslied
in die bome sing
sodat ek weet ek kan nog hoor?
REFREIN
Kan die vuur sy hitte
na my lyf stuur en dit brand
net dat ek weet ek kan nog voel?
Kan jou geur nog aan my
vassit sodat ek kan besef
ek kan jou nog ruik?
Kan ek jou net een keer
in my slaap sien, net dat
ek weet ek kan nog droom?
REFREIN


